Reservaat: Spioenkopdam

Omtrent 15 km se paaie lei jou na waar kameelperde, rooihartbeeste, elande, blouwildebeeste en sebras dalk wei.
Die ses uur tussen Gauteng en die Natalse kus kan ’n mens maklik kafdraf, maar hoekom dit nie eerder rustig vat en ’n aand of twee by die Spioenkopdam oorbly nie?
Spioenkopdam 101
Verblyf: 30 kampeerplekke langs die dam en ’n boskamp met plek vir vier mense.
Winkel: By ontvangs kan jy die nodigste kry, anders by Winter-ton 14 km verder.
Selfoonontvangs? Ja.
Braaigeriewe? Ja.
Troeteldiere: Verbode.
Ure: 6 vm.-6 nm.
Kontak: Ezemvelo 036 488 1578; www.kznwildlife.com
(Nota: Alle pryse akkuraat in Januarie 2009)
Lê jou kop hier neer:
Kampeerterrein
Die ablusiegeriewe is basies, maar jy kamp langs die dam. Hier is 30 staanplekke met elektrisiteit.
Koste: R60 vir volwassenes, R30 vir kinders.
iPhika-kamp
Dit beteken “uitasem” – vanweë die steil helling op na Spioenkop. Die tentkamp aan die noordekant van die reservaat is geskik vir ’n gesin of vier vriende – daar is plek vir twee mense elk in twee safaritente; julle deel ’n badkamer met ’n buitelugstort.
In die somer kan ’n mens om die vuur kuier en binne die toegeboude lapa is ’n Jetmaster vir koue aande. Hier is geen elektrisiteit nie, maar wel ’n yskas wat met gas werk.
Koste: R190 per volwassene; R95 per kind (jy moet ’n minimum van R380 betaal om hier te kan bly).
Reservaat
Koste: R20 per persoon. (Gratis met ’n Wild Card of Golden Rhino-kaart van KZN Wildlife.)
Tye: 6 vm.-6 nm.
Hoe kom ek daar?
Van Gauteng af: Op die N3 suid, neem die Bergville-afrit (R616) na links.
Draai 500 m verder by die T-aan-sluiting links na Ladysmith en volg die pad vir 5 km voordat jy regs draai op die R600 na Winterton. Ry 25 km tot by die ingang op regterkant.
Van Durban af: Op die N3 noord, neem die R74-afrit Winterton toe na regs. Draai 1 km verby Winterton regs op die R600 en ry nog 13 km tot by die reservaat se indraai op linkerkant.
Na Spioenkop-slagveld: Ry by die reservaathek uit en draai by die T-aansluiting met die R600 links in die rigting van Ladysmith. Draai 12 km verder links op die grondpad by die “Brakfontein”-bord. Ná 5 km kom jy by ’n T-aansluiting. Draai weer links en ry nog 5 km na die slagveld se hek.
Wat kan ek sien en doen?
1. Kyk en geniet
Daar is amper 30 renosters in die reservaat, dus behoort jy een te sien wanneer jy met die paadjies aan die suidekant van die dam gaan ry. (Jy mag net aan die noordekant inry as jy by die iPhika-tentkamp oorbly.)
Nadat die dam gebou is, is die smal strook grond rondom deur die departement van waterwese bestuur voordat dit in Julie 1975 tot ’n reservaat geproklameer is.
Dit beslaan tans 60 km2 (6 000 ha). Omtrent 15 km se paaie lei jou na waar kameelperde, rooihartbeeste, elande, blouwildebeeste en sebras dalk wei. Hier is ook 270 voëlspesies.
’n Mens mag by die iPhika-tentkamp stap as jy daar oorbly. Reël dat ’n bewaarder jou vergesel as die renosters jou senuagtig maak.
Koop ’n (ouerige) gids oor die reservaat by ontvangs teen R3. Dit bevat ’n soogdier- en voëllys.
2. Inleiding tot Spioenkop
Voordat jy na die slagveld ry, besoek eers die museum in die reservaat oor die beleg van Ladysmith. Hier is genoeg kaarte, foto’s en selfs ’n skaalmodel van die slagveld om jou mooi te laat verstaan hoe dit verloop het. Daar is ook ’n paar uitstalkaste, met onder meer ’n teekannetjie uit die tyd van die beleg wat uit ’n boeliebiefblik gemaak is.
Tye: 8 vm. tot 4.30 nm. op weekdae (4 nm. op naweke en vakansiedae). ’n Boekie met 12 bladsye oor die slagveld kos R6.
3. Bestyg die slagveld
Hoewel die Spioenkop-slagveld nie deel van die reservaat is nie, kan ’n mens nie hierheen kom
sonder om aan die agterkant van die koppie op te ry en die geskiedenis voor jou geestesoog
te laat herleef nie. (Jy mag wel van iPhika-tentkamp af opstap, maar dan moet jy jou eie weg baan.)
By die hek van die slagveld kry jy ’n inligtingspamflet wat jou op die roete om die kruin begelei.
Volg die kabel op die grond. Laat minstens ’n uur en ’n half toe vir jou besoek.
Tye: 9 vm. tot 5 nm.
Koste: R20 p.p.
4. Doen die dam
Toe die Spioenkopdam in die jare sestig gebou is, was die plan om die water na die Wilgerivier in die Vrystaat te pomp, van waar dit in die Vaaldam sou vloei om Gauteng se dors te les. Uiteindelik is die Woodstockdam hoër op in die Thukela vir dié doel gebou.
Deesdae verskaf die Spioenkopdam water aan Ladysmith en dis ’n speelplek vir watersportgeesdriftiges. Die dam is ideaal vir bootry, behalwe in die bergwindseisoen van Augustus tot Oktober wanneer die water effens omgekrap kan raak. Registreer jou boot by ontvangs. (Van Maart af moet jy ’n geldige skipperslisensie hê.)
Jy kan baber, karp, Natalse geelvis of kurper uittrek. Onthou om skriftelike toestemming te kry as jy snags wil lyn natmaak. Jy mag ook in die dam swem.
Hier is twee piekniekterreine vir dagbesoekers en twee visvangplekke.
5. Galop tussen die diere
Omdat die Spioenkopdam ’n ontspanningsgebied was voordat dit tot reservaat verklaar is, word perderitte al langer as twintig jaar hier aangebied, vertel die reservaat se hoof, Gordon Smith.
Bespreek vooraf vir ritte wat daagliks om 8 vm. en 2 nm. ver-trek. Ruiters moet ouer as 12 wees. Dalk sien jy ’n renoster!
Koste: R110 p.p.
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar