In die Dlinzawoud (dit beteken "plek van meditasie") het olifante eens op 'n tyd die bospaadjies bewandel. Verken die woud op 'n verhewe plankiespad. Jy loop 10 m bo die woudvloer en omtrent reg onder die blaredak. Daar is ook wandelroetes grondlangs - die Impunzi- en Unkonka-roete is al twee so 'n draai van 30 minute se stap die bos in.
“Een van die lekkerste klein dorpies in Suider-Afrika,” het die reisskrywer T.V. Bulpin in 1970 oor Eshowe gesê. Dis vandag nog waar, skryf Jon Minster.
Dit raak al warmer in die sjebien naby Eshowe se bushalte. En dis nie net omdat 15 van ons op dié snikhete namiddag in ’n ou skeepshouer ingeprop sit nie. Nee, ons gesels oor Jacob Zuma. Hy het twee dae gelede met sy vierde vrou getrou. Die tradisionele seremonie was op Nkandla, net ’n entjie verderaan in die pad van hier af.
Andy Rabagliati, ’n IT-spesialis wat gereeld in dié wêreld kuier, het ons saamgenooi hiernatoe vir ’n smakie van die alledaagse Eshowe – die Eshowe waarvan jy nie in reisgidse lees nie.
Andy het foto’s van die troue op sy selfoon en almal drom saam om na die baie jolige Zuma in sy luiperdvel en wit tekkies te kyk. Dis doodstil. ’n Vet vlieg gons lastig tussen ons. Dan breek die chaos los – almal praat gelyk.
Die man langs my gee my ’n stewige handdruk en sê: “Ngiyabonga Buthi, dankie dat jy gekom het. Ons is uiteindelik een land!”
Niemand weet regtig hoe Eshowe aan sy naam gekom het nie. Party mense sê dit roep die suggeluid op wat die Dlinza-woud maak wanneer daar ’n ligte bries deur die bome waai. Ander beweer dit kom van “ikhowe”, die Zoeloewoord vir sampioen. (Dis ook hoe die Britse Leër se tente beskryf is toe die dorp nog net ’n klein militêre heuwelvesting was.)
Die dorp lê soos ’n perdeskoen rondom die woud, met ’n laslapwêreld van suikerrietplase en landelike dorpies in die agtergrond. Alle paaie lei uiteindelik na ’n lieflike uitsig of ’n donker woudpaadjie.
Mense kom doen hulle maandelikse inkopies by die Boxer of Shoprite, of laat hulle hare by een van die talle haarsalonne sny. Laatmiddag verlaat die een Washesha-bus ná die ander die dorp in ’n swart dieselwolk om hulle passasiers by dorpies reg oor die suidelike deel van Zoeloeland af te laai. Nadat die busse weg is, sak ’n bedompige stilte op die plek toe.
Ek en Andy verkas na die die Happy George-kroeg vir ’n koue Zulu Blonde, ’n plaaslike bier wat Graham en Richard Chennells net daar op die perseel brou. (Probeer dit gerus; dit kos R13 vir ’n pint en R6,50 as jy net vir die helfte kans sien.)
Die Happy George is in die George-hotel, ’n bakengebou op Eshowe. Die eienaar is die entrepreneur en filantroop Graham Chennells. Hy het ’n ongelooflike passie vir Zoeloeland en is ’n eindelose bron van inligting.
Sy vriend, die kunstenaar en argitek Peter Engblom, knap tans die hotel op. In die voorportaal hang groot geskiedkundige portrette van Zoeloe-hoofmanne en Victoriaanse setlaars, en die badkamermure is vol pienk Zoeloelandse eensjielingnote geplak. Bo die wasbak pryk ’n prent van ’n aantreklike vrou wat ’n waatlemoenskyf vashou. Daarnaas staan geskrywe: “Ek is dwars geparkeer in ’n parallelle heelal.”
As jy Peter se geskiedenis verstaan, is dit makliker om sy kuns te begryp. Hy stam af van die Noorweërs wat die sendeling Ommund Oftebro in 1860 na Cetshwayo se koninkryk gevolg het. ’n Paar van sy voorsate rus in die spesiale Noorweegse begraafplaas buite die dorp.
Noorweërs in Zoeloeland?
Dis vroegoggend en die busse rammel weer die dorp in. Seuns stoot omgeboude winkeltrollies rond en hoop een of ander tenger ouma sal hulle betaal om haar inkopies te vervoer.
In ’n gangetjie agter ’n kiosk wat adverteer dat hy selfone laai, stoot Bongi Mhlongo die deur oop na sy moetiewinkel. Net waar jy kyk, styfgepak op rakke van vloer tot plafon, lê wortels en kruie vir al wat ’n kwaal is. Die moetie kom meestal uit die Dlinza-woud.
Nie ver daarvandaan nie skuif Brenda Nkosi haar reg vir haar skof op die gemeenskapsradiostasie Icora 100.4 FM. (Nadat die sender by Ntumeni herstel is, kan die stasie darem nou weer uitsaai.)
Nader aan die woud se kant is die Happy George nou verlate. ’n Skoonmaker vee die stofwolke van gisteraand se wolhaarstories tot in die sonlig: Sendelinge en waansinniges, soldate en hoofmanne... Die wind waai hulle tot by die bome, waar hulle met ’n sug verdwyn.
1. Besoek die Dlinza-woud
In die Dlinza-woud (dit beteken “ ’n plek van meditasie”) het olifante eens op ’n tyd die bospaadjies bewandel, en volgens oorlewering het Tsjaka honderde vroue en kinders hier versteek voor ’n dreigende aanval deur sy vyand Zwide, opperhoof van die Ndwandwes.
Verken die woud op die verhewe plankiespad. Jy loop 10 m bo die woudvloer en omtrent reg onder die blaredak. Al wat jy hoor, is die geritsel van die blare en die sagte eggo van jou voetstappe. En die oggendlig breek op in honderde goue strale voordat dit die bodem van die woud bereik.
In die bos is daar is 65 voëlspesies, waaronder die skaars withalsbosduif en die perskuifloerie. Dalk sien jy selfs van die 20 m hoë uitkykpos aan die einde van die plankpad ’n kroonarend bo die blaredak sweef.
Daar is ook wandelroetes grondlangs – die Impunzi- en Unkonka-roete is al twee so ’n draai van 30 minute se stap die bos in. Dit loop onder reusemelkhoutbome en wildepruimbome deur waar wurgvye en orgideë uit elke skeurtjie beur.
Van al twee roetes af kan jy afdraai na Bishop’s Seat, ’n natuurlike oopte wat glo in die jare negentig van die negentiende eeu die gunsteling-meditasieplek was van die dorp se Anglikaanse biskop William Carter. Dis die ideale piekniekplek. Jy kan die oopte ook van Natural Arch-rylaan af bereik; dis ’n teerpad wat reg deur die woud loop. Koste: Volwasses betaal R25 en kinders onder 18 R5 om die plankiespad te stap. Dis rolstoelvriendelik. Kontak: 035 474 4029; www.zbr.co.za/boardwalk
Maak toe
2. 'n Teetjie en biltongmuffin?
Moenie die Made@Home-mark op Saterdae by Theo Andrew se huis op die Ntumeni-pad misloop nie.
Vir R18 kry jy ’n groot biltongmuffin (van die ander geure is wortel, pikantrissie en baklava) en ’n pot tee of ’n dompelpot filterkoffie. Made@Home is die sosiale middelpunt van Eshowe, dus hoor jy al die jongste nuus oor JZ, die suikerprys en die week se weervoorspelling.
As die muffin eers sy lê gekry het, kan jy op die minimark gaan rondsnuffel vir ’n tuisgebakte melktert of ’n kralehalssnoer. Wanneer? Saterdae vanaf 9 vm. Kontak: 035 474 1681 (Theo Andrews)
Maak toe
3. Gaan kuier vir gister
Die Zoeloelandse historiese museum word gehuisves in ’n ou drietoring-fort wat die Britte in 1883 gebou het as hoofkwartier vir die Nonqayi, wat ook die “kaalvoet polisie” genoem is.
Die Nonqayi het in die jare ná die Anglo-Zoeloeoorlog die Britse administrasie in die gebied afgedwing. Die Nonqayi het uiteindelik aan die kortste ent getrek, want die Britte het hulle geminag én hulle eie mense het hulle as verraaiers beskou. Die polisiemag is uiteindelik in 1906 ontbind.
Een van die vertrekke is gewy aan John Dunne, die eerste wit Zoeloe-opperhoof. Daar is ook ’n gerekonstrueerde kapel ter ere van die vroeë Noorweegse sendelinge. Een van hulle, biskop Hans Schreuder, het ’n spoggerige houtwiegstoel gemaak vir koning Mpande, want weens vetsug het hy moeilik gestap.
Kyk ook na die ’n versameling Zoeloe-kuns en handwerkitems in die Vukani-museum. Luister hoe die kurator, Vivienne Garside, verduidelik watter ingewikkelde prosesse en wiskundige vaardigheid nodig is om die toonstukke te maak. Hier is ook ’n versameling mandjies wat gemaak is deur wyle Reuben Ndwandwe, wat algemeen beskou word as die beste Zoeloewewer nóg.
Die landskap rondom Eshowe is vol monumente, obskure begraafplase en beroemde slagvelde, maar jy het ’n gids nodig wat die omgewing goed ken.
As jy tyd het vir net een monument, besoek die Zoeloemartelaar se Kruis. Dis opgerig ter ere van Maqhamusela Khanyile, wat in 1877 met sy lewe moes boet, omdat hy sy stam se geloof vir die Christendom verruil het. Koste: Toegang tot die Fort Nonqayi-museumdorp kos R20 vir volwassenes en R5 vir skoolkinders. Die prys sluit ’n begeleide toer in. Kontak: Fort Nongqayi-museumdorp 035 474 2281; vir inligting oor plaaslike monumente en slagvelde, bel vir Graham Chennells 035 474 4919.
Maak toe
4. Stap tot by 'n waterval
In 2005 is tonele vir ’n TV-fliek oor pigmieë in die Kongo-oerwoud, Man to Man, naby die Mpushini-waterval geskiet. Wanneer jy die steil pad afloop en jy hoor die water daar onder iewers raas, kan jy net sowel iewers in ’n bos noord van Kinshasa loop.
Die waterval is ongelooflik mooi en gewoonlik verlate.Volg die hoofstraat verby die George-hotel totdat die straat vurk. Gaan regs en volg die aanwysings na die parkeerplek by die staproete. Daarvandaan is dit 15 minute se stap tot by die rivier. Jy moet effens stroomop sukkel om by die poel onder die waterval uit te kom. Neem ’n handdoek en swembroek saam en swem lekker, want jy sal dit nodig hê.
Maak toe
5. Kry kultuur, man!
Elke Woensdag en Sondag kan ’n paar besoekers die sangoma maXulu Ndwandwe se seremonies bywoon.
Nadat ons ons skoene uitgetrek en voete gewas het, stap ons by ’n stampvol hut in waar twee tromslaners goed op dreef is en dorpenaars al tou staan vir raad by maXulu.
Diegene wat die eerste keer daar aankom, betaal ’n konsultasiefooi van R30. Vir opvolgbesoeke vra sy skenkings en mense skuifel vorentoe met allerhande ware, van komberse tot armbande.
“Daai man bedank die genesers, omdat hy in ’n motorongeluk was en niemand beseer is nie,” fluister Johnny Nkonqwane, ons gids en tolk. “En dié man soek werk as ’n sekerheidswag; nou sê die mama hy moet vir een nag ’n kers langs ’n glas melk laat brand en dan die volgende oggend die melk drink.”
Graham Chennels, eienaar die George-hotel) en sy seun Richard reël allerhande toere na die dorpies om Eshowe. Dit hang telkens van die besoekers se belangstelling af. Dis nie ’n vertoning nie; dis die ware Jakob. Kontak: Zululand Eco-Adventures 035 474 4919; eshoweinfo@gmail.com
Kommentaar