Montagu



Twee waarskuwingstekens is met baie moeite in Badstraat opgerig nadat Fatcat, die Preston-familie se troeteldier, omgery en ernstig beseer is, kort nadat hulle in 1995 Montagu toe getrek het. Fatcat het die einde van sy negende lewe in 2005 bereik.
zoommore

Twee waarskuwingstekens is met baie moeite in Badstraat opgerig nadat Fatcat, die Preston-familie se troeteldier, omgery en ernstig beseer is, kort nadat hulle in 1995 Montagu toe getrek het. Fatcat het die einde van sy negende lewe in 2005 bereik.

Bemarkingsmense noem Montagu die “juweel van die Klein-Karoo”. Tussen die vrugbare oewers van die Keisie- en Kingarivier en die Langeberge se rooi plooie, lê inderdaad ’n juweel -- ’n onopgesmukte een.

 

Doendinge op en om Montagu


1 Trap die plek plat.
By Dusty Sprocket in The Cottage-winkel kan jy ysterperde huur en ook fietsrykaarte koop vir roetes soos Klein Pietie Patats (26 km) en die Ouberg Bop (43 km). Vra ook oor die lekker roete deur die dorp. 

2 Wandel deur die huismuseum. As jy Jouberthuis besoek, loop jy in beroemde voetspore, want agter die voordeur pronk ’n foto van die dag toe die skrywer Antjie Krog en die Franse aktrise Juliette Binoche daar was. En in die kruietuin buite groei bosse van die vygies wat die filmster vir haar vel gekoop het.
    Die museum se gids, Naomi Rahl, sal jou wys waar die “juts” gesit het – dis nou die vrederegter Pieter Gideon Joubert wat onwettige skaapslagters en ouens wat skelm bye uitgehaal het, summier vir sewe jaar tronk toe gestuur het. Hulle voorsmakie van die lewe agter tralies het glo in die tronkie agter die Jouberthuis begin.

3 Kyk die kappies en koppies. By Montagu se hoofmuseum in die ou sendingkerk kan jy die tassie sien wat Rachel Keet, Montagu se eerste vroedvrou, gebruik het. Sy het altyd twee kappies daarin gehad: ’n swarte as die baba doodgebore is en ’n witte as alles goed afgeloop het.
In die vertoonkaste met kombuisgoed word “snorkoppies” uitgestal: fyn teekoppies met ’n netjiese porseleinbruggie om te keer dat mans se snorre in die tee doop.

4 Stap warmbron toe. Stap die 2,2 km deur Badskloof na die warmwaterbron. Dit is ’n pragtige poort waar jy kan sien hoe die rotsknobbels en -gate wat teenoor mekaar in die kranswande sit, eens op ’n tyd in mekaar gepas het. Toets ook die uitstekende eggo (dis verniet) met ’n “Hallooo” of twee. Die stap kos R8; kry jou kaartjie by die Ou Meul in Montagu-Wes. Dit is ook die beginpunt van die Bloupuntstaproete van 15,6 km en die Kogmanskloofroete wat oor 12 km strek.

5 Loer in by die kunstenaars. Kry ’n pamflet by die toerismeburo vir Montagu se Arts & Crafts-roete. By Kruinsingel 3 maak Yvonne Baay, ’n Nederlander wat in 1993 Montagu toe getrek het, teddiebere en ander sagte speelgoed. Elkeen is uniek en in haar vertoonkas pryk die eersteprys-sertifikaat wat sy by Robertson se skou gewen het.
    In Room with a Loom in Kohlerstraat loop mens ’n stukkie Kalahari raak in die duvets van tussah-sy wat Carol Odendaal verkoop.
    “Dit is sy van die kokonne wat die Molopo–ruspe (gonometa postica) spin. Hulle leef in die kameeldoringbome en as diere dit vreet, verstop dit hul ingewande,” vertel sy. “Nou kan die Kalahari-mense geld verdien deur die kokonne op te tel.”

6 Kyk voëls by die dam. Meer as 52 voëlspesies is al by Montagu se leiwaterdam op die hoek van Bad- en Barrystraat gesien. Die dam is die grootte van ’n kleinerige dorpserf. In die “voëlboom” broei ses spesies tesame – ongehoord, sê voëlkykers. Kry die sleutel by die toerisme-buro.

7 Klim Kanonkop. Maak ’n draai op Kanonkop aan die bopunt van Kohlerstraat, waar jy ’n lieflike uitsig oor die dorp en Kogmanskloof het.
    Die kanon op die koppie is in 1988 by Simonstad uit die see gehaal, waar dit meer as 200 jaar op die bodem gelê het.
    Dit het die kanon vervang wat oorspronklik in die 1800’s op die koppie gestaan het. Ná ’n ongeluk met ’n eresalvo waarin ’n jong man albei sy arms verloor het, het boere die oorspronklike kanon oor die rant van die koppie gestoot.
    Daar het dit gelê vir meer as 20 jaar tot dit weer afgevuur is; dié keer vir die laaste keer, want die kanonloop het toe gebars.

8 Nader aan die natuur. Montagu se natuurtuin spog glo met die grootste versameling vygies ter wêreld. Op Dinsdae (van Mei tot November) word tee bedien, maar op enige ander dag is dit nét so lekker om jou kombers onder die doringbome oop te sprei.

9 Pasop... katte? Die padtekens in Badstraat is met baie moeite opgerig nadat Fatcat, die Preston-familie se troeteldier, omgery en ernstig beseer is, kort nadat hulle in 1995 Montagu toe getrek het. Fatcat het die einde van sy negende lewe verlede jaar bereik. Die Prestons se ander kat, Heather, is onder een van die bordjies begrawe.

10 Op die top. Thomas Bain het die Kogmanskloof-tonnel in 1879 oopgeskiet en daarmee twee gevaarlike driwwe uitgeskakel. Stop by die piekniekplek aan Montagu se kant en gaan kyk na die fort bo die tonnel wat in 1899 deur die Engelse gebou is in die Anglo-Boereoorlog.


Maak 'n muskadel-mengeldrankie


“Jy drink muskadel nie net in die winter nie,” sê Riëtte Coetzee, bemarker van Uitvlucht-kelder en voorsitter van die muskadelfees. “Voeg sodawater of vrugtesap by en drink dit in die somer.”

Of maak ’n mengeldrankie:
80 ml fyngekapte ys
60 ml rooi of wit muskadel (rooi word aanbeveel)
½ skyfie suurlemoen
2 druppels suurlemoensap
Meng al die bestanddele saam en bedien in ’n martini-glas. (Sambreeltjie opsioneel.)

 


Montagu in 'n neutedop


Hoe kom ek daar?

Montagu is op Roete 62. Draai van die N1 of N2 af op die N15 of R60, of gebruik die R318 as jy uit die noorde met die N1 ry.

Bel hierdie nommers
Montagu-toerismeburo 023 614 2471; www.montagu-ashton.info
Avalon Springs-hotel 023 614 1150
Montagu Country Hotel 023 614 3125
Lappieslaagte-gasteplaas 023 614 3284
De Bos-gasteplaas 023 614 2532
The Succulent Café 023 614 1095
Montagu Droë Vrugte 023 614 2682
Montagu-wynkelder 023 614 1125
Uitvlucht-kelder 023 614 1340
Desert Rose-partytjiebus 023 614 3557
Montagu-museum 023 614 1950
Dusty Sprocket 023 614 1932
Trekkerrit 023 614 2471
Muskadelfees 082 374 9981



Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Search Townofthemonthsarchive



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek