Jare gelede het ’n twis tussen kerkmense gelei tot die ontstaan van Napier, ’n rustige dorpie in die Overberg. Wynand Coetzer het gaan delf in die geskiedenis.
Napier 101
Hoe kom ek daar?
Napier is 176 km van Kaapstad af. Die vinnigste roete is met die N2 langs tot by Caledon. Hier draai jy regs op die R316 en ry nog 59 km tot by Napier. ’n Mooier en rustiger roete is om by Botrivier van die N2 af te draai op die R43 en deur Hermanus te ry, op die R326 Stanford toe te ry en dan regs te draai op die R316 Napier toe. Dis egter heelwat langer – meer as 200 km.
Waar slaap ek? Die Suntouched Inn. R 150 p.p.p.n. vir die “backpackers-opsie”. Hier2 is ook enkel- en dubbelkamers beskikbaar. Die prys sluit ontbyt in.
028 423 3131; of 082 462 2304; www.suntouchedinn.co.za; info@suntouchedinn.co.za
Gunner’s Lodge. R350 p.p.p.n. vir enkelinge en R295 p.p.p.n. vir persone wat deel. Dié pryse sluit ontbyt in. Die selfsorg-woonstelletjie kos R450 per nag (dit het plek vir vier mense). 028 423 3890
Peace Valley-gastehuis. R400 p.p.p.n. vir enkelinge R300 p.p.p.n. vir persone wat deel. Daar is ook ’n familie-suite, wat tot 4 mense kan huisves, beskikbaar teen R1 000 per nag. Alle pryse sluit ontbyt in. Kontak Lorna Young 028 423 3372
Waar eet ek?
Die Suntouched Inn. Dié pizzaplek in die Overberg. 023 423 3131
Gunner’s Mess. Die wildsvleisspyskaart sluit vlakvarkrib (R99) en patatkoek in, en die Gunner’s Burger (R55) is baie gewild. 028 423 3890
The Fox. ’n Driegang-Sondamiddagete kos R95 én jy kry Yorkshire-poeding vir nagereg.
028 423 3293
Moerse Plaasstal, Restaurant & Kwekery. Jy gaan moeilik die bord wat “warm, sexy brood” adverteer miskyk. Die “sexy brood” kos R20, melktert R35, vetkoek met kerriemaalvleis R16. Die snoek-viskoekies (R6,50 elk) is baie gewild.
The Good Food Café. Daagliks oop vir ontbyt (R25 – R50 per persoon) en middagete
(gourmet-lekkernye soos gemarineerde steak met roket en uiemarmalade vir R70); driegang-aandetes word Vrydae- en Saterdagaande bedien. 028 423 3893
Snuffel rond by Helga Bergh se “Stuff” met R100
’n Kodak Colourburst 250-kitskamera, so reg uit die 1970’s en 80’s, gaan jou R80 kos en ’n Vivitar 35ES slegs R55.
Hangertjies en oorbelle kos onderskeidelik R 100 en R30 per stel.
Vra ’n ‘local’ Michelle du Toit van die toerismekantoor sê: “Daar is baie ouer mense op Napier, so die jongklomp hang gewoonlik by die Suntouched Inn uit en die ouer mense gaan meer na The Fox of Gunner’s oorkant die straat.”
(Nota: Pryse akkuraat in Mei 2010)
Doen dié 6 dinge op Napier:
Onthou jy nog Dinky Toys?
’n Mens raak nooit te oud vir speel nie. Op 82 het Alan Raubenheimer ’n speelgoedversameling wat enige kleuter jaloers sal maak. Alan is die eienaar en kurator van die Napier-speelgoedmuseum waar jy jou kinderdae met Dinky Toys en Meccanostelle kan herleef.
Op die oog af is dit niks meer as ’n klein vertrekkie waar jy mooi moet trap om nie iets te beskadig nie. Maar dinge gebeur as Alan ’n paar skakelaars aanskakel: Modelvliegtuigies wat van die dak af hang, sweef bo jou kop, treintjies ry deur miniatuurlandskappe en kersaangedrewe stoombootjies woer-woer op piepklein-dammetjies rond.
Met sy aftrede 23 jaar gelede het hy begin stoombootjies bou. “Ons het met sulke bootjies gespeel toe ek klein was,” sê hy.
Die versameling is grootliks Alan s’n en nie te koop nie
Weg sê: As jy wel iets wil koop, kan jy van Alan se handgemaakte, stoomaangedrewe modelbootjies koop. Die goedkoopste een is R550. Sy buurman, Kevin Dovton, bou ook werkende modelstoomenjins.
Koste? R10 vir volwassenes en R5 vir kinders onder 12. Waar? Ook in die hoofstraat, Sarel Cilliersstraat Kontak? 028 423 3894
Maak toe
Gaan stap 'n entjie
As jy wil bene rek en asem skep, pak ’n piekniekmandjie en kies koers die berge in op die Grootberg-staproete net buite die dorp. ’n Afgetrede boer wat nou op die dorp woon, Pieter Albertyn, het dié 8 km sirkelroete sowat 10 jaar gelede gebou ná sy aftrede sodat hy kon uitkyk oor die plaas wat nou al vir ses geslagte in die familie is. Hoe dit ookal sy, jy kry ’n pragtige uitsig oor die dorp en die Agulhas-vlakte.
Jy kan die roete alleen stap maar as jy meer oor die voëls en fynbos wil weet, stap saam met gekwalifiseerde veldgids Steven Smuts. Steven sê jy moet matig fiks wees en laerskoolkinders behoort dit ook te kan stap. Teen ’n rustige pas behoort die roete jou ongeveer drie en ’n half uur te neem. Op ’n mooi dag sien jy dalk die see in die verte.
’n Lekker plek om te stop vir ete en ’n koppie koffie (of ’n sopie) is Sopieshoogte, die halfpadmerk van die roete, en ook die halfpadmerk tussen Bredasdorp en Struisbaai.
“In die ou dae het die mense met hulle waens altyd hier gestop en ietsie gedrink,” vertel Pieter.
Net na Sopieshoogte draai die paadjie terug dorp se kant toe en sien jy die hele Napier soos ’n padkaart onder jou. Die roete begin by die FM-toring buite die dorp. Jy ry deur die Napier-bewarea om daar uit te kom – op pad sien jy pragtige fynbos en klipspringers. Hier’s ook al ’n luiperd gesien...
Weg sê: Bring jou verkyker saam. Jy staan ’n goeie kans om ’n rooiborsjakkalsvoël of miskien selfs ’n witkruis-vleivalk hier te sien
Waar? Ry in Kerkstraat op, verby die hoërskool en teen die berg op met die grondpad tot by die
FM-toring (die pad is klipperig; ry versigtig). Daar is parkeerplek by die toring. Koste: Gratis. Onderhandel ’n prys as jy saam met Steven gaan stap. Kontak: Napier-toerisme 023 423 3325 of Steven Smuts 028 423 3049
Maak toe
Snuffel 'n tweedehandse juweel uit
As jy in Bredasdorp se rigting met die hoofstraat langs suiker, mag jy dalk ’n bordjie sien wat sê “Bounty Books Open”. Uit hierdie huis word drie ondernemings bedryf: die boekwinkel, Bounty Books, ’n tweedehandse snuisteryewinkeltjie, Stuff, en die kunsgalery, The Gallery.
Ek het skaars gegroet of Hugh Bergh (ja, familie van die Olof Bergh na wie die brandewyn genoem is) het al ’n bier uit die yskas gaan haal. Bounty Books het enigiets van Charles Dickens-romans, Africana en Afrikaanse en Engelse kinderboeke tot boeke oor mariene biologie, geologie en Antartika.
Dis juis die versameling geologieboeke wat indrukwekkend is. Hugh het baie jare navorsing gedoen oor plaattektoniek (hoe verskillende dele of “plate” in die aardkors teen mekaar bots en skuur) en is een van Suid-Afrika se voorste kenners van mariene geologie. Hy en sy vrou, Helga, het op Napier kom aftree.
Helga bedryf die winkeltjie Stuff, waar sy onder meer outydse huisware en juwele verkoop en by The Gallery kan jy die skilderye en beeldhouwerk plaaslike kunstenaars bewonder.
Weg sê: Twee Dickens-romans het minder as R50 gekos. Jy kan ook vir Hugh vra wat die kriekettelling is...
Kontak: 072 492 1681 (Stuff en Bounty Books); 082 970 8645 (The Gallery)
Maak toe
Raak militêr
Van buite af lyk All Sorts soos enige plattelandse koffieplekkie, maar op die onderste verdieping skuil ’n verstommende versameling militaria. Leon Visser versamel van kleins af seëls en speelgoedsoldaatjies en sedert 1975 medaljes ook. “Ek was nog altyd geïnteresseerd in militêre dinge. Na skool is ek weermag toe en na universiteit het ek by die staande mag aangesluit,” sê hy.
Oor die jare heen het hy sy versameling uitgebrei om weermaguniforms van die ou Suid-Afrikaanse Weermag, Lugmag en Vloot in te sluit, asook uniforms van die Duitse weermag en stukke van die Berlynse muur wat dié stad tydens die Koue Oorlog in twee verdeel het. Hier is selfs ’n sertifikaat met Adolf Hitler se handtekening, wat hy saam met ’n Duitse medalje gekry het.
Leon maak self ook skaakstelle van lood en tin, wat verskillende episodes in die geskiedenis uitbeeld, soos die Engelse Kruisvaarders en Napoleon Bonaparte se weermag. Koste wissel afhangende van die materiaal en detail betrokke.
Op die boonste verdieping kan jy rondsnuffel tussen krale, klere en juwele. En as die die weegmagspeelgoed jou oorweldig, kan jy solank ’n koppie koffie en ’n sny koek by die koffiewinkel geniet.
Weg sê: Hier’s ook ’n netjiese vakansiewoonstelletjie as jy plek soek om oor te bly.
Waar? Sarel Cilliersstraat 79, aan die linkerkant as jy van die R316 se kant af kom, reg oorkant Bounty Books. Koste: Toegang is gratis. Kontak? 028 423 3861
Maak toe
Hou jou lyf fynproewer
As jy lief is vir bier kan jy jou solank uitvars want Napierbier is heerlik. Napier Brewery brou al vir amper drie jaar en is toevallig die mees suidelike brouery in Afrika (dit klop Stanford se Birkenhead-brouery net-net). Napier kan egter net ’n tiende soveel bier brou as Birkenhead – weens die grootte van hulle fermentasietenk kan hulle net 3 000 liter per maand brou.
Die eienaars, Mark Humphrey en Craigan Millar, het die brouery met drie ou kopergeisers begin en hulleself sommer leer bier brou. “Ons eerste twee probeerslae was bittersleg,” sê Craigan, kinderlik opgewonde. “Teen die derde probeerslag het ons bier van ’n goeie gehalte gehad, maar ons was eers werklik gelukkig teen die sesde brousel. Sedertdien het dit nog net beter geraak.”
Hulle maak lager, Engelse bier (“ale”) en swartbier (“stout”). Die brouery word so eenvoudig moontlik gehou en die bier word nie gepasteuriseer of gepreserveer nie. Dit moet dus heeltyd verkoel bly en hou ses tot agt weke in die koelkas – jy sal dit ongelukkig nie sommer by jou naaste Solly Kramer’s te koop kry nie.
Jy kan wel wel ’n koue skuimkop bestel saam met ’n pizza (wat jy self aanmekaar kan slaan) by die Suntouched Inn, waar Craigan ook ’n medebestuurder is, en ’n paar ander kuierplekkies op Hermanus en Greyton.
Weg sê: Val ook in by die Fox, ’n Engelse-styl kroegie en restaurant met ’n verskeidenheid tapbier soos Guinness en Forester’s en ’n driegang-Sondagmiddagete met geroosterde bief en skaap of hoender, Yorkshire poeding, twee groentes en ’n tradisionele nagereg soos appeltert (dit wissel van Sondag tot Sondag) vir R95 per kop (*028 423 3293).
Waar: Hoor by die Suntouched Inn in die hoofstraat. Koste: Brouerytoere is gratis; vra by die Suntouched Inn. Kontak? * www.napierbrewery.co.za; 083 703 8004 (Mark); 082 495 6726 (Craigan)
Maak toe
Kry groen vingers
Napier is ’n tuinier se paradys – dit het ’n matige klimaat en vrugbare grond wat regdeur die jaar klam bly danksy net genoeg klippe en klei. Sarah Foyle van Foyle’s Herbs & Plants het begin kruie plant na sy gehoor het dis moeilik om kruie op Napier in die hande te kry. Sy’t 12 jaar gelede in Napier afgetree en jy sal kwalik glo haar welige tuin is net nege jaar oud. As jy by haar kom plantjies koop, kry jy ook links en regs gratis tuinmaakraad.
“Ek wou rustig op die platteland kom aftree en het nog nooit so hard gewerk in my lewe nie!” lag sy. “Ek gee myself nie uit as ’n plantkundige nie, maar ek maak al my hele lewe lank tuin, en ek het oor die jare baie opgelees en ook geleer oor plante by ander mense,” sê sy.
Etienne Kriel van die Moerse Plaasstal se kwekery het ’n ander benadering. “Ek wil Napier ’n tuinbestemming maak, ’n egte tuinroete,” sê hy. Hy het al heelwat mense op die dorp gehelp om hulle tuine uit te lê en spesialiseer in plante wat net hier voorkom, soos sekere clivias en gladiolus. “ ’n Man wat nie mooi na ’n blom kan kyk nie kan mos nie na ’n vrou kyk nie,” sê hy terwyl hy vir my die laventel en clivias wys. Ek hoop maar hy’s verkeerd...
Weg sê:Vra sommer ook vir Sarah oor haar kruie as jy ’n kwaal het wat jy nie genees kry nie. Sy weet met watter blare mense kan dokter.
Waar? Foyle’s Herbs & Plants is aan Bredasdorp se kant van die dorp. Ry verby die
Napierplaasstal en volg die bordjies van Almondstraat af. Die Moerse Plaasstal, Restaurant & Kwekery is regs van die pad as jy Napier van Caledon se kant af binnery. Kontak? 028 423 3358 (Foyle’s); 028 423 3334 (Moerse Plaasstal); http://moerseplaasstal.blogspot.com/
Maak toe
Lees die res van die storie
Die bordjies langs die pad tel die kilometers af Napier toe terwyl die motor deur die lui draaie van die R316 tussen Caledon en Bredasdorp gly. Tog is ek steeds verras toe die dorpie skielik agter ’n bult tussen die Overberg se heuwelagtige graanlande verskyn. Dis ’n warm somersmiddag en die veld lê vaal en stowwerig toe ek die hoofstraat binnery. Die witgekalkte, groen en roomwit huise en tuine heet my welkom.
Ek loer in by Gunner’s, een van die vele eetplekke in die hoofstraat. ’n Ou by die tafel langsaan praat op sy selfopon: “Hoor hier, ek gaan nie Maandag kom werk nie. Ek gaan maar ’n ekstra aandjie bly.” En in die loop van die volgende paar dae kom ek gou agter hoekom mense hier vashaak. Dis moeilik om by ’n winkel of kuierplekkie in te stap sonder dat iemand ’n geselsie aanknoop.
“Toe ons nog kinders was,” vertel Abré Smit, wat al 34 jaar hier woon, “sou ek en my vriende op ’n Sondagmiddag in die hoofstraat lê en slaap om ’n bietjie somerson te vang. Ons kon maklik twee uur in die straat slaap sonder dat ’n kar ons ooit gepla het.” Deesdae kan geen mens dit waag nie. Oor die afgelope tien jaar het dié eens stillerige plaasdorpie ’n gewilde naweekkuierplek geword vir Kapenaars. Dis ook ideal geleë as jy terugry Kaap toe ná ’n naweek by die see.
Sommige mense haak sommer lánk hier vas – soos Mike Hall en sy vrou, Janet, wat tien jaar gelede stilgehou het vir koffie. “Ons het dikwels hier gestop op pad Hermanus toe, maar toe ons weer eendag hier kom, is ons gunsteling-koffiewinkel iets van die verlede,” sê Mike. “Toe kom ’n eiendomsagent aangestap en sê: ‘Ek kan julle ongelukkig nie help met ’n koppie koffie nie, maar ek kan wel aan julle ’n huis verkoop.’” En hulle het gebyt…
Napier het sy ontstaan te danke aan ’n twis tussen twee groepe sake- en kerkmense. Hulle het gestry oor waar om ’n nuwe kerkdorpie in die distrik te vestig. Een groep was ten gunste van Bredasdorp, destyds die plaas Langfontein, en ’n ander, onder leiding van ene Pieter Voltelen van der Byl, wou hê die plaas Klipdrift moes die dorpie word.
In 1838 het Napier se dorpsvaders binne een maand 39 erwe verkoop en die resies gewen om die eerste kerkdorpie suid van Caledon te word. Dis egter die laaste resies wat Napier teen Bredasdorp gewen het – dit het Napier se dorpsvaders nog tien jaar gevat om hulle gemeente te stig en toe moes hulle nog vier jaar vir ’n dominee wag.
Die mense hier rond sê die plek is op sy mooiste in die winter en lente wanneer die graan- en canolalande mooi groen en geel is. Ek verkyk my aan die valleie en bulte wat noorde se kant toe rol. In die winter weg, wanneer dit groen en goud is, kan mens seker maklik jou Springbokkleure in stoepsit hier kry.
Kommentaar