Sien 'n "vlieënde haai"
Valsbaai, Kaapstad
“Hou dop daai rob!” sê die haaikenner Chris Fallows terwyl ons boot stadig tot stilstand kom.
Ons maak soos Chris sê – hy monitor Valsbaai se beroemde “vlieënde haaie” immers al langer as tien jaar.
Ek en omtrent 12 ander hoopvolle haaikykers dobber in Chris se boot op die rustige deining.
Die wintersonnetjie loer oor die Kogelberg en gooi sy gloed op Robeiland – die blyplek van 60 000 robbe.
Elke aand swem die robbe see-in om vis te gaan soek, en net voor die son opkom, keer hulle terug om heeldag in die sonnetjie te dut.
Die rob wat Chris vir ons wys, kom laat terug eiland toe en hy’s op sy eie. En hy is op ’n gevaarlike plek: Robeiland se kante loop steil af tot op die bodem van die see, omtrent 25 m diep. Die volmaakte hinderlaagdiepte vir ’n witdoodshaai…
"Die meeste aanvalle vind plaas in die uur of wat ná sonop,” vertel Chris.
“Die rob sukkel om die haai te sien omdat die lig teen ’n ongemaklike hoek deur die water val. Maar omtrent die helfte van die robbe wat aangeval word, kom uiteindelik weg.”
Op die boot is ons doodstil.
Jy prewel ’n gebedjie dat die rob die eiland moet haal, maar terselfdertyd is jy eintlik nuuskierig om ’n aanval te sien. (Byna dieselfde gevoel wat jy kry as jy Nightmare on Elm Street kyk.)
“Hy spring! Eenuur!” skree Chris skielik en beduie oor die boeg in die rigting van die rob.
“Whaaahaaa!” skree ons. Water spat woes, tande glinster in ’n gapende bek… donker lyf…
wit maag… ’n regte, egte verwoestende 4 m lange witdoods-haai hang vir ’n breukdeel van ’n sekonde in die lug.
Dis ongelooflik. Dié slag kom die rob sy moses teë. Hy spartel in ’n rooi plas voordat hy onder die oppervlak verdwyn. Die ongenaakbaarheid ruk my. Dis nie speletjies nie. Dis lewe teen dood hier.
Chris swaai die boot se boeg na regs en ons wag vir die volgende rob wat laat is. Almal op die boot is effens bewerig van afwagting…
Ek wil gaan!
Wanneer? In Junie en Julie. Wetenskaplikes weet nie regtig hoekom die haaie dan meer gereeld in die winter spring nie, maar vermoed dis omdat die water kalm en helder is.
Koste: R1 710 per persoon. Die boot sleep ’n nagemaakte rob, wat dikwels asemrowende spronge ontlok. Die vaart sluit ook ’n hokduik naby Robeiland in.
Kontak: 082 364 2738 (Chris en Monique Fallows); www.apexpredators.com
Weg sê:
Sit dit op jou lewensdoenlysie. Dis beslis beter as National Geographic.
Weet jy?
Haaie val selde mense aan. In 2007 was daar een noodlottige aanval in Suid-Afrika, maar wêreldwyd maak mense 100 miljoen haaie per jaar dood.
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar