Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Etosha: Wat is nuut in die opgeknapte park?


Besoekers aan die Halali-watergat wag vir die aand se vertoning om te begin.
zoommore

Besoekers aan die Halali-watergat wag vir die aand se vertoning om te begin.

Etosha se geriewe is opgeknap. Wat is nuut? Hoe duur is dit? Watter diere sien jy?
Andrea Weiss het ’n draai gemaak by die Groot Wit Plek.

Erosha 101

1. Doen die somme
Etosha is nie meer ’n goedkoop vakansieplek nie en die nuwe tariewe wat van 1 November af geld, is hoog.
Dit volg kort op die hakke van die omvattende opgradering van Namibia Wildlife Resorts se blyplekke, die parastatale organisasie wat die nasionale parke se toerisme namens die Namibiese regering bestuur.
Van November af jaag ’n kampplek jou R200 plus ’n ekstra R100 per persoon per nag uit die sak. Kinders van 6-12 bly teen halfprys; dié onder 6 bly gratis. Hierby moet jy nog die daaglikse parktarief van R60 per persoon tel. ’n Suid-Afrikaanse gesin met twee tieners en ’n kleuter sal dus R600 per nag opdok, plus ’n parktarief van R240 per dag.
Die goedkoopste onderdakverblyf kos vanaf R650 per persoon vir ’n dubbelkamer sonder selfsorggeriewe (met ontbyt) tot R1 500 per persoon per nag vir ’n hut by Okaukuejo se watergat (ontbyt en aandete ingesluit).
Terwyl daar nog net ’n paar boschalets met buitebraaigeriewe oor is by Okaukuejo en Halali (vir omtrent R3 000 per nag vir ’n gesin van vier), is al die selfsorggeriewe in Namutoni weggedoen. Jy moet dus al die nodige toebehore saamneem; ook ’n kampstofie om water te kook.

2. Kies jou seisoen
Koud en droog - Mei tot Augustus
Mei is ’n uitstekende vakansietyd, omdat daar nog iets oor is van die reënseisoen. Junie-Julie is Suid-Afrikaanse en Namibiese gesinne se tradisionele kuiertyd met daardie koue nagte om die kampvuur.
Warm en droog - September tot Desember
Dis wanneer al die wild na die watergate toe kom, wat dit die beste tyd maak om diere te kyk. Dis ook die spitsseisoen vir Europese besoekers.
Warm en nat - Januarie tot April
Dis drukkend warm en bedompig, maar ook ’n goeie tyd om voëls te kyk. Wanneer dit reën, is die park groen en pragtig.

3. Kontant of paspoort! Besoekers moet ’n deposito van R500 betaal of hulle rybewys of paspoort inhandig wanneer hulle vir verblyf registreer. Jy kry dit terug nadat die personeel die kamers deurgekyk het.

4 Koop ’n gidsboek. Dis te kry in Duits, Italiaans, Engels, sebra…Grappies op ’n stokkie; vir ’n uitstekende gids kry die Guidebook to the Waterholes and Animals (R90), en om tyd te verwyl terwyl julle ry, kan jy jou vermaak met Origins and Meaning of Place Names in the Etosha National Park (R50).

Plan B*
(*B vir Bekostigbaar)

Slaap een nag aan die een kant van die park, een of twee nagte in die park, en nog ’n nag op pad uit. Op dié manier kry jy die voordeel van bekostigbare verblyf, en op die koop toe die ervaring van ’n nag by een van die kampwatergate.

Kamp naby die Andersson-hek (Okaukuejo-kant)
Die Etosha Safari-kamp is net 10 km van die hek af aan die westekant van Etosha. Die kampgeld is R50 per persoon per nag. Daar is ook tenthutte vir R390 per persoon (bed en ontbyt), ’n restaurant, swembad en ’n kroeg.
Kontak. Monica Kesslau * +264 62 24 5847; * www.etosha-safari.com

Toshari Lodge is 25 km van die hek af. Verblyf is R425 per persoon (bed en ontbyt). Hulle is besig om ’n private kampterrein te bou, waar elke kampplek teen R80 per persoon sy eie braai- en private badkamergeriewe sal hê.
Kontak. Amanda van Schalkwyk, * +264 67 33 3440; * www.etoshagateway-toshari.com

Kamp naby die Von Lindequist-hek (Namutoni)
Onguma grens aan die oostekant van Etosha, en sy toegangshek is reg langs die Von Lindequist-hek naby Namutoni. Die kampterrein is 8 km van die hek af en het private badkamergeriewe met ’n eie stort, toilet en kragpunt vir ’n maksimum van vier mense. Die tarief is R80 per nag vir volwassenes en R60 vir kinders (3-12).
Kontak. Elke Pohl +264 61 23 2009; www.onguma.comonguma@visionsofafrica.com.na

Lees die volledige storie
 


Etosha vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar en dié park se geriewe is pas opgeknap.
Wat is nuut?
Hoe duur is dit?
Watter diere sien jy?

Ons het ’n draai gemaak by die Groot Wit Plek.
Dis omtrent drieuur die middag en ek maak my tuis op ’n bankie onder ’n grasdak by die Namutoni-watergat saam met ’n hand vol Duitse toeriste en ’n klompie werkers wat ’n blaaskans vat. ’n Lae heining is al wat ons van die diere skei.
’n Trop sebras suip; een van die agterstes hou wag. ’n Springbok kom staan langs ’n gompou, wat sy dors met groot slukke les (blykbaar kan gompoue só drink; ander voëls moet hulle snawel oplig).
Die sebras gee pad. ’n Kameelperd skuifel versigtig nader – dis leeuwêreld dié. Hy strek sy bene wyd, buig sy nek en suip. Toe hy vol is, drentel hy na die bome, met wit stofwolkies wat onder sy hoewe opslaan.
Wat ’n skouspel!
Dis soos om teater toe te gaan. Elke dier speel ’n rol; elkeen stap net op die regte oomblik by die verhoog op, bly ’n rukkie en verdwyn dan weer. En ons, die gehoor van reg oor die wêreld, sit en wag dat die drama begin…

Maak toe


Leeus met sonop
Dinge het gewoel by Namutoni toe ek en die fotograaf Jéan du Plessis vroeër hier aangekom het. Die pad na dié ou koloniale Duitse fort is opgegrawe en daar is ’n tydelike ontvangskantoor opgerig.
Die fort self wemel van werkers wat skarrel om alles betyds reg te kry vir Etosha se eeufees-makietie, wat deur al die regering se hoëkoppe van Windhoek bygewoon sal word. Hulle het nog net twee weke – en daar’s nog baie wat gedoen moet word.
Jy kan die veranderings klaar sien: Al die ou hutte spog met splinternuwe, duur badkamertoebehore en wit linne. Selfsorg-verblyf is iets van die verlede. Jy moet deesdae jou voertuig in die parkeerterrein los sodat portiere jou bagasie na jou kamer kan dra. Portiere. In Etosha.
By die ontvangskantoor ontmoet ons vir Francois Kruger van Parys. Hy is ’n kommersiële duiker op ’n drie maande lange reis deur Namibië en Botswana, maar hy knip sy verblyf in Etosha met vyf dae kort weens die ontwrigtende bouwerk. “Dit sal lekker wees om terug te kom wanneer alles klaar is,” sê hy.
Onder die nuwe houtloopplanke wat die blyplekke met die fort en watergat verbind, het ’n kolonie gestreepte muishonde hulle in die welkome skaduwee tuisgemaak. Ten minste kuier húlle alte lekker!

Ek en Jéan is die volgende oggend 20 minute voor oopmaaktyd by die hek. Ons het gehoor daar is leeus by Klein-Namutoni, ’n paar kilometer van die kamp af.
Maar Walter Rusch en sy vrou, Rosemarie, van Windhoek het ons voorgespring. Hulle het die leeus die afgelope twee dae al twee keer gesien, en wil weer gaan kyk.
Walter is afgetree en ’n gereelde besoeker aan Etosha. Hy vertel van sy wonderlike herinneringe aan Klein-Namutoni. Hier het hy eenkeer ’n leeuwyfie op film vasgelê wat ’n kameelperd aangeval het deur op sy rug te spring.

Ons hoor ’n leeu brul: “Dis hulle daai,” sê Walter.
Swerms rooibekvinke vlieg verby van hulle slaapplek af. Dan maak die hek kraak-kraak oop. Walter ry voor. Hy draai regs… en skaars ’n kilometer verder beduie hy vir ons: Daar is hulle! Die leeuwyfies en hulle welpies. Ons tel nege, maar Walter sê daar is altesame 11.
Die trop was pas by die watergat en nou soek hulle skaduwee. Op die horison sien ons ’n paar kameelperdkoppe op en af beweeg by die watergat, wat net-net buite sig uit is. Een van die welpies kom doen ’n speelse inspeksie van elke motor voordat die hele trop die bosse in verdwyn.
Goeiste, dis skaars seweuur in die oggend!

As jy aksie wil sien, is Kalkheuwel, 18 km wes van Namutoni, ’n goeie roep, het Tony Camacho, ’n fotograaf, gesê. Ons kom net ná agtuur daar aan. Die aksie sal so tienuur, elfuur se kant begin, het Tony beloof. “Dis ’n hele affêre.”
En die optog begin feitlik onmiddellik: Eers die sebras, dan kameelperde en koedoes, en dan swartgesig-impalas – hulle kom net in Noordwes-Namibië en Suidwes-Angola voor en is ’n unieke subspesie (daar is minder as 4 000 van hulle in die natuur oor). Op wildveilings betaal jy R10 000 vir een!
Walter en Rosemarie se kombi kruip nader. Hulle is op pad na Okaukuejo, maar kom vertel eers van iets ongewoons wat hulle gesien het: “’n Swerm tarentale ’n vaalboskat verjaag,” vertel Walter met ’n breë glimlag. “Ek het nog nooit so iets gesien nie.”
Hulle gaan oor twee dae in Halali wees, waar ons mekaar hopelik weer sal raakloop.
Dis hoe dit is in Etosha: ’n Mens maak gou vriende.
Ná ’n paar uur by die watergat hoor ek iets grom. Olifant? Leeu? “Dis my maag,” sê Jéan. Tyd om terug kamp toe te gaan.

Op pad terug sien ons ’n paar mans wat die aanwysings op ’n wit klipmerker oorverf.
Ons stop en skud blad met Daniel Tsam, Markus Aogome, Malieagi Kuiseb en Jan Komob. Hulle is almal Hai//om-Boesmans, ’n groep wat jare gelede in die park gewoon en gejag het.
In 1951 was daar nog sowat 500 Hai//oms in Etosha, maar teen 1954 het hulle die trekpas gekry. Die Namibiese regering het onlangs planne bekend gemaak om twee reservate aan die rand van Etosha aan die Hai//om toe te ken.
Terwyl die mans vir ’n foto poseer, sê Malieagi: “My pa en ma is hier gebore.”
Namutoni-hoogtepunte
Namutoni (aan die oostelike rand) is ongeveer 100 km noord van Tsumeb. Hier gaan jy in deur die Von Lindequist-hek, wat genoem is na die Duitse goewerneur Friedrich von Lindequist, wat die eerste keer in 1907 aan Etosha bewaringstatus gegee het as Wildreservaat Nr. 2.

Beste watergat? Hierdie kamp het baie goeie watergate binne ’n 15 km-radius (probeer Klein-Namutoni, Chudop en Kalkheuwel), dus is dit gewild onder fotograwe. Daar’s baie wild, want dit kry gemiddeld 150 mm meer reën per jaar as die westekant.
Hoewel die watergat by die kamp dalk die minste aftrek by besoekers kry, het ons gehoor ’n leeuwyfie het pas ’n springbok platgetrek – net mooi waar al die besoekers dit kon sien. ’n Mens weet nooit…

Maak toe


Missie na die middel
Ons beplan om rustig na Halali, die park se middelste kamp, te ry. Kort ná ons vertrek sê Jéan opgewonde: “Renoster!”
’n Renoster draf oor ’n oop veld soos iemand wat weet waarheen hy op pad is. Dit lyk of hy mik na die Chudop-watergat, 3 km van die hoofpad af.
Daar is ook twee safarivoertuie by ons. Een het reeds leeus by Klein-Namutoni gesien, en die bestuurder glimlag van oor tot oor. Sy kliënte is vanoggend tevrede.
“Dis ’n swartrenoster,” vertel hy. “Kyk sy hoekige lip.”
Aangesien ons so te sê by die Chudop-watergat is, kan ons net sowel gaan kyk wat daar aangaan. Hier kry ons twee jakkalse – een met modderige pote en vere wat aan sy been vasklou. Die watergat se naam beteken “swart modder”, en ’n mens sien gou hoekom.
Daar lê twee hopies vere op die oewer. Die jakkalse se werk. ’n Hiëna drentel vir kwaadgeld rond…
’n Gemsbok probeer die hiëna verjaag. Eenkant is ’n kameelperdpaartjie wat lyk asof hulle amoreuse planne het, plus 12 koedoebulle. Twee begin speels stoei.
Jéan weet nie waarheen hy sy kamera moet mik nie.

Halali is ’n rustige kamp in die skadu van mopaniebome. Droë oranje blare dwarrel in ’n warm, stowwerige wind rond.
Dis sononder en ’n trop van nege olifante suip by die watergat. Die water lyk soos vloeibare goud. Die trop kom staan in beskermende kringetjie om twee baba-olifantjies. Uiteindelik stap die matriarg weg met ’n lae roggel. Sy lig haar poot op.
Navorsing by Etosha het getoon olifante gebruik seismiese kommunikasie deur klank met hulle pote te voel.
Enkele minute later daag ’n renoster op, asof hy hoflik sy beurt afgewag het. En dan skarrel ’n ratel langs die mense by die rotse uit en vat die pad na die watergat.
Ek sit met daardie selfde glimlag as wat Walter vanoggend op sy gesig gehad het toe hy vir my van die vaalboskat vertel het. Hierdie is rêrig ’n besonderse plek.

Die volgende oggend hou ons stil om ’n foto te neem van die sonopkoms oor die tweelingheuwels, ’n landmerk naby Halali. Dit staan bekend as die Helio-heuwels omdat die Duitse weermag destyds ’n heliograafpos op die heuwels gehad het van waar hulle met spieëls seine gestuur het vir die soldate by Fort Namutoni, 80 km verder.
Een van ons eerste stilhouplekke vanoggend is die Etosha-uitkykpunt, van waar ’n mens ’n uitsig het oor die pan (dit beslaan 130 x 70 km, omtrent ’n kwart van die reservaat se oppervlakte).
’n Paar safari-trokkies hou stil, en die toeriste peul by die deure uit om foto’s te neem. Ian en Debby Hunter van Buckinghamshire in Engeland is saam met hulle vriendin Cheryl Macildowie van Johannesburg hier om die uitsig te bewonder. Cheryl verkyk haar aan die kalkblou kleur van die lug bo die pan. “Dit lyk asof daar ’n storm broei,” sê sy.
Ek tuur die verte in en sien ’n swart spikkel bo die wit wasigheid van die horison – dis ’n volstruis. Blykbaar gaan staan hulle daar in die oopte om weg te kom van die roofdiere af.
By die kruispad draai ons regs in die rigting van Rietfontein, wat sy naam in 1876 by die Dorslandtrekkers gekry het. Hulle het hier probeer boer, maar is weggedryf deur siektes en vyandige stamme.
Dit raak nou regtig warm en die son bak die landskap dat dit bewe. Dan sien ons skielik iets onder ’n bos langs die pad. Kan dit wees?
Luiperd!
Jéan ry stadiger. Die luiperd, skaars 2 m van my af, kyk my reg in die oë kyk. Dan verdwyn dit in die lang gras.
’n Minuut later daag ’n paartjie in ’n Citi Golf op. Te laat, ou maat! Terug by Halali loop ons weer vir Walter raak toe ons iets koud gaan koop om te drink. Ons vertel vir hom van die luiperd. “Julle was gelukkig,” sê hy effens afgehaal.

My bene raak styf van al die sit in die motor, en ek besluit om by die Halali-heuwel langs die kamp op te stap. Die heuwel lê besaai met dolomietrotse wat effens soos olifantleer lyk. Die moringabome, amper soos miniatuur-kremetartbome, staan dig. Hier en daar het mense hulle naam in die stamme gekerf.
Dis moeilik om die paadjie te kry en ek raak ’n bietjie bekommerd dat ’n bejaarde luiperd my iewers lê en inwag, maar gelukkig loop ek vir Ursula (66) en Erwin Stender (69) van Hamburg raak, wat ook ’n bietjie oefening wil kry.
Halfpad boontoe vra Ursula en Erwin vir my om ’n foto van hulle te neem. Toe ek die knoppie druk, soen hulle mekaar. Hulle is al 46 jaar getroud! “Reis terwyl jy nog jonk is,” sê Ursula. “Terwyl jy nog jou gesondheid het.”
Erwin het onlangs ’n knievervanging ondergaan, maar ons stap fluks oor die rotsagtige heuwel en af aan die ander kant, sodat ons van die teenoorgestelde kant af weer by Halali se watergat aankom.

’n Trop koedoes is besig om te suip, en ’n groot bul blaf kort, skerp waarskuwings. Hy staar oor die water na iets. Erwin gaan stel ondersoek in en kry ’n jong koedoe-ooi wat teen die heining leun. Sy is duidelik siek en sak voor ons oë inmekaar.
Ek sien hoe Erwin vir die koedoe beduie. Hy moedig haar in Duits aan om op te staan en terug na die trop toe gaan. Ná ’n rukkie kom sit weer by my en Ursula. “Dis oukei,” sê Ursula. “Dis die natuur.” Maar ek kan sien hulle is al twee effens ontsteld.

Halali-hoogtepunte
Halali is in die middel van Etosha en voel effens meer afgeleë as die ander kampe. Die hutte is ook verder van mekaar af en van die chalets het nog buitebraaiplekke waar jy na die naggeluide kan sit en luister. Jy kan met ’n plankpaadjie van die kampeerterrein se rand af na die watergat toe stap.

Ander watergate?
Besoek Goas (12 km oos) en Nuamses (17 km noord), wat ’n permanente inwonende luiperd het.
Neem jou tyd op die pan. Moenie die Etosha-pan-uitkykpunt misloop nie. Jy ry 3 km na ’n draaisirkel in die pan, waar jy kan uitklim. Hier voel ’n mens asof jy op die rand van die aarde staan.
Rek jou bene. Klim Halali-heuwel uit vir ’n mooi uitsig. Jy het nie meer as ’n halfuur nodig nie.

Maak toe


Amaroela-olifante
Almal weet van die ou leeuwyfie en -mannetjie wat in 1993 ’n toeris doodgebyt het wat agter die muur by die Okaukuejo-watergat geslaap het. Dis die Loftus van Etosha se watergate en ek kan nie wag om dit te sien nie.
Maar vandag is die verkeer swaar – die motors en verskeie safarivoertuie vol Duitse en Franse toeriste ry soek-soek tussen die kampe. ’n Safarivoertuig trek langs ons in: “Haben Sie Löwen gesehen?” (Het julle leeus gesien?) vra die bestuurder, wat moeg en warm lyk. Nee, ons geniet net die uitsig.

Ons het stilgehou om die Halali-grasvlakte te bewonder. Talle diere trek oor dié veld op soek na die lekseltjies water wat na die pan toe vloei. “Dit lyk op ’n druppel soos die Serengeti,” sê Jéan.
Dis ’n pragtige oopte. Jy hoor die sebras se gefluit. Party rol in die stof, ander hap mekaar in die nek.
By Nebrownii, net 8 km buite Okaukuejo, kom ons af op ’n olifantbul wat hom gate uit geniet in die water. Hy is spookagtig wit van die kleigrond wat ’n mens hier rond kry.
In die kampterrein ontmoet ons vir Ian en Gill Charlton, asook hulle bure Sally en Pete Koopman, van Centurion. Hulle is al ’n week of wat op die pad en daar’s ’n gemoedelike debat aan die gang oor die meriete van Castle-bier (Ian) teenoor Windhoek (Pete), en Land Rovers (Ian) teenoor Jeeps (Pete).
Hulle het eers na die Kaapse blomme gaan kyk voordat hulle die pad Namibië toe gevat het. Pete sê hulle “skin” (in Engels ’n afkorting vir “spending the kids’ inheritance now”).
Daardie aand kom ’n aaklige, stowwerige wind op. Dit is die droë maande voor die reën. Elke dag voel warmer en droër as die vorige een. Daarom is dit vroeg bed toe vir ons vanaand.

Dis ons laaste oggend in die park, en ons besluit om na Okondeka te ry, ongeveer 25 km noord aan die westekant van die pan. Duisende diere kom suip hier omdat dit die enigste standhoudende water in die omgewing is.
Toe ons nader kom, sien ons ’n klompie voertuie. ’n Leeuwyfie stap doelgerig deur die gras, gevolg deur drie welpies. Hulle magies is so trommeldik dat hulle sukkel om by te hou, maar die ma hou net kilometer vir kilometer aan stap oor die veld, terwyl die toeristemotors agter haar aan kruie.
Hierdie watergat was ’n paar jaar gelede die tuiste van ’n trop “mensvreterleeus” wat plaaswerkers op pad huis toe in Owamboland aangeval het. Is hierdie leeus hulle afstammelinge?
In die verte vreet 13 jakkalse die oorskiet van die leeuwyfie se vangs. Hulle sterte swaai uitbundig in die oggendson.
Wanneer die leeus klaar gesuip en hulle ete in die skaduwee gaan afslaap – en die laaste motors die pad vat – vra ek Jéan om ’n rukkie daar te wag.
Swerms voëls maal rond terwyl ’n valk ondertoe swiep om sy ontbyt te vang. ’n Groep swart spikkels verskyn in die wasigheid oor die pan. Dis die volstruise wat kom suip saam met ’n gemsbokpaar.
“Dis oukei, jy kan maar ry,” sê ek vir Jéan, terwyl ek dié prentjie in my geheue bêre. Ek weet ek gaan weer kom.

Okaukuejo-hoogtepunte
Okaukuejo (’n mens spreek dit uit “ô-koe-koe-jo”) is die grootste en gewildste kamp en lê omtrent 100 km noord van Outjo. Die watergat – met spreiligte – is Etosha se grootste attraksie en lok besoekers van reg oor die wêreld. Vir besoekers is daar selfs ’n internetkafee en ’n kroeg langs die swembad.

Ander goeie watergate? Probeer gerus ook Gemsbokvlakte, Olifantsbad en Aus, wat gewild is onder die olifante.
Rek jou bene. Klim die trappe na die bopunt van die ou watertoring om jou kop ’n slag skoon te maak.

Maak toe


Die Weg-lesers Flip en Marita Beukes van Swakopmund is Etosha-veterane. Hier vertel hulle wat hulle oor die jongste veranderings in dié park dink.

Om die braaivleisvure in kampeerplekke hoor ons baie Suid-Afrikaanse vriende wat vertel hoe stygende pryse in Namibië ál dieper in hulle spaargeldjies vreet – dis nou nadat heelwat al geskryf is oor die veranderings en prysstygings in die kampe.
Ons besoek Etosha elke jaar die afgelope vyf en twintig jaar. Vanjaar het ons gaan kamp en ook na die veranderinge, pryse en etes gaan kyk. Hier is ons indrukke.

Okaukuejo
Kampplekke. Al die kampplekke is nou genommer. Toe ons nie tevrede was met ons staanplek nie, kon ons vir ’n ander een vra.
Ablusiegeriewe. Die nuwe ablusiegeboue is skoon en netjies, maar daar is geen hangplek of bankies in die storthokkies nie.
Huisies. Die rushuise om die watergat is pragtig en luuks. Vyf van hulle is dubbelverdiepinggeboue met ’n balkon wat oor die watergat uitkyk, terwyl die ander dertig ook elkeen ’n stoep het. Die dubbelverdiepinghuisies kos R1 500 p.p.p.n. (ontbyt en aandete ingesluit) en die gewones en die dubbelkamers R700 (ontbyt ingesluit). Daar is geen parkeerplek nie; jy moet oorkant die pad stilhou. Slegs 22 van die rushuise het oor ’n yskas, ketel en bekers, en ’n mens mag buite kook en braai.
Restaurant. Dit was nog nie klaar nie, dus het ons teen R110 per persoon in die tent aandete gaan geniet. Die kos was goed gaargemaak, aantreklik, lekker en die diens goed.

Halali
Kampeerplekke.
Almal is genommer. Ons het nie ’n keuse gehad watter plek ons kry nie en kon nie verander nie.
Ablusiegeriewe. Nuut en skoon, maar die storte is onprakties. Hangplek vir handdoeke is daar wel, maar omdat die enkele skroefie nooit die gewig kan dra nie, lê jou handdoek wel op die grond. Daar is geen plek om jou klere te hang of neer te sit nie. Dra maar ’n stoel saam en skoene waarmee jy deur die water kan loop, want die storte se water loop die hele vloer vol na die toilet en wasbakke toe.
Etes. Ons het ’n heerlike ontbyt geëet teen R60 per persoon, maar ontbyt is te laat, eers as die hekke oopmaak: Baie besoekers hou daarvan om vroeg ’n draai te ry. As jy in een van die rushuise bly, is ontbyt ingesluit. Tien van die huisies is toegerus met ’n yskas, ketel en bekers, en ’n mens mag buite kook en braai.

Namutoni
Hier is 25 kampeerplekke wat nog nie genommer is nie. Maar dinge is nog ver van klaar af – die ablusiegeriewe is byvoorbeeld nog chaoties, hoewel hulle hard aan die werk is daarmee. Alle verblyf sluit aandete en ontbyt in en daar is dus geen braai- of kookgeriewe nie.

Die park self
Die paaie is in ’n goeie toestand en die diere volop, veral by die watergate.
Die dae in die veld en tussen die diere by die watergate is ’n fees en ’n voorreg. En dis lekker om een of twee keer uit te eet – nie as dit elke dag op jou afgedwing word nie.
Die tariewe vir kampeerplek, toegang en voertuie verdubbel van 1 November af. Boere wie se grond aan Etosha grens, is reeds besig om verblyf te verskaf. Toeriste kan dan op eie stoom daagliks die park besoek, al loop ’n mens dan die aksie saans by die watergate mis.

Oordoen en onprakties!
Bill en Jenny Orton van Clovelly sê hulle het bedruk gevoel ná hulle jaarlikse kuiertjie in Etosha.

Ons hou sedert 1992 vakansie in die Etosha- nasionale park. Ons ergste vrese het waar geword, want dit lyk asof die Namibiese owerhede hulle rug gekeer het op die plaaslike mark – wat hulle eie burgers insluit – ten gunste van oorsese besoekers met euro’s, Amerikaanse dollars of Britse ponde.
Ons verblyf van nege dae het vanjaar R5 100 gekos, maar as ons volgende jaar weer wil gaan, moet ons R18 000 opdok!
Ons het nog altyd al drie kampe besoek: Okaukuejo, Halali en Namutoni – omdat elkeen unieke wildkykgeleenthede bied. Hoewel die selfsorghutte soms ’n bietjie opknapwerk nodig het, was dit nog altyd gerieflik en billik, veral as twee paartjies deel.
Die dierelewe was ongelooflik en die wonderlike weer saans het gesorg vir ’n spesiale atmosfeer wanneer ’n mens om die vuur eet.
Maar die atmosfeer het verander omdat dit lyk asof die owerhede probeer om Ethosha van ’n nasionale park in ’n private wildplaas te verander.
Ons het die geriewe “oordoen” en onprakties gevind vir sulke groot kampe. Met die groot aantal veral internasionale besoekers, wat net vir ’n paar nagte bly, kan ons maar net raai hoe moeilik dit vir die kamppersoneel gaan wees om dit in stand te hou.
Weens die koste gaan dié wonderlike park vir die deursnee- plaaslike toeris gesluit wees, veral dié met tieners. Ons is verras dat die Namibiese publiek hierdie veranderings toegelaat het en wonder hoeveel konsultasie daar was.

Namibia Wildlife Resorts antwoord: “Ons verwelkom positiewe kritiek, maar ons het ook ons pligte. Daar is diegene wat reeds aanvoer dat die NWR te duur raak vir Namibiërs. Hoewel ons hulle besorgdheid waardeer en altyd ’n trots Namibiese maatskappy sal wees, kry ons glad nie ’n subsidie sodat ons ons pryse “relatief” kan hou ter wille van Namibiërs nie. Nietemin sal maatreëls ingestel moet word om Namibiërs aan te moedig om die natuurlike hulpbronne in ons land te besoek en ervaar.
“Die NWR doen sake in ’n mededingende omgewing en is aan markkragte blootgestel. Byvoorbeeld, net 17% (NWR-besprekings) van NWR-besoekers is Namibiërs; die oorblywende 83% is van die buiteland. Die fokus is egter nie op pryse nie, maar eerder op kliënte-tevredenheid en mededingendheid, met die maksimum opbrengs op die belegging.

Maak toe

Terug na Namibië | Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek