Die Rotskunssentrum naby die restaurant word bestuur deur Victor Biggs. Die binnekant van die sentrum lyk nes 'n grot en Victor het kunswerke op die mure nagemaak wat hy gebruik om die rotskuns te verduidelik. Jy kan ook saam met Victor na rotskuns in die Thomasrivier-streek gaan kyk.
Thomasrivier sal jy nie sommer op ’n kaart kry nie. Daar is egter groot planne vir dié piepklein Oos-Kaapse plaasgemeenskap, skaars ’n uur se ry van Oos-Londen af. Jon Minster het gaan kuier.
Net 25 km van Stutterheim se verkeerslig af, nog dieper die binneland in nadat jy uit Oos-Londen weg is, draai jy links op ’n grondpad wat deur goue grasvelde kronkel. Dis die pad na Ou Thomasrivier. Plek-plek wei ’n paar springbokke langs ’n kudde beeste.
Op die oorkantste horison hang ’n sekelmaan langs die aandster. Ek weet nie wat om te verwag nie. Ou Thomasrivier... dit klink ’n bietjie soos ’n hartseer veewagtersliedjie. Of ’n nuwe soort naskeermiddel. Die son sit laag.
Ná 4 km maak die plase plek vir ’n paar geboutjies waar ’n liggie of twee al in die skemerte flonker – en dan’s dit weer donker. Is dit al? Sjoe, Thomasrivier is klein
Ek maak ’n U-draai en hou stil voor twee retro-petrolpompe uit ’n era toe ’n vol tenk R6,45 gekos het. Nog ’n paar naweekbesoekers het pas aangekom. Hulle staan en verwonder hulle aan die toneel om hulle. Alles is so ordelik; ek voel soos ’n mannetjie in ’n lewensgroot modeltreinstelletjie.
Die kroeg en restaurant agter die petrolpompe is duidelik die plek waar dinge gebeur; hier is ’n gasverwarmer en ’n yskas vol Windhoek Lager. Ek ontmoet vir Jeff Sansom, ’n sakeman van Oos- Londen, wat saam met sy vrou, Ann, stuk-stuk die dorp restoureer.
“Thomasrivier word dikwels met Matjiesfontein in die Wes-Kaap vergelyk,” sê Jeff. “Ons probeer die geboue sover as moontlik tot hulle oorspronklike styl herstel sodat die dorp se pionierskarakter behoue kan bly.”
Thomasrivier is genoem na ’n Britse weermagdroster, ene Thomas Bentley, wat in 1801 op pad Grahamstad toe gesneuwel het. ’n Gifpyl het hom getref tydens ’n Boesmanstrooptog.
Teen die einde van die Grensoorlog tussen die Britte en die Xhosas is ’n spoorlyn gebou en Thomasrivier het gedy as ’n oornagplek op die bedrywige roete tussen Oos-Londen en die diamant- en goudvelde verder noord. Dié welvaart was egter van korte duur. Die laaste trein rammel in 1948 deur die dorp, nadat ’n korter spoorlyn (deur nege tonnels) 6 km oos gebou is.
Uiteindelik moes die algemene handelaar en die slagter hulle deure sluit. Hulle kon nie meer met die groot name op Cathcart en Stutterheim meeding nie. Toe die poskantoor in 1989 sluit, het dit gelyk asof die dorpie, soos dosyne ander vervalle nedersettings in die Oos-Kaapse binneland, ook stadigaan tot niet sou gaan.
Maar in 2002 kom Jeff en Ann hier aan nadat ’n vriend hulle van die plekkie vertel het. Hulle het die potensiaal van die vervalle geboue raakgesien en aan die werk gespring om die “nuwe” Ou Thomasrivier te vorm. Dis net ’n uur se ry van Oos-Londen af, ideaal vir ’n Sondaguitstappie. Die meeste gesinne kom eet middagete en verken dan die dorpie vir die res van die middag.
“Iemand het ’n stoomtrein geskenk,” vertel Jeff. “Ongelukkig loop dit op spore wat nie meer bestaan nie. Sodra ons die spore in die hande kry, bring ons die trein van Krugersdorp af.”
Thomasrivier is meer as net die dorp self. “Die dorp is natuurlik die middelpunt,” verduidelik John Potter, ’n voormalige boer wat nou bewaringsbestuurder is. “Maar die hele landboudistrik van 310 km2 is ook ’n bewaringsgebied. Bewaring is ’n prioriteit vir die meeste boere in die streek. Hier is ’n stewige bevolking wildsbokke en ongerepte dele waar besoekers kan stap en voëls kyk.”
Ek klim in John se bakkie. So in die ry wys hy vir my die omgewing. Dis asof ons oor ’n waterverfskildery ry, verby bruin en pers heuwels onder ’n ligblou hemel vol donsige wolke. Die skape in die veld is ook donsig – dis skeerseisoen en hulle is salig onbewus daarvan dat hulle binnekort hulle woljassies kwyt sal wees.
Ek hang my elmboog by die venster uit. Die wêreld voel sommer reg wanneer jy op ’n sonnige Oos-Kaapse oggend stamp-stamp op ’n plaaspad ry.
John sien my glimlag. “As jy dink dis lekker in ’n bakkie, moet jy op ’n fiets klim,” sê hy terwyl ons oor ’n lae brug oor die Thomasrivier dreun. “Dis bergfietswêreld, en jy hoef nie ervare te wees nie. Ek’s amper 70 en ry elke jaar die challenge.”
Die Bergfietsuitdaging, wat gewoonlik in November gehou word, is Thomasrivier se trots. Jy ry op grondpaaie en voetpaadjies in die bewaringsgebied, en die dorpie speel gasheer vir die groot makietie agterna. Verlede jaar was hier 187 deelnemers en die wenner is huis toe met ’n bevrore skaap en meer blesbokbiltong as wat hy kon dra.
Ná twee dae is dit duidelik dat jou horlosie op Thomasrivier stadiger loop. Dis ’n heerlike kuierplek as jy niks anders wil doen as vars plattelandse lug inasem nie. Maar hier is ook oorgenoeg om te sien en doen om daai stewige Sondagmiddagete te verdien…
1. Verken die dorp
Elke gerestoureerde gebou vertel ’n storie. Jeff Sansom ken hulle almal en sal jou graag rondwys. Die dorp se biblioteek was byvoorbeeld ’n skool.’n Paar gryser lede van die Thomasrivierse plaasgemeenskap onthou die dae toe hulle hier moes tafels opsê. Tydens die Anglo-Boereoorlog was dit weer ’n militêre barak.
Jeff het ’n versameling ou motors, motoronderdele en ander ditjies en datjies, wat in die Motormuseum te sien is. “Motorentoesiaste wat op soek is na onderdele, bel my dikwels,” sê hy. “Ons ruil dan gewoonlik iets.”
As jy dus desperaat op soek is na ’n 1962 Mercedes-nokas, kan Jeff dalk help.
Daar is ook ’n vervoermuseum met allerlei waens, ’n stylvolle 1935 Morris 8 Tourer en ’n 1929 Rugby Motorhome, wat Jeff af en toe aanskakel. “Hy loop soos ’n droom,” sê hy.
In die week is Jeff gewoonlik in Oos-Londen; as jy regtig die dorp wil beleef, kom vir ’n naweek. Koste: Gratis Kontak: 045 843 1504; www.oldthomasriver.co.za
Maak toe
2. Gaan soek rotskuns
Die Rotskunssentrum naby die restaurant word bestuur deur Victor Biggs, ’n voormalige boer wat deesdae alles in die stryd werp om dié bedreigde erfenis te bewaar.
Sy metodes is miskien effens onkonvensioneel (Victor gebruik waterstokke om nuwe rotskuns te soek), en sy vertolkings kan ’n paar wenkbroue laat lig, maar ’n uur in sy geselskap is heerlik. Die binnekant van die sentrum lyk nes ’n grot en Victor het ’n paar kunswerke op die mure nagemaak wat hy gebruik om die geskiedenis en geestelike betekenis van rotskuns verduidelik.
Jy kan ook saam met Victor na regte rotskuns in die Thomasrivierstreek gaan kyk. “Almal besing altyd die lof van die Drakensberg en Sederberg,” sê hy. “Maar die Oos-Kaap het van die interessantste en besbewaarde rotskuns in die land.” Koste: ’n Donasie (jy besluit hoeveel) gee jou toegang tot die sentrum. ’n Rotskunsuitstappie kos R50 per persoon of ’n minimumtarief van R250 Kontak: 045 843 1369; linvic@thomasriver.com
Maak toe
3. Vang ’n forel
As jy van kunsvlieghengel hou, koop ’n permit by die Ramble-restaurant en ry na die Reigatedam op die Amatola-platorand.
Maar selfs al vang jy nie vis nie, gaan loer steeds. Op ’n mooi dag kan jy die suidelike Drakensberg sien.
Volg die sirkelroete uit die dorp na enige kant toe. Wanneer dit lyk of jy nie nog nader aan die berge kan kom nie, wees op die uitkyk vir ’n afdraaibordjie. Ry deur die plaashek tot bo. Ry liewer met ’n bakkie wat redelik hoog van die grond af staan, want dis rof en steil. Koste: R75 per dag vir forelhengel; R30 per dag vir baarshengel Kontak: John Potter 082 575 4923; john@thomasriver.com
Maak toe
4. Ry met ’n bergfiets na die Keivallei
As jy met die N6 in die rigting van Stutterheim ry, sien jy ná omtrent 2 km ’n bord wat links wys na die Henderson-plaasdistrik. Dié grondpad vat jou na ’n aansluiting met die pad na Bacela, nog ’n vervalle nedersettinkie. Hier begin die pret. Parkeer jou ryding by dié aansluiting en klim op jou fiets. Die pad na Bacela (25 km), al langs die Thomasrivier, loop uiteindelik dood by ’n pragtige uitsig oor die samevloeiing van die Thomas- en die Keirivier.
Die natuurskoon is iets besonders. Jy is in ’n diep kloof vol doringbome, waar bobbejane van die kranse af vir jou blaf.
Besluit hoe ver jy wil ry: die volle 50 km soontoe en terug, of net halfpad. Die pad is plek-plek losgespoel, maar dis nie te uitputtend nie. En die kans dat jy op die ganse roete ’n ander siel gaan teëkom, is skraal. Koste: Gratis Kontak: John Potter 082 575 4923; john@thomasriver.com
Maak toe
5. Bekyk die spoorwegbouvalle
Net meer as ’n kilometer wes van die dorpie (die pad word met ’n bordjie aangedui), reg langs die polisiekantoor sien jy die klipbasis van die ou watertoring waar stoomlokomotiewe vir water gestop het. Aan die voet van die koppie kan jy die hoë klippilare sien wat eens die treinbrug oor die rivier gedra het.
Die interessantste bouval is ’n ou opsigterskothuis op ’n koppie langs die N6, omtrent 5 km van die Ou Thomasrivier-afdraai af in Cathcart se rigting. Die storie loop dat die spook van die opsigter – Jono Trowbridge, wie se graf langs die kothuis lê – langs die pad rondhang en werk aanbied vir mense wat op ’n donker nag verbystap. Xhosasprekendes noem dié plek Ufuna Umsebenzi, wat “soek jy werk?” beteken.
Dis nogal moeilik om die plek te kry. Gesels eerder met John Potter, die Thomasrivier-bewaringsbestuurder. Koste: Gratis Kontak: 082 575 4923; john@thomasriver.com
Maak toe
6. Koop ’n uilboks
Wil jy ’n uil na jou tuin toe lok? Koop dan ’n uilboks by Buck Smith. “Die soort boks hang af van watter soort uil jy wil lok,” sê Buck. “ ’n Nonnetjiesuil het ’n landingstrook nodig; ’n ooruil hou van ’n dakwoonstel met ’n uitsig reg rondom; en ’n katuil verkies ietsie smals met ’n gat aan die bokant. Die uile is baie kieskeurig: die huisies moet met ’n spesiale reuklose beskermingsmiddel behandel word.”
Buck het gewoonlik ’n huisie of twee in voorraad, maar dis beter om vooraf te bel en een te bestel. Jy kan dit by sy plaas oplaai wanneer jy aankom. Koste: R200-R300, afhangende van die huis Kontak: 045 843 1312; 072 109 6334
Maak toe
7. Kom smul op ’n Sondag
Op die eerste Sondag van elke maand is daar ’n buffetvoorsnytafel by die Ramble-restaurant. Bespreek betyds, want dis ’n gunsteling onder dagbesoekers van Oos-Londen. Kry jou sit in die son en lê weg aan ’n bakkie botterskorsiesop en oondgebraaide bees- en varkvleis, aartappels soos net jou ouma dit kon maak, allerlei slaaie en sponspoeding met room.
Moenie bekommerd wees as jy dalk in die middel van die maand hier aanland nie; jy kan ook heerlike à la carte-geregte bestel. Die restaurant is oop vir aandete van Woensdae tot Saterdae, en Sondae vir middagete. Koste: R65 per persoon vir die buffet Kontak: 045 843 1504; michelle@oldthomasriver.co.za
Maak toe
Thomasrivier in 'n neutedop
Hoe kom ek daar?
Thomasrivier is 4 km van die N6 af, halfpad tussen Stutterheim en Cathcart.
Verblyf
Op die dorp kan jy in die stasiemeester of -voorman se huis bly – dis in selfsorgkothuise omskep en kos R120 per nag vir een of twee mense, R90 per persoon vir drie of meer. Groter groepe kan in die ou poskantoor bly, wat nou ’n staphut is met 16 beddens. (Jy betaal R50 per nag as jy beddegoed ook wil hê en R40 daarsonder.) Daar is ook ’n kampterrein en woonwapark wat R50 per staanplek kos. Die omliggende bewaringsgebied het ’n paar selfsorgkothuise teen billike pryse, en hier kan jy nóg meer vrede en stilte kry. Die pryse wissel tussen R100 per nag vir die huis en R50 per persoon vir groter groepe, tot ’n vaste bedrag van R120 per persoon vir kleiner groepe. Kontak: Michelle White-Phillips 045 843 1504; www.oldthomasriver.co.za of John Potter 082 575 4923; www.thomasriver.com oor selfsorgverblyf in die bewaringsgebied.
Waar kan ek eet?
Ramble-restaurant 045 843 1504
Is daar selfoonontvangs?
Ontvangs op die dorp is goed, maar jy sal dalk jou sein bo by die Reigatedam of op die pad na Bacela verloor.
Geld en brandstof?
Jy kan al twee op Cathcart (23 km) of Stutterheim (25 km) kry.
Kommentaar