Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Gold Reef City


Dis effens duur, maar steeds verreweg Johannesburg se beste gesinsuitstappie.
zoommore

Dis effens duur, maar steeds verreweg Johannesburg se beste gesinsuitstappie.

In Johannesburg, waar ek grootgeword het, is elke kind se droompartytjie ’n uitstappie na Gold Reef City.

In die Kombi op pad soontoe het ons al grootgepraat oor wie die meeste op die Looping Star gaan ry – dis daai groot, wit rollercoaster wat jy van die snelweg af sien – terwyl almal heimlik wonder of hulle al lank genoeg is. As jy korter was as die uitgestrekte hand van die glasveselmynwerker by die hek (1,2 m), mog jy net op die babaritte ry, dinge soos die vlieënde Dumbo-olifante. 

En as jy wel lank genoeg was vir die Looping Star of die Coco Pan – so ’n moewiese swaai wat jou amper onderstebo vat – was dit asof jy tot ’n geheime bende toegelaat is. 
Gerugte het geloop dat as jy die Looping Star te veel keer ná mekaar ry, jy alle gevoel in jou liggaam verloor. Een van my maats het dit probeer, maar al wat gebeur het, was dat hy spookasem oor sy skoene opgegooi het.

Dis vyftien jaar later en hier staan ek weer in die ry vir die Looping Star, wat nou geel geverf en tot die Golden Loop herdoop is. Dis effens kleiner as wat ek onthou, maar my maag maak nietemin ’n paar draaie... 
En ek is nie die enigste ene nie. “Ek moes nie daai burger geëet het nie,” sê die seuntjie agter my. 

In Maart 2009 het Gold Reef City self ’n groot 21ste verjaardagpartytjie gehou.
Die deel rondom die ou goudmyn, die kamma-myndorpie wat ek uit my jongdae onthou, het nie te veel verander nie, maar hier’s deesdae ook ’n blink nuwe vermaaksentrum met ’n casino, hotel en konsertsaal. 

Die Golden Loop is nie meer die vreesaanjaendste rit in die pretpark nie. Deesdae is die Anaconda, met meer kinkels as ’n hele seisoen van 7de Laan, die gunsteling.
Die Coco Pan is afgebreek, maar die nuwe Tower of Terror is net so skrikwekkend. En jy sal bly wees om te hoor die Raging River Rapid, ’n ou gesinsgunsteling, kabbel steeds lustig voort. 
Tog bly die Golden Loop my gunsteling. Ek gaan sit so ver as moontlik van die seuntjie met die maagpyn en trek die veiligheidsharnas nader...

Mense giggel en pomp mekaar in die ribbes. En dan, met ’n geknars, word die rem losgemaak
en die tuimeltreintjie skiet soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe. Dis asof jy op ’n weerligstraal ry, onderstebo, regop, onderstebo, en ná minder as ’n minuut is alles oor. 
Dit voel of ’n paar van my organe plekke geruil het – maar soos blits staan ek weer in die ry.

Moenie dit misloop nie. Die Kiddies Corner het hansworse en poppekaste.

Hou verby: Die Pick & Shovel-restaurant. Die burgers is nie waffers nie.

Koste:
R120 p.p., alle ritte ingesluit. Kinders wat onder die myner se hand kan deurstap (1,2 m): R70. ’n Gesinskaartjie (twee grootmense en twee kinders onder 16) kos R390.
(Nota: Pryse akkuraat in Julie 2009)

Kontak:
011 248 6800; www.goldreefcity.co.za

Weg
sê: Dis effens duur, maar steeds verreweg Johannesburg se beste gesinsuitstappie.

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek