Mapungubwe mág maar!
Ná sy tiende besoek aan die Mapungubwe- nasionale park deel Villiers Steyn sy vyf gunsteling-doendinge in dié jong park in Limpopo.
Besprekings
Sanparke 012 428 9111; www.sanparks.org
Mapungubwe-ontvangs 015 534 2014
1. Tuur oor 'n buurland
By die uitkykpunte bo die samevloeiing van die Limpopo- en Shashe-rivier is ’n skaduryke piekniekplek.
Aan die suidekant lei ’n voetpaadjie jou na die Pinnacle-dek wat uitkyk oor ’n groot, rotsagtige vlakte.
Aan die noordekant kronkel ’n steil voetpaadjie teen die heuwel uit tot by vier afsonderlike houtdekke. Elke dek het ’n unieke uitsig oor die samevloeiing van die twee riviere wat Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe skei. Wees op die uitkyk vir witkruisarende.
2. Bekyk die woud van bo
Beleef die Limpopo-oewerwoud van die boomtop-wandeldek af.
In die somermaande is die koorsbome ’n goeie plek om na die skaars geelbektroupant te soek.
Spits jou ore vir sy kenmerkende harde krasgeluide. Vir etlike honderde meter stap jy met ’n paaltjiesbrug 4 m bo die grond deur die woud tot by ’n skuiling op die rivieroewer. As jy gelukkig is, loop ’n trop olifante onderdeur die brug! Die wandeldek is rolstoelvriendelik.
3. Steek kers op by 'n kundige
Nóg lekker maniere om Mapungubwe te verken:
’n Erfenistoer: Besoek Mapungubwe-heuwel saam met ’n gids op ’n toer van drie uur.
(Koste: R115 p.p.)
Wildsrit: Verken die park bedags of saans in ’n oop voertuig saam met ’n veldgids wat die omgewing ken. (Koste: R140 p.p.)
Oggendstap: Ontdek die kleiner wonders van die veld saam met ’n veldgids. (Koste: R245 p.p.)
4. Soek die grootvoete
'n Kombinasie van klipkoppies en oewerwoud maak van Mapungubwe ’n luiperdparadys.
Die beste tyd om dié nagjagter te sien, is om voor sonop die koppies en plantegroei langs die rivierpaadjies te fynkam.
As jy vroegoggend eerste op die pad is, verklik vars spore watter diere dalk in die omtrek is. ’n Mens sien ook heelwat ander diere as jy stadig ry en die kans is goed dat jy van die park se olifante sal raakloop!
5. Sonbaai saam met die swartoogtiptolle
Die swembad van Mapungubwe se hoofkamp, Leokwe, lê tussen die sandsteenrotse.
’n Afdakkie sorg vir skaduwee en die houtdek is die ideale plek as jou bene ’n bietjie bleek is. As jy stil lê, kom swartoogtiptolle, rooirug- en klipstreepkoppies, blousysies en geeloogkanaries binne skinderafstand van jou af water drink.
’n Olifantbul het my eendag verras deur ’n klipgooi van die swembadrand af te wei. Slegs oornagbesoekers mag die swembad gebruik.
terug na groot vyf | Terug na bo
Gelewer op 4 Augustus 2011 | 04:57:17
Weeeee, what a quick and easy soulotin.
Gelewer op 19 Julie 2011 | 15:32:22
Noem ons maar "locals"maar ons besoek die park gereeld.Dis lekker om gou vir 'n Sondag oggend die grootvoete te gaan soek.Baie besoekers mis die mooiste deel van die reservaat met sy rooi warm rotse aan die suidekant van die tent kamp. Net geduld en heelwat olifante kom drink water tussen die mopanies,van die grootste elande,koedoe bulle,tsetsebies en ander vlakte wild al hier gekry en 'n trop wildehonde in 2010. Ongelukkig net 4 trek voertuig (gewone hoog bakkie) sal dit maak as jy kan bestuur maar absoluut die moeite werd.Net gedult dan sal jy ook luiperd, hiena kroonarend en vele meer sien. Die beste is as jy teruggaan huistoe het jy beslis 'n nuwe huppel in jou trippel,geniet dit!
Gelewer op 7 April 2011 | 23:08:22
Slaap gerus oor by Magorgor Safari Lodge (Sien onder "Akkommodasie") 18km suid van Musina en gaan vir daguitstappies na verskillende plekke in die omgewing waaronder Mapungubwe en vele ander.



















Kommentaar