Die seekoeigat, (op die S27-doodlooppaadjie, 8km van Krokodilbrug af), is een van die min wildtuinplekke waar jy kan uitklim en gratis 'n entjie saam met 'n ervare gids tot by 'n mooi uitkykpunt oor die Krokodilrivier stap.
Kom bly in Krokodilbrug se regte ou wildtuinrondawels of hou piekniek op die mooi grasperke met 'n uitsig oor die Krokodilrivier
By Krokodilbrug is báie diere en báie plante – en baie soorte. En jy kan dit alles in ’n paar oggende ervaar! Villiers Steyn vertel jou hoe, waar en wanneer.
Krokodilbrug 101
Staanplekke Hier is 15 staanplekke, waarvan ses teen die draad is, met drie van die ses onder lekker koeltebome. Die staanplekke verder van die draad af is hoofsaaklik onder die koeltebome.
Wenk! Krane en kragpunte is goed versprei in die kampterrein, maar onthou die blou woonwaprop, want die kragpunte het nie driepuntproppe nie.
Hoe lyk die staanplekke? Dit het nie gras nie, maar die sand is gelyk, en dus ’n plesier om op te kamp. Bring ’n groot hamer, want die grond is hard!
Badkamers Die gemeenskaplike badkamers is skoon en netjies. Die stortkoppe spuit sterk en warm en selfs die hakies teen die mure is nog daar. Die manskant het een bad (maar ’n paar storte), en die vrouekant twee baddens en storte. Al twee kante het toiletgeriewe vir gestremdes.
Kombuis en wassery Die gemeenskaplike kombuisie het opwasbakke, ’n urn en stoofplate. ’n Klein wassery met ’n muntwasmasjien en -droër is langs die ablusiegeriewe weggesteek.
Ongenooide gaste Moenie jou tent of woonwa oop los wanneer jy uitgaan nie, want die blouapies en bobbejane sál jou koskas plunder. Wanneer daar saans insekte om jou ligte versamel, kan ’n nagapie dalk net kom inloer.
Koste R130 vir die eerste twee mense; R42 vir ’n ekstra volwassene en R21 vir ’n ekstra kind. Maksimum van 6.
En as ek nie kamp nie? Rondawels. Die 20 eenderse ron-dawels het elkeen ’n stoepie, yskas en opwasplek en staan almal langs die heining. Ongelukkig bederf digte plantegroei die uitsig oor die Krokodilrivier. Koste: R635 vir twee mense. Hier is drie enkelbeddens per rondawel, en jy moet R124 ekstra opdok per ekstra volwassene en R62 vir ’n ekstra kind. Safaritente. Die agt safaritente se inwoners deel ablusie- en kombuisgeriewe, hoewel elke tent ’n yskas het. Koste: R295 per nag. (Nota: Alle pryse akkuraat in Junie 2009)
Watter paaie moet ek ry?
Die beste tyd om roofdiere te soek is in die uur voordat die son opkom en nadat die son gesak het.
As jy nie witremosters op die S25 sien nie, is jy blind of jy moenie jou geld op Lotto-kaartjies mors nie...
Soggens - Opsie 1 Suiker Grenslangs Die Krokodilbrugpad (die S25) weswaarts is ’n puik pad om vroegoggend sommer heen en terug te ry. (Dis 73 km as jy die hele Mpondodam-omrit ry.) Ry ten minste tot by die Biyamiti-afrit se geentoegang-bordjie (22 km, ongeveer ’n uur se ry). Jy kan witrenosters verwag en daar is altyd ’n kans dat jy leeus of ’n luiperd teëkom. Kringgatdam Vir dié wat kan knyp, is ’n oggendbesoek aan die Mpondodam (S102) altyd die moeite werd, veral as jy op soek is na olifante en waterbokke. (Die hele omrit verby Mpondodam is ongeveer 73 km en ’n goeie 4 uur se ry.)
Opsie 2 Soek Langnekke Die Nhlowapad (die S28) wat noordooswaarts deur die oop vlaktes sny, is ’n ander heerlike vroegoggendpad (50 km, rondom 3 uur). Die eerste deel bied jou die beste kans om kameelperde te sien, en verder noord ry jy jagluiperdwêreld in. Kyk eentonners
As jy seekoeie wil sien, maak ’n draai by die Ntandanyathi-skuiling (sowat 21 km tot by die S137-afdraai; begroot minstens 90 minute). Ry terug oor die Duke-watergat op die S137 en die S130-Gomondwane-omrit en kyk uit vir die gevlekte hiënas wat gereeld dié paaie gebruik (29 km tot by die kamp, nog 90 minute se ry).
Heeldag uit.
Onder Sabie toe! As jy ’n heeldagrit wil doen, ry sommer met die H4-2-teerpad reguit na die Onder-Sabie-ruskamp (68 km heen en weer; begroot twee uur soontoe en twee terug, want jy gaan by baie wild stop). Jy kan enige van die Groot Vyf raakloop, en as jy besonder gelukkig is, sien jy dalk ’n troppie wildehonde. Kap 'n Brunchie
Geniet “brunch” by die kafeteria op Onder-Sabie se groot houtdek langs die rivier terwyl seekoeie die agtergrondmusiek verskaf.
Ry weer rustig op die H4-2 terug. Wees op die uitkyk vir olifante naby die Gomondwane-watergat. Vat dit rustig
Ry stadig uit op die H4-2-teerpad en draai links op die H5-Randspruitpad (15 km, 30 minute). Hou links totdat jy op die S25 beland, en ry langsaam terug kamp toe langs die rivier. Dié omrit is leeu-en -luiperdwêreld, en dis kort genoeg dat jy nie hoef terug te jaag om die kamphek te haal nie. Boonop ry jy weg van die son af op die horison (27 km van die H5-afdraai tot terug in die kamp, 90 minute se ry).
Maak toe
Laat ’n kenner jou wys!
In 'n omgewing so ryk aan roofdiere soos Krokodilbrug is 'n skemerrit 'n moet.
’n Begeleide oggendrit.
Die beste tyd om roofdiere te soek is in die uur voordat die son opkom en nadat die son gesak het. Dis nie ’n ouvroustorie dat dit raadsaam is om soggens eerste by die hek uit te wees nie. As die trop leeus in die teerpad lê, is jy eerste daar. Die Krokodilbrug-oggendrit vertrek ’n halfuur voordat die kamphek oopmaak. Hoe lank? 3-4 uur. Koste: R140
Begeleide skemerrit. Die skemerrit vertrek ’n uur voordat die kamphek sluit. Ná sononder soek jy die wild met ’n kollig, en hier het jy ’n uitstekende kans om roofdiere te sien. Op net een skemerrit het ons leeus, renosters, olifante, buffels en ’n gevlekte hiëna gesien! Hoe lank? Ongeveer 3 uur. Koste: R130
Maak toe
Plan *B (* B vir Bekostigbaar)
Kampeerders kom al vroeg van buite die wildtuin in vir die staanplekke in die koelte langs die draad.
Soek ’n seekoei. Skaars 8 km buite Krokodilbrug, op die S27-doodlooppaadjie, lê die Seekoeigat. Verken die omgewing met die veldwagter Daniel Mabasa. Koste: Gratis; van Maandae tot Saterdae tussen 7.30 vm. en 2 nm. Saterdae tjaila hy om twaalfuur.
Piekniek op die grasperk. As julle in Krokodilbrug oorslaap, hou piekniek onder die bome op die grasperk in die sirkel tussen die rondawels of op die graswal op die rivieroewer.
Maak toe
Wat sê die veldwagter?
Daniel Mabasa beman al 18 jaar lank die Seekoeigat net buite Krokodilbrug.
“Die beste tyd van die jaar om te kom, is in die wintermaande, want dan lok die rivier die meeste diere,” sê hy. “In die somermaande is daar te veel water in die veld en die diere kom nie by die rivier drink nie.”
Maak toe
Lees die res van die storie
By party Krugerkampe sien jy nou maar eenmaal baie meer diere as by ander. Krokodilbrug is een van daardie plekke waar jy nie net ’n troppie rooibokke en ’n paar belangelose blouwildebeeste sal raakloop nie. Hier is leeus, luiperds, olifante, buffels en selfs wildehonde. En omdat die plantegroei mooi oop is, is jou kanse op jagluiperds en witrenosters ook goed.
Net buite die kamp vurk die pad in drie rigtings, en elkeen van die paaie loop deur ’n unieke habitat.
Jy kan dus ’n verskeidenheid diere en voëls op drie of vier wildsritte sien.
Die kamp self is aan die klein kant en lê in die suidooste van die Krugerwildtuin aan die oewer van die Krokodilrivier. Dis ook een van die bedrywigste ingangshekke van die wildtuin, sowat 10 km van Komatipoort af. Die verkeer versteur die rustigheid effens, maar dié probleem behoort binnekort iets van die verlede te wees wanneer die kamp en die ingangshek geskei word.
Die kamp het ’n winkeltjie wat noodsaaklikhede verkoop (van Colgate tot Mrs Ball’s) en ’n mens kan ’n geroosterde toebroodjie (R15) of ’n hamburger (R20) bestel. Hier is ook ’n wassery en ’n vulstasie, maar nie ’n volwaardige restaurant of swembad nie.
Kommentaar