Wandeldekke: Mapungubwe mag maar!
1. Soek die kolletjiestier
’n Kombinasie van klipkoppies en oewerwoud maak Mapungubwe ’n luiperdparadys. Die beste tyd om dié nagjagter te sien, is om voor sonsopkoms die koppies en plantegroei langs die rivierpaadjies te fynkam. As jy eerste op die pad is, verklik vars spore watter diere naby mag wees. Mens sien ook heelwat ander diere as jy so stadig deur die veld ry en die kanse is goed dat jy van die park se reuse olifantbevolking sal raakloop!
2. Bekyk die oewerwoud van bo
Beleef die Limpopo-oewerwoud deur die boomtop-wandeldek te besoek. In die somermaande is die koorsbome heir ’n ideale plek om te soek vir die gesogte geelbektroupant. Hou jou ore gespits vir die kenmerkende keowrrr, keowrrr. ’n Paaltjiesbrug, 4m bo die grond, lei ’n mens vir etlike honderde meters deur die oewerwoud tot by ’n skuiling wat op die rivieroewer gebou is. As jy gelukkig is, loop ’n trop olifante dalk onderdeur jou voete! Die wandeldek is rolstoelvriendelik.
3. Sonbaai saam met die swartoogtiptolle
Mapungubwe se hoofkamp, Leokwe, se swembad is versteek tussen sandsteenrotse. ’n Afdakkie sorg vir skadu en die houtdek is die ideale plek as jy ’n bietjie son op daardie vaal lyfie wil kry. As jy stil lê, kom swartoogtiptolle, rooirug- en klipstreepkoppies, blousysies en geeloogkanaries binne vatafstand van jou af water drink. ’n Olifantbul het my eendag verras deur ’n klipgooi van die swembadrand af te wei. Slegs oornagbesoekers van dié kamp mag die swembad gebruik.
4. Tuur oor ’n buurland
By die uitkykpunte wat pronk bo die samevloeiing van die Limpopo- en Shashe-riviere, is ’n skaduryke piekniekplek. Aan die suidekant lei ’n voetpaadjie jou na die Pinnacle-dek wat uitkyk oor ’n reuse, rotsagtige vlakte. Aan die noordekant kronkel ’n styl voetpaadjie teen die heuwelrand uit tot by vier afsonderlike houtdekke. Elke dek het ’n unieke uitsig oor die samevloeiing van die twee reuse riviere wat Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe skei. Kyk uit vir witkruisarende.
5. Steek kers op by ’n kundige
Nóg lekker maniere om Mapungubwe te verken:
’n Erfenistoer: Besoek Mapungubweheuwel saam met ’n gids op ’n toer van drie ure en leer meer van die park se ryk geskiedenis.
Koste: R115 p.p.
Wildritte: Verken die park in ’n oop voertuig in die nag of dag vir twee tot drie ure saam met ’n veldgids wat die omgewing goed ken.
Koste: R140 p.p.
Oggendstap: Ontdek die kleiner wonders van die veld saam met ’n veldgids. Koste: R245 p.p.
Besprekings:
Sanparke: *012 428 9111; *www.sanparks.org
Mapungubwe ontvangs: *015 534 2014





















Kommentaar