Previous Next

Stormsrivier


Draai "n slag af by die bordjie wat na Stormsrivier Village toe wink. Hier is dit heelwat rustiger as die besige vulstasiehalte met dieselfde naam.

By die Cadillac Shack staan die drie modelle met die grootste vinne - "58, "59 en "60.
zoommore

By die Cadillac Shack staan die drie modelle met die grootste vinne - '58, '59 en '60.

Die rustige klein dorpie Stormsrivier is die middelpunt van die lekkerste avonture wat ’n mens in hierdie deel van die Tuinroete kan beleef.

Hier is 5 doendinge op Stormsrivier

1. Voëlvry


Kwê-kwê, prrt-prrt, twiet, tsssrt... Dit ráás binne dié voëlpark: Basies ’n stuk woud so groot soos ’n rugbyveld met ’n net bo-oor gespan. Birds of Eden is die grootste vryvlugvoëlhok in die wêreld. 
Binne is daar meer as 180 spesies, van kaketoe’s en papegaaie tot lepelaars en kraanvoëls. Baie van die voëls was voorheen in klein voëlhokke, of was troeteldiere en moes van vooraf leer vlieg. 

Ek sit ’n rukkie by ’n plek waar kos vir die voëls neergesit word. ’n Groenloerie en ’n prinses van Wallis-parkiet pik aan sonneblomsade. ’n Geel Amerikaanse papegaai swiep neer en verjaag ’n Wagler-papegaai. Onder op die grond loop ’n baardhoutkapper. Agter my sit tientalle glansspreeus in ’n boom. Langs my skud ’n African grey-papegaai sy vere reg. Skaars 10 treë verder sien ek twee monnikparkiete en ’n geelbekbosduif. 
Pasop waar jy jou koeldrank neersit by die eerste eetplekkie. ’n Groot geel-en-blou-arapapegaai tjorts dalk sekuur. 

Anderkant die eetplekkie stap jy uit die oerwoud tot op ’n oop stuk gras met ’n paar dammetjies waarin ’n kleurryke verskeidenheid van eende rondplas. Twee kroonkraanvoëls loop sierlik verby. ’n Bloukraan loer vir ons terwyl ’n Chinese gans verbysuiker. 
Bo my kop, aan die buite die hok, sit ’n witreier aan die maasdraad en pik. Dit lyk wraggies of hy eerder hier binne wil wees.

Koste:
R110 vir volwassenes, R55 vir kinders
Kontak: 044 534 8906; www.birdsofeden.co.za 
Wenk: Kom vroeg, want jy gaan heeldag in die hok wil bly. Bring die kinders – selfs die kleintjies geniet dit.


2. Apie-pret


’n Bruin apie met ’n lang stert swaai verby. “Dis ’n Kapusyner,” sê ons gids, Andy Reeve. “Hulle is in die Victoriaanse era gebruik as sakkerollers. 
Die park van 12 hektaar is eerstens ’n rehabilitasie-sentrum waar ape wat voorheen troeteldiere was, of in eksperimente gebruik is, nou onverstoord van tak tot tak kan swaai.
“Haai, julle is gelukkig! Kyk daar’s ’n slank-aap,” sê hy en beduie boontoe. “Hier’s net een in die park en hy’s maar skugter.” 
Met sy groot bruin oë, omring deur wit pels, lyk die slank-aap soos ’n sagte speelding met velcro op sy vingers. 

Nog dieper in die bos sit ’n spannetjie ringstertlemurs met groot geel oë. Drie van hulle sit soos koninkies met hul vet magies in die son en bak. “Die son help hul spysvertering,” verduidelik Andy.
’n Baba-lemur lig sy koppie, skaars groter as ’n muurbalballetjie, agter sy ma se skouer uit. 
Op pad terug hoor ons ’n groot oproer. ’n Hoop vars grondbone lê op ’n voerstasie. Die slankaap sit sommer tussen die grondbone, terwyl die capuchin- en blouape verbyswaai, gryp en wegskarrel. Dan kom Atlas, die enigste langarm-aap, aangeswaai en gryp ook ’n handvol grondbone. Die outjie kan teen 35 km/h van tak tot tak beweeg. 
Die leer-nuwe-dinge- en ag-oulik-faktor is beslis groot in die park.

Koste:
R110 vir volwassenes, R55 vir kinders, maar vir R180 (R90 vir kinders) kan jy Monkeyland en Birds of Eden besoek.
Kontak: 044 534 8906; www.monkeyland.co.za
Wenk: Kom vroegoggend, voor die skares. En in die lente is daar kleintjies.


3. 1, 2, 3, foefie!


Aan my harnas hang ’n los karabynhaak en ’n remkontrepsie. Ons stap ietwat angstig oor die gras na die eerste stasie van die foefieslaaid oor die Kruisrivier. 
Ons gids, Charles Kumede, verduidelik: Sodra jy aan die foefieslaaidkabel hang, moet jy die kontrepsie afdruk om te rem en dit oplig om te laat wiel. Ek kyk hoe die fotograaf Dawie Verwey klein word soos hy oor die rivier gly. Riaan Losper van Middelburg en sy dogtertjie, Chané, wat maar ses jaar oud is, gly volgende. 

Charles haak my karabynhaak aan die kabel. Ek sit gemaklik in my harnas. “Goed, laat waai.”
Ek lig die rem en vlie’ oor die rivier. Wieee...jy gly vinnig, maar dit voel asof jy met jou fiets teen ’n hengse bult af free en nie asof jy uit ’n cessna uit val nie. 
Ons gly kruis en dwars oor die Kruisrivier tot by die Rock Pigeon-stasie. Die volgende kabel is 165 m lank en een van die vinnigstes in die lot. Onder ons bruis die Cascade-waterval asof ’n tenk vol Coke hier omgekeer is. Jy voel die sproei op jou vel soos jy deur die lug trek. 
Die volgende kabel is 211 m lank – langer as die Stormsrivierbrug – maar jy gly darem effens stadiger. Verfris en met harte wat hard klop, stap ons uit die bos.

Koste:
Teen R300 per persoon is dit effens duur, maar haai, dit sluit ’n koeldrank in.
Kontak: Tsitsikamma Falls Adventure 042 280 3770; www.tsitsikammaadventure.co.za
Waar? Langs die N2, 13km aan PE se kant van Stormsrivier.
Bang vir water? Stormsriver Adventures op die dorpie bied ook ’n drie uur lange boomtoptoer aan, waar jy van groot boom tot groot boom kabelgly deur die woud. Dit kos R395 per persoon. Kontak hulle op 042 281 1865; www.stormsriver.co.za


4. Suiker boslangs


Goed, jy’s op vakansie en wil jouself nie ooreis nie, maar stap ten minste die plankpaadjie van 1,3 km na die Groot Boom. Op die plankiespad leer jy hier’s kershout-, ysterhout- en kalandergeelhoutbome en nie bloot ’n bos vol “groot” bome nie. 
En dan sien jy hom. Soos Sebastian Chabal, die Franse rugbyspeler, is dié geelhout groter, hoër en dikker as enige van die ander bome. (Esma kyk nie juis rugby nie. – Red.) Dié geelhout is oor die 800 jaar oud en troon 36,6 m die lug in. Stel jou voor agt volwassenes speel ring-a-ring-a-rosies – dis hoe groot die boom se omtrek is.

As jy kans sien vir iets meer uitdagends, stap een van die roetes in die Plaatbos- natuurreservaat of die Goesa-roete (2 km) by die bosboustasie op Stormsrivier. Die ou Stormsrivierpas-staproete is met geel gemerk in Plaatbos. Daar is ’n houtkis by die ingang van Plaatbos, waar jy ’n kaart en ’n permit kry.

Koste:
R6 per persoon.
Waar: Langs die N2 in die rigting van PE, sowat 1 km van die afdraai van Stormsrivier af.


5. Los die bos


Moeg vir die bos? Suiker af see toe. Die naaste swemstrand van Stormsrivier af is Sandbaai en die piepklein Mooibaai langs die restaurant in die Tsitsikamma- Nasionale Park. Die strandjies, reg langs die park se restaurant, is nie veel groter as ’n halwe rugbyveld nie, maar hier’s genoeg om dinge om te doen. Soek saam met jou kinders seesterre en kleurryke anemone in die rotspoele, of swem uit na ’n drywende platform, sowat 50 m see-in.

Daar is ook twee snorkelroetes, na twee skeepswrakke. Vra by die inligtingstoonbank as jy toerusting wil huur – R20 per item per uur, R40 vir ’n duikpak per uur.

Koste:
R20 toegangsfooi vir die park.
Kontak: 042 281 1607 of www.sanparks.org/tsitsikamma
Klaar geswem? Die Spirit of Tsitsikamma-bootjie vaar elke 45 minute tussen 9h30 en 14h45 op in die Stormsrivierkloof Dit kos R40 per persoon.


Haltes


Haltes op Stormsrivier

Cadillac Shack. Vra by die Pondokkie. Dit kos R5.
Rafters. ’n Snoesige restaurantjie met vriendelike diens. Dit voel asof jy by ou vriende kuier. *042 281 1512

Haltes op die N2 (rigting PE)
Die Fernery. Eet middagete by die restaurant van een van die grootste varingkwekery in Suid-Afrika. 042 280 3588; www.forestferns.co.za 
Fynboshoek. Proe heerlike kase uit die kontrei en koop sommer grenadella-konfyt en ’n botteltjie heuningkoek met makadamia-neute terwyl jy daar is.  042 280 3879



Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Search Townofthemonthsarchive



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek