Bring jou kinders om te kom feetjies soek tussen melkhout- en witstinkhoutbome in Platbos, die grootste oorblywende deel van 'n ou inheemse woud, die Swartkransbergwoud. Kyk uit vir bosbokke, grysbokke, rooikatte, muskeljaatkatte en plek-plek ook bobbejaanbollie.
Baardskeerdersbos se hart lê in sy mense, het Cilnette Pienaar agtergekom toe sy dié Overbergse dorpie vir ’n paar dae besoek het.
Dis beter om soos ’n ordentlike mens in daglig op Baardskeerdersbos op te daag. Nie soos ek, halfses op ’n Dinsdagaand nie, want dan is die plek bottoe.
Die verwelkomingskomitee is twee Jack Russells, ’n kalf wat “grassny” in ’n oop voortuin (as jy vinnig kyk dink jy dis ’n Rottweiler), ’n hoender of twee wat verbete voortpik en ’n hadida in eensame vlug. Selfs in die skemerlig kan jy sien dis mooi hierso, en vars en skoon.
Padlangs kom jy skielik op dié plekkie in die kreukels van die Strandveld af, en as jy nie betyds briek nie is jy nét so anderkant uit, verby ’n weiveld met twee spierwit perde.
Min mense sal vir jou sê hulle was al hier. Party het al gehoor van Baarskeerdersbos se boereorkes. Vir ander is dit net ’n newelige naam op ’n padteken in kleintyd se Gansbaai-vakansieherinneringe.
Jy sal sien hoekom dit so is – jy ry Baardskeerdersbos nie sommer toevallig raak nie. Dit lê weggesteek op ’n pragtige agterpad tussen Gansbaai en Bredasdorp. (As jy presies wil weet waar, kry sommer dadelik Peter Slingsby se uitstekende Overberg Whale Coast-kaart in die hande.)
In Woensdagoggend se warm lig lyk die plek nóg beter as in die volmaan. Ek kry vir Helena Swart, eiendom- en olyfboomagent, by haar tydelike houtkantoortjie oorkant die lappies grond met die wit perde. Ná omtrent drie minute se gesels is dit duidelik dat Baardskeerdersbos, wat so plattelands en lomerig lyk, onder die oppervlakte woel en verander. “Hier’s in die afgelope paar jaar al oor die 4 000 olyfbome aangeplant,” sê Helena, “en ’n klomp mense in die omgewing eksperimenteer met projekte wat besoekers gaan lok.”
Al stroom die toeriste nog nie hierdeur nie, staan die “Te Koop”-bordjies al soos paddastoele voor die historiese huisies in die hoofstraat.
Ons stap saam deur die dorp. Jy kan nog nie by ’n toerismesentrum stop om ’n pamflet en kaart in die hande te kry nie, maar ’n mens kom gou-gou agter dis nog grotendeels ’n klop-en-vir-jou-sal-oopgemaak- word plek. By Carel en Elsabé van der Merwe op Oosterlig, oorkant die pad, eet ons broodjies wat in balsamieke asyn en die Van der Merwes se eie olyfolie gedoop is. Carel sê olyfolie word van drie soort olies gemaak. “Dis mos soos wyn, elke boer se resep smaak anders,” sê Elsabé.
’n Entjie in die straat af loer ons in by die oorspronklike smidswinkel, waar boere destyds hulle perde kon laat beslaan het. Die nuwe eienaar, Louis Penzhorn, is besig om dié gebou te restoureer.
“Dis nou die gees hier op Baardskeerdersbos,” reken Carel. “Baie van die tipiese Strandveld-styl huisies uit die 1800’s word deur nuwe intrekkers gerestoureer. Oor tien jaar gaan hierdie vallei heeltemal anders lyk.”
Dit lyk glo ook, vir die soveelste keer, of die pad waarop Baarskeerdersbos lê, geteer gaan word. Almal, die ou inwoners én die nuwe intrekkers, is maar half sku oor die “euwels” wat ’n teerpad hier kan inbring.
“Ons wil net nie straatligte hê nie,” sê Carel.
“Ons hou daarvan dat ons bure nie naby genoeg is om te hoor nie,” sê die kunstenaar Amanda Jephson.
Amanda het dit op haar skouers geneem om die dorp se rondloperdonkies onder haar vlerk te neem. Dis juis hierdie donkies wat ’n bietjie wrywing tussen haar en een van die ouer bekendes, Snoekie Groenewald, veroorsaak het. Sy reken hy sal jou gou vertel van die “Engelse rooikop” wat hom vir vyf ure tronk toe gestuur het. Maar sy wil nie verder uitwei nie. Dis duidelik dat Baardskeerdersbos sy nuwe blaadjie nie sonder pyne omslaan nie.
Ek weet nie of ek half uitgehonger voorkom nie, maar oral waar ek kom wil mense my net voer. Dis net jammer niemand bied my van die witblits aan wat ek hoor nog hier en daar gestook word nie.
Hulle gaar dit glo op vir die NG Kerk-basaar. “Dis omtrent die enigste kerkbasaar in die land waar mens witblits kan koop,” sê Zelna Botma van die gastehuis waar ek op Kleinbaai bly.
Baardskeerdersbos is nie soos Margate en Hermanus wat regstaan om jou te wine and dine in ruil vir jou Desemberbonus nie. Dis eerder soos familie by die see, wie jy liefs ’n paar weke vooruit moet bel as jy met die kinders en al gaan opdaag. “Gee maar net oral ’n lui om seker te maak dat dit geleë is,” sê Mathia Schwegler van Heidehof-plaas.
As jy gelukkig is, kom jy op ’n naweek wanneer die sesman- Baardskeerdersbos-orkes sports maak by die Saterdagaand-vastrap by Die Waenhuis.
1. Stap in Afrika se suidelikste natuurlike woud
Bring jou kinders om te kom feetjies soek tussen die wortels van melhout- en witstinkhout bome in Platbos, die grootse oorblywende deel van ’n ou inheemse woud, die Swartkransbergwoud. Hier’s vier gemaklike staproetes van ’n uur of twee.
Platbos is uniek omdat dit groei op ’n plek waar jy eintlik glad nie ’n woud sou verwag nie, sê die eienaar, Melissa Krige. Dit “klou vas” aan ’n onbeskutte hang en groei in grond wat eintlik meer geskik is vir fynbos – dis sanderig en alkalies. Boonop is hier voortdurend ’n brandgevaar.
Maar nietemin groei die witpere, klipelse, seeghwarries, ysterhoute, olienhoute en hardepere nog ruig. Die bome groei platter en breër as hulle eweknieë in ander woude omdat hulle dieper vir water ook moet soek. Vandaar die naam: Platbos.
Daar’s ook oral “oumansbaard” soos versierings oor die bome gedrapeer. Dit is glo ’n teken dat jy van die suiwerste lug in die land hier inasem!
Kyk uit vir bosbokke, grysbokke, rooikatte, muskeljaatkatte en die sporadiese bobbejaanbollie. Hier is lekker piekniektafels, en ’n kwekery waar jy ’n stukkie van die woud kan koop om saam te vat huis toe.
En as jy voel dat jy ’n bietjie balans in jou lewe nodig het, kan jy op die perlemoenskulplabirint in die middel van die bos kom stap en mediteer. Kostes: R50 per volwassene, R20 per kind. Bespreek. Kontak: Melissa of Francois Krige (*082 411 0448) Waar: Op die Grootbos-pad.
Maak toe
2. Koop ’n kunswerk
Naas die NG Kerk- basaar is die Baardskeerdersbos-kunsroete die grootste affêre van dié kontrei. Al die plaaslike kunstenaars omskep hulle huise in kunsgalerye en mense ry van heinde en ver om heeldag so van huis tot huis saam met kunstenaars te kuier.
Kom belê in enigiets van strandhuismeubels tot olieverfskilderye deur P.D. Coetzer, Joshua Miles, Colleen Emmenis, Annalie Theunissen, Gillian Eyre, Victor Breach, Claudette Barnes, Amanda Jephson, Andrée Bonthuys en Niël Jonker.
As jy honger word op die kunsroete, kan jy ook kom aansit by die lang tafel op Niël Jonker se Bakhuis se diep stoep vir suurdeegbrode, met vars slaaie gemaak uit tuinprodukte, vleis en kaas uit die kontrei en lekker wyn. Gesels gerus met Niël oor die kunsies van brood bak.
Die volgende kunsroete strek oor ’n naweek – julle kan sommer oorslaap. Koste: Kyk is verniet, maar bring kontant – jy sien dalk iets vir daai kaal kolletjie in die voorportaal... Kontak: Claudette Barnes – * 028 381 9636 of * 083 444 2613. Wanneer: 27 en 28 September
Maak toe
3. Eet ’n kaasburger, Burger!
By Manie Groenewald se algemenehandelaarwinkel kan jy koeldrank en boeliebief koop, maar die naaste pizza-plek is op Gansbaai. Moet ook nie ’n skattige pannekoekwinkel verwag nie – dis nog nie Graskop of Greyton hierdie nie.
By die Strandveld Pub & Grill bring Dorettha Otto nog vir ’n mens ’n lekker beker koffie met warm melk. Hulle het ook ’n verskeidenheid van broodjies en hamburgers en ander dinge wat gerooster word. Bestel ’n kaasburger, sit op die stoep en tuur oor die vallei.
Die kroeg is van die ou soort, en as jy nog altyd spyt is dat jy nie langpouse in matriek daai Lion Lager agter die B-veld-pawiljoene saam met die manne gekap het nie – dis ’n ou skoolgebou die, nou’s jou kans.
Jy kan ook eersdaags ’n foto van jou ponierit vir ouma Ester op Goegab e-pos, want eienaar Barney Otto (ook bekend as die “Don” van B’bos…) is besig om vier rekenaars met internet-toegang te installeer. Kontak: Sandveld Pub en Grill * 028 381 9177 Koste: R30 vir ’n groot kaasburger met gebraaide uie en behoorlike slap tjips. R7 vir die koffie. Waar: Volg die bordjies van die hoofstraat af. N.S. Onthou om geld te trek op Hermanus. Plastiek gaan jou nie ver bring in hierdie vallei nie.
Maak toe
4. Spin die Isuzu vol regte modder
Op die Mount Dyer-fynbos-4x4-roete kan die tweeling agter in die dubbelkajuit bome en blomme van ’n inligtingstuk af identifiseer.
Jy ry deur dele van dieselfde inheemse woudgordel as Platbos en jy kan ook ’n klipperige bergpad, modder en sand verwag.
Voor die ryery stap mens eers saam met ’n gids deur Daantjie-se-bos om iets van die plante te leer.
Daar’s uitkykpunte oor Uilenkraalsmond, Franskraal, Pearly Beach, en Dyer-eiland, waar Jaws se agter-agterkleinnefies ronddraai.
Die roete is net 12,5 km lank maar dit vat 5 ure om te voltooi. Dis nie te rof nie – as jy ’n 4x2-bakkie met ’n ewenaarslot het, kan jy gerus kom probeer.
Aan die einde van die roete is daar kampplek vir 24 mense onder die witstinkhout- en melkhoutbome in Annie-se-bos. Hier’s ongelukkig geen ablusiegeriewe en warm storte nie, wel ’n toilet en rooster vir braai. Moenie Skukuza se ablusiegeriewe verwag en uitsien na ’n warm stort nie. Om die waarheid te sê, moenie uitsien na enige stort nie. Hier’s ’n toilet en water en roosters vir braai.
Bring jou eie hout saam, want as jy met die melkhout gaan vuurmaak, gaan die weerlig jou slaan. Koste: R150 per voertuig vir die roete. (R150 vir een quad en vir twee of meer is dit R80 per quad).
Kampering tarief: R30 per volwassene, R15 per kind (graad 1-7). Voorskoolse kinders – gratis. Kontak: Kobus en Mariaan Burger * 028 388 0384 Waar: Op die Grootbos-pad.
Maak toe
5. Kou ’n blaar vir die rumatiek
As jy nie veel weet van fynbos en die Kaapse blommekoninkryk nie, is dit beslis die geld werd om vir ’n oggend saam met Mathia Schwegler van Heidehof-fynbosnatuurroetes in die kalksteenfynbos te kom rondstap. Sy sal jou meer vertel as wat jy met groot moeite uit ’n boek sal kan agterkom!
En sy gaan jou nie net name leer nie – Mathia het self al ’n boek geskryf oor die medisinale gebruik van dié veelkleurige bossies en blommetjies, met ’n paar resepte daarby.
Jy stap boonop langs versteende duine waar sy fossiele en interessante rotsformasies uitwys. As jy moeg is vir die fynkyk hier by jou voete, slaan jou oë op na Franskraal se branders wat op die horison in die son speel.
Soos enige ander privaatonderrig gaan dit jou ’n bietjie meer uit die sak jaag, maar jy word darem beloon met ’n glas wyn of drie en versnaperinge onder die melkhoutbome aan die einde van die roete.
Jy kan ook een van Mathia se boeke en ’n potjie fynbosgesigroom as aandenking koop. Kostes: R250 p.p. vir die eerste twee stappers, R25 minder vir elke pelgrim wat bykom. Bespreek. Kontak: Mathia Schwegler * 028 388 0073 of *072 798 7181 Waar: Die Heidehof-afdraai is op linkerkant, ses kilometer van Baardskeerdersbos af op die Uilkraalsmondpad. Van die afdraai af is dit omtrent nog 4 ½ kilometer. Heidehof lê aan die linkerkant teen die koppe.
Maak toe
6. Terug veldskool toe!
As jy ’n lekker groot familie of ’n matriekklas het wat ’n gawe plaas soek vir ’n naweek-reünie is hierdie jou plek. Dis g’n niks fênsie hier nie, maar heel netjies en goed ingerig vir lang aande om die groot kaggel.
Die twee historiese opstalle op die plaas word gereeld betrek deur kerkgroepe, skoolgroepe en ander groepe met iets om te vier. Die een huis huisves 60 mense en die ander ene 80! Die huise het altwee dammetjies met ’n foefieslaaid en bootjies. Die hele opset laat ’n mens terugdink aan die middernagfeeste op die st. 4-veldskool.
Vir elke groep wat hier aankom, bak Aletta Groenewald plaasbrood en ’n groot koek. ’n Mens hoef ook nie hier te slaap om op die plaas te kom piekniek hou tussen die boerboklammers of pouvere op te tel nie.
Dirk Groenewald, wie se oupagrootjie al in 1860 kaart en transport vir die plaas gekry het, haak sommer ’n sleepwa aan sy trekker waarop jy al 44 niggies en nefies kan laai en deur die fynbos laat waai. Kontak: Dirk en Aletta Groenewald Koste: R400 vir die trekkerrit.
Kommentaar