Al begin die Sonskynkus tegnies by die Vanstadens-rivier wes van Port Elizabeth, was Kenton-on-Sea (of sommer Kenton) nog altyd vir my die poort na dié luilekker kusgebied.
Die Sonskynkus is in elke opsig reg vir een ding: vakansie – al die brosjures spog juis dat jy hier die meeste sonskyndae in Suid-Afrika kry.
Kenton-on-Sea 101:
Hoe kom ek daar? Kenton is 126 km van Port Elizabeth en 25 km van Port Alfred af. Draai tussen Port Elizabeth en Grahamstad van die N2 af op die R72 in Alexandria se rigting. (Dis by die Nanaga-padstal – stop hier vir ’n lam-en-ment-pasteitjie). Ry dan deur Alexandria en nog 25 km en oor die Boesmansrivierbrug, en draai dan regs by Kenton.
Hier het ons gebly:
The Burke’s Nest ’n Ruim kothuis vir 2-4 mense.
Die kombuis is volledig toegerus, en daar is selfs ’n jacuzzi in die badkamer en ’n houtdek met ’n uitsig oor die Boesmansrivier. Hier is ook ’n woonstel met plek vir 6 mense. Ontbyt op aanvraag beskikbaar. Koste R200 per persoon per nag vir die kothuis. Kontak 046 648 1894; 082 577 2142; jlburke@border.co.za
Nog blyplek
Op Kenton en Boesmans is daar bly-plek vir elke smaak en sak – gaan kyk by www.kenton.co.za.
Waar eet ek? Kry ’n brosjure met al die eetplekke by Kenton-toerisme.
Ek het ’n ordentlike filet geëet by Stanleys Country Restaurant, ’n Thaise hoenderwafel by Daily Dose Art Cafe, en ’n tramezzini by The Red Apple-padstal.
Kontak
Gesels met Erica of Liz by Kenton-toerisme, 046 648 2411; 082 772 5069 of besoek www.kenton.co.za.
Doen dié 6 dinge op en rondom Kenton:
Bring jou emmer en grafie
Hier is pragtige swem- en snorkelplekke.
Op min plekke kan jy binne ’n halfuur van een rivier na ’n ander stap, maar hier rondom Kenton mond die Kariega- en Boesmans-rivier skaars ’n kilometer van mekaar af in die see uit.
En tussen die twee riviermon-dings wag ’n hele dag vol lekker ontdekkings op jou.
Maak eers ’n draai by Kenton se toerismekantoor en kry ’n bro-sjure met ’n kaart wat elke poel, baaitjie en rotsformasie op dié strand aandui.
Volg dan die aanwysings op die dorp en parkeer by een van drie plekke – Kariega-hoofstrand, Middelstrand of naby Corner Rocks aan die Boesmansrivierkant – en begin stap.
As jy van Middelstrand af in Boesmans se rigting stap, sal die sandsteenhange en -formasies jou gereeld laat stop vir ’n foto.
Blue Pool en Mermaid’s Pool is lekker swem- en snorkelplekke wanneer dit laagwater is, en wees ook op die uitkyk vir Carriage Rock wat bo die water uittroon – dis ’n massiewe rots wat kompleet soos ’n outydse wa lyk.
Shelley Bay, ’n beskutte baai en die gewildste swemplek hier rond, is vir my die hoogtepunt.
Van die rotse af sien ’n mens hoe lê die Sonskynkus na weers-kante toe uitgestrek.
Hiervandaan kan jy dan terug-stap kar toe teen ’n duin op en dan deur ’n melkhoutwoud wat deel is van die Joan Muirhead-natuurreservaat.
Wees in die woud op die uitkyk vir die skulphope wat die Khoisan-inwoners duisende jare gelede agtergelaat het.
Kontak: Kenton-toerismekantoor 046 648 2411
Weg sê: Die beste van alles? Nêrens langs die see is ’n oorontwerpte strandhuis in sig nie.
Maak toe
Elke strand het sy kruis
Hierdie kruis wat uit 1488 kom word beskou as Suid Afrika se oudste monument.
Sou dit veel anders as vandag gelyk het toe Bartholomeus Dias en sy knorrige skeurbuikmatrose doerie jare hier aangeland het, wonder ek uitasem.
My bene is lekker lam terwyl ek die trappies klim na die replika van die kruis bo-op ’n hoë rots wat die Portugese seevaarder op 12 Maart 1488 hier by Kwaai-hoek tussen Boesmans en Boknes staangemaak het.
Die kruis is sowat 4 km se stap strandlangs van die Boesmans-riviermonding af, en sowat 3,7 km van Boknesstrand af.
Ek het die langer opsie gekies.
Eers stap jy lekker op harde see-sand, en later oor hoër duine – volg maar die duinkontoer, want anders sak jy tot by jou knieë weg in die sagte sand.
Dis ’n stil weeksoggend buite seisoen en behalwe ’n paar skoonmakers en ’n man met twee honde kom ek nie ’n siel teë nie. My enigste geselskap is die dramatiese duinlandskap tot doer ver op die horison.
Terloops, dis nie sommer sulke hierjy-duine hier rond nie.
Hulle grens aan Alexandria se kusduineveld, die grootste in die Suidelike Halfrond.
Dias se kruis is eers in 1938 ontdek. Die oorspronklike een is gerestoureer en word by Wits gehou, maar Kwaaihoek het darem ’n replika.
Dis net jammer die kruis is verwaarloos – vandale het dit beskadig en die bronsplaatjies gesteel. Maar die uitsig van bo af (en die goeie oefening) maak die stappie die moeite werd.
Weg sê: Het jy geweet dié kruis word beskou as Suid-Afrika se oudste monument? Hy kom immers uit 1488. Uhm, ons raai jy het nie.
Maak toe
John Wayne se soort uitstappie
Hierdie Arabierperde bied vir beginners en meer ervare ruiters 'n uitstekende ervaring.
Sedert ek in my tienerjare Roy Campbell se gedig “Horses on the Camargue” gelees het – oor wilde perde wat langs die see galop – wou ek op die strand perdry.
En hier by Kenton word daardie droom nou waar.
Roy Rogers of Gene Autrey is ek beslis nie, maar gelukkig is Jono Arnott se Arabierperde rustig en goedgemanierd.
Ek het by Jono bespreek vir ’n uur en ’n half lange strandrit van Boesmans af, in dieselfde rigting as die Diaskruis.
Die meer ervare ruiters galop behoorlik op die harde sand, maar ek hou by ’n veilige handgaloppie – ek wil nou nie affoeter en my naam krater maak nie.
Op pad terug kom ons af op ’n wrakstuk van die Volo. Kyk, as jy iemand van Kenton aan die gesels wil kry, vra ’n bietjie oor dié Noorweegse seilskip wat in 1886 naby die Boesmansriviermonding gestrand het.
Een lot sal vertel dat die 62-jarige Charles Butt, op wie se grond Kenton ontstaan het, met ’n wapperende wit baard die hoofrol gespeel het om al 12 bemanningslede (en die skip se kat) veilig aan wal te bring.
’n Ander weergawe is dat Kaaljan Scheepers, ’n boer van Alexandria, soos ’n Wolraad Woltemade op sy perd die branders getrotseer en die benoude bemanning te hulp gesnel het.
Wie sal nou ooit weet, maar wat ek wel weet hier teen son-onder op ’n perd se rug, is dat die werklikheid soms beter as ’n droom is.
Waar? Ry op die R72 oor die Boesmansrivierbrug in Alexandria se rigting. Draai ná 2 km links by die Beachcomber-padbordjie.
Koste: R200 p.p. vir ’n uur en ’n half. Bespreek vooraf.
Weg sê: Jy kan ook ’n langer piekniek-rit saam met Jono-hulle doen, én ’n meerdaagse rit waar jy langs die see kamp. Dan ry jy deur die Sibuya- wildreservaat waar jy olifante, renosters en buffels kan sien.
Maak toe
Kry poeding vir die siel
Maureen se beeldetuin op Alexandria is al beskryf as "sielspoeding"
Ek weet ’n kunsuitstalling is nou nie iets wat op almal se vakansiespyskaart is nie, maar loer gerus in by Maureen Quin se beeldetuin op Alexandria (sowat 25 km wes van Kenton op die R72). Jy sal dadelik verstaan hoekom iemand “sielspoeding!” in die besoekersboek geskryf het.
Maureen is al 50 jaar ’n beeld-houer en het meer as 40 solo-tentoonstellings in Suid-Afrika en Europa op haar kerfstok. Van haar bekende kommersiële werk sluit in die drie dansende Klopse by die GrandWest-casino buite Kaapstad, en die Arabierperd voor die Gold Souk in Doebai.
In 1995 het sy haar tuin in Alexandria omskep in ’n beeldetuin met tientalle kunswerke wat wissel van wild tot portretstudies en meer abstrakte werke.
Maureen sal jou self op ’n begeleide toer deur die tuin en haar ateljee neem.
’n Rustiger uur of wat – in die koelte van die groot jakarandaboom waar jy kan uitspan met koekies of tuisgemaakte suurlemoenstroop – kan jy jou beswaarlik indink.
Waar? Suidstraat 5, Alexandria (volg net die Quin-padbordjie in die hoofstraat)
Wanneer? Maandae tot Vrydae 9 vm.-5 nm.; Saterdae 9 vm.-1 nm. (bespreek vooraf vir Saterdagmiddae en Sondae).
Weg sê: As die wind jou dalk van die strand af waai, gaan drink ’n bietjie tuisgemaakte suurlemoen-stroop by Maureen.
Maak toe
Doen die arm man se wildsrit
Hierdie openbare paaie deur wilreservate bied die perfekte wildsrit, wat gratis is!
Rondom Kenton is daar etlike private wildreservate, maar as jou begroting nie ’n safari of luukse tentkamp toelaat nie, is daar altyd die poor man’s game drive, soos inwoners daarna verwys.
Die “afslag-wildsritte” is eintlik ’n paar openbare paaie deur wildreservate soos Sibuya en Kariega. Dit klink dalk soos afskeep, maar daar is ’n kans dat jy selfs van die Groot Vyf sommer uit jou motor gewaar.
Langs die R343 tussen Kenton en Salem (op pad na Grahamstad) is daar talle wildreservate.
Maar draai eerder links af Kariega toe of regs Sibuya toe op die grondpad wat die R343 kruis, sowat 9 km buite Kenton.
Ek het die Southwell-grondpad gevat deur Sibuya – die ingangs-hek se elektriese wildheining laat jou goed verstaan: Pasop, hier is wilde diere!
Kort voor lank het ek sebras, wildebeeste en rooihartebeeste gesien, en ’n gesin kameelperde wat skaars 10 m voor my oor die pad stap. Heeltemal gratis!
Weg sê: Sou dit nie fantasties wees as daar sulke paaie deur ál die land se reservate en parke was nie...
Maak toe
Verbeel jou jy's Oscar Chalupsky
Huur 'n kano by Ken en Dee Keens van die Kenton-marina en kyk hoe ver jy kan roei!
As Steven Spielberg van dié plek geweet het, het hy sekerlik sy volgende Jurassic Park-fliek net hier geskiet. Aan weerskante van die Boesmansrivier groei die melkhoute, euphorbia en aalwyne só dig en welig dat ’n Tyrannosaurus rex sal tuis voel.
’n Mens kan nagenoeg 32 km stroomop roei in die Boesmansrivier, en een van die beste maniere om dit te doen is om ’n kano te huur by Ken en Dee Keens van die Kenton-marina en te kyk hoe ver jy kom.
Op my uur lange roeitog op ’n lekker stewige kano kom ek nou nie naby 32 km nie, maar hoe verder ’n mens vorder, hoe dowwer word die gedreun van die karre op die R72.
’n Paar keer sit ek byna vas op van die sandbanke, en die palmiet is soms lastig, maar die goeie oefening, kop skoonmaak en ongerepte plantegroei langs die rivier vergoed dubbel en dwars vir dié haakplekkies.
Waar? Kenton-marina, reg langs die Boesmansrivierbrug.
Koste: R30 per uur (enkelkano); R40 per uur (dubbelkano); R120 p.p.p.n. vir die oornag-uitstappie.
Kontak: 046 648 1223 of 083 659 8531
Weg sê: As jy lus is vir nog verder roei, oorweeg gerus die oornag-uitstappie van 13 km tot by ’n hut langs die rivier met ’n dek wat uitkyk oor die Kariega-wildreservaat.
Maak toe
Kommentaar
Gelewer op 23 Junie 2011 | 04:58:33
ThatÂ’s more than sesnilbe! ThatÂ’s a great post!
Gelewer op 20 Mei 2011 | 22:12:31
Ek hou al 47 jaar vakansie op Boesmans en gaan hopenlik einde volgende jaar daar aftree. Soos ds Mike Smuts altyd noem is dit seker die naaste plek aan die hemel. Die mense is vriendelik, die dienste is goed en alles is 'n groot ervaring. Om die omgewing te ervaar moet dit persoonlik besoek word. Die grootste bare is natuurlik die rivier wat deur die wildsplase vloei. Van renosters tot koedoes en veloe ander kan gesien word. Kom kuier gerus en bly oor in die karavaanpark in Boesmans.
Kommentaar