Die !Xerry-staproete
Stáp in die Kgalagadi-oorgrenspark? Ontspan, op die nuwe !Xerry-staproete is daar altyd ’n gids; dus sal jy nie sommer leeukos word nie. Toast Coetzer het gaan kyk.
Maar... dis mos leeuwêreld!
Ek is nie bang vir leeus nie. Veral nie as ek veilig in my kar sit met die vensters styf opgedraai nie. Maar dis ’n ander storie as jy in die Kgalagadi se rooi duine rondstap met niks behalwe vars lug tussen jou en die maanhaar nie.
Ek was dus ietwat senuagtig toe ek ’n uitnodiging van Sanparke aanvaar om saam met ’n paar ander joernaliste die Kgalagadi-oorgrenspark se !Xerry-wildernisstaproete oor twee dae te kom verken.
Dié nuwe roete is ongeveer 12 km wes van Nossob, in duineveld waar ’n mens andersins nooit sou kom nie. Een van die 4x4-roetes loop wel naby die !Xerry-kamp verby, maar jy gaan nie sommer ander mense sien as jy hier oorbly en stap nie.
!Xerry is vir mense wat soek na minder eerder as meer
En dan, nes jy dink daar is niks, dan begin jy sien hoeveel hier werklik is. Ons stap rustig die laatmiddag in saam met André Butler, die Kgalagadi se hoofgids. Daar’s geen haas nie, want André neem jou net so ver as wat jy kans sien om te stap. Ons sien baie voëls – ’n veraf gompou op sy dikgatkorporaal-stappie, rooiborslaksmanne, bleeksingvalke en baardmannetjies. Hier is ook baie wild; ons gewaar rooihartbeeste, gemsbokke, blouwildebeeste, springbokke en ’n steenbokkie of drie. !Xerry beteken immers “steenbok”.
Dis egter die kleiner goedjies wat selfs interessanter is...
Die soort dinge wat jy nie uit ’n kar kan sien nie. André roep ons nader. Ons hurk almal om iets wat lyk soos ’n bokspoor. Van ver af lyk ons seker nou soos ’n klompie krieketbeamptes wat afbuk om die baanblad se krake van nader te beskou.
“Soos wat lyk dié?” vra André. Ons raai… springbokspore? André breek ’n grassie af en kielie die spoor in die sand. Ná die derde kielie verskyn ’n spinnekop! Dis toe heeltyd die dubbeldoorweb van die bokspoorspinnekop. As hy iets op sy “deur” voel trap, dan klim hy uit om te kyk of dit kos is.
Ons stap nou bo-op ’n lang duin. Aan elke kant lê ’n duin-straat, mooi parallel. Dis amper sonsondergang en ons kry ons sit op die duin se “piek”.
Die !Xerry-kamp is skaars 500 m verder sigbaar en ons is amper terug by ons tente. Die ligfakkels wat in die takkraal rondom die kamp ingesteek is, brand al. Hier van bo af lyk dit soos ’n klein, gesellige vesting.
Dis leeuwêreld
Terug in die kamp, met die hek agter ons toegemaak en terwyl ons heerlik om die vuur saamkoek terwyl die kos gemaak word, vergeet ek amper dis leeuwêreld… totdat ek ’n draai moet maak by die puttoilet. Dit het nie ’n dak nie en jy kyk letterlik oor die takmuur na die woestyn hier langs jou. ’n Leeu, besef ek skielik, sou vir my die toiletpapier kon aangee!
“Nee wat,” verseker André my, “jy hoef nie te worry nie. Leeus sal eerder ’n gat onderdeur ’n draad grawe as om bo-oor te spring.”
Dis inkruiptyd en ek slaap alleen in ’n tent. Nou en dan kwirts-kwirts die versamelvoëls uit hulle nes hier bo my.
Ek wens ek kan ’n leeu hoor brul – kalante soos die bekende Nossob-leeubroers Jan of Freek terwyl hulle oor die duine uitdawer. Maar al wat ek hoor, is ’n bietjie jakkals-aksie. En die gesnork uit ’n buurtent.
Weg sê: By !Xerry besef jy jy het nie regtig jou vriendekring, breëband-internet of 300 TV-kanale nodig nie. Dis mos nou rus.



















Kommentaar