Bevaar die Kowie saam met een van die paar toeroperateurs op Port Alfred. Jy vaar rustig in die rivier op, verby die marina en die weelderige Millionaires' Row tot aan die buitewyke van die dorp, en weer terug.
Port Alfred, mooitjies halfpad tussen Port Elizabeth en die Oos-Kaap. Dit is as ’t ware die Stilbaai of Margate van die Oos-Kaap. Danksy die Kowierivier kan ’n mens hier behóórlik vakansie hou.
Hier is 6 doendinge in Port Alfred
1. Bevaar die Kowie
“Daar is nie meer krokodille in die rivier nie,” sê die toergids André Smith aan die groepie skoolkinders op sy boot. “Die haaie het hulle weggejaag.”
Die kinders loer bekommerd na mekaar. André trek hulle been. Hy is een van ’n paar toeroperateurs wat jou met sy boot op die Kowierivier sal vat. Eers vaar ons verby die marina en spesifiek “Millionaires’ Row”, waar die erwe glo tot R1,8 miljoen kos. Hy wys ons waar die huis van Vuyo Mbuli van SABC2 se Morning Live-faam gestalte kry. Die fondamente is pas gegooi.
Op een van die landingskaaie lê ’n rob. Hy lig sy kop, half-geïnteresseerd, half-geïrriteerd. “Dis nou ’n tipiese Oos-Kaapse houding, sê André. “Bly lê net nog so ’n rukkie.”
Ons vaar sowat 7 km rustig in die rivier op, tot aan die buitewyke van die dorp, waar dit lyk of ’n trosbehuisingskompleks gebou word, en draai dan om.
Koste: R60 per volwassene en R30 per kind vir ’n vaart van ’n uur en ’n half. Die sonsondergangvaarte se prys is onderhandelbaar (jy kan tot 21 km stroomop vaar en braai as jy wil) Kontak: Outdoor Focus 046 624 4432
2. Trap (op die) water!
Hulle noem dit ’n hidro-fiets. Dis letterlik ’n fiets op water, met die raam wat op twee rompe gemonteer is. ’n Mens stuur met die gewone stang, maar hier is nie ratte wat jou red as jy ’n fris bries van voor kry nie. Jy moet maar net trap, en dis immers goed vir die kuite.
Ek trap verby die marina. Geld is blykbaar nie ’n probleem in dié deel van die dorp nie: die huise is groot. In party erwe, swéér ek, is genoeg plek vir ’n Angus Buchan-tuinparty.
Ek vorder min of meer teen stapspoed. Vrees nie dat ’n jaagduiwel op sy waterponie jou gaan omdop nie, want oral is duidelike waarskuwingsbordjies: “No wake zone. Dead slow.”
’n Minuut of drie later trap ek onderdeur die brug. Die graffiti teen die mure sê: “Pelican Kroo” en “UCT 2001”. Verderaan sit inwoners langs die rivier en visvang, met die vangste wat sommer net daar op ’n oop vuur gaar gemaak word. Ek draai ná ’n halfuur terug toe my bene begin tam voel.
Dis goeie oefening, veral vir mense wat nie behendig kan roei nie.
Koste: R50 vir ’n halfuur, R80 per uur Kontak: Outdoor Focus 046 624 4432
3. Proe Oos-Kaapse kaas
Port Alfred het ’n lieflike padstalletjie: Green Fountain Farm Resort, sowat 8 km uit die dorp in die rigting van Oos-Londen. As jy jou nie in toom hou nie, gaan jy hier uitstap met ’n flessie konfyt, ’n botteltjie heuningmosterd, ’n paar stukke biltong en ’n nuwe springbokvel-onderbaadjie.
Die plaas het eers sy eie kaas gemaak, maar ’n krisis in die melkbedryf het ’n einde daaraan gebring. Hulle het gelukkig nog ’n bietjie voorraad van die beleë cheddar. Buiten dit kan jy ook aan heerlike blokke gouda knabbel. Probeer die pikantrissie- en “spicy garlic”-soort.
Daarby het Green Fountain ’n kampeerplek en oefenbof, as jy toevallig jou vyfyster ingepak het.
Kontak: 046 624 5859; info@greenfountain.co.za
Maak toe
4. Loop tot by Drie Susters
Nee, ons bedoel nie jy moet Karoo toe stap nie. Die Drie Susters is rotsformasies wat soos eendjies in ’n ry op die strand naby Rietriviermond staan. En hulle is nie klein nie, hoor – amper so groot soos daai huise in Port Alfred se marina...
Ry Rietriviermond toe, sowat 10 km uit die dorp in Oos-Londen se rigting, en stap 20 minute (ook in daai rigting) en dan is jy by die eerste sussie. Sy’s die kleinste en die maklikste om uit te klim.
Sowat vyf minute verder verskyn die tweede en derde sussie. Die golwe slaan hulle te pletter teen die rotse. Dit herinner ’n mens net weer dat Neptunus se tuiste nie jou speelplek is nie.
Die rotsformasies op die strand self is weggekalwe deur wind, sand en see en laat dit soos ’n landskap uit ’n Tolkien-boek lyk. Mooi, maar op ’n ander manier.
Hoe kom ek daar? Ry Oos-Londen se kant toe en draai sowat 11 km verder af by Rietriviermond. Los jou kar by die groen hek en vat die pad te voet verder.
Weg sê: Trek maar jou sandale aan, want die pad tot by die strand is klipperig. Die strand sélf is ook maar klipperig. En al lyk die rotse nogal bedrieglik baie soos sand, is dit nié en kan jy jou voete lelik stamp.
Maak toe
5. Ry ’n duin!
Terwyl ek nog probeer om my voete in die gespes te kry, besluit die sandplank om solank te vertrek – met net my linkervoet wat vasgegord is. Ek word saamgesleep.
Kyk, ’n mens val jouself disnis met duinry. Anders as met ysskaats, kan jy nie sommer net stop nie. Jy probeer maar net so grasieus as moontlik neerplof. (Kerswas onderaan die bord help darem om jou spoed te verminder.)
Dit werk so: ’n Mens huur ’n plank by Outdoor Focus, waar hulle jou touwys maak. “You just strap in your feet and try to keep your balance,” verduidelik Sharon Dacombe, ’n verloopte Brit van Stratford-upon-Avon wat nou hier op Port Alfred woon en werk.
En dis min of meer die volledige instruksies voordat sy jou strand se kant toe beduie, na East Beach se duine, wat glo goed werk.
Met sand orals – selfs in my neus en ander plekke – besluit ek terstond dis omdat die eerste duin te klein was dat ek onsuksesvol is. ’n Groter een, dus. Maar hier, blyk dit, is groter net beter as jou vaardigheid óók beter is.
Die uiteinde? Ek maak ’n agteroor-duikrol toe ek die onderpunt van die duin tref. My stuitjie gaan nog tot oormôre vir my grom... maar ek het laas so lekker vir myself gelag toe ek op skool per ongeluk oor my hokkiestok gestruikel en by die trappe afgeval het.
Koste: R50 per uur Kontak: Outdoor Focus 046 624 4432
Maak toe
6. Stap ’n draai deur die museum
Dit reën, jy kan nie gaan visvang nie en die kinders werk op jou nerwe. Gaan maak dan ’n draai by die museum.
Hier leer jy meer oor die geskiedenis van Port Alfred en omliggende gebiede. In een van die kamers sal jy ene Graham J. Petty se insekversameling kan bekyk. Die insekte, van motte tot kewers, is met spelde op ’n stuk karton vasgeheg, met ’n nota by met die insek se wetenskaplike naam daarop.
Hier is ook ’n kamer met ’n uitstalling oor die Xhosastam en reg oorkant dit een van die Britse Setlaars. Daar is onder meer ’n kis met ’n inskripsie wat lui: “Beleive (sic) on the Lord Jesus Christ & and thou shalt be saved”. Dis nou nie Londen se Museum of Natural History nie, maar behoort jou omtrent ’n uur besig te hou.
Waar? Dis langs die landdroshof in Pascoesingel. Koste: R5 vir volwassenes, R3 vir kinders Kontak: 046 624 4713
Maak toe
Port Alfred in ’n neutedop
Hoe kom ek daar? Port Alfred is sowat 150 km van Port Elizabeth én Oos-Londen af. Neem die R72 van die N2 af of ry met die R67 van Grahamstad af.
Waar bly ek? River’s Edge R350 p.p. R520 vir twee wat ’n kamer deel (ontbyt ingesluit). 082 401 6359
Halyards-hotel Vanaf R390 p.p. wat deel. Jy het ’n lieflike uitsig oor die marina. 046 604 3300
Waar eet ek? Guido’s is ’n seekos-en-pizza-restaurant. Die atmosfeer is gemoedelik en dis op die T-aansluiting van die rivier en see. 046 624 5264
Boardwalk is ook op die rivier se oewer en sit onder meer heerlike bredies voor. 046 624 5778
Hier is ook ’n Spur, Steers, Wimpy en KFC as jy nie lus is vir nuwe dinge nie.
Maak toe
Wat kan ek nog op Kowie doen?
Kano, my bru.
’n Mens kan ’n kano huur as jy die Kowie so wil verken. Koste: R60 per uur en R50 per halfuur.
Ek wil verder roei. Pak dan die Kowie-kanoroete aan. Jy roei 21 km die rivier op waartydens jy vir een of twee nagte oorslaap en die gebied te voet verken. Jy moet jou eie kos vat. Koste: R125 p.p.p.n.
Jou huis is waar jou anker is.
Huur ’n huisboot. Jy’t nie ’n lisensie nodig nie, en dit het plek vir vier mense (daar is twee dubbelbeddens). Jy kan ook lustig kos maak: die boot het ’n kombuis met ’n yskas en stoof. Hier is ook stortgeriewe. Dis amper soos ’n woonwavakansie op water, sê die mense wat weet. Koste: R1 695 per boot per nag in die seisoen (minimum drie nagte) Kontak: Outdoor Focus wat omtrent alles in die buitelug op Port Alfred reël.
Kommentaar