Goed, beter, Boven
Waterval-Boven is net so gehard soos die rooi kranse wat die dorp omring. Op dié spoorwegdorp verloop die lewe teen ’n stoomtreinpas.
Waterval Boven 101
Waar eet ek?
Steam Inn. Lekker pizza vir R50 en teen R60 kan jy ’n bottel van “oom Oubaas” se mampoer aanskaf.
Kontak: 013 257 1008
Bergwater Eco Lodge. Eet middagete teen R80 ’n kop, bespreek vooraf.
Kontak: 013 257 7081
Plan B (B vir bekostigbaar) Waters van Rus-bakkery. Heerlike muffins (’n pakkie van ses) teen R12 in die hoofstraat.
Wat gebeur deur die jaar?
19 Julie: Forelvrouedag. Die vroue maak lyn nat.
9 Augustus: Oosterlijn-rally. Kom kyk wanneer 100 motorfietse deur die dorp dreun.
30 Augustus: Lente-forelfees. Die dorp se forelvereniging bied sy gróót kompetisie aan.
26 – 28 September: Roc Rally. Spanne van twee klim dat die byle huil.
Waar bly ek?
Die dorp se bekende Elandskrans-vakansieoord is weer oop. Om rooftogte, soos voor die sluiting, te voorkom, het die nuwe bestuur ’n sekuriteitsmaatskappy aangestel om die oord te beskerm. Drie wagte patrolleer dag en nag die gebied, maar besoekers word steeds gemaan om motors gesluit te hou en liefs waardevolle goed soos skootrekenaars en duur juwele tuis te los.
Bel Travellers’ Info by 013 257 0444 of besoek www.linx.co.za/waterval-boven vir nog idees. Kyk na www.krugergateway.co.za vir opsies in die Elandsvallei.
Hoe kom ek daar?
Waterval-Boven is ongeveer 250 km vanaf Pretoria. Die twee tolhekke op pad soontoe kos R33 (Middelburg) en R49 (Machadodorp). Buite die reënseisoen kan jy ’n grondpad-ompad van 17 km om die Machado-tolhek ry as jy regtig wil – bel vir Gustav om te beduie.
(Nota: Pryse akkuraat in Mei 2008)
Doen die dinge:
Waterval-Boven se waterval
Trek volgende keer op die N4 langs die tonnel buite die dorp af en stap na die waterval wat aan die dorp sy naam gee.
Stop egter net hier tussen 8 vm. en 4 nm. wanneer die toerisme-monitors aan diens is en dit veilig is. Dis vier manne met geel glimbaadjies sal ook vir jou lig maak in die pikdonker tonnel van die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatskappij (NZASM) wat uit 1893 dateer.
Stap op die paadjie regs van die tonnel na die onderpunt van die waterval as jy ’n bietjie sproei op jou lyf wil voel. Die Elandsrivier-waterval, ’n nasionale gedenkwaardigheid, troon sowat 75 m hoog bo jou uit.
Skaars ’n kilometer verder is nog ’n oorblyfsel uit die NZASM-dae, die vyfboogbrug. Soos die tonnel, is die klip waarmee die brug geplavei is in Italië gekap en stuk vir stuk hierheen verskeep.
Heelwat mense is al hier besteel, stop dus net by die brug as die polisie aan diens is.
Rek jouself uit teen die rotse
As jy al ooit gewonder het of jy ’n bietjie geitjie in jou het, is Waterval-Boven die plek om uit te vind.
Die aantal én verskeidenheid rotsklimroetes teen die lekker lang kranse en die pragtige omgewing maak van Waterval-Boven sekerlik die beste klimplek in die land.
Roc ’n Rope se naweekkursusse vir beginners het ’n goeie reputasie.
Rotsklimmers het Waterval-Boven se hoë rotskranse in die vroeë 1990’s ontdek en vandag is daar meer as 600 klimroetes om van te kies.
“’n Mens hoef nie lank te wees nie, maar jou sogenaamde ape index moet groot wees,” verduidelik Gustav Janse van Rensburg van Roc ’n Rope. “Met ander woorde – as jou kneukels teen jou knieë klap, sal jy waarskynlik goed kan klim.”
Hoekom rotsklim?
“Persoonlikheidstoetse sal wys jy en ’n ander ou behoort glad nie oor die weg te kom nie,” sê ’n Johannesburgse student, Guillaume de Swardt, wat gereeld hier klim, “maar ná ’n epiese klim is julle beste vriende.”
Gustav kan jou ook help abseil, bergfiets ry of witwaterroei in die omgewing.
Koste: R950 vir die kursus
Kontak: 013 257 0363; www.rocrope.com
Toeka se dae
Wat is ’n dorp sonder ’n spook? Op Waterval-Onder het ’n Britse soldaat en sy Afrikaanse nooi, ’n verpleegster, vir jare gaan kers opsit onder die peperboom wat voor die wisselstasie vir poskoetsperde gestaan het. Die man, lt. John Lawlor, kon glo aan sy uniform van die Inskilling Dragons-regiment uitgeken word en sy graf is in die begraafplaas te sien. (In 1966 het weerlig die peperboom getref en die oorblywende helfte het kort daarna omgeval en toe hou dit op spook.)
Hier is ook ’n klomp werkers begrawe wat gesterf het terwyl hulle aan die treinspoor gewerk het. Die storie loop dat een man vir elke dwarslêer op die lyn gesterf het!
Agter die begraafplaas is Krugerhof, waar pres. Paul Kruger in die winter van 1900 gewoon het voor hy as banneling na Europa gevlug het. Die vierkantige sinkhuis is in ’n netjiese museum omskep.
As jy na die berg oorkant die dorpie kyk, sal jy die slingerspoor van die ou poskoetsroete sien. Reël vooraf met Helen Maddison van Round the Bend-farm om die paadjie uit te stap. Dit behoort jou twee uur heen en weer te neem en jy het ’n lieflike uitsig van bo af.
Wanneer? Krugerhof is elke dag van 9 vm. tot 4 nm. oop.
Kontak: 013 257 7035 (Helen)
Bekyk ’n “Indiese tempel”
“Ek is mal oor diere,” sê Sue Yates van Blaauwboschkraal Trails, sy besit 23 perde, 15 honde en 10 katte. Klim op een van haar perde en draf na die Blaauwboschkraal-ruïnes in die berge bokant Boven.
Ons saal op en kies koers berg-op, vergesel deur sewe blaffende brakke. Ná ’n halfuur se rustige trippel kyk ek af op Waterval-Boven, omring deur groen berge. “Op ’n helder dag sien jy so ver as Machadodorp,” sê Sue.
Dan sien ek die eerste sirkel. Dié ruïnes bestaan meestal uit een of meer ronde klipstrukture. Elkeen is uniek, maar die oorsprong is ’n raaisel – party mense glo dis Indiese tempels, en ander is oortuig mense uit Afrika het dit 1 500 tot 2 000 jaar gelede opgerig. – Lawrette McFarlane
Waar: 8 km buite die dorp op die Schoemanskloof-deel van die N4
Koste: R150 vir ’n twee uur lange uitstappie
Kontak: 082 853 3993; www.bbktrails.co.za
Tart ’n forel
Forelvang op Waterval-Boven is vir hengelaars wat nie hou van sukkel nie. Die dorp se drie damme lê stapafstand van ’n paar winkels af, jy kan piekniek hou en braai op die oewers en die ablusieblokke is silwerskoon.
“Die gras word ook gereeld gesny en die bome se takke is nie in die pad nie,” vertel Stuart Ormerod, wat die Elands River Fly Shop op die dorp besit. “ ’n Beginner hoef dus nie heeltyd sy lyn uit die takke te vis nie.”
Ernstige hengelaars kan forelle langs 8 km van die Elandsrivier terg. En laer af in die vallei, tussen die Elands- en Montrose-waterval, swem ’n spesie geelvis wat nêrens anders op aarde te vinde is nie.
Kry jou permit by Stuart of die klubhuis. Hiermee kan jy twee visse huis toe vat vir die kole.
Koste: R70 per permit. By Stuart kan jy ’n visstok teen R50 per dag huur. (R100 deposito). Reël met eienaars in die Elandsvallei om hier te vang, www.krugergateway.co.za.
Kontak: WBTA - www.linx.co.za/wbta of 082 870 6574. Stuart, 082 457 3716.


















Kommentaar