Kamp is koning
Vir Thinus Groenewald en sy gesin van Durbanville is daar nie ’n lekkerder vakansie as ’n kampvakansie nie. Hier is sy vyf gunsteling-kampplekke:
1. Soek die halfmens in die Richtersveld
Die Richtersveld- nasionale park is die enigste bergwoestynpark in Suid-Afrika en geleë in die noordwestelike deel van die Noord-Kaap.’n Mens verkyk jou aan die vreemde, woestynagtige landskappe met die halfmensplant wat jou soms twee keer laat kyk. Daar is niks lekkerder as om by die De Hoop-kampeerterrein teen die Oranjerivier te kamp nie. By die Kokerboomkloof-kampplek voel dit weer asof jy die enigste mens op aarde is en jy wens die tyd wil stilstaan.
Kontak hulle by 027 831 1506 of besoek www.sanparks.org/parks/richtersveld/
2. Roei rustig op die Breërivier
Riggton is ’n klein, rustige kampeerplek op die oewer van die Breërivier by Bonnievale. Hier kan jy rustig op die rivier roei of kyk hoe die kinders op vlotte baljaar. Omdat hier nie baie kampeerders toegelaat word nie, leer jy gou al jou mede-kampeerders ken en hegte vriendskappe word gesmee. Die ablusieblok word skoon en netjies gehou met warm water vir almal. Koop Bonnievale-kaas op die dorp of gaan proe wyn op van die plase.
Bel 023 616 3091of klik op http://riggtonriverfarm.co.za/.
3. Ry ’n 4x4-roete tussen Citrusdal en Clanwilliam
Boegoeberg is ’n pragtige kampeerplek tussen Citrusdal en Clanwilliam. Die eienaar, Sybrie de Beer, laat jou gou tuis voel op sy plaas en sal jou rondwys as jy belang stel. Hier is ook ’n paar 4x4-roetes.
Die kampplekke is almal groot en privaat en jy braai te lekker in die gesellige lapa. Jy moet maar self die donkie stook as jy warm water wil hê vir die stort.
Bel vir Sybrie by 083 632 2634 of gaan kyk by www.trailguide.co.za/trlboegoeberg.html
4. Maak lyf nat in die Witterivier
Die Tweede Tol-kampeerterrein, wat deel is van die Limietberg-natuurreservaat, is geleë in die Bainskloofpas op die plek waar die oorspronklike tolhek in 1853 gebou is.
Stap lekker in die Witterivier op en neem foto’s van die pragtige berge. Hier is oral swemgate, moet dus nie jou swembroek vergeet nie. Vra vir een van die kampeerplekke wat langs die Wolwekloofrivier is en raak saans aan die slaap met die gekabbel van water in die agtergrond.
Bel 021 659 3500 of gaan kyk op www.capenature.co.za vir inligting.
5. Slaan kamp op teen die Sederberg
Die Sederberge is ’n gerieflike twee en ’n half uur se ry van Kaapstad. Baljaar in die waterpoele of stap tot by die waterval hoog bo die kampplek. Hier maak die kinders gou vriende en kom hulle net tent toe as hulle honger of moeg is. By Algeria kamp jy teen die berg en dit laat jou sommer nog nader aan die natuur voel. ’n Daguitstappie na die dorpie Wupperthal is ook die moeite werd.
Bel 021 659 3500 of gaan kyk op www.capenature.co.za vir inligting.
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 23 Maart 2010 | 19:16:43
Kamp is seker een van die dinge waarvan ons almal meer kan in kry Ek probeer soveel as moontlik plekke sien maar een wat uitstaan vir my is Rivierzicht-resort net voor robertson ook op die breerivier en met krag en water [niedrink] op elke staanplek maak dit dinge n' bietjie makliker nie gepraat van al die verskillende soorte vis nie enige henglaar se droom Daar word geen bote toegelaat nie so dit is perfek vir my Kyk geris by www.revierzicht-resort.co.za
Gelewer op 9 November 2009 | 17:46:57
Dankie,altyd beter om op aanbeveling nuwe plekke te besoek
Gelewer op 20 Oktober 2009 | 19:57:42
Ja ek dink ook dat tent kamp die lewe is Ek het onlangs nog n stunning plek gekry net buite Robertson op pad Worcester toe Genaam Skurwe kop Mens daar mag jy maar gaan kamp Ek het lank laas sulke netjies ablusie geriewe raak geloop en nie te praat van die eienaar hulle se gasvryheid en vriendelikheid waarmee jy altyd gehelp word Die plek beveel ek met die grootste vrymoedigheid aan GAAN KYK n SLAG





















Kommentaar