Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Roete: Prins Alfredpas


Die Prins Alfredpas is heelpad grondpad, maar jy kan dit met gemak in "n gewone sedan ry. Oorweeg dié pragtige pas as jy weer uit die binneland Tuinroete toe ry.
zoommore

Die Prins Alfredpas is heelpad grondpad, maar jy kan dit met gemak in 'n gewone sedan ry. Oorweeg dié pragtige pas as jy weer uit die binneland Tuinroete toe ry.

Die Prins Alfredpas is 'n veelsydige kalant. Toast Coetzer ry stadig, stop baie en spoor ’n fonteintjie op wat jou twee keer sal laat dink oor jou kraanwater.

Klik hier om 'n drukstuk van die Prins Alfredpaskaart te maak.

Prins Afred 101

Slaap hier
Bain’s Cottage
’n Ruim ou huis met plek vir 12 mense. R150 p.p.p.n. en halfprys vir kinders. Gasstoof en -yskas.
Kontak: 044 752 3333

Angie’s ‘G’ Spot
In Die Vlug, reg langs die rivier.
Hutte (R150 enkel, R250 dubbel), permanente tente (R350 per tent) en kampplek (R50 p.p.).
Kroeg en kos beskikbaar.
Kontak: 044 752 3017

Outeniqua Trout Lodge
Ongeveer 2 km buite Die Vlug. Selfsorglodges vir ses mense (R310 p.p. vir eerste twee, daarna R110 p.p. vir volgende twee, en R60 p.p. vir volgende twee) en tipi-tente vir vier mense met ’n eie badkamer, kom-buis, (R210 p.p. vir eerste 2, R60 p.p. vir volgende 2). Forelvisvang is R80 per dag, of R100 vir dagbesoekers.
Kontak: 044 752 3140; troutlodge@iafrica.com

Keurbooms River Game Trails
Sowat 10 km suid van Die Vlug. Selfsorglodges (R650 per eenheid) en kampplek langs die Keurboomsrivier (R100 p.p.). Hulle het ook 4x4- en staproetes en jy kan bergfietsry en visvang.
Kontak: 044 752 3690; hennieh@webmail.co.za

Cloud Cottage
Dis 8 km noord van Die Vlug, op die pas. Kliphuis vir tot 6 mense. Maak oop in September 2009.
Kontak: 044 752 3423

Koop snoepgoed
Tannie Annelize verkoop spring-bokeiers (groen kapokkie-eiers) vir R15, haar beroemde Gatbrandsous R22 (toiletpapier ingesluit) en peerblatjang R22.
Kontak: 044 752 3125

Weg sê: Daar is nie petrol of OTM's op Die Vlug nie; maak dus vooraf tenk en beursie vol.

(Let wel: Pryse akkuraat vir Julie 2009)

Lees die volledige storie:

Toast Coetzer
zoomzoom

Die beeldhouer Theo Megaw se kliphuisie op Voogt se Kraal staan in die middel van die Prins Alfredpas.

Toast Coetzer
zoomzoom

In Tiekeliefierug se baai lê hierdie mooi, skaduryke draaitjie. Op ’n warm dag voel die koelte soos 'n swembad.


Avontuur lê in die Langkloof, in ’n hoekie van die Wes-Kaap waar-van Helen Zille dalk nie eens weet nie. Maar dalk kom die appel wat sy vandag sit en eet, hier uit Matt Zondagh se boorde uit.
Soos ek ry, lê die appelboorde later links van my – Kleinlang-kloof, sien ek noem hulle dié
stuk boord op my kaart. Regs lê die Zondaghsberg.
   
Ná 4,8 km bereik jy Die Kruin. Trek maar gou hier af, op die draai, want nou kan jy sien wat voor jou lê. Die Prins Alfredpas daal eers regs van jou af in die kloof en krul dan teen die Vaalberg langs onder jou verby. Rofweg daar waar die pad verdwyn, doer onder links van jou, begin die Poort. 
Kyk jy verder, sien jy nog berge – dis Die Vlug se Berg, Baken se Berg, Assegaaibosberg, Skoonberg, Dubbelberg... dit hou nie eintlik op nie. Eers op Knysna, iewers buite sig, hou die aksie werklik op.
   
Ek begin pas-af ry. ’n Halwe kilometer verder, net anderkant Rooielsdraai, klim ek teen die hang uit om ’n foto te neem. ’n Toeris stop later reg agter my kar en klim uit. Hy is alleen. Hy kyk rond, maar sien my nie raak tussen die fynbos hoër op nie. Hy klap sy videokamera se skermpie oop en begin verfilm. Met kommentaar, in Nederlands. Ná ’n paar minute klim hy in en ry verder.
   
By Kouewaterdraai mag jy nie verbyry nie. Ek is dors en wil my waterbottel volmaak. Daar’s nog so ’n mond vol oor – Kaapstad se kraanwater van gister. Ek drink dit leeg en spoor dan die versteekte kommetjie op in die draai; die fonteintjie dam hier op. Ek vat ’n sluk. Dis soos om Cape Velvet te drink nadat jy vir maande met Ellis Brown moes klaarkom. 
   
Sedert my eerste besoek aan die pas ’n paar jaar gelede is ek al verlief op Tiekeliefierug – en die naam is net die begin! Hier het die gevangenes wat die pas gebou het, hulle “ticket of leave” gekry toe die bouwerk voltooi is – dié “ticket” was basies hulle vryheid; hulle kon nou ander werk begin soek, trou en ’n nuwe lewe begin.
   
Maar dis die populierbome wat hierdie draai waarop ek werklik verlief is, toestaan. Niks klop die klank van wind deur ’n populier-bos nie. Ek skroef my koffiefles oop en geniet die blare se musiek. 
   
Teen dié tyd het jy al die ergste draaie en afdraandes van die pas agter die blad. Ek sien iets blous doer onder, naby Voogt se Kraal. Wanneer ek daar kom, sien ek dis vyf mans in overalls wat draad- span. Iemand galop te perd verby. Ja, ek is nou naby ’n plaas waar dinge gebeur.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Die uitsig van die pas in die rigting van Voogt se Kraal. Vaalberg lê na regs en die Poort is doer voor iewers, buite sig. Die hele pad (R339) van Avontuur na Knysna is sowat 80 km lank.


Lank terug het die Zondaghs se eiendom oor die berg gestrek tot hier by Voogt se Kraal, die enigste bewoonde plaas op die pas self.
Dis middagete toe ek aan die deur klop en ek hoor hoe word messe en vurke neergesit en voetstappe na die houtdeur toe loop. Links van die deur het iemand ’n dooie Kaapse suikervoël aan ’n spyker opgehang – hy het seker op die pad omgekom.
   
Christopher Dry maak die deur oop, ons skud hand en hy stem in om vir my die plaas te wys. Hulle het sowat 70 Saanen-bokke en maak kaas. Terwyl ons by die kaaskamer inloer, hoor ek die
bokke se klokke teen die oorkant-ste rant klingel. Christopher wys my waar die ou pad oor die berg geloop het – ’n lekker stuk om te gaan stap, vertel hy.
   
Hy is besig om ’n kliphuisie op te rig – Cloud Cottage – waarin besoekers sal kan oorslaap. Ons stap deur die bouwerk (dit behoort teen September oop te wees) en ek kyk deur die gate waar die vensters gaan kom. Ja, hier gaan jy ’n uitsig hê soos min.
   
Buiten vir Christopher en sy vrou, Eva, woon haar pa, Theo Megaw, ook hier. Megaw is ’n be-
kende beeldhouer en skep sy werke net hier langs die Prins Alfred-pas. Ek loer by die ou skuur in waar hy werk. 
   
Die deur staan oop, maar hy is ook met middagete. Twee gemmerkatte koer van die rakke af en kom skimp vir oorkrap. Die beelde is pragtig: Kinders, mans met ’n hoed op, vrouefigure, brons en yster meestal.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

"Jy Loer Nog" - dis wat iemand teen die rotse geverf het op hierdie draai, en met rede. Ry maar versigtig deur die Poort, die pad is nou en twee karre kan net-net by mekaar verby.


Net verby Voogt se Kraal val die pad skielik dieper die vallei in. Hier’s ’n paar pragtige draaie met hoë rotspaksels wat die pad teen die hang vasdruk. Dan volg jy Voogt se Rivier en net hier, uit die boskasie, vlieg ’n Knysna-loerie voor my oor die pad. Ek sien die rooi ondervlerke, dan is dit weg.
By Voor die Poort, wat onbe-woon staan, steek jy die rivier oor en ry die Poort binne deur Die Kerf (15,6 km), waar die pad destyds letterlik uit die rotswand gekerf is.

Byna oombliklik toring Hangkrans bo jou en dan steek jy die eerste van die poort se sewe bruggies oor. Hierdie bruggie het heeltemal toegespoel met November 2007 se groot vloed – Die Vlug was twee weke lank van die buitewêreld afgesny.
Skuinsbrug kom volgende. Hou gerus stil in die skaduryke draai direk ná Skuinsbrug. Klim uit en gaan kyk: Die pasbouer Thomas Bain het hier sy ponde verdien, dís seker. Die brug is só skuins dit steek die rivier amper parallel oor. 
   
Twee bruggies verder lê die Poort se hoogste waterval op linkerhand. Dan ry jy deur die esse en anderkant die volgende bruggie sien jy nog ’n mooi waterval op regterhand. Stop gerus hier, want daar’s ’n lekker swempoel waarin jy kan afkoel (as dit somer is!).
   
Teen ’n klip op die volgende draai het iemand “Jy loer nog” geverf. Presies wat bedoel is, weet nugter, maar wees maar in elk geval versigtig, want dis een van vele blinde draaie in die Poort.
   
Ek klim teen die oorkantste hang uit; dis steil hier. Lank sit ek hoog bo die pad en karre tel
(altesame 26 voertuie voor mid-dagete). Soms vat dit ’n halfuur voordat een verskyn, dan kom drie op mekaar se hakke. Die padlorrie drommel verby, die kloof weerklink van die gereedskap se geskud op die bak. Die bakryers gesels luidkeels. Twee bakkies hou stil en mense kyk vir die waterval, ry weer. Een jong man klim later uit en swem ’n ruk in die poel. 
Iewers hoër op hoor ek bobbe-jane blaf. Hulle’t my seker gewaar. Dalk is dié hulle gunstelingklip. 
   
Ek klouter versigtig af en ry verder. By die laaste skerp draai in Die Poort hou ek weer stil. Teen die oorkantste hang, anderkant die riviertjie, is Bain se Pilaar, ’n rotssuil wat lyk asof drie bobbejane dit kan omstoot as jy hulle ’n emmer turksvye sou aanbied.
Net wanneer jy dink jou nek kan nie meer opkyk nie, maak die pad voor jou oop en jy is in Die Vlug. Maar moenie sommer voet op die versneller sit nie...

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Tannie Annelize van Rooyen se padstalletjie-en-teetuin in Die Vlug laat selfs die geharde bikers wat gereeld hier deurwoer, stop, afsaal en rustig raak.

Toast Coetzer
zoomzoom

...kry ook sommer van Tannie Annelize se doepa vir ’n babbelaas.


Ja, jy kan lag-lag binne twee uur van Avontuur af tot op Knysna ry. Maar dis ’n veel beter plan om sommer so te beplan dat jy op
Die Vlug oorslaap. Jou eerste stop is Annelize van Rooyen se padstalletjie-en-teetuin. Dis teen die pad, en as jy dít gemis het,  wel,  dan het jy Die  Vlug  gemis.
   
Terwyl tannie Annelize vir my koffie maak, kom daar ’n hele rits motorfietsryers aan. Hulle is van Plett en Knysna af en mik hier teen die pas uit en dan Baviaanskloof toe, verder die binneland in.
“Moet nou nie stout wees nie,” maan sy hulle voor hulle soos grassnyers op steroïede
daar wegtrek.
   
Saam met my skons bring tannie Annelize vir my marme-lade. “Maar jy moet raai watse marmelade,” sê sy vir my met ’n glimlag. Dit smaak eksoties. 
“Koemkwat,” raai ek wild. Toe glad nie – dis geelwortel! Behalwe dat dit ’n goeie worteljaar was, was dit ook ’n goeie pampoenjaar, want ek sien die padstalletjie se dak is vol pampoene gepak.
By Die Vlug is daar kampplek en gerieflike slaapplek by die Outeniqua-foreloord, maar ek slaap vanaand in die Bain Cottage, net agter die padstal. Bain self het hier gebly tydens die bou van die pas, saam met sy vrou, Johanna, en van hulle kinders. 
   
Dit was egter nie ’n huis met goeie herinneringe vir die Bains nie, want een van hulle dogters is hier dood – blykbaar het ’n kwaai kalkoen haar van die hoë stoep af gestamp. Sy lê iewers hier in die tuin begrawe.
Daardie aand lees ek tot laat – by kerslig, want hier is nie elektrisiteit nie. Nou en dan kraak die plankvloere, maar dit het ek verwag. Maar toe ek in die middel van die nag wakker word met daardie daar-is-iets-in-die huis-gevoel, toe rys my nekhare behoorlik.
Ja, die spoke loop lekker rond in Bain Cottage, daarvan kan jy maar seker wees.

VAN DIE VLUG AF Knysna toe klim en daal, klim en daal die pad. Eers ry ek deur bosbouplantasies.
Ek stop om vir Koos Smit
’n lift te gee tot by Sonskyn, die bosbougemeenskappie waar hy woon. Ek vra hom uit oor die brande, want ek kan sien dit het in die afgelope paar maande hier gebrand.
“Dis meestal fynbos wat ge-brand het, nie plantasies nie,” sê hy, “en die manne wat daar by Gouna vuur geslaan het, moes in ’n stadium net hardloop, want die olifant het hom vererg.”
Ja, die Knysna-olifant is nog hier rond, ry maar versigtig wanneer jy by die pragtige woud-gedeelte kom. 
   
Onthou, afhangende van waarheen jy mik, het jy eintlik drie opsies soos jy Knysna nader.
Eerstens kan jy links draai Plettenbergbaai toe daar by Kruisvallei – dis waar die ou pad geloop het, reg oor Perdekop. (Dis die R340, maar as jy hom mis, is daar nog ’n afdraai na Plet effens verder aan, net duskant Diepwalle.)
   
Dan, by Diepwalle, kan jy regs draai op Kom se Pad, die moeder van alle bospaadjies. Hy vat langer, maar dis wáre bos. Die pad loop verby Gouna en jy ry later Knysna van agter af binne, aan die westekant.
   
As jy egter op die R339 bly, sal jy gou die bordjie sien vir een van Knysna se Groot Bome. Dié ene is die koning Eduard VII-boom. Hierdie deel van die pad is besiger; ry dus versigtig. As jy weer sien, doem Knysna voor jou op – en die geswiesj van die N2. Terugvlug Die Vlug toe?
Tannie Annelize se wortel-marmelade wag op jou...

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek