Wildernis: Saal hier af in die Suid-Kaap


Wildernis se ongerepte strandgebied en rustigheid maak van dié kusdorpie "n gewilde bestemming. As daar ooit eendag "n skoonheidskompetisie vir al Suid-Afrika se dorpe gehou word, sal Wildernis beslis die Mej. Fotogenies wen, óf ten minste een van die prinsesse wees.

Om die Touwrivier-waterval te besoek, moet jy eers vir "n kilometer of drie roei met jou kano, deur die Wildernis nasionale park tot by "n strand. Pak dan die res van die roete te voet aan. Jy kan "n tweesitplekkano huur teen R60 per uur, R180 vir 3-5 uur, of R250 vir die hele dag.
zoommore

Om die Touwrivier-waterval te besoek, moet jy eers vir 'n kilometer of drie roei met jou kano, deur die Wildernis nasionale park tot by 'n strand. Pak dan die res van die roete te voet aan. Jy kan 'n tweesitplekkano huur teen R60 per uur, R180 vir 3-5 uur, of R250 vir die hele dag.

Talle bekendes het op Wildernis afgetree, soos die argitek van die Taalmonument en ’n oudstaatspresident. En andere kom hier vakansie hou, soos die sanger Rodriguez.
    Josh Wood, kroegman by die Beach House Backpackers in Wildernis, is besonder rustig – of baie deeglik. Hy skink vir my ’n whiskey en gooi die ysblokkies een vir een in.
    Terwyl ons ’n potjie pool speel, vertel Josh sy ouers het ses jaar gelede van Pretoria na Sedgefield, net ’n entjie hiervandaan, getrek. Hyself het drie weke gelede Wildernis toe getrek. As jy weet waar jy eendag wil aftree, kan jy mos sommer dadelik soontoe trek. Hoekom wag tot aftree-ouderdom?
    En, sê Josh terwyl hy korrel na die swart bal, Wildernis is net die plek vir hom. Hy hou van die rustige bestaan op dié kusdorpie. Die pas van die lewe hier is soveel... mensliker.
    Toe ek die volgende oggend op die backpackers se balkon staan en kyk hoe die branders teen die rotse klots en die groen bome tussen die huise uitrys, reken ek hy’t nogal ’n punt beet.
    “Dis Wildernis genoem, want dit was ’n wildernis,” sê Hugo Leggat, wat van 1947 hier woon en graag ’n boek oor die plek wil skryf. “Altans, dis wat George Bennett gedink het toe hy in 1877 hier grond gekoop het en ’n naam vir sy plaas moes kies.”
    Die plaas het ná Bennett se dood in die hande van die maatskappy Wilderness 1921 Bpk. beland, wat die grond in erwe opgedeel het. Dis hoe die dorpie ontstaan het.

“Die dorp spog met ’n paar bekende voormalige inwoners, soos oudpres. P.W. Botha en Jan van Wijk, argitek van die Taalmonument in die Paarl,” gesels Hugo.
    Rodriguez, die Amerikaanse folksanger wat veral in Suid-Afrika bekend is vir sy album “Cold Fact” en treffer “Sugarman” uit die sewentigerjare, se dogter woon ook hier en hy (sy voornaam is Jesus) loer so nou en dan hier op Wildernis in.
    Toe ek egter op my laaste dag ’n draai by Eva Rodriguez se huis maak, is sy nie tuis nie. Haar man, Juan, roep bo die honde se gekef dat hulle op Wildernis besluit het omdat hy hier grootgeword het.
    In die dorpskern, of dan village soos die plaaslike mense dit noem, sukkel jy nie om ’n plek te kry om te eet nie. Trouens, as jy oorkant die Caltex-garage – die enigste vulstasie op die dorp – staan en ’n klip in enige rigting slinger, gaan daar waarskynlik ’n restaurant se ruit in die slag bly. Kies tussen Pomodoro’s, Monks, Michado’s en selfs ’n koffiekroeg of twee. Gastehuise is ook so volop soos oud-Springbokafrigters.

Die mense wat hier bly is opvallend vriendelik. ’n Kelnerin by die Wilderness Grille het my byvoorbeeld heeltyd “hon’ ” en “darling” genoem terwyl sy beduie het wat hier alles te doen is.
    Die rustigheid is aansteeklik. Teen die derde dag bodder jy nie om vinniger as 40 km/h te ry nie. Op pad terug Kaap toe ry ek vir oulaas die Kaaimanspas uit. In die truspieëltjie verdwyn die dorp stadig terwyl ek om dáái draai ry.
    As daar ooit ’n skoonheidskompetisie vir Suid-Afrika se dorpe gehou word, sal Wildernis beslis die mej. Fotogenies-titel wen of minstens van die prinsesse wees. 


Ek trek my spaan deur die water en roei al dieper die kloof in. Weerskante van die rivier toring groen kranse die lug in. ’n Swetterjoel voëls gaan al kwetterend voort met voëldinge.
    Ek’s op pad na die Touwrivier-waterval. Jy roei eers ’n kilometer of drie met jou kano (vrees nie, dis ’n stewige ene, glo dieselfde as die wat op die Oranjeriver gebruik word) deur die Wildernis- nasionale park tot by ’n klipperige strand en pak dan die res van die roete te voet aan.
    “Dis die heel beste ding om hier te doen,” het Chris Leggat, eienaar van Eden Adventures, my vroeër in hulle kantore in die park beduie.
    Ek trek die kano uit die water. Hiervandaan kan jy sommer die raps meer as 2 km tot by die waterval in jou plakkies stap, want jy’s meestal op ’n plankpaadjie.
    Die waterval, blyk dit, is eintlik twee. Eers gewaar jy vir kleinboet en dan klouter jy teen ’n rots met ’n touleer op om by ouboet uit te kom. Lawe jou lyf in een van die donkerbruin kuile en sluk jou gekookte eier en frikkadelle met ’n mondvol Game af.
Hoe lank het ek nodig? Sit maar die hele oggend opsy.
Koste: R60 per uur vir ’n tweesitplekkano; R180 vir 3 tot 5 uur, of R250 vir die hele dag. R16 p.p. vir die Wildernis- nasionale park.
Kontak: Eden Adventures 044 877 0179 of 083 628 8547; tours@eden.co.za

 

Maak toe


Die inligtingsbordjie by die Groot Boom naby Woodville sê die boom se omtrek is 2 m. Dit kan mos nie wees nie, dink ek, hy’s véél dikker as dit! ’n Vorige besoeker het duidelik ook so gedink en die syfer “1” voor die “2” gekerf – 12 m klink nader aan die waarheid.
    Die bordjie sê ook dié kalander is sowat 800 jaar oud en 33 m hoog, met ’n kroonwydte van 34 m. As die boom Victor Matfield is, is jy ’n Maltese poedel.
    Van die boom af is daar ’n paadjie van 2 km deur die woud. Stap dit gerus. Plek-plek is bome se name op plaatjies aangebring: kalander, witels, ysterhout, boekenhout, kershout. Die voëls kwetter, die sonlig val plek-plek deur die blaredak...net die regte terapie om die splinters van die lewe mee gladder te skaaf.
    Ná ’n paar honderd meter stop ek om ’n foto te neem van ’n geelhout wat omgeval het. Skielik verskyn ’n Eskimo-hond met ’n gryswit pels asof van nêrens in die bos. Ek en die hond staar effe oorbluf na mekaar.
    “Ripley!” roep ’n stem iewers om ’n draai. “Ri-i-i-pley-y-y!” Die hond spits sy ore, en daar verdwyn Ripley, believe it or not.
Hoe lank? As jy net die boom self wil sien, hoef jy omtrent net stil te hou en uit te klim. As jy die paadjie ook wil stap, begroot sowat 40 minute. Daar’s braaigeriewe by die parkeerterrein. Pak die rooster en koelboks.
Koste: Gratis.
Kontak: Vat die ou George-Knysna-pad en mik Knysna se kant toe tot jy die bordjies vir die Groot Boom ná so 4.7 km sien (kry ’n kaart by Eden Adventures.)
 

Maak toe


Wildernis het twee uitkykpunte wat jy nie behoort mis te loop nie.
Dolphin’s Point: Aan die bo-punt van die opdraande op die N2 uit Wildernis (in George se rigting) is ’n parkeerterrein. Jy het waarskynlik al in die verlede hier stilgehou, maar stap hierdie keer onderdeur die Kaaimanspas tot by die Dolphin’s Point-uitkykpunt, skaars 500 m verder. (Kyk maar mooi uit vir die trappies na die staproetetjie, want soos die wegkruipertjiekampioen van 2007, is dit maklik om mis te kyk.)
    Wildernis se kuslyn strek tot teen die gesigseinder en die mense op die strand is net spikkels. Aan jou regterkant kronkel die Kaaimansrivier rustig.
Kaart van Afrika. Gaan maak ook ’n draai by die Kaart van Afrika-uitkykpunt. (sien punt 4 vir aanwysing). Jy sien die buitelyn van Afrika in die voue van die heuwels, uitgekerf deur Moeder Natuur self.
    Die Kaaimansrivier se dun stroompie vloei doer onder al langs die buitelyn van “Suid-Afrika” en by die “Kongo” probeer ’n bondel bome kyk wie die hoogste kan groei.
    Sit sommer ’n bietjie op die houtbankie. Neem foto’s. Wys dit vir álmal wat jy ken as jy by die huis kom – min mense weet van dié plek.
Hoe lank? Dolphin’s Point: 10 minute; Kaart van Afrika: 10 minute se ry uit Wildernis.
Koste: Gratis.
Waar? Sien punt 4. Albei plekke is duidelik gemerk op die kaart van Eden Adventures.

Maak toe


Dis net voor Nuwejaar. Jy kampeer iewers aan die Tuinroete. Dis warm. Nog warmer in die tent. Die vis byt nie. As Betsie nou nog één keer haar Kersfees-Justin Timberlake-CD gaan luister...
    Ontspan. Gaan ry ’n entjie. Draai in by die dorp en hou reguit aan. Net anderkant die Protea Hotel, aan jou linkerkant, begin ’n heerlike sirkelroete van agterpaaie. Dit kronkel teen die heuwel uit tot by die ou George-Knysna-pad (ook die Sewepassepad genoem), swaai regs deur Hoekwil, van waar dit weer afdaal see toe en terugbuig tot voor die hotel.
    Na 4,5 km is die afdraaipad op linkerkant na die Kaart van Afrika-uitkykpunt (sien punt 4). Hiervandaan dein jy op en af tot by die brug oor die Touwrivier. Stop by die bruggie, kry ’n lekker rots langs die rivier, skop jou skoene uit en luister na die wind en water.
    By die T-aansluiting gekom, swaai links na die Groot Boom (sien nommer 2). Verwyl so ’n rukkie daar, braai dalk selfs ’n vleisie. Vat dan die pad terug Wildernis toe.
    Jy ry deur die gehuggie Touwsranten, wat jou vir ’n oomblik terugruk tot die werklikheid van armoede in Suid-Afrika. ’n Ent ná die dorpie Hoekwil kry jy nog ’n T-aansluiting. Mik hier links: Dié pad vleg soos boerewors al langs die Island Lake-, Bo-Langvlei- en Rondevleimeer.
    As jy wil, kan jy langs Island Lake gaan piekniek hou. Kosie en kie. kan so ’n bietjie in die water baljaar en dalk ’n potjie krieket speel, terwyl jy op derdeman ’n uiltjie knip.
    Jy kan ook gaan watervoëls kyk by die Malachite- of Rondevlei-voëlskuiling of die Bruinkop-visvanger-roete (5 km) gaan stap, voor jy terugdraai dorp se kant toe.
Hoe lank? Sit die hele dag opsy.
Koste: R16 p.p.p.d vir die Wildernis- nasionale park. As jy al die pad tot by Rondevlei ry, is dit sowat 60 km.
Kontak: Ek wil nou nie aanhou hamer oor daai kaart wat jy by Eden Adventures kan kry nie, maar...

Maak toe


“Daar is nie so iets soos ’n dom perd nie, net ’n dom ruiter,” verduidelik Amanda Terblanche van Perdepoort. Dit laat my effens meer op my gemak voel.
    Amanda bied al 16 jaar lank perdryritte aan op ’n plaas wat sy en haar man huur. Sy verduidelik mooi hoe ’n mens jou perd hanteer voordat ek vir Victor, ’n boerperd, bestyg. Sy sê ek moet saggies aan die teuels trek om hom tot stilstand te bring, links trek om links te gaan en uiteraard regs om regs te gaan. Aanvanklik sukkel ek effens om te kommunikeer met Victor, wat by elke perde-KFC (graspol) wil stop, maar later begin vlot dinge darem.
    Jy wieg deur die woud. “Hier’s luiperds in die omgewing, maar hulle is maar skugter,” gesels Amanda so in die ry. Vir ’n oomblik verwag jy ’n bebloede Saul Barnard gaan hier by jou deur die ruigtes bars, met Oupoot trompetterend op sy hakke.
    Ek leun terug in my saal terwyl Lucky Luke se temalied deur my kop speel. “Ek’s ’n aaarme eeensame côôôwboy...” Victor wil egter, tot my ontsteltenis, algaande eerder draf as stap. Dit lol, want Amanda se aanwysings ten spyt, kry ek net nie die ritme onder die knie nie.
    As jy nie perdryfiks is nie, is ’n stywe lyf die volgende dag jou voorland. Maar dis die pyn werd.
Hoe lank? ’n Uur en ’n half.
Koste: R200 vir ’n uur en ’n half. Ná die tyd kan jy vir klein Kosie op die perd rondlei teen geen ekstra koste nie.
Kontak: Bel Amanda by 082 646 8290. Jy moet bespreek. 

 

Maak toe


In die hartjie van Wildernis lê ’n knus Italiaanse restaurantjie genaamd Pomodoro. Verskoon my as ek ’n bietjie kortasem klink, maar ek het báie lekker hier geëet.
    Jy kan buite op die stoep sit en teug aan ’n skeut bourbon of ’n glas rooiwyn voor jy die kos ’n gaping gee om jou te oorrompel.
    Die spyskaart is eg Italiaans, met heerlike pizzas (die een met roket en parmaham is ’n wenner), gevoude pizzas (calzone) en ryk pastas. Net om jou nie laat vergeet jy’s in die Suid-Kaap nie, is daar volstruis ook op die spyskaart.
    Goeie kos sonder ’n lekker atmosfeer is soos wanneer die WP weer ’n slag wen... teen die Griffons. Maar Pomodoro se personeel is vriendelik en die gemoedelikheid laat jou dadelik tuis voel. Hier kan jy met oorgawe kom eet.
Koste: Sowat R50 vir ’n bord pasta en R45 vir ’n pizza.
Kontak: 044 877 1403

Maak toe


Hoe kom ek daar?
Wildernis lê 410 km van Kaapstad af op die N2, en 340 km van Port Elizabeth af.

Waar bly ek?
Kampeer:
Wildernis- nasionale park se Ebb & Flow-kamp 044 877 1197. Koste: R125 vir ’n kampplek (2 mense) en R42 vir elke ekstra mens. R800 vir ’n houthut (4 mense).
Ander:
Beach House Backpackers 044 877 0549 of 082 828 0714. Tussen R90 vir ’n slaapsaalbed tot R370 p.p. vir jou eie en suite-kamer.
Fairy Knowe-hotel 044 877 1100 Koste: Tussen R330 en R500 p.p.

Eet hier ook:
Potjie. Kies van ’n Suid-Afrikaanse tot ’n Hongaars-geïnspireerde potjie. 044 877 0731.
Rondé-View Café. Die kaaskoek is puik 044 877 1433.
Mikado’s. Die Duitse kos – bockwürst en schnitzel, byvoorbeeld – is heerlik en die personeel besonder vriendelik 044 877 1474.
 

Maak toe

Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Search Townofthemonthsarchive



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek