Hou maar jou afstand as die olifantteeltrop oor die pad kom, want Groot Mamma kan moeilik raak. Olifante is volop rondom Skukuza, maar probeer die S3-rivierpad.
Skukuza is die Krugerwildtuin se “hoofkantoor” – daar is van ’n bank tot ’n konferensiesentrum. Met ’n bietjie kennis en beplanning kan jy egter die kamp se stiller kant ontdek.
Skukuza 101
Staanplekke
Skukuza het twee kampterreine – naby die draad en naby die swembad. Die verskil is groot: Die draad-staanplekke het baie skaduwee, maar is op plekke ongelyk. Naby kragboks E2 is ’n lekker gelyk staanplek onder ’n groot doringboom.
As jy naby die swembad kamp, kan jy sukkel om skaduwee te kry, maar die staanplekke is gelyk. Die geraas van die verkeer kan jou egter in die nag pla. Die lekkerste twee staanplekke is in die doodloop geleë, by kragboks A6. Hulle is gelyk, skaduryk en die naaste aan die winkel.
Badkamers: Die badkamers langs die swembad is effens slordig en vuil.
Die twee ablusieblokke langs die draad is beter (die klein ablusie-blokkie se storte is die grootste en skoonste).
Ander geriewe: Hier’s ’n swembad met ’n kinderpoel en klein grasperkie langs die kampterrein. Al twee groot ablusieblokke het ’n wassery met wasmasjiene en droërs, maar geen wasgoeddraad nie. Die kampterreine het ook gemeenskaplike kombuisies met opwasbakke, stoofplate en urns.
Kampbesoekers: Bedags vermaak die bloukopkoggelmanders ’n mens veral op die doringbome se stamme. Van vroegaand af hoor jy die raserige geroep van die bosnagape wat volop is in Skukuza. Volg die geluid en soek hierdie koddige diertjie met jou flitslig.
Hoeveel kos dit? R130 vir 2 mense, bykomende mense R42 elk; maksimum van 6 per staanplek.
Van 1 September af styg die pryse na R150 vir 2 en R48 vir elke bykomende persoon.
Pensioentrekkers kry 40% afslag van 15 Januarie tot 19 Maart, 3 Mei tot 14 Junie, 20 Augustus tot 20 September en 10 Oktober tot 1 Desember.
En as ek nie kamp nie? Skukuza se rondawels is na aan mekaar en nie juis privaat nie. Dit kos vanaf R580 per aand vir 2, (in September styg die prys tot R665), tot R720 afhangende van die geriewe. Of bederf jouself met ’n luuksehut op die groen rivieroewer teenR1 095 per nag. (Van September af kos dit R1 265.)
Lees die volledige storie:
Watter paaie moet ek wanneer ry?
Met 'n bietjie geluk sien jy wildehonde sommer naby die kamp. Ry laatmiddag stadig op die pad na die Lake Panic-voëlskuiling.
SOGGENS (109 km, rofweg 5 uur) • Kyk vir kolle. Ry stadig uit op die H4-1-teerpad langs die Sabierivier en fynkam die oewerbos en bome langs die pad vir luiperds (14 km; ’n uur as jy rêrig luiperds soek!)
• Soek sabels. Draai links op die H12, ry oor die rivier tot by die H1-2 T-aansluiting (5 km; sowat 15minute), en draai dan regs. Draai anderkant Olifantdrinkgat links (10 km; 30 min.) op die S36-grondpad wat verby Jones-se-dam loop. Dié pad het min verkeer en jy kan selfs laatoggend leeus in die pad kry. Wees ook op die uitkyk vir swartwitpense wat gereeld tussen Jones en Lugmagdam gesien word (19 km; ’n uur).
• Skons by Tshokwane. Draai regs op die S34 en ry terug Skukuza toe oor die Tshokwane-piekniekplek (ongeveer 60 km; 2 uur).
HEELDAG UIT (122 km; 6½ uur, ete ingesluit)
• Wa’s die Bosveldbrakke? Ry op die H11-teerpad. As jy gelukkig is, sien jy wildehonde tussen Skukuza en die Paul Krugerhek. Draai net voor die hek links op die S3-grond-pad (12 km; 30 min.).
• Katte en grootvoete. Dié rivier-pad dra minder verkeer as die S1 Doispane-teerpad. Kyk vir leeus, luiperds en olifante. Volg die S3 tot by Pretoriuskop, waar jy by die kafeteria kan aansit vir ’n brander van ’n brunch of middagete (47 km; 2 uur).
• Renosterwêreld. Wanneer die son laag genoeg sit, ry terug op die H1-1-teerpad en stop by Vervoerdam en Renosterkoppieswatergat op die S114 (63 km; sowat 3 uur).
LAATMIDDAG (45 km)
• Soek vir Blackie. Vir ’n lekker middagrit, kry koers op die H11-teerpad en dan links draai op die S1 (8 km; 20 min.) en ná 4 km weer links op die eerste grondpad, die S65 (ná slegs 4 km op die S1). Dié pad loop verby die N’waswitshakawatergat; wees maar wakker vir leeus, luiperds en swartrenosters (13 km, 45 min.).
• Drink ’n ou ietsie. Draai links op die teerpad en ry terug Skukuza toe, maar stop eers by Mathekenyane-koppie vir die sonsondergang en ’n yskoue skemerkelkie. Jy mag hier uit jou kar uit
klim (16 km; 90 min.).
Maak toe
Wat kan ons nóg gaan doen?
Skukuza se kwekery het ongeveer 250 spesies inheemse plante en struike. Hier is plante vir enige streek, nie net die Laeveld nie.
Lake Panic is 'n plek waar jy nou rêrig kan ontspan. Pak jou heupflessie en bring die laaste ure van die dag hier deur.
Ontmoet ’n paar watervoëls
Lake Panic se voëlskuiling is een van die wildtuin se beste plekke om watervoëls dop te hou en af te neem, veral in die laatmiddag wanneer die son agter die skuiling sak. Jy kan maklik vir twee uur hier sit sonder om verveeld te raak – bring gerus ’n paar frikkadelle.
Soek gewone nagreiers en groenrugreiers in die lae boomtakke, en ralreiers tussen die riete. Op die oewer is waterdikkoppe goed gekamoefleer terwyl grootlangtone en kleinkoningriethane raserig op die waterlelieblare rondloop. Jy kan ook verwag om bont-, dwerg- en bloukuifvisvangers te sien, sowel as nonnetjieseende en kolganse.
Gun jouself ’n halfuur om terug kamp toe te ry, want dié paadjie is bekend vir luiperds en wildehonde. Hier’s spoedlokvalle op die H11-teerpad – moenie vinniger as 50 km/h ry nie (dit geld vir al die teerpaaie).
Set saam met seekoeie
Kom swaai jou gholfstokke tussen die rooibokkies, vlakvarke en blouapies op die 9-putjie-gholfbaan (18 bowwe). Wees net versigtig vir die seekoeie wat jou uit Lake Panic dophou. Baansyfer: 72 Afstand: 5 950 m vir mans en 5 059 m vir vroue. Afslaantye vir besoekers: 7 vm. van Sondae tot Vrydae. Saterdae is klubdag vir lede. Koste: Besoekers betaal R160 vir nege putjies en R220 vir 18 putjies. Toerusting: Jy kan stokke huur vir R40 (9 putjies) of R60 (18 putjies); karretjies kos R100 vir 9 putjies en R140 vir 18 putjies. Standaardgholfdrag moet gedra word. Kontak: 013 735 5543
Billike bome
Skukuza se kwekery het ongeveer 250 spesies inheemse plante en struike. Hier is plante vir enige streek, nie net die Laeveld nie. Die pryse is billik – jy kan die meeste bome vir minder as R30 koop! Kundige personeel help jou om die regte plante vir jou tuin te kies en gee raad oor wat jy moet plant om voëls na jou tuin te lok. Tye: Daagliks tussen 8 vm. en 12 nm., en weer tussen 2 nm. en 4 nm., ook naweke.
Maak toe
Lees die res van die storie
Skukuza het twee kampterreine - naby die draad en naby die swembad.
As jou idee van kamp twee weke alleen in die bos is met net ’n grondseil en knipmes, moet jy maar liefsby Skukuza verbyhou. Hier’s regdeur die dag verkeer en jy hoor snags voertuie tussen die kamp en die aan-grensende personeeldorp ry. Naby die hek is ’n besprekingskantoor, bank en poskantoor. Onder teen die rivier is die groot winkel en ’n internetkafee (R30/halfuur). Skukuza het ook selfs sy eie dokter en ’n karwasplek.
Maar al het dit ’n hele klomp geriewe wat die lewe makliker maak, voel dit nie soos ’n luukse lodge nie – dit het nog steeds daardie warm Bosveld-atmosfeer.
Dít sal jy ervaar as jy langs die rivier by die kafeteria of die restaurant gaan sit – as jy onder een van die grasdaklapas sit, moet jy nie skrik as jy opkyk en ’n slapende vlermuis of twee (Wahlberg- en Peters-witkolvrugtevlermuise) sien nie.
Die wonderlike ding van Skukuza is egter dat dit in een van die wildtuin se beste wildkykgebiede lê. Een van die gewildste paaie in die Krugerwildtuin is die rivierpad tussen Skukuza en Onder-Sabie.
Daar’s gereeld leeus en jy het ’n skaflike kans om ’n luiperd iewers in die oewerbos te sien.
Jy kan ook ure lank die bobbejane se manewales in die pad dophou.
Ongelukkig sien ’n mens gewoonlik meer karre as diere op hierdie pad. Ek verkies om eerder ’n paar van die minder bekende agterpaadjies te ry.
As jy op die regte tyd van die dag vertrek en jou roete goed rondom Skukuza beplan, kan jy die ergste verkeer misloop en dalk ’n wildehond of ses sien...
As jy die stad en veld ineengerol wil hê, is Skukuza jou kamp...
Ons was laas week in Skukuza kamp. Ons kon glad nie kla nie. Die ablusieblokke was altyd skoon en van geraas was daar geen sprake. Natuurlik die beste van alles: die hIena se gewooep by die kamp. 'n Hiena het selfs op pad na Berg-en- Dal ons karavaan se towbar se plastiek cover afgehaal en stukkkend geskeur. Wat 'n ondervinding om dit te sien en ervaar.
Kommentaar