Previous Next

Magaliesburg, gouddorp van gister


Magaliesburgers noem hulle tuiste die "eenuur-dorpie", want dis "n uur se ry van alles af: Johannesburg, Pretoria, Rustenburg, Vanderbijlpark, Potchefstroom...

Magaliesburg se stasie-huise het "n  goeie getuigskrif - een van hulle was ant Stienie se huisie in <i>Agter elke man</i>.
zoommore

Magaliesburg se stasie-huise het 'n goeie getuigskrif - een van hulle was ant Stienie se huisie in Agter elke man.


Die vloerplanke van die delwershuisie waarin ek oornag, kraak onder my voete toe ek by die kombuisie uitstap.
    Ek wil in die bed gaan lê en oor Magaliesburg se geskiedenis lees: Oor sy vroegste setlaar, Henry Hartley, ’n grootwildjagter wat meer as 1 200 olifante geskiet het, en die Blaauwbank-myn oorkant die pad, waar die punt van die Witwatersrand-goudrif ontdek is.
    Ek verstar in die deur. My oë flits heen en weer tussen die twee bedlampies aan weerskante van die bed. Ek kon sweer ek het vroeër net een aangesit! Nou brand al twee...
    “Die beskrywing is altyd dieselfde,” het Robin Walton, ’n Magaliesburgse geskiedeniskenner, vanmiddag vertel toe hy hoor ek bly in die huisie naby waar Hartley se skoondogter vermoor is. “Die spook is ’n ou vroutjie met ’n grys jas en sy het swart skoene aan met gespes...”
    Haastig skakel ek die lig in al vyf vertrekke aan en dra die raserige verwarmer die slaapkamer in. As jy nie ’n spook kan sien of hoor nie, bestaan sy nie, of hoe? 

MAGALIESBURG, ’N DORPIE 60 km noordwes van Johannesburg met omtrent 36 000 siele (en nog ’n paar wat nie kan rus nie), is deurdrenk met die geskiedenis.
    Op ’n heuwel wes van die dorp het die Matabele-krygsheer Mzilikazi in 1827 een van die plaaslike stamme se “Groot Muur” verwoes (’n mens kan steeds die kilometers lange kraalmuur op ’n heuwel langs die dorpie sien). Honderde jare voor hom het die San tekeninge op rotse hier gegraveer en die kliphange beskilder. En nóg ’n paar duisend millennia voor hulle het mev. Ples – die mees volledige fossiel van ’n aapmens-skedel – nie ver van Magaliesburg nie aan haar einde gekom.
    Paul Kruger het as jong man in die swaelbron langs die Magaliesrivier kom bad, en in 1895 is die stuk of 600 Jameson-invallers vlak hierlangs verby. En van die dorpie af kan jy die hang by Nooitgedacht sien waar die kommando’s van genls. De la Rey en Beyers 638 Kakies op 13 Desember 1900 doodgeskiet het, terwyl hulle self net 17 man verloor het. 
    En, les bes, die mynmagnaat Barney Barnato en David Pratt, die man wat dr. H.F. Verwoerd in 1960 by die Randse Paasskou geskiet het, het al twee in ’n stadium die plaas besit waarop die Magaliesrivier ontspring.
    Om hierdie ryke geskiedenis te bewaar is die Magaliesburgse Historiese Genootskap in 2002 gestig. “Ons het die geskiedenis agter elke vierkante meter in die omgewing opgeteken,” vertel Nicola Haynes, die voorsitter.
    Nicola besit die laaste stuk grond van Henry Hartley se ryk wat tot by Rustenburg gestrek het. Sy stalle is deesdae die Elephants Sportsbar en langsaan het Nicola ’n kapelletjie vir troues ingerig.
“Wanneer daar ook groot rugby op ’n Saterdagmiddag aan die gang is, skree die mense maar saggies tot die oomblik dat die dominee sê: ‘You may kiss the bride.’ Dan ontplof die pub!”
    As mense van buite die dorp in haar kroeg kom kuier, vra hulle haar nege uit die tien keer of hier nie ’n stukkie grond te koop is nie, vertel Nicola. “Mense sit vir tien minute hier en voel dan al klaar of hulle in Magaliesburg hoort. Maar ons skinder ook die dinges uitmekaar uit. As jy iets wil weet, kom pub toe en iemand sal jou inlig!”

DIS WAARSKYNLIK IN ’n kuierplek soos dié dat die dorp se lekkerste stories ontstaan het: Met groot erns word vertel dat Hartley vóór Livingstone die Victoria-waterval gesien het en dat Barney Barnato sy Magalies-plaas in ’n kaartspel gewen het.
    “Ek glo nie die Barnato-storie is waar nie,” prik Robin my seepbel. “Wanneer ek ’n romantiese storie hoor, afhangend van wie dit vertel, laat ek dit maar gaan.”
    Hy is ook skepties oor die kragtige “vorteks” wat glo net buite Magaliesburg lê.
    ’n Vorteks?
    “Dis waar ’n klomp leylines mekaar kruis,” verduidelik Chris Barry van die Crystal Feeling-winkel. Chris sê leylines is “energielyne” wat reg oor die aarde strek. By die plek waar ’n klompie van dié energielyne kruis om ’n “vorteks” te vorm, word negatiewe energie ingesuig terwyl positiewe energie afgegee word.
    Sjamane van Peru in Suid-Amerika het die een naby Magaliesburg opgespoor en vir Chris soontoe beduie. “Hulle sê dis die kragtigste vorteks in Afrika – sterker as die een by Giza in Egipte én Groot-Zimbabwe.”
    Laatnag skrik ek penorent wakker toe ’n goederetrein vlak buite die venster fluit. Ek sak teen die kussings terug. Dis genadiglik nie die spook van mev. Hartley wat kom kuier het nie...
    Terwyl my hartklop bedaar, dink ek na oor die veelsydigheid van Magaliesburg. Nes ’n fossiellaag – soos dié wat ’n mens hier anderkant in die Wieg van die Mensdom opgrawe – is hierdie dorpie laag op laag van geskiedkundige gebeure, persoonlikhede, vernuf. En dan heel, heel onder, dalk ’n kragtige energieveld en selfs ’n spook of twee...


Magaliesburg se stasiehuise het ’n goeie getuigskrif – een van hulle was ant Stienie se huisie in die TV-reeks Agter elke man. Skommel met die trein hierheen van Johannesburg af vir ’n andersoortige Sondaguitstappie. Die weste van die stad is nie juis mooi nie, maar die treinrit vergoed daarvoor. 

Magalies Express. Dié trein moes onlangs na stoom oorslaan nadat Spoornet besluit het om nie meer hulle treine vir daguitstappies te verhuur nie. Klim af by die Magaliesburg Country Hotel of Valley Lodge vir hulle buffet, of pak jou eie piekniekmandjie – die braaivleisvure brand reeds wanneer jy op Magaliesburg aankom.
Waar vertrek ons? Unified-stasie in Florida, om 9.15 vm. (terug om 5 nm.)
Koste: R135 p.p; R115 vir kinders (3-12 jaar)
Kontak: 011 888 1154/5

Reefsteamers. As jy in die Oos-Rand bly, bespreek plek by Reefsteamers wat minstens een keer elke twee maande na Magaliesburg stoom.
Waar vertrek ons? Boksburg-Oos-stasi,e om 7 vm. (terug om 6 nm.)
Koste: R195 (dit sluit middagete in); kinders jonger as 4 ry verniet en R160 vir tjokkertjies van 4-10
Kontak: 011 915 3785

Maak toe


Iets is fout, besef ek, toe agt mans langs my inskuif om na die veiligheidsinstruksies van die Magalies Canopy Tour-gidse te luister. Ons dra almal harnasse en helms, want vir die volgende twee ure gaan ons oor die Ysterhoutkloof van platform tot platform foefieslaaid. (Dis nou op die ingenieursmanier, waar jy in ’n harnas sit, en nie aan jou arms hang nie.)
    “Hierdie uitstappie is deel van ons vriend Much se bachelor’s,” vertel die ou wat langs my sit. “Hy moes eintlik ’n Tarzan-broekie dra, maar ons het hom jammer gekry.”
    Met handskoene wat enige sweiser sou trots maak (waarmee ’n mens jouself rem), gly ons langs staalkabels af na platforms met name soos Dassies’ Deck, Last Chance en Cliffhanger. Die verste wat jy gly is 140 m en op die hoogste punt is jy 30 m bo die grond.
    “Aaa-wooo-haa-waa-wooo!” eggo dit deur die kloof. Die manne het nog lank nie klaar met “Tarzan” gespeel nie...
Koste: R395 (dit sluit ’n ete in)
Wie kan gaan? Enigeen tussen 7 en 70
Kontak: 014 535 0150; www.magaliescanopytour.co.za (besprekings noodsaaklik) 

Maak toe


Jy het al van dubbelverdieping-plakkershutte gehoor, maar ’n hotel van sink en plastiek? Dis presies wat Daniel Masedi van Magaliesburg se informele buurt met min geld en harde werk gebou het.
    “Ek noem my hotel ‘Hlomphanang’,” sê Daniel. “Dit beteken ‘respek’. ’n Mens moet nie ander mense seermaak of seerpraat nie.”
    Daniel, wat gestrem is, het sy kar verkoop om sink vir die agt hotel-kamers aan te skaf en skep met sy hotel (dis meer ’n losieshuis) werk vir nog vier mense.
    Stap ’n bietjie deur en verkyk jou aan sy inisiatief: Met plastiekbottels en koffiepieringpapiertjies word eenvoudige dekor geskep, terwyl twee ou rekenaarskerms sy “kantoor” afrond. Hier is selfs ’n wittebroodsuite!
    Drink ná die tyd ’n koeldrank of bier in sy eethoekie.
Hoe kom ek daar? Parkeer by Magaliesburg se polisiestasie. Daniel se hotel is 50 m van daar af op die rand van die buurt; vra sommer vir die polisie om jou soontoe te beduie.
Kontak: 083 728 9267

Maak toe


By Maropeng, sowat 15 km van Magaliesburg, volg jy ’n groot voetspore: Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies en pres. Thabo Mbeki s’n, om presies te wees. Dié twee het hulle voete in gips gedruk toe hulle die Wieg van die Mensdom in 2002 besoek het. Dié afdrukke word by die ingang ten toon gestel.
    “Hier lê ons gemeenskaplike naelstring begrawe,” wys ’n uitstalling sommer vroeg-vroeg wat gaan volg: ’n Oorsig oor die mens se geskiedenis.
    Wat ’n skooluitstappie vir die horde kinders wat om my maal! Vier-vier klim jy in ’n bootjie wat jou op ’n 10 minute lange vaart deur die vier natuurelemente – wind, water, vuur en lug – neem. Later kan jy kamstig met ’n dodo of mammoet oor die foon gesels sodat hulle jou kan vertel hoekom hulle uitgesterf het. Die heerlikste is egter die oorspronklike fossiele van kleiner dinousourusse wat heel aan die einde wag: Die natuur se ragfyn versteende sneewerk, veel mooier as enige veselglasreplika.
    Wanneer ’n mens die spore van die verlede volg, moet jy noodwendig peins oor wat ons paadjie vorentoe inhou. Maropeng wys daarom die impak wat die mensdom op die aarde met onder meer ’n video en vasvra.
    ’n Digitale horlosie met rooi strepe tel by die uitgang af hoe die mensdom by die sekonde vermeerder: 6 651 664 902, 6 651 664 909...
Koste: R80 vir volwassenes; R45 vir kinders; R60 vir pensioentrekkers
Tye: Daagliks van 9 vm. tot 5 nm.
Kontak: 014 577 9000; www.maropeng.co.za

Maak toe


“A goldmine is a hole in the ground, with a fool at the bottom, a liar on top, and a crook at the stock exchange office.”
    Só eindig Robin sy boekie oor die goudkoors wat ook vir Magaliesburg teen die einde van die 1800’s getref het. Vir altesame 3,5 kg (124 ons) goud het die myners van weleer tonnels van tot 60 m lank en 45 m diep met die hand uitgegrawe en met dinamiet oopgeskiet.
    Diep in die donker, koel myngang lig ek en die gids met ons lampe op iets wat soos ’n oorgroot stormlantern sonder glas lyk. “Dis ’n eenman-hyser,” verduidelik Miriam Dhliwayo. “Dit was geneig om te tol en dan was die myners so lighoofdig dat hulle uitgeval het. Ander kere het die tou gebreek...”
    Ons skakel ons liggies vir ’n oomblik af uit respek vir dié arme fortuinsoekers. Aan die einde van die myntoer demonstreer Miriam hoe ’n mens goud was. Sy gooi water in die pan, skud-skud, skep ’n bietjie sand uit, skud weer... sowaar, ’n paar klein blink blaartjies!
Koste: R40 vir volwassenes; R20 vir kinders onder 9
Kontak: 082 567 3111

Maak toe


Ek laat die vislyn los oor die dammetjie langs die Magaliesrivier. My kunsvliegie trek perfek deur die lug en land reg voor ’n reënboogforel se neus. “Tjoemps,” sluk hy dit in.
    Ek hét hom!
    Wat nou? Wayne Sinclair, my instrukteur van Barbus Haven, het net gou met sy buurman gaan reël wanneer hulle voorbrande gaan maak. En ons het nog nie die catch and release-gedeelte van die forelvangkliniek behandel nie...
    Ek kyk benoud rond vir hulp, maar al genade is om self die hoek uit te haal. Die forel lê gelukkig verbasend stil. My eerste vangs! (Jy sal my maar moet glo – die forel wou nie wag dat ek die kamera kry nie.)
    Nadat die eienaars onlangs nog forelle in die dammetjie losgelaat het, kan hengelaars nou tot twee forelle vir die pan hou, mits elkeen minder as 1 kg weeg. Sodoende kan die grotes darem nog die sporthengelaars se hart laat bons. In die Magaliesrivier kan jy met geelvis stoei.
Koste: Toegang en ’n permit kos R200 p.p. Toeskouers betaal R20 p.p. Jy kan ook ’n les kry in kunsvlieghengel én toerusting huur.
Kontak: Magalies Barbus Haven 083 414 0391; www.sundowner.co.za

Maak toe


Teen 1854 was hier nie ’n enkele olifant in die Magaliesvallei oor nie, maar met die koms van Damara en Nzewe, twee jong olifantbulle, in 2006 dreun die aarde weer onder die grotes se gewig.
’n Mens leer die grootvoete beter ken tydens ’n twee uur lange staptog in die wildsplaas Plumari. Het jy byvoorbeeld geweet hulle slaap net 2-4 uur per nag? (Werf ’n paar om by Weg te kom werk! – Red.) Die groot gryses ruik ook 14 keer fyner as ’n hond.
    Dis nié ’n olifantsafari nie, verduidelik die stalmeester, Theo Potgieter: “ ’n Mens doen afbreuk aan die wonderlike grootsheid van ’n olifant af wanneer jy ’n saal op sy rug sit.” Tog kan jy help om hulle happies te voer en óral te vat nie – ook aan die olifant se lies en ore.
Koste: R350 p.p.
Kontak: 011 476 4391; www.plumariafrica.com

Maak toe

Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Search Townofthemonthsarchive



Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek