Op die Clarence-kuspad kry jy die beste van twee wêrelde: die berge én die see. Kyk uit vir noorkapperwalvisse en die Gordonsbaaise speldekussing, wat nét hier voorkom.
'n Ordentlike stuk kuspad is goed vir die siel. Die seelug wat by jou ruit inspoel, daai vakansie-atmosfeer wat in die lug hang, die sonstrale op die see...
Doen díe dinge langs die pad:
Gordonsbaai
Uncle Barry’s. Van draairoomys tot suikerhorinkies met grena-della-sorbet – hier is iets vir almal (met ’n soettand). Waar? Kusweg 35 Kontak: 021 856 1744
Rooi-Els Drummond Arms – Kom kry ’n koue bier en eet dalk iets. En kyk of jy die plek se bekendste kroegvlieg – Susan, die mossie – raakloop... Waar? As jy van die Clarence-kuspad afdraai, ongeveer 50 m see se kant toe. Kontak: 028 273 8458
Biosfeer-sentrum – Leer meer oor die plante en diere van die Overberg. Waar? In die Rooi-Els Village Shop, langs die Drummond Arms. Kontak: 028 273 8383
Pringlebaai Hangklip-hotel – Vanaf R150 p p. wat deel; halfprys vir kinders. (Onthou net, dis nie die Hilton nie – kom eerder met jou ou koshuismaats as jou skoonouers hierheen.) Waar? Vat die afdraai Pringle-baai toe van Clarence-kuspad af en hou reguit aan vir 3,8 km.
Hier word dit grondpad – en 1,6 km verder kry jy die hotel. Kontak: 082 444 5618
Bettysbaai
Stony Point – Kom kyk na die brilpikkewyne. Waar? Vat die Bettysbaai-Stony Point-afrit van Clarence-kusweg af en volg die aanwysings. Dis omtrent 3 km. Kontak: 082 416 8683
(Let wel: Pryse is akuraat vir Desember 2009)
Lees die volledige storie:
Begin by Bikini
Brilpikkewyne, wat ’n mens by Stony Point kan sien, word gemiddeld 10-11 jaar oud.
Dis ’n lieflike dag op Gordonsbaai: 28 ºC met so ’n effense bries. Ek staan op Bikinistrand en hou die mense om my dop: Drie meisies lê op die wit sand en sonbaai – jip, al drie in ’n bikini; eenkant rol ’n man en vrou hulle grasmatjies oop en begin sonroom aansmeer; ’n paar tjokkers gooi ’n rugbybal rond; ’n hand vol dapperes waag dit in die koue water…
Op die water water roei ’n man in sy kajak strand se kant toe, en verderaan, in die hawe, staan die maste van ’n rits seiljagte teen die blou lug afgeëts, soos ’n klomp gr 1’tjies wat hand opsteek.
Agter teen die berg staan die letters “GB” met wit klippe gepak (nee, dit staan nie vir “Gordonsbaai” nie, maar vir “Generaal Botha”, ’n ou oorlogskip van die Suid-Afrikaanse vloot), en onder dit begin die Clarence-kuspad sy draaie gooi, Rooi-Els se kant toe.
Dié pragtige pad is genoem na Gerald Jack Clarence, wat in die laat jare dertig saam met ’n klompie vennote die maatskappy Hangklip Estate gestig het sodat hulle hulle eiendom agter die berg (tussen Hangklip en Palmietrivier) kon ontwikkel. Die enigste probleem was dat hulle net met ’n ompad – binneland langs – by hulle grond kom uitkom.
Clarence het die owerheid oortuig om ’n kuspad te bou, wat in die laat jare veertig voltooi is.
Ná sy dood het Jack se vrou, Beryl, in ’n boek oor hom, Hello Children, geskryf: “If you ever have the opportunity, look at this road – at the good tarred surface, at the location of it; the planting with grass and creepers of the scarred slopes; the stone walls; the bays for parking and then realise that this road was made when everyone tried to tell Jack that it was quite impossible for it to be built... and there it is today for everyone to enjoy.”
Ek val in die pad, met die sonstrale wat op die blou water skitter. Jy’s skaars op ’n galop dan is jy al by die eerste uitkykpunt.
Van hier af kan jy sien hoe die beboude kuslyn ’n lang arm om Valsbaai gooi. ’n Bordjie (in Engels, Afrikaans en Xhosa) sê vir jou dié is ’n uitkykpunt van waar jy noorkapperwalvisse, reuse van tot 15 m lank en 58 t, kan sien (die beste tyd daarvoor is tussen Augustus en Oktober). En: As jy wil weet of die walvis ’n noordkapper is, kyk of hy ’n rugvin het. As daar een is, is dit nie ’n noorkapper nie...
Maak toe
Stadig om die draaie
Dappat se Gat, sowat 10km buite Gordonsbaai in Rooi-Els se rigting, is veral gewild onder lyfplankryers.
Die pad gooi nou lang draaie. Al is daar ’n klipmuurtjie aan die see se kant, hou maar by die spoedgrens van 80km/h – veral omdat Kees en Kie. dalk net om die volgende draai op jou staan en wag, in die middel van die pad.
Ongeveer 300 m anderkant die brug oor die Steenbrasrivier kan jy weer aftrek. Parkeer jou kar en stap see se kant toe, waar die branders die rotse meedoënloos straf.
Vier jong spiertiere in hulle board shorts is die enigste mense hier en staan en kyk uit oor die water. Een wys vir sy tjommie iets op sy selfoon. “It was completely insane, Bru.” Hulle verdwyn voordat ek ’n kans kry om uit te vind waaroor hulle praat.
Sowat 5 km verder, by Dappat se Gat (onder lyfplank- en branderplankryers dalk beter bekend as Caves), stoot die see mooi branders strand toe. Vir die beste bo-uitsig daarop kan jy so 500 m voor dié aftrekpunt jou kar parkeer. Onthou jou kamera. Ek tel agt… nee, nege brandersoekers met duikpakke in die water, wagtend op die volgende stel branders.
Om egter by die strand self uit te kom moet jy verder ry tot by die volgende aftrekpunt, waar báie motors is. Van daar af stap jy ongeveer vyf minute met ’n plankpaadjie tot by die strand, waar ’n paar siele lê en sonbaai. ’n Klompie ander speel met ’n strandbal en vier surfers maak gereed om branders toe te roei.
Dit lyk na ’n goeie plek om te kom uitspan met die gesin. Hier’s lekker sand om in te baljaar, ’n see om in te plas en ook ’n grot wat jy kan verken (moet net nie dat die see jou met hoogwater daar vaskeer nie!) – én daar’s selfs ’n watervalletjie waar jy die sand en sout van jou lyf kan afspoel.
Die berg lê groen teen die blou lug. Vroeër het die botanis en skrywer Amida Johns vertel van die merkwaardige plantverskeidenheid hier: “Kogelberg het die hoogste konsentrasie fynbos per vierkante kilometer ter wêreld. Een van die interessantste plante is die leucospermum bolusii, die Gordonsbaaise speldekussing. Dis volop aan weerskante van die pad hier tussen Gordonsbaai en Koeëlbaai – en die enigste plek op aarde waar dit voorkom. Dis wit en ruik soet en is deel van die protea-familie.”
Volgens Amida kom Koeëlbaai se naam van die ou Hollandse nedersetters. “Toe hulle die branders op die rotse hoor breek, het dit vir hulle nes rollende kanonkoeëls geklink.
Die Kogelbaai-kampterrein, seker so 500 m van Dappat se Gat af, is nie oop vir dagbesoekers nie, maar dit lyk heel skaflik: Dit lê reg teen die see en hier is genoeg koeltebome. Ons ry aan tot by Sparksbaai, sowat 3 km verder, wat wél oop is vir dagbesoekers. Hier is ’n getypoel waarin die kleintjies kan baljaar, toilette en plek om jou piekniekkombers oop te gooi.
Sit ’n bietjie, ontspan, asem die seelug in en sit jou voete in die water.
Maak toe
Krummels vir ’n kroegvlieg
Sowat 5 km buite Gordonsbaai, in Rooi-Els se rigting, ry jy oor die Steenbrasrivier. Parkeer jou kar en stap na Crystal Pools toe.
Die pad kronkel nou lekker – ek voel amper soos James Bond wat iewers in die Franse Riviera ’n skurk agtera sit. (Die enigste verskil is dat ek nie ’n Aston Martin ry nie, maar ’n Toyota Condor.) Ek kan my net voortel hoe lekker ’n motorfietsryer hier sal kan heupgooi.
Net voor Rooi-Els trek ons af by ’n klipkruis op die rotse. Dis ter nagedagtenis aan J.F. Marais, oud-rektor van Stellenbosch-gimnasium (deesdae Paul Roos): “Die see het hom geneem, 25 Mei 1901.”
Het hy gegly en in die see geval? Het ’n brander sy roeiboot omgeslaan?
Ons stoot aan Rooi-Els toe, waar ons by die Drummond Arms ’n bier en ’n broodjie bestel – dis nie die soort plek waar jy ’n martini vra nie, al is hier ’n bielie van ’n TV-skerm.
Carl Cleophas is al tien jaar die kroegman hier. Terwyl ons sit en eet, kom stel hy ons voor aan een van die kroegvlieë: Susan, die mak mossie wat graag kom onloer vir ’n paar broodkrummels.
Reg langs die Arms is die Rooi-Els-biosfeersentrum. Loer gerus in – dis nie verniet in 2008 aangewys as die wenner van die burgemeesterstrofee vir “mees verdienstelike bydrae tot omgewingsbewaring in die Overstrand-gebied” nie.
Ek het byvoorbeeld geleer die woord “penguin” het in Wallis onstaan: “Pen” beteken “kop” en “gwyn” “wit”. En dat pikkewyne kan seewater drink. Ook dat die Wes-Kaap ’n skilpadparadys is: daar is 41 soorte in die wêreld, 14 in Suid-Afrika en 8 hier in die Wes-Kaap.
Daar het jy dit.
Die pad swenk weg van die kus af, Bettysbaai se kant toe. Langs die pad begin die berge nou soos ’n opgefrommelde vadoek lyk.
Ons ry verby ’n groen rotsbeeld aan die linkerhand wat soos ET lyk (die een uit die ruimte; nie Ventersdorp s’n nie). Iemand met ’n ryk verbeelding moes nogal moeite gedoen het hiermee. Die wit klippe teen die hange lyk soos ’n stoppelbaard. Ons ry verby huise tussen die fynbos, verby Pringlebaai.
By Bettysbaai, ongeveer 3 km verder, draai ons regs by die pikkewynbordjie wat die afdraai na Stony Point aandui. Dié is Bettysbaai se pikkewyn-reservaat.
Die wind waai ons omtrent van ons voete af toe ons uitklim.’n Groep Europeërs en Amerikaners durf die plankpaadjie na die pikkewyne met stapstokke aan.
Dan word ons begroet deur ’n ongelooflike gesig: Honderde brilpikkewyne sit, staan en waggel op die rotse, min gepla met die branders wat ’n swaar soutsproei op hulle neergooi. Een pikkewyn poseer mooi vir die kameras. Hy flap sy vlerke en bekyk die mense met ’n oop snawel.
Inligtingsbordjies vertel jou van dié voëls: Pikkewyne kan tot 20 km/h swem en tot 130 m diep duik. En die eerste pikkewynnes by Bettysbaai is in 1982 gevind.
Die buitelanders se toergids wys na ’n dassie en vra of hulle weet wat dit is. “What a remarkable creature,” merk een man op.
Dis huistoegaantyd. Bettysbaai bied nog baie: Jy kan gaan stap in die Harold Porter- botaniese tuin; of die Camelot gaan bekyk, ’n restaurant wat soos ’n kasteel lyk (kompleet met ’n
Castle Lager-vlag); of ’n bietjie lyn natmaak of gaan swem.
Maar ons moet terug Kaap toe. En dis goeie nuus, want dit beteken ons kan oubaas Clarence se pragtige pad weer ry.
Het ook al op hierdie roete gery, nooit geweet dit word so genoem nie. Ek kan dit regtig aanbeveel - dis pragtig - neem jou tyd en geniet dit!!!
Gelewer op 4 Februarie 2010 | 21:08:46
Ek bly 45 jaar in Kaapstad, die pad baie gery en nooit geweet dit word die Clarence kuspad genoem nie. Altyd gedink Clarence is in die Oos Vrystaat. Mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie. Dankie WEG!
Kommentaar