Zinkwazi


Tussen al die bedrywige vakansiedorpies noord van Durban lê Zinkwazi nog rustiger en sluimer - soveel so dat nie eens "n waarskuwing oor "n krokodil wat hier rondloop, die inwoners op hol kry nie.

As die see "n bietjie rof is, kan jy die vis probeer uitoorlê. Hier is elf, maar ook koning- en leervis.
zoommore

As die see 'n bietjie rof is, kan jy die vis probeer uitoorlê. Hier is elf, maar ook koning- en leervis.

Tussen al die bedrywige vakansiedorpies noord van Durban lê Zinkwazi nog rustig en sluimer – soveel so dat nie eens ’n waarskuwing oor ’n krokodil wat hier rondloop, die inwoners op hol kry nie. Hier's 'n paar aktiwiteite vir 'n veelsydige vakansie, maar nie voor jy twee dae lank in jou strandstoel agteroor gelê het nie.

 

1. Gaan see toe


Zinkwazi se hoofswemstrand lê soos ’n lang goudstaaf langs die diepblou see. Somermaande is hier haainette en menseredders. Die verkrummelde parkeerterrein – beskadig deur die fratsgetye – sorg vir ’n effense einde-van-die-wêreld-atmosfeer, maar nadat die plankiespad herstel is en die stukke sement uit die sand verwyder is, het die strand die meeste van sy sjarme herwin. 

Die strandmeer se mond blink aan jou een kant en die Indiese Oseaan wink aan die ander – ’n puik plek vir ’n dag in die son. Later koop jy vir jou ’n pizza by Proud’s Pizzas. Proud Ndlovu se restaurant is nie veel meer as ’n pizza-oond binne-in ’n skeepshouer nie, en die Hawaiian smaak vorentoe. 

Laatmiddag kan jy gaan uithang op die houtdek van die Zinkwazi-skibootklub se kroeg en luister na gesprekke oor watter aas sal sorg dat jy ’n barrakuda vang en of Yamaha se buiteboordenjins beter as Mariner s’n is. (Yamaha wen glo.) 
As jy mik na die deel suid van die hoofstrand, stap jy verby die netjiese Black Rock-piekniekterrein. Nóg verder af stap jy verby Itabaai. Hier het ’n klomp Italiaanse gevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgespoel – ’n torpedo van ’n Duitse duikboot het die Britse stoomskip getref waarop hulle was. Jy kan nog sowat 3 km aanstap tot by die mond van die Nonotirivier. 

As jy lus is vir ernstige voetslaan, stap strandlangs noord. Dis sowat 8 km tot by die mond van die Tugelariver, maar stap in ’n groep, want die stuk kuslyn is lank en verlate.

Koste:
Naweke, openbare vakansiedae en skoolvakansies kos dit R10 per dag om by die strand te parkeer, maar jy kan net sowel in die straat parkeer en stap.
Kontak: Proud’s Pizzas 073 169 2367 (gesluit Maandae en Dinsdae); Zinkwazi Ski Boat Club 083 250 2613 (Louis Bezuidenhout)


2. Verken die strandmeer


Dis eintlik die strandmeer, wat plek-plek deur oewerwoud, bamboesbosse en smaraggroen suikerriet omsoom word,wat Zinkwazi anders maak as die ander dorpe aan die Noordkus. 
Toegang tot die strandmeer is beperk. Jy kan langs die mond op die strand stap, maar as jy die waters verder wil verken, sal jy dit van die Zinkwazi Lagoon Lodge af moet doen. Huur ’n trapbootjie of kano. 

Minstens een keer ’n jaar, ná swaar reëns, breek die Zinkwazirivier deur die sandbank by die strand. Dan vloei dit die see in en sak die vlak van die strandmeer aansienlik. Maak seker by ontvangs, anders sit jou spaan dalk met die eerste roeislag in die modder vas. 

Jy kan ook op die dek van die trekskuit die Fish Eagle kyk hoe die son sak. Die bootjie ploeter stroomop terwyl jy aan ’n komplimentêre glasie wyn teug. Boskraaie swiep verby en blou-apies raas op die oewers langs jou. Hier’s 7 km se bevaarbare water – in vakansietye is hier dus hope skibote.

Koste:
R15 vir dagbesoekers by die Zinkwazi Lagoon Lodge; R40 per dag vir ’n boot of kano, of R8 per uur plus ’n R20-deposito. ’n Rit op die Fish Eagle kos R30 per volwassene en R15 vir kinders, maar die minimumtarief is R300. ’n Skibootpermit kos R100 vir sewe dae plus ’n R200-deposito vir ’n banier wat op jou boot moet wees.
Kontak: Zinkwazi Lagoon Lodge 032 485 3344; www.zinkwazilagoonlodge.co.za


3. Grawe ’n bietjie in die geskiedenis


Gerugte doen die ronde dat ’n 106 m hoë standbeeld van koning Tsjaka by die mond van die Tugelarivier opgerig gaan word. Maar vir eers moet jy maar tevrede wees met meer beskeie monumente, soos die Ultimatum Tree op die suidelike oewer van die Tugelarivier en die meer bedeesde Fort Pearson.

Ná ’n Zoeloe-aanval in Desember 1878 het die destydse Britse hoë kommissaris, sir Bartle Frere, ’n geskrewe ultimatum aan koning Cetshwayo oorhandig onder ’n wildevyeboom waarin hy hom waarsku hy moet terugval of gereed maak vir oorlog. Cetshwayo het die ultimatum verwerp en in Januarie 1879 het die Britte die Zoeloes aangeval – die begin van die Anglo-Zoeloeoorlog. Die oorspronklike boom is in die vloede van 1987 weggespoel, maar ’n klompie kleineres groei op dié destydse ontmoetingsplek. 

Fort Pearson het bo-op die heuwel agter dié boom gestaan. Van hier af kyk jy uit oor die N2 en die John Ross-brug. Dit was eens op ’n tyd ’n belangrike Britse grensvesting. Deesdae rank die onkruid in die verlate begraafplaas stadig maar seker oor die grafte van 17 Britse soldate (12 sonder naam). Kry die sleutel vir die Fort Pearson-kompleks by die ontvangs van die Harold Johnson-natuurreservaat. 

Loer in by die King Shaka-besoekersentrum op Stanger, waar ’n marmermonument en ’n afgesperde rots die plek aandui waar die sluipmoordaanval op Tsjaka in 1828 deur sy halfbroers Dingaan en Mhlangana plaasgevind het.

Koste:
Gratis
Kontak: King Shaka-besoekersentrum 032 552 7210
Hoe kom ek daar? Die Ultimatum Tree en Fort Pearson is op die D111-grondpad. Daar is bordjies op die R102, sowat 15 km noord van Zinkwazi.


4. Vis vir ’n visarend


As jy enigsins met sonop naby die strandmeer rondhang, sal jy hulle hoor, so onmiskenbaar Suid-Afrikaans soos Bokser-tabak, koeksisters en Marmite: whee-ah, hyo-hyo-hyo. Maar luister fyn – dis waarskynlik die Nataljanfrederik. Hulle is bekend daarvoor om die roep van die visarend na te maak. 

Die unieke kombinasie van laaglandbosse, duinbosse, strande en rietbeddings krioel met meer as 250 spesies. Neem dus altyd jou verkyker saam, selfs al gaan koop jy net die koerant. Wie weet, dalk sien jy ’n pelikaan hoog bo in ’n bobbejaanverdrietboom. (Ek het.)

By die Tranquil-a-skuiling naby Stanger kan jy ook ’n paar voëls dophou. Dit is op Sappi se grond (die enigste papiermeul in die land wat suikerriet pleks van hout gebruik as roumateriaal). Draai van die N2 af by die Stanger-afrit en volg die bordjies na die papiermeul. Kry die skuiling se sleutel by die hek.

Koste:
Toegang is gratis, maar ’n skenking sal gewaardeer word.
Kontak: 032 437 2126 (Cathy Scott)


5. Gaan wandel


Die Harold Johnson-natuurreservaat is maar 1 kubieke km groot, maar hier’s ’n verskeidenheid habitats – van grasvelde tot inheemse woude. Oral waar jy stap, fladder kleurryke skoenlappers. Hier’s al meer as 114 skoenlapperspesies gesien. Stap een van die twee kort staproetes: Die Remedies & Rituals-roete, omtrent 800 m lank, of die Bosbokroete van 2,5 km. 
In die museumpie staan mannekyne in tradisionele Zoeloe-uitrustings en jy kan oor stamkultuur lees. 

Koste:
R10 per persoon
Kontak:  032 486 1574


6. Drentel deur Darnall


Darnall is ’n netjiese klein dorpie 8 km van Zinkwazi af. Die huisies sit styf om ’n suikermeel wat elke nou en dan ’n bolling wit rook uitpof. Die groen grasperke loop tot op die pad. Die honde behoort nie aan iemand spesifiek nie, maar tog kyk almal na hulle. Die algemene handelaar adverteer “iets van alles” en mense wuif as jy vir hulle glimlag.

Die middelpunt van al die bedrywighede (as jy dit so kan noem) is die Darnall-buiteklub en Miller’s Arms-kroeg, waar jy ’n rondte golf kan speel op die nege putjie-baan en daarna die baansyfer afwas met ’n koue bier.

Koste:
R50 vir nege putjies en R90 as jy twee keer wil speel.
Kontak: Darnall-buiteklub 032 439 2006 (gesluit op Maandae)



Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Search Townofthemonthsarchive



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek