Zambië: Mutinondo, Mutinondo
Die laaste deel van ons reis deur Zambië (sien ook “Vlermuisvuurwerk!” in Weg #65, Maart 2010) is na die ooste, na die Mutinondo-wildernisgebied op die Muchinga-eskarp.
Eers ry ons deur die Lavushi-Manda- nasionale park, waar net mooi niks aangaan nie. Dis een van Zambië se verwaarloosde parke en daar’s tans geen geriewe nie. Die pad is weer lank en stamperig en ons vorder stadig, maar hoe nader ons kom aan die Great North-pad, die teerpad noord uit Lusaka, raak dit beter.
Wanneer ons die teer bereik, draai ons eers noord, Mpika toe, om die pap band te herstel wat ons gister gekry het. Vir die eerste keer in ’n week kan ons ook iets soos ’n koue koeldrank koop. Lekker!
Omdat ons gehoor het die plaaslike Rooms-Katolieke kerk het die beste werkswinkel, laat ons die band daar regmaak, onder die wakende oog van die die Pous in die geraamde portret.
Dis laatmiddag wanneer ons Mutinondo, net 25 km se mooi grondpad van die Great North-pad af, bereik.
Die kampterrein is die beste een van die hele reis – duidelik gebou deur mense wat weet wat ’n kampeerder se behoeftes is. Die puttoilette is groot genoeg om ’n familiefoto daarin te neem, die donkie het die stortwater vuurwarm gemaak, en daar’s ’n stapel hout by ons braaiplek.
Mutinondo is ’n private reservaat en lyk heeltemal anders as waar ons die afgelope tien dae rondgery het: Hier is berge – sulke groot, ronde graniet-uitstulpings. Mike en Lari Merrett wys ons die volgende oggend ’n bietjie die plek. ’n Mens kan sommer sien hoe lief hulle dié wêreld het en hoe graag hulle dit wil deel met mense wat ook die rustigheid daarvan kan waardeer.
Jy kan op jou eie rondstap, en ek en Rebecca besluit om die naaste rots, Kite Rock, uit te klouter.
Dis steil en jy moet tekkies hê wat hou van klou, maar die uitsig van bo af is pragtig. ’n Klipspringer dans teen die oorkantste rots uit, moeiteloos.
Omdat die riviere veilig is vir swemmers, koel ons vinnig af voordat ons terugstap kamp toe.
Ons slaap in een van die chalets. Daar’s nie ’n voordeur of selfs muur aan die voorkant van die chalet nie. Jy kyk reguit in die vallei af, en wanneer dit die volgende oggend begin lig raak, maak die uitsig stadigaan jou hele gesigsveld vol. ’n Ongelooflike plek.
Dis opstaantyd. Ons moet wikkel, want later vandag moet ons nog ’n Boeing in Lusaka haal.
Eendag, as ons van Kaapstad af Dar es Salaam toe reis, sal ons ’n week lank hier oorbly. Mutinondo sal ons weer sien, en Bangwuelu ook, want volgende keer stáp ek deur al daai papirus op soek na ’n skoenbekooievaar. En dan is daar Kasanka se vlermuis-spektakel, soos Nuwejaarsvuurwerke iets wat mens weer en weer kan sien, sonder om moeg te raak daarvoor.
Verblyf: Kampering kos R64 p.p.p.n. en die chalets R950 vir 2 mense p.n. (aandete en ontbyt ingesluit).
Etes: Bespreek vooraf vir etes.
Aktiwiteite: Jy stap sonder ’n gids by Mutinondo, so dis gratis.
Kontak: www.mutinondozambia.com; 2MWL@bushmail.net
Nota: Pryse soos teen einde 2009 – gebruik bloot as gids.
VERWANTE STORIES:
Vlermuiskyk 101
Zambië se geil noorde
Vlermuisvuurwerk
Terug na bestemmings | Terug na bo

























Kommentaar