Richmond is 'n tipiese Karoo-dorpie met pragtige Victoriaanse argitektuur, vars lug en 'n indrukwekkende Nederduits Gereformeerde kerk - die kerk spog ook glo met die hoogste preekstoel in Suid-Afrika: 5,5 meter.
Die storie loop dat dinge begin roer op die Karoo-dorpie Richmond. Nee, hier’s nie ’n nuwe soort skaapdip nie, maar hier’s boeke, honderde boeke.
“Toe, raai,” sê Attie van Rensburg terwyl hy vir my ’n sjerrie skink in die kroeg van die Richmond Supper Klub. Hy en sy vrou, Eunice, die restaurant se nuwe bestuurders, het pas na Richmond getrek. “Raai van waar af?”
“Um...Bloemfontein?” probeer ek.
“Nee,” sê hy. “Richmond! Die een in KZN. Kan jy dit glo?”
Attie sê mense verwar dikwels die Karoo se Richmond met sy heelwat natter naamgenoot in KwaZulu-Natal. Trouens, baie mense weet nie eens daar is ’n Richmond in die Karoo nie. Dis nou totdat jy ’n spoedboete in die pos kry met ’n foto van jou op die N1 net buite dié dorp.
Buite die Supper Klub gooi die son lang skadu’s, die koue daal neer op die dorpie en die kroeg begin stadig vol loop. Daryl Conolly, wat die Richmond Gallery and Book Orphanage langsaan bestuur, stap in en vryf sy hande by die vuurtjie.
“Hulle sê mos die koue is hier in die Karoo gemaak,” vertel Daryl, en beduie na die sjerriebottel. Attie skink ’n glasie met ’n senuagtige laggie: Hy en Eunice het nog nie ’n Karoo-winter beleef nie.
Die volgende besoeker is Annette Loveday, ’n eks-Zimbabwiër wat ook ’n boekwinkel bedryf verder af in die straat, in ’n ou Victoriaanse kothuisie met deur wat kraak.
“Wel, dis nog nie juis ’n winkel nie,” sê sy, “eerder ’n duisend boeke wat nog gerangskik moet word...”
Nog ’n paar mense kom en gaan: ’n Verkeersman wat ’n wegneemete bestel, twee Amerikaanse meisies van ’n HIV-organisasie en ’n boer vir sy laatmiddag-cappuccino.
Toe die gesels tydelik opdroog, gaan skep ek asem buite op die stoep. Af en toe hoor jy die geroggel van nog ’n lorrie wat indraai by die Caltex doer oorkant op die N1. Hoog in die lug volg ’n vliegtuig die son Kaap se kant toe. Die lang wit sliert wat agterbly verdwyn in die donkerte.
Hulle sê die Karoo kruip stadig onder jou vel in, maar toe Eunice my inroep vir lamstjoppies, lê die plek al klaar my hart vol.
Richmond het in 1843 ontstaan toe die boere ’n kerk in dié deel van die Karoo gestig het. In 1885 is dele van die plaas Driefontein verkoop en die nuwe dorp is Richmond gedoop tot eer van die hertog van Richmond, die pa van lady Sarah Maitland, die vrou van die destydse Kaap se goewerneur, Peregrine Maitland.
Toe was dit nog ’n gevaarlike plek. “The Ongers River, which flows through the town, provided cover for numerous lions,” skryf T.V. Bulpin.
Maar die leeus het nie lank gehou nie. Die dorpie het droogtes, vloede en twee aanvalle deur Boere-kommandos tydens die Anglo-Boeroorlog deurstaan. Die afgelope eeu het Richmond ook die stadige ontvolking van die platteland oorleef en sien deesdae weer hoe stadsjapies hierheen terugkeer op soek na ooptes en ’n goedkoop Karoo-kothuisie om op te knap.
Maar die dorp se onlangse oplewing is uniek: Richmond wil Suid-Afrika se eerste boekdorp wees.
