Boksburg se Wild Waters
Lawwe (en natuurlik onregverdige) grappies oor Boksburg is so volop soos regterbaanryers op
die Kaap se snelweë.
Soos die een wat so baie vertel is toe die land se eerste meganiese see – mét branders – in die jare tagtig by Boksburg se Wild Waters geïnstalleer is: Wat gebeur as jy deur Wild Waters se haainette swem? ’n Cortina ry jou dood…
Dis hier by Wild Waters waar die internetster, die gespierde Vernon Koekemoer, by ’n H2-ravepartytjie “ontdek” is.
Selfs die Liedjieboer, Anton Goosen, sing oor die plek in “City/Stad”:
City/Stad by Boksburg waar die Wild Waters klotsmensgemaakte branders teen’n mensgemaakte rotsJa, hier’s alles in Egoli op ’n mooi vakansiedag.
Ons parkeer juis vanoggend hier voor die hoofhek van die wilde waters. Net buite die hek
lê ’n wit VW Fox windmakerig laag op sy asse (“dropped sus-pension”, sê die ouens wat weet). Langsaan, sommer op die sypaadjie, sit ’n jolige groepie op kampstoele en Black Label-bier
uit botteltjies drink.
Ons betaal en ons is in. Die sonnetjie bak lekker. Sweerlik die hele Boksburg is hier op die graswalle. Hier is gesonde lywe in bikini’s, minder gesonde lywe in bikini’s, sonbruin lywe in mooi baaikostuums, sonrooi lywe in bont swembroeke en een bulletjie in ’n kamoefleermotiefbroek met ’n ketting om sy nek.
Die “see”, wat elke halfuur of wat vir omtrent tien minute aangeskakel word, wemel van die mense. Dis ’n bietjie soos die Hartebeespoortdam op ’n baie winderige dag, net met skoner water.
Langs die branders staan ’n menseredder, blykbaar geïn-spireer deur Baywatch se Mitch Buchanan (ja, David “The Hoff” Hasselhoff), kompleet met die Aviator-sonbril, rooi broekie
en ysere uitdrukking op sy gesig. Vir ’n mens wat van die kusaf kom, is dié “brandertjies” on-
indrukwekkend. Maar die jong klompie jil en spat. Die waterritte is – teen my verwagting in – vet
pret. Hier’s ’n baie groot water-wurm. Van bo af kan jy die hele Boksburg sien. En dan is hier
’n hengse glyplank – die Speed Slide. Dis vínnig. Jy dink nog jy begin, dan’s jy al klaar.
Maar die Kamikaze is nóg vinniger. Dié ry jy sittend op ’n plank teen ’n helling van bykans 45º. Ek is eers huiwerig, maar toe ek hom eers geproe het, kan jy my nie keer nie. As jy spoed like, sal jy soos ’n poedel wees wat ’n braaitjop geruik het.
As jy iets rustigers wil hê, probeer Boksburg se weergawe van die tjoeprit. Jy dobber stadig stroom-af in ’n kanaal, met hier en daar ’n versnelling, maar jy kom darem met jou perm nog mooi styf onder uit. En as jy om-val, is daar van Mitch se maats in rooi swembroeke om te help.
Ná al die jare is dit steeds ’n heerlike uitstappie, veral een wat die kinders sal geniet.
Hoeveel? R85 per persoon vir die hele dag. R60 vir kinders.
Kontak: http://wildwaters-boksburg.co.za; 011 826 1122
Weg sê: Bring jou hout, tjops en Russians – jy kan braai!
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar