Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Hoor, hoor vir die Hessequa!


“Daar is te veel mooi plekke in Suid-Afrika om net vyf te kies,” skryf Jan Heenop. “Daarom het ek besluit om te soek na dit wat in my omgewing, die Hessequa-streek, betowerend is – dis nou tussen die Breë- en Gouritsrivier.
“Ek besoek dié vyf plekke gereeld. Hier kan jy werklik in vrede saam met een of twee ander gesinne gaan afpak en die privaatheid geniet.”
Jan Heenop van Stilbaai wen dié maand ’n Pentax-verkyker ter waarde van R2100 vir sy bydrae.

Swem en stap by Grootvadersbosch
Noukloof is een van die mooiste klofies om saam met jou gesin te verken. Afhangende van die vaardigheid van die groep kan die klofie jou vir ’n uur of ’n dag besig hou. Jy kan heerlik swem in die swart water, jou vervies vir die bobbejane wat op die rotse vir jou sit en lag en jou verkyk aan die loodregte kranse en onversteurde inheemse bos.
Dié kloof is op Pieter Kloppers (028 722 1862) se plaas.

Kyk voëls by die Duiwenhoksrivier
In die valleie tussen Vermaaklikheid en Heidelberg is daar ’n versteekte klofie langs die Duiwenhoksrivier. Hier kan jy in vrede voëls kyk. Groot swartnekke, bloureiers en nagreiers, visvangers, kuifkoppe, kraanvoëls, wildemakoue en bergpatryse is volop.
Dié plekkie op Cecil Uys se plaas is afgesonder, jy kan oorslaap en ’n vuurtjie teen ’n holkrans maak. www.nonarosabushcamp.co.za

Verken Assegaaybosch op jou bergfiets
Bergfietsry is een van die beste dinge om ou rugbyknieë weer beweeglik te maak. Maar dit sukkel deesdae om ’n lekker trapplek te kry waar 4x4’s jou nie uit die pad uit ry of jong Turke stof in jou oë skop nie. Die Assegaaybosch-reservaat agter Vanwyksdorp is ’n naweekwegbreek waar julle die valletjies naby die Gouritsrivier se bolope kan verken, na watervalle gaan kyk en boegoe uitsnuffel. Assegaaybosch by 072 637 2992; info@assegaay.co.za

Kampeer by die Aardvark-sentrum
Het jy al van die Aardvark-sentrum gehoor? Johan Fourie het ’n stukkie privaatheid langs die mond van Pietsrivier toegekamp en jy kan dié kampplek langs ’n stroompie net met ’n 4x4 bereik.
Dié kampplek tussen Ladismith en Riversdal in die Klein-Karoo is netjies ingerig. Die beddegoed is skoon, die kampbedjies gemaklik én jy kry ’n verekussing om op te slaap. Die tent is ook bobbejaan- en muskietbestand. www.aardvarksentrum.co.za

Ry branderplank by Stilbaai
Hier is ’n plekkie in die Hessequa waar jy altyd ’n brander sal kry om te ry. Miskien weet die Gautengers nog nie van dié plek nie, maar ons noem dit Stilbaai se Morrispunt. Wees maar versigtig vir die groot witdood, dit is gewoonlik veilig as die plaaslike manne hoogwater in die see is. Die beste van alles is dat die “locals” hier nie dink die plek behoort aan hulle nie.

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 29 Maart 2010 | 17:18:14

Ons kamp en hou vakansie in Stibaai se Ellenrust vir die afgelope 24 jaar. Dit is ons afsaal plek elke jaar en dis waar die seuns van kleins af leer branderry en vandag groot branderryers is lang ons Kaapse kus en ons ontspan en draairoomys eet. Swem in die rivier 8km van die mond en stap langs die strand elke dag tot by Preekstoel. Dis waar ons lewenslange vriende ontmoet het en mee kamp elke jaar. Stilbaai is die plek waar jy voel jy kom tuis.

Gelewer op 22 Oktober 2009 | 13:34:35

Ek het 'n vakansie plekkie by Stilbaai en my ouers bly ook daar. In Stilbaai kan jy swem in die see of in die lagoon. Jy kan snorkel en visskiet, foto's neem. Visvang van die rotse as jy wil of diepsee. Stap, seil, vlieer vlieg, le en niksdoen, lees, bosbokkies soek, voels kyk. Dan se hulle daar is slange, skilpaaie en ek het in 2006 ook 'n rooikat gesien. O ja gholf speel, draf, fietsry, ronsry, sit en see kyk, ook walvisse, dolfyne, die geroer by die hawe. Ougoed, nuwe goed en mense. Vleisiebraai of vis eet, potjie maak en eksperimenteer. Dis 'n lekker plek.

Gelewer op 24 Junie 2009 | 14:03:08

100% reg Jan. Ek kamp nou al 5 jaar in 'n ry (Desembermaande) op Stilbaai, daar waar Ena die septer in die karavaanpark swaai, en ek is van dag een af soos 'n ou Stilbaaier behandel. Nog nooit soos 'n vreemdeling (vakansieganger) laat voel nie. Die locals daar kan regtig maar op die skouer geklop word.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek