Die Nasionale Dieretuin
Dis ’n pragtige Sondag en mense stroom hier in Boomstraat na die dieretuin toe. Ons sukkel effens om parkeerplek te kry, ontduik ’n knaende roomysverkoper en skiet deur die hek.
Kaart in die hand begin die verkenningstog, want die dieretuin is groot. Die eerste verrassing is die akwarium, met merendeels varswatervisse, soos piranhas.
Hulle lyk nie naastenby so vreesaanjaend soos in Hollywood se flieks nie; ’n mens sou selfs kon sê hulle’s oulik, maar ek sou nie my hand in die tenk wou druk om uit te vind nie.
Dan spring ons in die kabelkar tot doer op die rantjie om die dieretuin soos ’n voël te kan sien. Dis ’n ou sweefspoor en die karretjies is klein en swaai maklik as jy beweeg. Met die landing is ons in leeuwêreld. Wel, leeu- én tierwêreld. Die leeuhok teen die rantjie is darem amper so groot soos
’n rugbyveld.
Amper asof hulle geweet het ons kom, laat hoor ’n paar leeus van hulle met ’n gebrul – mense kom met kameras aangehardloop. In die hok langsaan lê die Bengaalse tier, klaarblyklik verveeld met die geraas wat sy katneef opskop.
Van bo af sien jy die dieretuin is so groot soos ’n paar plotte – 85 ha (sowat 80 rugbyvelde)
met 3 117 soogdiere en meer as 1 300 voëls (party van die diere word in Lichtenburg en Mokopane aangehou).
Die plek het ’n interessante geskiedenis.
Dit is al in 1899 deur dr. Jan Boudewyn Gunning, direkteur van die Staatsmuseum, begin. Hy het diere en voëls wat bestem was om opgestop te word, in die museum se agterplaas aan-gehou. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy hulle na ’n staatsplaas, Rus in Urbe, geskuif, wat geoormerk was vir ’n sogenaamde soölogiese tuin.
Dit het in 1916 amptelik ’n dieretuin geword. Deesdae besoek sowat 600 000 mense dit jaarliks.
Ons los die brullende leeus en gaan kyk wat bied die Australiese uitstalling. Dis die eerste keer dat ek koalabere en kangaroes sien.
Op pad uit kom ons olifante, sjimpansees (kompleet met ’n groepie Japannese wat ywerig foto’s neem), lemurs en ’n rooi panda ook teë.
Vir R45 is dit ’n billike uitstappie. Dis net jammer hier is nie ’n ysbeer nie.
Koste: R45 vir volwassenes; R30 vir kinders tussen 2 en 15.
(Nota: Pryse akkuraat in Oktober 2009)
Kontak: 012 328 3265. Kry ’n dieretuinkaart by http://wiki-mapia.org/1050144/Pretoria-Zoo.
Weg sê: Natuurlik wil ’n mens die diere eerder in hulle eie habitat sien, maar dié is ’n goeie plaasvervanger.
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar