Previous Next

Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Reservaat: Dronfield-natuurreservaat


Kimberley en die bekende Kamfersdam waar flaminke broei, lê net regs van hierdie lugfoto van die ruskamp by die Dronfield-natuurreservaat.
zoommore

Kimberley en die bekende Kamfersdam waar flaminke broei, lê net regs van hierdie lugfoto van die ruskamp by die Dronfield-natuurreservaat.

Navorsing het getoon die sy van die Molopo-ruspe se kokon, wat op kameeldoringbome gevind word, is sterker as tradisionele sywurms s"n. Maar die sy veroorsaak ook veevrektes, want dit kan in die ingewande verstrengel raak.
zoommore

Navorsing het getoon die sy van die Molopo-ruspe se kokon, wat op kameeldoringbome gevind word, is sterker as tradisionele sywurms s'n. Maar die sy veroorsaak ook veevrektes, want dit kan in die ingewande verstrengel raak.

Net ’n klipgooi anderkant Kimberley kan jy gaan kyk hoe ’n klomp aasvoëls rondom ’n karkas feesvier en ’n witrenoster met stywe boudjies oor die veld draf. Dronfield is een van die beste plekke in die land om witrugaasvoëls te kom kyk – hier hou sowat 80 broeipare. 

Die afdraaipad na Dronfield lê 5 km noord van die Ultra City in Kimberley, maar as dit nie vir die kragmaste was wat hierlangs loop nie, sou jy gedink het jy’s diep in die grammadoelas. 
“Dis jammer oor die kragdrade,” sê Terrence Mabi, die assistentbestuurder wat al drie jaar hier is en saam met ons ry, “maar dit bly ’n baie mooi natuurreservaat.” 
Gelukkig is dié maste lekker sitplek vir die aasvoëls. Hulle geboë silhoeëtte is teen die lug afgeëts. Die veld lyk pragtig en ’n paar wolke bondel saam. Die kameeldoringtakke hang laag van die saadpeule en oral fladder skoenlappers oor die heuphoogte gras in die rooi Kalaharisand. Die reën was vanjaar laat, maar dit was goeie reëns. 

Die grond behoort al sedert 1888 aan die De Beers-myngroep. Dit was destyds deel van die Kenilworth-landgoed en is vroeër gebruik as “mynvloer”, ’n plek waar rotsstukke en diamante gesorteer is, en as veeplaas. Dit was tot omstreeks 2004, toe die Dronfield-reservaat van 8 000 ha gevestig is en wild ingebring is om meer toeriste Kimberley toe te lok. In 2005 is ’n paar chalets gebou. 

Dronfield is ’n voor die hand liggende oorslaapplek as jy oor Kimberley pleks van Bloemfontein Kaap toe ry van Gauteng af, of andersom. Jy mis dan sommer ook al daai langpadlorries op die N1.

Hier is 5 van die beste doendinge by dié reservaat:

1. Slaap oor


’n Bordjie bo die chalet se braaiplek sê: “Hier bly nonnetjie-uile in jou chalet. Kyk, leer en geniet!”
Die aand by die braaivuur (vuuraanstekers, hout en houtskool word verskaf) hoor ek ’n nonnetjie-uil se onaardse gekrys daar links iewers in die donker, maar die uilpaar is seker op ’n muisjag diep in die bos, want ons kry hulle nie te siene nie.
Later keftjank ’n rooijakkals. Jy moet fyn luister om ’n vragmotor op die N12 te kan hoor verbydreun, al is jy net 5 km van die pad af. 
Elkeen van die ses chalets staan in sy eie boskasie bome en van die stoep af het jy ’n uitsig oor die Kimberley-doringveld. Dalk sien jy en ’n eensame rooihartbees mekaar oor oggendkoffie.
Jy kan ook sommer hier van die stoep af heelparty voëls sien. Voor jou beskuit geweek is, sien jy ’n akasiagrysmees, ’n bosveldtjeriktik en ’n paar bontroklaksmanne.


2. Soek na Sparkplug, die renoster


Die reservaat se sanderige paaie is maar gewone plaaspaaie met ’n lelike knik hier en daar – dis geskik vir ’n gewone motor, maar geriefliker in ’n bakkie of veldwa wat lekker hoog bo die grond loop.

As jy bang is jy maak jou Langley seer, kan jy op een van die reservaat se begeleide wildsritte gaan. As jy fyn kyk, behoort jy blouwildebeeste, elande, gemsbokke, duikers, koedoes, impalas, sebras, spring­bokke, steenbokke en rooihart­beeste en verskeie klein soogdiere te sien.
Wees ook op die uitkyk vir een van die karakters van die reservaat, Sparkplug, die renosterbul, rondom die Picardi-heuwel in die middel van die reservaat. 
Sparkplug het sy naam gekry oor hy slim genoeg was om deur ’n hek te probeer breek wat nié geëlektrifiseer is nie om by ’n jong dingetjie uit te kom op die buurplaas, Ingelwood. Die opgefrommelde hek lê steeds langs die elektriese heining.

Inglewood behoort ook aan De Beers en is ’n plaas van 3 000 ha (30 km²) waar skaars wild soos swartwitpense, bastergemsbokke en tsessebes geteel word, en ook kameelperde en buffels.
Jy kan nie Inglewood besoek nie, maar aan die Dronfield-kant sien jy dalk ’n paar bastergemsbokke en swartwitpense – jong bulle wat ter wille van hulle eie veiligheid van die dominante bulle in die Inglewood-troppe weggehou word. 
Corné sê die ideaal is dat die heining verwyder word – dit sal die reservaat 11 000 ha maak – maar jy kan nie die tsessebes by die rooihartbeeste laat uitkom nie, want hulle sal kruisteel.

Koste? ’n Begeleide wildsrit kos R450 vir tot 4 mense, en dan R80 ekstra vir elke persoon (maksimum van 8). Die rit duur twee uur en besoekers van buite word by die hek opgelaai. As jy drie nagte oorbly, kry jy ’n gratis wildsrit. (Nota: Pryse akkuraat in April 2010)
 


3. Kuier by die aasvoëls


Vandag is hier by die aasvoëlrestaurant ’n hele paar witrugaasvoëls en een manjifieke swartaasvoël wat aan ’n elandkarkas weglê. Ons het met die wildkyk-voertuig tot onder ’n afdak gery en van daar af in ’n lang gang geloop tot binne-in die aasvoëlskuiling agter ’n eenrigtingglas, naby die groot voëls. 

Die voëlkenner Mark Anderson is by ons. Hy het menige Saterdag self aan die restaurant en skuiling gebou toe hy nog vir die Noord-Kaapse regering gewerk het. Mark (deesdae direkteur van Birdlife SA en skrywer van Weg se Vlerksleep-rubriek) het jare lank dié voëls wat in kameeldoringbome nesmaak, gemerk en gemonitor. Sy vrou, Tania, was vroeër ’n gimnas en
sy’t in die bome opgeklouter om by die kuikens uit te kom. 
Ná die restaurantbesoek hou Mark by ’n kameeldoringboom met ’n aasvoëlnes stil. Hy vertel dié nes was eens die tuiste van Alpha, een van vier aasvoëlkuikens aan wie wetenskaplikes ’n GPS-toestel gesit het om hulle beweging te monitor (die name van die ander drie was Angus, Acacia en Amur).

Waar? Soek die aanwysingsborde op die reservaat se hoofpad. Dis ’n goeie plan om met ’n bakkie te ry as jy op jou eie gaan, want die pad is plek-plek sleg. 
Wanneer? Daar word net kos vir die aasvoëls uitgesit wanneer iets beskikbaar is. Die veediefstaleenheid verskaf soms karkasse. Met ons besoek was die dag se karkas ’n blinde elandkalfie wat van kant gemaak moes word.


4.Vra Henry oor die geveerdes


Henry van Wyk het vinnig naam gemaak as voëlgids in ’n gebied waar dit moeilik is om ’n lewerik en ’n koester van mekaar te onder-skei – vaal voëltjies gee selfs die mees ervare voëlkyker grys hare. Al is hy heeldag en aldag in die veld, is dié werk nie heeltemal sonder stres nie, verduidelik Henry. Mense ry partykeer die hele pad van Johannesburg af om net een skugter soort voëltjie op hulle voëllysie af te merk, en dan moet arme Henry een van daai voëltjies opspoor. Hy sê dit kan hom tot agt uur in die veld kos voordat hy hulle tevrede stel.

Henry het grootgeword as plaaswerkerseun op Sidney-on-Vaal, wat later die Vaalbos- nasionale park (nou gedeproklameer) geword het. Hy vertel hoe hy as kind voëls met sy kettie geskiet en hulle oor die vuur gebraai het, maar deesdae is hy Kimberley se bekendste voëlgids. 

Dis Henry wat die beseerde aasvoël raaksien. Die voël word in ’n boks gesit sodat die veearts op die dorp later kan kyk of hy behandel kan word. 

As jy ’n toer by Henry bespreek, neem hy jou ook na Benfontein, nog ’n De Beers-eiendom suidoos van Kimberley. Dis ’n groot pan waar dit makliker is om party van Kimberley se spesialiteite, soos die langstertkoester, te sien. En hy sal ook sommer langs die spoorlyn by Kamfersdam stilhou sodat jy die bekende klein-flaminke van nader kan bekyk (die dam is aan die ander kant van die N12 as Dronfield).

Koste?
Dit kos R350 vir drie uur van Henry se tyd. ’n Uitstappie van ses uur sal jou R700 kos. Hy sal saam met jou in jou eie voertuig ry. (Nota: Pryse akkuraat in April 2010)

Kontak? Dronfield-kantoor 053 833 7175; Henry 083 744 9174


5. Kuier by die bure


Dronfield is een van drie De Beers-reservate in die Kimberley-omgewing. Die ander twee is
beslis ook ’n besoek werd.

Benfontein, die 110 km²-reservaat suidoos van Kimberley, langs die N8 Bloemfontein toe, het ’n klein kampeerterrein op gras onder lang bloekoms.

Die pan beslaan die grootste gedeelte van die reservaat. Jy mag nie op jou eie op die pan ry nie, maar dis die tuiste van een van die suiwerste bevolkings van swartwildebeeste (waar swartwildebeeste saam met blouwildebeeste voorkom, kruisteel hulle soms) in die land, ’n groot trop springbokke en nagdiere soos die maanhaarjakkals en die swartpootwildekat. 

As jy op die R64 in die rigting van die Kgalagadi ry, gaan jy verby Rooipoort, ’n groot reservaat van 400 km² wat vir 32 km aan die Vaalrivier front.

Hier is ’n trop van 300 elande en meer as 4 600 rotstekeninge by Boesmansfontein.  Cecil John Rhodes het beveel dat ’n “shooting box” hier opgerig word – dis ’n sinkjaghuis wat soos ’n hengse groot Mechanostel van Engeland af verskeep is en hier aanmekaar gesit is. Rhodes het egter nie ’n enkele nag hier deurgebring nie. 
Maar die verborge skat by Rooipoort is sy safarikamp, sowat 20 km se grondpad van die hoofroete af. Hier’s agt groot safaritente met ondervloerse verhitting en en suite-badkamers. Dit lê tussen lieflike kameeldoringbome met ’n lapa, kombuis en eetkamer. 
In die winter is dit gewild onder trofeejagters, hoofsaaklik uit Texas in die VSA, maar buite die jagseisoen kan jy hier bly teen ’n betreklik billike R500 per nag vir ’n tweebedeenheid. (Nota: Pryse akkuraat in Junie 2009)

Talle voëlklubs het al hier gebly, want Rooipoort word bestuur deur Andrew Stainthorpe, ’n lid van die 700-klub (dis mense wat al meer as 700 voëlspesies in Suid-Afrika gesien het). As jy hom mooi vra, sal hy jou help soek na die skaars geel weergawe van die rooiborslaksman. (Oppas, dit kan ure neem.)


Dronfield in 'n neutedop


Verblyf: 6 chalets

Elektrisiteit: Ja

Selfoonontvangs: Sporadies

Winkel: Nee

Brandstof: In Kimberley

Restaurant: Nee

Braaigeriewe: By al die chalets

Troeteldiere: Nee

Swembad: Ja

Aktiwiteite: Voëlskyk, wildkyk, swem en sommer op die stoep sit.


Vinnige feite oor die 3 reserwes

(Nota: Pryse akkuraat in April 2010)

• Dronfield
Verblyf: Ses chalets, drie met slaapplek vir twee (R520 per nag) en drie met plek vir vier (R820 per nag). Die groter chalets het twee enkelbeddens en ’n slaapbank geskik vir kinders onder 12.
Al die chalets het lugreëling en hier is ’n swembad. 
Kontak: Bel Cindy Carls, 053 8388223
Hoe kom ek daar? Die afdraaipad is aan die N12 oorkant Kamfersdam, 5 km van die Shell Ultra City/Flamingo-casino aan die noordelike buitewyke van Kimberley.

• Benfontein
Verblyf: Kamp op gras, onder bloekombome (oppas net vir die blouape). Hier is badkamergeriewe met warm storte. Dit kos R85 vir die eerste twee mense, R25 vir kinders onder twaalf en R50 vir volwassenes met ’n maksimum van ses mense per plek.
Kontak: Bel Cindy Carls, 053 8388223; cindy.carls@debeersgroup.com.
Hoe kom ek daar? Benfontein is 12 km van Kimberley af, langs die N8 Bloemfontein toe (die afdraai is oorkant die Vrystaatse grensbord).

• Rooipoort
Verblyf:
Die 16-bed-safarikamp bestaan uit agt en suite-“seiltente” met twee beddens elk (R520per nag per tent). Hier is ’n gemeenskaplike lapa, kombuis en eetkamer. Jy moet 20 km grondpad ry. 
Kontak: Vir besprekings by Rooipoort, bel Truia Vermeulen,053 8388221; truia.vermeulen@debeersgroup.com
Hoe kom ek daar? Die afdraai is 53 km buite Kimberley op die Schmidtsdrift-pad (die R64).
Nog inligting: www.diamondroute.co.za


Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek