Die Marakele Nasionale Park (18 km buite die dorp) is Thabazimbi se trots. Dit was in die negentiende eeu 'n "toevlugsoord" vir die Tswanas wat hier in die berge teen die Zoeloes geskuil het. Hierdie vlakvark lyk heel op sy gemak in die gewilde toevlugsoord.
Hoewel yster al eeue lank by Thabazimbi ontgin word, het die dorp eers in die jare dertig ontstaan. Tog is die Bosveld ná al die jare nog nie naastenby getem nie.
Thabazimbi is nog “lekker bos,” vertel Mossie Bredenkamp, wat al sy lewe lank hier bly. “By die kerk is daar bosbokke,” sê hy, “en mense wat naby my bly, voer bosvarke en groot koedoebulle in hulle tuin. Hier is ook luiperds... baie, baie. As ek in die oggend afstap bus toe, hoor ek hoe die bobbejane kla.”
Die meeste Thabazimbiërs kan ’n storie of drie oor wilde diere vertel. Ewald Botha, veteraan-inwoner en toeroperateur, wys waar ’n seekoei haarself vroeër vanjaar by die myn se brug oor die Krokodilrivier tuisgemaak het. Later vertel Ems Strydom van Wes Enterprises weer hoe drie leeus wat vermoedelik uit Madikwe, ’n reservaat sowat 100 km van die dorp, ontsnap het, haar stoet-boerbokke op hulle plasie buite die dorp lastig geval het.
Hier is ook hope slange: Egiptiese kobras, luislange, rinkhalse, pofadders, groen boomslange, nagadders... Makoppa, ’n klein plekkie naby Thabazimbi, beteken nie verniet in Tswana “mamba” nie.
Dié dorp in Limpopo spoel oor Helshoogte teen die helling van Sovereign Hill af sonder dat ’n mens juis bewus word van huise se dakke onder die knoetse bome. Van omtrent enige plek in die dorp af kyk jy in ’n beboste berg vas.
Thabazimbi beteken “berg van yster” – of so het ek altyd gedink. ’n Boek oor die dorp se geskiedenis, Thabazimbi Ysterertsmyn 1931-2006, verduidelik egter ’n sekretaris van Yskor, ene Van Dalsen, het die naam saamgestel uit die woord vir berg (“Thaba” in Sotho), plus ’n verbuiging van die woord vir yster (“Tshipi” in die Sotho-taalgroep en “Ntsimbi” in Zoeloe).
Waarmee hy nie rekening gehou het nie, is dat “zimbi” die Zoeloe-woord vir boosheid is! Eisj. Die ysterertsmyn het dus vir ’n ruk lank gesukkel om werkers te werf om op die “berg van duiwels” te kom werk.
Maar dalk is dié assosiasie nie heeltemal onvanpas nie, want in die somermaande styg die temperatuur hier gereeld tot bo 40º C. Een sakegids stel dit so: “Thabazimbi is so warm soos die hel, net mooier!”
Die meeste besoekers kom dus liewer in die winter hierheen. Die dorp se gewilde ekspo (voorheen die wildsfees) word in Mei gehou en ’n skou van 31 Julie tot 2 Augustus. Vandeesmaand, van 7 tot 10 Augustus, sal jy ook ’n stroom karre op pad na die jaarlikse Oppikoppi-musiekfees raakloop.
Daarby is winter natuurlik jagtyd. Al hoe meer inwoners begin fokus toenemend op die jagbedryf en ekotoerisme noudat die dorp sy mynwortels ontgroei.
Dié wortels lê in die ontstaan van Yskor. Die Thabazimbimyn is in 1931 aangelê om ystererts te verskaf aan Yskor se hoogoonde in Pretoria-Wes. Destyds het hier glad nie mense gewoon nie. Hendrik van der Bijl, eertydse voorsitter van Yskor, het glo met sy eerste besoek twaalf uur lank verdwaal op pad hierheen.
En nou, minder as tagtig jaar later, bars die dorp uit sy nate en word elke tweede plaas in ’n “eko”-landgoed omskep.
Maar die wilde diere weet Thabazimbi behoort eintlik aan hulle...
1. Bestyg die Kransberg
Die Marakele- nasionale park is Thabazimbi se trots.
Dié park van 670 km2 (67 000 ha) is in 1994 geproklameer en sou eers die Kransberg- nasionale park genoem word. Omdat dié naam egter so volop is, is die park toe “Marakele” gedoop, want dit was in die negentiende eeu ’n “toevlugsoord” vir die Tswanas wat hier in die berge teen die Zoeloes geskuil het.
As ’n mens van Thabazimbi af die 18 km tot by die park se hek ry, kan jy jou nie voorstel dat ’n mens tot by die radiomas op die kranse voor jou sal kan ry nie. Maar met ’n smal paadjie kruie jy al langs die rooi hange uit.
Bo stap jy deur die veld tot by ’n punt waar jy in die broeiseisoen – die wintermaande – “ ’n derde” van die wêreld se kransaasvoëls kan sien (sowat 800 broeipare). Van hier af tuur jy tot aan die horison oor die Waterberg en die bos. Die vallei suig al die klank in sodat jou stadsore amper pyn van die stilte.
Begroot ten minste drie uur heen en weer van die hek af (jy kan met ’n gewone kar tot bo ry?).
Bring jou woonwa of tent na die Bontle-kamp of bly in selfsorgsafaritente by die Thlopi-kamp. Koste: R17 p.p. vir ’n dagbesoek. Kontak: 014 777 1745; www.sanparks.org
Maak toe
2. Toer na die logge lorries
“Tlhokomela di tyre – R140 000,” waarsku ’n reuse-buiteband wanneer jy saam met Ewald Botha van Ewaldtie Toere by die werkwinkels van die Thabazimbi-ysterertsmyn uitry.
Die lorries wat in die oopgroefmyne van Thabazimbi erts en afval vervoer, gebruik ses van dié R140 000-bande en weeg amper 300 t as hulle volgelaai is. ’n V16-dieselenjin dryf die lorries aan.
“Daardie laaigraaf weeg 600 ton,” beduie Ewald waar ons in die Buffelshoek-groef staan. “As hy op-start, gebruik hy soveel krag soos die hele dorp saam.”
My kop wil draai; die syfers is te groot. Ewald het in 1966 op die myn begin werk en weet hoe om jou deur al die stelsels tot in die groewe te kry, iets wat nie maklik is met myne se hedendaagse veiligheidsbewustheid nie.
Gewoonlik vat Ewald besoekers eerste na die aasvoëlrestaurant in die Ben Alberts-natuurreservaat, wat deur die myn bestuur word. Ons sien krans-, swart- en witrugaasvoëls en ook omtrent honderd maraboes (het jy al ooit een in die Bosveld gesien?) terwyl ’n rooibok stilletjies verby die skuiling se eenrigtingglas sluip.
In ’n ander deel van die reservaat bekyk jy weer oorspronklike ystersmeltoonde wat van 1450 dateer. Dis klein holtes waarin ’n mens tot by jou bobene sal kan staan.
Ongelukkig was die tydsbereking verkeerd om ’n grot met klein aragoniet-kristalle te sien, want die plek is só sensitief dat dit net twee keer ’n maand oopgestel word. Blykbaar lyk die plek soos ’n witgesneeude woud van die skitterwit kristalle. Koste: R100 p.p. Tye: Al om die ander Saterdag (slegs op bespreking) Kontak: 014 772 1556; 082 878 1275
Maak toe
3. Stof jou stapstewels af
As jy hou van voetslaan, kan jy die Kransberg op die plaas Hartebeesfontein uitstap.
’n Roete van 10 km neem jou tot by ’n punt wat 2 045 m bo seespieël lê. Daar is ook ’n moeiliker roete, maar dis bedoel vir mense van Vernon Koekemoer se kaliber. Die eienaars waarsku jy moet hiervoor nie hoogte- of engtevrees hê nie.
As jy jonger kinders het, stap eerder in die vallei af na die Lo-Hani-swemgat, waar julle kan braai en in die helder water afkoel. Of slaap oor in die basiskamp en doen al twee roetes as jy hier is vir ’n naweek. Waar? Hou reguit aan verby Marakele tot waar die pad grondpad word. Van hier af is dit 16 km verder op regterkant. Koste: R20 p.p.p.d. + R5 parkering Kontak: 014 772 1270 (indien geen antwoord, 016 451 1407)
Maak toe
4.'n Regte "lazy river"
Deesdae kan ’n mens in jou sitkamer ’n potjie tennis speel teen jou TV, maar party doodeenvoudige goed gee jou steeds eindelose plesier, soos binneband-ry op ’n rivier.
Die plaas van Francois Badenhorst van Inibos Quads is só groot dat jy vir langer as ’n uur op die Krokodilrivier, wat langs sy grond loop, kan dryf. Dis baie gewild onder gesinne.
Bel vooraf om seker te maak die watervlak is hoog genoeg, want dit word deur die sluise van die Hartebeespoortdam bepaal. (Die water is skoon teen die tyd dat dit by Inibos opdaag – nadat dit deur die Rooikoppies-dam gevloei het.) Waar? 50 km van Thabazimbi op die R511 Koste: R35 p.p. (plus R50 dagbesoekerstarief) Kontak: 082 465 3737; www.inibos.com
Maak toe
5. Besoek die taksidermis-museum
Langs Akacia Lodge kan jy deur die grootste taksidermis-ateljee in die Waterberg gaan stap. Op die mure van die ontvangslokaal is hier nie plek vir ’n muis nie. Letterlik. Tussen visse en ’n yslike olifantkop kry ’n ietermago net-net plek. Langs die slanke kameelperdnek kry ek vir die eerste keer ’n behoorlike gevoel vir die dier se grootte.
Christo Schutte, wat die houtsneewerk doen, lyk effens oorbluf toe ek vra hoeveel diere elke jaar hier opgestop word. “Maklik 10 000?” sê-vra hy.
’n Mens kyk na al die stappe in die proses, van waar die velle gebrei word tot waar dit oor ’n raam gemonteer word en “make-up” kry om seker te maak die dier is mooi afgerond. Tye: 8 vm. tot 4 nm. Kontak: 014 772 2082; www.drtaxidermy.co.za
Maak toe
6. Doen die leeuloop
Mike en Chrissy Hodge is rou Britte wat tien jaar gelede die grou weer van Engeland vaarwel geroep het en hulle in die Waterberg kom vestig het. “Dis die beste tien jaar van my lewe,” sê Mike.
By Akasia Lodge, sowat 30 km buite Thabazimbi op die Lephalalepad, teel hulle nou met wit leeus. Shamba is in April gebore en word met die hand grootgemaak. Besoekers mag met hom speel terwyl hy nog klein is en ook kyk hoe die vier groter leeus gevoer word. Koste: R50 per persoon (R25 vir kinders) Kontak: 082 853 0124; 082 323 2456
Maak toe
7. Skiet met 'n boog
Boogskiet is beslis ’n gewilde sport op Thabazimbi – hier is drie klubs.
Ek loer een aand by die Pro Bow-klub in. Dis ’n gesinstorie dié: Eers haak Ma en Pa ’n pyl in die boog, haal die snaar oor tot agter hulle oor en los die sneller deur bloot ’n vinger te versit. Dan staan die kinders nader aan die “bad”, ’n rubberpaneel waarop ’n foto van ’n dier geprojekteer word. ’n Mens mik vir waar jy meen die hart en longe is.
“Mense wat geneig is om dinge te vinnig te doen, leer hier om te konsentreer,” sê Nico Engelbrecht, voorsitter en eienaar van die Pro Bow-winkel. “Kinders vaar om dieselfde rede beter op skool.”
Laat Jaco vir jou ’n les gee. Dalk het jy ’n verborge talent. Waar? Langs Build-it op die Lephalale-pad Tye: 8 vm. tot 5 nm. (Maandae tot Vrydae); 8 vm. tot 1 nm. (Saterdae) Koste: R100 p.p. Kontak: 084 713 6603; 073 674 9956
Maak toe
8. Soek die "dwaalboom"
Pres. Paul Kruger se spore lê ook hier in die Bosveld.
Hy het op die plaas Gannahoek buite Thabazimbi gejag en op dié grond staan ’n kremetartboom wat die verste suid groei, maar nie aangeplant is nie.
Dié “verdwaalde boom” is glo waar Dwaalboom se naam vandaan kom, sê die mense wat weet. Dit is in die Anglo-Boereoorlog as posbus gebruik en daar is heelwat geskiedkundige grafitti op die boom uitgekerf. ’n Groot man kan agt keer sy arms rondom die stam strek.
“Die oudste datum wat ek kon sien, is 1907,” sê Ronel Taljaard, wie se man, nou Gannahoek besit. Waar: Ry 9 km uit die dorp in die rigting van Dwaalboom. Draai dan regs op die grondpad en hou 28 km aan. (As jy omgee vir jou kar, ry liewer met die teerpad oor Sentrum.) Kontak: 082 455 3075
Kommentaar