Loeriesfontein

In die Noord-Kaap – daar waar Namakwaland, Boesmanland en die Hantam bymekaar kom – lê Loeriesfontein, ’n dorp met gawe karakters… en ’n ongewone museum.
Loeriesfontein 101
Waar? Loeriesfontein is 64 km noordoos van Nieuwoudtville in die Noord-Kaap se Hantamstreek.
Verblyf: Ek het in die Loeriesfontein-hotel (R285 p.p.p.n., ontbyt ingesluit) gebly. Die hotel het ’n res-taurant wat middag- en aandete voorsit. Ek kan die T-beensteak (R90) sterk aanbeveel, 027 662 1001. Ander verblyf op die dorp sluit in die Boesmanland Pub & Grill (027 662 1119) en Die Skerm-gastehuis ( 082 451 2272).
(Nota: Alle pryse akkuraat in April 2010)
Kontak: 027 662 1001 (Melanie); www.loeriesfontein.co.za
Doendinge in en om Loeriesfontein
Die Windpomp- en Fred Turner-museum is twee bekende attraksies op die dorp.
En as jy ’n suikertand het, probeer Hennie Joos se skuinskoek − koop dit by Spar en Multi-Save. In die lente moet jy twee dae opsy sit om die blommeprag te verken.
Rondom Loeriesfontein word sowat 80 voëlspesies in die winter gesien.
Sowat 100 km van die dorp af kan jy die Boesmanland se vlaktes – waar die soutwerke op Dwaggas nog in produksie is – ervaar. Op die pad tussen Loeriesfontein en Nieuwoudtville is ’n indrukwekkende kokerboomwoud.
Dorpskalender
29 Mei: Loeriesfontein Rally op die skouterrein. Die eerste naweek van die September-Oktober-skoolvakansie: Dankfees – ’n tradisionele, outydse kerkbasaar op die platteland.
Oktober: Landbouskou – een van die gemeenskap se jaarlikse hoogtepunte.
Lees die volledige storie
Loeriesfontein lê in ’n groot kom en word omring deur heuwels en berge. In die blommeseisoen, wat reeds in Augustus begin, lok die streek heelwat besoekers, maar dis eers teen September dat die skouspel die heel grootste is. Dan vorm die vygies tapyte van pers, pienk en rooi.
Die dorp het ontstaan nadat ene Fredrick Turner, ’n rondreisende smous en Bybelverspreider, in 1894 hier winkel opgesit het. Dié historiese gebou is deesdae die Turner & Haupt Spar en behoort aan Victor Haupt, oubaas Turner se kleinseun.
Daar is verskillende stories oor waar die dorp se naam vandaan kom, maar die waarskynlikste een is dat dit genoem is na ’n Joodse smous, ene Lurie, wat op ’n keer by ’n fontein hier naby gestop het.
Wanneer jy die dorp uit Nieuwoudtville se rigting binnery, is die Loeriesfontein-hotel die eerste gebou aan die linkerkant. (Dit is ook die dorp se toerismekantoor.)
Maar op ’n Sondagmiddag om halfdrie is die hoofstraat verlate – hier waai nie eens ’n tolbos verby nie.
Ons lui die klokkie by die hotel se voordeur. Piet Woudberg maak ná ’n rukkie – en ’n ligte geskarrel – oop. Hy het ’n middagslapie gevat, maar nooi ons vriendelik binne. Die reuk in die vertrek laat my dink aan my ouma se sitkamerstel uit die jare sewentig.
Agter die toonbank by ontvangs staan ’n oefenmasjien, ’n Crazy Fit Massage, met die muurprop se koord netjies opgerol. Daar’s ook ’n groot, geraamde foto van Piet en sy vrou, Melanie, op hulle troudag. Sy en die kinders is die naweek op Lambertsbaai, vertel hy.
Piet het ’n paar jaar gelede nog op Melkbosstrand gewoon, maar toe kom kuier hy een slag saam met vriende hier en verloor sy hart op die plek én op Melanie, wat ’n boekhouer was by die Boesmanland Pub & Grill verder af in die straat. Deesdae bestuur hulle saam die hotel.
Ons gaan sit in die kroeg. Teen ’n muur hang ’n veer- pyltjiebord en ’n geraamde foto van Joel Stransky se Wêreldbeker-skepskop van 1995.
Piet vertel die boere het gisteraand op die grootskerm kom rugby kyk. “Ek het die hele aand rondgehol en moes uithelp met ’n hennepartytjie hier agter. Ek het nie eens gekyk hoe laat dit was toe ek toemaak nie.”
Hy sit met ’n blikkie Doom in die hand. Op die TV kry Rafael Nadal slae teen Robin Söderling. Piet sê nie veel nie, want sy aandag is op die tennis en op ’n lastige vlieg. Ek bestel solank ’n T-beensteak vir aandete en be-sluit om die dorp te gaan verken.
Ek is skaars in die hoofstraat toe ’n prediker die stilte verbreek.
Die vrugte van die Gees word een ná die ander oor ’n krakerige luidspreker uitgesaai: “Vreugggde! Blydssskap! Lankmmmoedigheid!” Op die agtergrond speel ’n gospelkoortjie. Gaan ek dalk die Hantam se Angus Buchan hier aantref?
Toe ek nader stap, sien ek geen tent of massasaamtrek nie. Ek kom af op oom Willem Johannes Farmer, wat met ’n Bybel en mikrofoon in die hand in die oprit voor sy motorhuis sit. Die klank kom uit ’n ouskool-“boom box” met ’n luidspreker en die drade is gekoppel aan ’n rooi Mercedes-Benz.
Willem vertel hy het gewoonlik om sesuur op ’n Son-dagoggend die musiek gespeel, maar hom vervies toe mense begin kla. “Naweke boem-boem onnodige musiek dat die vensters bewe, tot watter tyd van die nag, en dít word nie gestop nie.”
Deesdae speel dié afgetrede draadspanner en Farmer Brown-vragmotorbestuurder sy musiek op Sondag-middae. “As ek weer so ’n swaarheid op die hart voel,” sê hy plegtig, “dan sit ek my koortjies op en spreek ’n woord. Die klank trek mos nou ’n bietjie; jy weet nie wie hoor en wie hoor nie.”
Hy kyk in die dorp se rigting. “Weet jy, selfs die buitelandse mense kom koop nou al hierso.”
Ek hoor weer musiek, dié slag uit ’n huis verder af in die hoofstraat, in die rigting van die Turner & Haupt Spar. Klink soos karaoke…
Bo die kitare en perkussie weergalm ’n skor dog nootvaste stem, amper soos Joe Cocker met verkoue: “Bye-bye love, bye-bye happiness, hello loneliness, I think I’m a-gonna cry-y...”
Ek maak kennis met Piet van der Westhuizen, of eerder Piet Sentrale. Hy het sedert 1982 Loeriesfontein se handsentrale ’n kwarteeu lank beman en is deesdae die nutsman en kitaaronderwyser op die dorp (sy lesse is gratis). Hy staan in ’n klein vertrekkie vol drade, instrumente en ’n klankversterker. Op sy rekenaar-skerm flits die lirieke.
“Ek kom eintlik elke aand hiernatoe en raas so ’n bietjie,” vertel hy, effe uitasem. “Ek is ’n country-man. Soms tree ek op by gesellighede in die skooltjie en in die hotel. Die dorp is lekker stil, ek sal dit nooit vir die stad verruil nie.”
Piet was saam met Worsie Visser in die skoolkoshuis op Nuwerus. “Ons het saam ’n orkes begin; ek het tromme geslaan daai tyd. En ek het ampertjies in die Klipwerf-orkes gespeel.”
Hy roep sy rooikopseun, Albie, nader en stop hom ’n kitaar in die hand. Terwyl ek in die verlate hoofstraat terugstap hotel toe, hang “Suikerbossie” se laaste note nog bo die dorp. Die volgende oggend wys Melanie Woudberg vir my die Fred Turner-museum, reg langs die Windpompmuseum. Dit is ’n ou skoolgebou en was vroeër die Baptistekerk op die dorp.
Hier is meer as duisend items uit die pioniersboere se dae: klere, foto’s, eetgerei en selfs skoenmakertoerusting. In die Vissersaal langsaan staan ’n trekwa, ’n vol-ledig gemeubileerde tent, ’n kookskerm en ’n perdemeul.
Ons loer in by tant Gezina Louw, wat al twee museums saam met haar man, Eli (voorheen ’n minister en later speaker in die parlement), begin het.
Gezina vertel sy is Paul Kruger se agteragterkleindogter. In die voorportaal staan ’n traporrel wat aan hom behoort het, een met fyn houtsneewerk. Die Britse soldate het dit uit sy huis in Waterkloof weggedra na ’n fort in die Magaliesberg. “Hulle het seker lekker jolyt gemaak,” sê sy droogweg. “Ek hoop darem hulle het ook godsdiens gehou.” Ná die oorlog het haar oupagrootjie Gert Eloff met ’n pakdonkie na die fort gery om dié erfstuk weer te gaan terugeis.
Gezina deel graag die geskiedenis van die Windpomp-museum. Dr. James Walton het met die verskyning van sy boek Windpumps in South Africa in 1998 ’n ope uitnodiging gerig aan ’n munisipaliteit of gemeenskap om ’n windpompmuseum te begin. Gezina was die enigste persoon wat hom hieroor genader het.
“Dr. Walton het vir ons al sy navorsing gegee. Toe het ons die pompe met bloed en ywer van reg oor die land in die hande gekry,” vertel Gezina. “Een ná die ander het die brokstukke hier aangekom. Boetie Farmer en sy seuns het my baie gehelp en die pompe aan mekaar gesit. Ons het min of meer al die windpompmodelle wat in Suid-Afrika gebruik is.”
Sy hoop die versameling groei. “Ek weet van ’n pomp wat staan in Pofadder, maar die mense gebruik dit nog. Ek kan nou nie verder pompe soek nie, want ek is al 84. Nou kan die nageslag daarmee wikkel.”
In die dorp se ouetehuis, Huis Boesmanland, woon ’n paar senior burgers wat nog soos die trekboere van van ouds agter water en veld getrek het.
Soos oom Koos en tannie Annie Bakoor (Nel).
“Ons het nie grond gehad nie,” vertel tannie Annie, wat op ’n plaas buite Loeriesfontein gebore is. “Ons het met ’n bandwielwa en donkies rondgetrek en in ’n tent gewoon. Ons het geleef van rys, brood en vleis. En af en toe was daar soetpatats.” Op 87 het sy steeds ’n lewenslus wat skrik vir niks.
“Ja-a-a, ons het maar swaargekry,” voeg die 94-jarige oom Koos by. “Vandag gaan dit beter met die boere. Maar ons lewe nog.”
Tannie Annie het ’n paar jaar gelede ’n boekie saamgestel en dit sommer self laat bind: Boesmanlanders se gewoontes uit die vroeër jare. Hoewel sy net een eksemplaar het, kan besoekers dit leen en by die poskantoor afdrukke gaan maak. Dis vol gesegdes (“hangskouers soos ’n soetolie-bottel”), lyste van byname (Willem Pampoen, Gert Gonsie), speletjies soos ketting-ketting druiwetros, staaltjies oor die vroedvroue uit die omge-wing, en hoe jy moes “ouers vra”.
Die poskantoor is helaas gesluit oor die etensuur (soos die meeste ander ondernemings), maar Melanie bied aan om tannie Annie se boekie by die hotel te kopieer.
Ek maak solank ’n draai by die enigste vulstasie op die dorp, waar Koos Mostert – of Koos Petrol, soos die inwoners hom noem – al 27 jaar die petrolpomp beman.
Koos wys vir my die versameling plante wat sy kantoortjie van muur tot muur toerank. “Die plante bly hier, want hulle wil nie groei by my huis nie,” sê hy. Hy wys na die radio. “Ek is nie altyd hier nie, en dan moet hierdie outjie met hulle praat sodat hulle kan groei.”
Terwyl Koos die Condor volmaak vir die langpad huis toe, dink ek aan iets wat Melanie vroeër vir my gesê het: “Hier leef mense nog soos mense.”














Kommentaar