Ononderhandelbare dinge vir my staprugsak
1. Koue melk
Ek gooi vars melk in n 500ml Coke-botteltjie en dra dit dan in ’n dik kous wat ek nat hou aan die buitekant van my rugsak. By die kamp hang dit in ’n boom. Die melk bly koud vir drie tot vier dae, selfs al is dit baie warm.
2. ’n Tuisgemaakte Dirkie
Kondensmelk in ’n skroefdop-botteltjie is ook ’n wenner. Kondensmelk-tee smaak verruklik en kondensmelk-koffie is ook baie lekker. Dit hou ook so lank as wat nodig is.
3. ’n Coke-warmwatersak
Nog ’n Coke-botteltjie (moenie ’n ander botteltjie gebruik nie, die plastiek is te sag) dien as warmwatersak. Ek maak dit vol kookwater en sit dit ook in ’n dik kous. Dit hou my heerlik warm in my slaapsak in die bitter koue.
4. Régte botter
Ons vat ’n regte blok-botter saam. Dit het agt dae op die Naukluft-roete gehou. Selfe Butro smelt as dit warm raak. Botter gee geur aan enige kos.
5. Brëespektrum-antibiotika
Ek dra altyd brëespektrum-antibiotika saam. Dit het al vele van my stapmaats uit die moeilikheid gehelp as ons ver van hulp af was. ’n Wond wat uiteindelik ses steke nodig gehad het, het na vier dae geen infeksie gehad nie, selfs al moes ons meer as twintig riviere wat afgekom het, kruis.























Kommentaar