Reservaat: Ndumo
Met meer as 430 voëlspesies is die Ndumo-reservaat, op die grens tussen KwaZulu-Natal en Mosambiek, as’t ware die Loftus vir Suid-Afrika se voëlkykers. Maar hier is ook oorgenoeg ander diere vir wildkykers.
Ndumo-reservaat 101
Verblyf: 8 kampeerplekke met kragpunte (3 mense per staanplek). R106 p.p.p.n.; R53 vir kinders onder 12. Ook 7 tweemanrondawels (R286 p.p.p.n.; R143 vir kinders onder 12). Geen troeteldiere nie.
Winkel: Doen jou inkopies op Jozini, sowat 70 km van Ndumo af. Die reservaat se winkel het net die basiese dinge soos toiletpapier en seep. Die polonie in die Spar op die gehuggie Ndumo net buite die reservaat is onhebbelik duur.
Selfoonontvangs: Plek-plek.
Braaigeriewe: Ja. R15 vir ’n bondel hout by die hek.
Aktiwiteite: Begeleide staptoere, wild- en voëlkyk.
Hektye: 6 vm. tot 6 nm. (April tot September); 5 vm. tot 7 nm. (Oktober tot Maart)
Bewaringstarief: R40 p.p., R20 kind en R35 per voertuig. As jy oorbly, hoef jy nie te betaal nie. Nndumo aanvaar jou Wild Card.
Kontak: Reservaat: 035 591 0004; 033 845 1000 ; http://www.kznwildlife.com
(Nota: Alle pryse akkuraat in Mei 2009)
Hoe kom ek daar?
Van Durban af. Vat die N2 noord. Draai 11 km ná Mkuze regs na Jozini, sowat 20 km verder. Van Jozini is dit 42 km-teerpad, voor jy regs draai na Ndumo. Sowat 10 km verder draai jy af na links. Nou’s dit grondpad vir sowat 15 km.
Wat kan ’n mens hier doen?
1. Van uitkykpunt tot uitkykpunt
Ons is op pad na die Nyamithipan om te gaan voëls kyk. Skaars ’n kilometer van die ruskamp
af sien ons ’n renosterkoei en haar kleintjie wat wei, skaars vyf treë van die pad af.
’n Entjie verder maak ’n kameelperd hom in die middel van die pad tuis. ’n Mens kan nie help om te voel dat hy so ’n bietjie op jou neersien nie.
By die Nyamithi-pan moet jy jou motor in die parkeerterrein los en sowat 600 m alleen stap tot by die Ezulweni-skuiling. Ons kyk uit vir omgekrapte seekoeie voordat ons dié niemandsland oorsteek.
Ons sit vir omtrent ’n uur en tuur oor die pan. Seekoeie nurk-nurk, krokodille klief lui deur die water en óral is watervoëls.
Gaan maak ’n draai by die uitkyktoring by die hoofhek. Jy kry ’n uitsig oor die hele reservaat.
Dis ook ’n lekker uitstappie om na die Shokwe-pan toe te ry om te gaan wild soek. En as jy ’n parate trokkie het, kan jy die Mtikini-4x4-roete (6,3 km) kafdraf.
Weg sê: ’n Gewone sedan sal jou by die meeste plekke in die reservaat bring, maar wees versigtig as dit reën.
2. Beleef die natuur op jou voete
“Whaaaaa-wheeeee-whaaaaa!” weergalm die boskraairoep van Sonto Thembe, een van Ndumo se gidse, terwyl ons langs die Shokwe-pan stap. “Dis al op 50/50 uitgesaai,” sê hy.
“Whaaaaa-wheeeee-whaaaaa!” antwoord ’n boskraai van die ander kant van die pan af. Skaars 10 m voor ons lê vier krokodille teen die oewer. Jy sien net neusgate bo die water uitsteek.
Ons is vanoggend om vyfuur al weg by die boskamp, en het die kar iewers in die bos gelos en agter Sonto begin aanstap. Hy doen dié werk al 26 jaar lank. Hy dra ’n gelaaide geweer en wéét gelukkig hoe om dit te gebruik.
In 2005, vertel hy, is hy en ’n groep toeriste op so ’n stap deur ’n seekoei bestorm. “The people were screaming ‘Sonto! Sonto!’.
“I gave him one shot through the head,” sê hy effens hartseer. “Hippos are big dangerous. Big,
big dangerous.”
Ons stap deur die haak-en-steekbosse terwyl Sonto al daardie dinge uitwys wat ons stadsoë maklik miskyk: hier het ’n ystervark iets uitgegrawe, daar sit ’n piet-my-vrou.
By die pan is dit net jy en die krokodille en die voëls se gekwetter.
Sonto se geoefende oë wys hulle een vir een uit: bontvis-vanger, grootlangtoon, reusereier, grootwitreier, kleinwitreier...
’n Uur en ’n half lank wys hy ons rond voordat ons die pad terug vat kamp toe.
Koste? R80 per persoon. Halfprys vir kinders onder 12. As jy jonger as 3 is, is dit verniet. Jy moet die dag vooraf bespreek by die winkel.
Weg sê: ’n Man wil nou nie poëties raak nie, maar daar is iets heiligs aan só ’n uitstappie.
3. ’n Begeleide wildsrit
“Toks! Toks! Sien jou hom? Daar bo! Dis ’n geelbektroupant! Is dit ’n lifer vir jou, Toks?” vra Derick Labuschagne, wat saam met ons op die wildsrit is.
Toks kyk deur sy verkyker en spoor die voël op. Dis al skemer en bo ons lê die grys reënwolke dik.
Langs die voertuig staan ’n bosvark op sy knieë en gras vreet. Hy kyk net nou en dan
op vir ’n foto. ’n Entjie terug het die gids, Bongani Mkhize, vir ons ’n krokodil uitgewys wat in ’n waterstroompie lê en wag vir die rooibokke om te kom suip.
Bongani en die voëlkykers wys die geveerdes vir ons uit: Nimmersat, driebandstrandkiewiet, reusereier...
Skielik begin die donderweer rammel en die sluise maak oop. Ons rit word kortgeknip.
Die krokodil lê nog en wag toe ons terugry.
Koste? R180 per persoon. Halfprys vir kinders onder 12 en gratis vir kinders jonger as 3.
Weg sê: Dié rit is die moeite werd. Die gidse weet wat hulle doen en vat jou na waar jy nie alleen mag ry nie.
Lees die res van die storie
Terug na bestemmings | Terug na bo

























Kommentaar