“Die idee is eenvoudig,” verduidelik Annette die volgende oggend terwyl ek haar volg deur stowwerige kamers verby boekrakke wat net-net wil meegee. “Jy blaas nuwe lewe in ’n kwynende dorpie deur dit as ’n boekbestemming te bemark. Die dorpie Hay-on-Wye in Wallis se 38 boekwinkels lok jaarliks meer as ’n miljoen besoekers.”
“Ons sal egter tevrede wees met ’n honderd besoekers,” sê Annette. “Hier is net nie genoeg mense wat afdraai tot in die dorp nie. Mense dink die Caltex ís Richmond. Hulle gooi petrol in, koop ’n Coke en ry.”
Annette mik vir die Supper Klub en los my om nog te grawe tussen die kartonbokse vol boeke. “Daar’s nie haas nie,” sê sy halfpad by die deur uit.
Beslis nie. In ’n huis vol stories op ’n vars Karoo-oggend wil jy sommer lank draal.
1. Bekyk die dorp
Richmond is ’n tipiese Karoo-dorpie met pragtige Victoriaanse argitektuur, vars lug en ’n indrukwekkende Nederduits-Gereformeerde Kerk – die kerk spog ook glo met die hoogste preekstoel in Suid-Afrika.
Kry ’n inligtingspamflet by die Supper Klub of die Richmond Gallery in Loopstraat en stap die Richmond Ramble-roete deur die dorp. Jy drentel verby die belangrike geboue, insluitend die hotel (nou ’n outehuis) en die dorp se eerste huis, Die Oude Dak in Paulstraat wat in 1846 gebou is.
Gaan staan stil onder die populierbome op Markstraatbrug en verbeel jou jy staan van aangesig tot aangesig met ’n Karoo-leeu langs die Ongersrivier 160 jaar gelede...
Terwyl jy rondkyk, hou jou oë oop vir ’n winskopie. “Eiendom is beslis duurder as vyf jaar gelede,” sê Saag Visagie, die algemene handelaar en Seeff-agent. “Maar dis nog nie naastenby so duur soos op party ander Karoo-dorpe nie.”
Die goedkoopste eiendom is ’n tweeslaapkamerkothuis in Loopstraat vir
R210 000 (maar dis nie juis mooi nie). Koste: Gratis Kontak: Coenie Cerff 072 200 3188, die eienaar van die Victoria-gastehuis en Richmond se ander restaurant, The Blue Lantern, weet baie van die dorp se geboue en geskiedenis.
En as jy ’n aanbod wil maak vir daai tweeslaapkamerhuis, bel Saag Visagie 053 693 0147; saag@adsactive.com.
Maak toe
2. Koop ’n boek
Moenie ’n biblioteek met die Dewey-stelsel verwag nie: Die dorp se boekwinkels is deurmekaar, maar heerlik as jy hou van snuffel. As jy genoeg tyd het, gaan jy beslis iets kry wat die moeite werd is, soos ’n sagtebandkopie van John Fowles se The Collector vir net R10.
Op die hoek van Spring- en Loopstraat huisves die pragtige ou Huis van Licht en Schaduw die Richmond Books and Prints. Die huis en die boekversameling behoort aan ’n sakeman van Johannesburg, John Donaldson, wat nou en dan hier kuier. Annette kan vir jou oopsluit. Donaldson het ’n paar skaars naslaanboeke, soos Auriol Batten se Flowers of Southern Africa, sowel as ’n groot versameling sportboeke.
Annette se eie versameling boeke staan in die huis langsaan (sy oorweeg die naam Diesel and Dust). Buiten ’n stewige versameling romans, het sy ook ’n groot voorraad Rhodesiana, boeke oor lugvaart en ou plate.
’n Entjie verder af in Loopstraat is die Richmond Gallery, hier kry jy twee mini-boekwinkels: BooKarooz en The Book Orphanage. Albei winkels het ’n wye verskeidenheid boeke, van gesaghebbende werke oor oorloggeskiedenis tot speurverhale vir lesers wat hou van skop, skiet en owerspel.
As jy ’n rustige plek soek om deur jou aankope te blaai, kies koers na die leeskamer by die Richmond Supper Klub. Koste: Maak ’n aanbod! Kontak: 079 974 2636 (Annette Loveday); 082 595 9639 (John Donaldson) 084 690 2462 (Daryl Conolly); 083 486 4297 (Darryl Earl David)
Maak toe
3. Besoek ’n perdmuseum
Die Richmond-museum was eens ’n skoolkoshuis. Vandag is die een helfte daarvan gewy aan die Victoriaanse tydperk in die Karoo, en die ander helfte aan saalperde.
In die perdafdeling sien jy ’n gerestoureerde nachtmaalwa (waarmee die boere in die ou dae dorp toe gery het vir die kwartaallikse nagmaaldiens by die NG Kerk), sowel as verskillende perdeskoene en trofees.
“Hier’s beslis ’n spook,” sê Johan Tolken terwyl hy vir my oopsluit. “Net die ander dag het ek ’n stamp gevoel, so al asof iemand verby my probeer skuur,” sê hy. “En dit was nie die eerste keer nie.”
Wie weet, miskien is dit die spook van die soldaat Doel Kock... sy houtarm, met ’n haak en al, lê uitgestal in die voorportaal. Koste: R5 vir volwassenes, R3 vir kinders Kontak: Die museum is gewoonlik gesluit, maar Johan Tolken van Marina’s- gastehuis sluit graag vir jou oop, bel 082 631 2488.
Maak toe
4. Kuns in die Karoo
Wat is die laaste ding wat jy op Richmond verwag? Nee, nee, hier is nie ’n gestrande vlieënde piering nie, maar wel ’n galery vir moderne kuns. Dit was eers ’n supermark, maar huisves nou die Modern Art Projects (MAP) – ’n kunsversameling wat landwyd uitstal.
Hoekom Richmond? “Dis ver genoeg om nie een van daai plattelandse vakansiedorpe te wees nie,” sê eienaar Harrie Siertsma van Graskop. “Richmond is die régte Karoo.”
Selfs al verstaan jy nie altyd moderne kuns nie, oorweeg ’n besoek aan die galery. Die kunswerke is pragtig en laat jou met iets om te herkou. Van Suid-Afrika se voorste nuwe kunstenaars stal hier uit, onder andere Willem Boshoff en Shane de Lange.
Die galery is agter die gerestoureerde kothuis op die hoek van Loop- en Pleinstraat. ’n Spesiale uitstalling word vir Desember beplan. Koste: Gratis Kontak: George Williams 073 436 4413, hy sal vir jou oopsluit. Bel Mary Wafer 073 861 3497, mapzar@mweb.co.za vir toekomstige MAP-geleenthede.
Maak toe
5. Leun teen ’n kroegtoonbank
Die meeste aande kuier die plaaslike inwoners by die Supper Klub se kroeg. Klink ’n sjerrie en luister na die stories oor toe die kroeg se Klippies opgeraak het tydens ’n belangrike rugbywedstryd en hoekom skaapboere T-beenskywe verkies.
Johan Tolken het ook ’n interessante privaatkroeg by Marina’s-gastehuis. Die kroegstoeltjies is ou perdrysaals en Jan sê die lamp teen die muur is inderdaad Suid-Afrika se eerste elektriese straatlig wat eens op ’n tyd voor Paul Kruger se huis in Pretoria gebrand het. Kontak: Die Richmond Supper Klub 053 693 0622; Johan Tolken 082 631 2488
Maak toe
Richmond in neutedop
Hoe kom ek daar?
Richmond is 650 km van Kaapstad af en 750 km van Johannesburg op die N1.
Waar bly ek? An-Ra B&B 083 320 8055 (Meda van Rheede) Marina’s-gastehuis 053 693 0142 (Wilna en Johan Tolken)
Victoria-gastehuis 053 693 0788 (Marlene en Coenie Cerff)
Waar eet ek? Die Richmond Supper Klub 053 693 0622 The Blue Lantern 053 693 0552
Kommentaar