Die Kruger se Skukuza-kamp is vyfster
1. Raak rustig by Lake Panic
Neem ’n fles koffie of ’n bottel wyn en gaan sit vir minstens twee ure by die voëlskuiling Lake Panic. Watervoëls is mal oor dié plek. Hier baljaar sierlike bosbokkies en njalas, seekoeie, krokodille en skilpaadjies. Ons het olifante raakgeloop wat hulle kinders “swemlesse” gee.
Wees geduldig, net agt motors word toegelaat. Moet ook nie jou kamera, verkyker en voëlboek vergeet nie. Bring jou langste lens, want beter foto-geleenthede duik selde op.
2. Hou ’n bospiekniek
Pak ’n piekniekmandjie en soek ’n afgesonderde plekkie uit – diep in die bos by Skukuza se afsaalplek vir dagbesoekers aan die Sabierivier. (Jy kan ook ’n braaiskottel huur, wat hulle kom aflewer.)
Oorkant die rivier is talle wildpaadjies en ’n gewilde drinkplek vir die diere. Jy kan ook ’n halfdag-uitstappie na Nhlanguleni wes van Tshokwane gaan. Hier voel dit of jy werklik in die bos is, dit is baie basies (met silwerskoon toilette).
3. Speel gholf saam met oom Olifant
As jy op dié gholfbaan wil speel, moet jy ’n vrywaringsvorm teken. Oral is waarskuwings: “Pas op vir leeus”; as jy “aangeval, gegaffel of verskeur” word, betaal jy self!
Ons het al vars seekoeispore en stomende olifantmis op die setperke gekry en ’n leeu het al glo by die eerste putjie aan buffelsvleis lê en smul.
Die grasdakklubhuis is beroemd vir sy ontbyt en die kroeg het ’n puik uitsig oor die setperk op die meer.
4. Gaan kerk toe in jou vakansieklere
Skukuza het sy eie kerk en jy kan die diens sommer in vakansieklere bywoon. Die kerkie is klein en laat jou rustig. Ds. Carl Louwrens het altyd ’n boodskap wat tref en die hegte Skukuza-gemeenskappie is gasvry.
Kyk ook uit vir die pragtige kerkklok en doopvont.
Die stilte-nagmaal op ’n weekmiddag, terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom kwetter, is veral spesiaal.
Sondagdienste begin om 8:30 vm.
5. Lig jou hoed vir die veldwagters se vierbeen-vriende
By die Stevenson Hamilton-gedenkbiblioteek herroep boeiende uitstallings die Wildtuin se geskiedenis. Jy kan die kosbare natuurboeke deurblaai en koerant lees (gewoonlik net ’n dag oud) of by die hondebegraafplasie onder ’n koelteboom talm: ’n kolletjie ontroerende “heilige grond”.
Elke klipstapeltjie of eenvoudige steentjie vertel ’n storie van die band tussen ’n veldwagter en ’n getroue vierbeen-vriend wat baie kampvure en avonture gedeel het.
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 25 Januarie 2010 | 19:48:31
Ag nee wat. Los maar Skukuza uit. Ek was self vir 8 dae daar. Dit nogal oor kersfees. Als was skoon en netjies. Die toeriste was daar wel, maar hul bewondering vir ons land was oorweldigend. Ons verblyfplek was elkedag silwerskoon gemaak.
Gelewer op 22 Desember 2009 | 22:19:38
Ons het so pas teruggekpm van 8 dae se kampverblyf by Skukuza! Die natuurskoon is ongelooflik! Die hoeveelheid wild en voel soorte net so! Alles het kleintjies! Wat die kamp aan betref: Dit is hoog seisoen so die plek is stampvol..en die ablusies kon die druk nie hanteer nie..daar was nooit seep in die meeste plekke waar ons was in die Kruger nie en die handdroers het nie een gewerk nie. Sommige ablusies het wel 'n papier rol of twee gehad. Ek kry net die idee dat enige persoon wat 'n permit by 'n hek gekry het kan gaan waar hy/sy wil...sekuritiet is dus 'n probleem. Ek kon dae daar gebly het .. toe ons vanmore uit is by Malelane het niemand bevestig dat ons wel vir on s verblyf ten volle betaal het nie...? Ongelukkig het sommige besoekers se gedrag rondom Skukuza veel te wense gelaat - bottels(lee bier en koeldrank) en ander rommel was hier en daar te seine - die dag besoekers area was baie erger . Ongelukkig het ons 'n paar spoedvrate en ander narre (wat uit hulle motors uithang) ook beleef! Die fasiliteite is definitief gerig op die toeriste maar die ervaring was meestal baie goed. Die piekniek plekke was ook baie goed..


















Kommentaar