Die Vrystaat se goue oue

Dit word nie verniet 'n ruskamp genoem nie, want hier sing die kalkoentjies en ringnekduiwe jou soggens wakker.
1. Salig in Glen Reenen se ruskamp
Dit word nie verniet ’n ruskamp genoem nie, want hier sing die kalkoentjies en ringnekduiwe jou soggens wakker. Maak jou tent of woonwa staan aan die Klein-Caledonrivier se kant, want dan pla die grootpad deur die park nie soveel nie. Daar is baie koelte en genoeg gras. Speelplek vir die kinders is ook volop. Enorme sandsteenkranse troon tot ver op die horison bo ’n mens uit.
Koste: Kampeerplek sonder elektrisiteit: R120 vir 2 mense, R42 vir elke ekstra persoon en R21 vir kinders onder 12. Kampeerplek met elektrisiteit: R130 vir 2 mense, R42 vir elke ekstra persoon en R21 vir o.12’s. (’n Maksimum van 6 mense per kampeerplek.)
2. Stap ’n lekker wandelpad
As jy ’n hardebaard is, gaan klim Wodehouse uit of stap die bekende Ribbok-voetslaanpad.
Daar is ook pragtige korter roetes soos die Eggo-ravyn, Boskloof, Brandwag en die paddastoelrotse. Onthou jou pieknieksak en waterbottel; die berg-stroompies se water is yskoud en silwerskoon.
Koste: Ribbok-voetslaanpad: R85 p.p. (Maksimum18 mense.)
3. Verken dieKatedraalgrot
’n Uitstappie na dié grot is voorwaar ’n belewenis. ’n Mens ontmoet gewoonlik ’n gids by die Gladstone-perdestalle. Die roete kronkel deur inheemse plantegroei tot in ’n oop grot. Pak jou swemklere in, want jy swem ’n gedeelte deur ’n waterpoel. Hier kan jy sien hoe die water deur ’n skeur in die grot se dak na onder drup.
Koste: R70 per uur en R120 vir twee uur; ’n toer met ’n gids kos R60 vir ’n minimum van
6 mense. (Slegs in die Junie- en Desember-vakansie.) Bespreek by die Glen Reenen-kamp.
4. Gly tot in ’n swemkuil
’n Besoek aan Golden Gate is net nie dieselfde as jy nie in die swemkuil gaan lyf natmaak nie.
Maar wees net gewaarsku: Dis yskoue bergwater. Klim teen die kante uit en gly oor die rotse tot in die ysige water. Dis voorwaar die natuur se eie waterglybaan. Wees op die uitkyk vir wilde aronskelke en ander pragtige veldblomme wat bo die bergpoel groei.
Ponieritte in die omgewing is altyd ’n wenner vir die kleinspan.
Koste: R40 p.p. vir ponieritte, maar onthou, jy kan dit net oor naweke en in skoolvakansies doen.
5. Kyk wild en beleef ’n skilderagtige sonsondergang
’n Wildsrit is die moeite werd, maar moenie die Groot Vyf verwag nie. Jy sal onder meer elande, ribbokke en bergkwaggas sien. Ry laatmiddag na die Langtoondam en wag om te sien hoe die son die paddastoelrotse skilderagtig verkleur. Dit is beslis iets om te aanskou!
Maak op pad terug ’n draai by die aasvoëlrestaurant, al is dit net om al die geraamtes te sien. Wees op die uitkyk vir die witkruisarende en die baardaasvoël (lammervanger).
Koste: Bewaringstarief: R19 p.p. (Suid-Afrikaanse burgers); gratis vir Wild Card-lede. Vir dié geld kry jy toegang tot voetslaanpaaie, jy kan wildsritte in jou eie voertuig doen en piekniek hou.
Kontak: Golden Gate- nasionale park 058 255 1000; www.sanparks.org
terug na groot vyf | Terug na bo
Gelewer op 25 Februarie 2011 | 08:00:18
Fantastiese plek - net jammer van die deurpad (met TAXIs galore)!
Gelewer op 14 Januarie 2011 | 14:42:46
Ons was self nou vir 'n paar dae oor kersfees in die rondawels oorkant die kampplek - dit was kos vir jou siel, jy lewe so na aan jou Skepper met al daardie pragtige natuurskoon rondom jou. Ek stem saam dat die staproetes vir almal is ongeag hoe fiks of onfiks jy is - ons beplan om weer so te maak as dit die Here se wil is. Hennie & Greta


















Kommentaar