Roete: Montagupas


Die kloof val steil weg in hierdie deel van die pas. Die<br />pas is beplan deur kol. Charles Michell,<br />landmetergeneraal van die Kaapkolonie.<br />Bouwerk het in 1844 begin.
zoommore

Die kloof val steil weg in hierdie deel van die pas. Die pas is beplan deur kol. Charles Michell, landmetergeneraal van die Kaapkolonie. Bouwerk het in 1844 begin.

Ja, daar is ’n teerpad net langsaan wat jou tjoef-tjaf uit George se kusvlakte lig en jou kaplaks in die Klein-Karoo neersit. Maar Toast Coetzer verkies grondpad, baie dankie.

Klik hier om ’n drukstuk van die kaart te maak.

Montagupas 101

Slaap hier


Over the Mountain-gasteplaas.
Verskeie eenhede:
Selfsorg (R550 vir 2 mense, R60 p.p. daarna) of bed en ontbyt (R300 p.p.). Aandetes (R110) is op aanvraag.
Kontak: 07 170 7120 (Gail); www.overthemountain.co.za 

Herold-wyne
Selfsorgeenheid met 2 slaap-kamers. Prys: R350 vir 2 mense en dan R50 p.p. daarna.
Die wynplaas het ook ’n eetplekkie en is van Maandae tot Saterdae tussen 10 vm. en 4 nm. oop.
Kontak: 072 833 8223 (Vivien); heroldwines@xsinet.co.za

Só ry die trein

Outeniqua Power Van
Retoerkaartjies op die spoorbussies (hulle vat 14 mense) kos R95 p.p. en jy vertrek van die Spoorwegmuseum af op George.
Dit duur sowat 2½ uur, maar hulle is buigsaam en kan die rit aanpas na gelang van die groep se behoeftes. Jy stop langs die pad vir uitsigte oor die passe,
’n waterval en die woud, en jy kan reël dat jy met ’n bergfiets terugry dorp toe (dank die Vader dis afdraande!). ’n Toergids ry saam en vertel jou van die geskiedenis.
Kontak: 082 490 5627 (Nico); opv@mweb.co.za

Lees die volledige storie:

Toast Coetzer
zoomzoom

Hier toring die kranse behoorlik bo die pad uit. Daar's net plek vir een kar om in die draai te stop.


By die restaurant op Blanco vra ek die rekening net mooi toe die ou by die tafel langsaan vir sy vriend sê: “Nee, man, dis te vroeg vir shooters.” Dis kwart voor twee op ’n Vrydagmiddag. “Ek moet nog die workshop gaan toesluit en alles.”

Vergeefs. Sy vriend verskyn met twee klein glasies skopwater. Terwyl ek betaal, hoor ek hoe hy die werkswinkel bel en die laaste opdrag van die dag gee: “Nee, moenie daai outjie overcharge nie, hy’s ’n student. Charge hom net een uur labour, oukei?”
By die eerste afdraai ná die Montagupas druk ek my odometer op 0,0 km. Jy’s as’t ware nog op die dorp, maar jy kan reeds grondpad vat. Min gebeur op hierdie eerste deel van die pad. Jy ry verby die Witfontein-bosboustasie (waar die Outeniqua-staproete begin) en ’n groot gruisgat waar Lafarge en Much Concrete hulle padboumateriaal maak.
Vroeër die dag het ek my in die George-museum op die pas gaan voorberei. Hulle verkoop ook ’n gids oor die Montagupas (R35) – onontbeerlik as jy die storie agter elke draaitjie van die pas wil hoor.

Teen 3,4 km sluit die ander pasingang van links af aan, direk van die voet van die Outeniquapas af. Jy sal sommer die karre hoor suis op die teerpad (N9/N12), net buite sig.
Die Ou Tolhuis verskyn binne ’n paar honderd meter op regterkant, byna nog net soos op die ou foto wat in die museum se gidsboekie pryk (behalwe nou vir die hoenderhok, die hoenders in die pad, die perdekar, die bok en die ou wat ’n bietjie soos Paul Kruger lyk – dis eintlik meneer Westman, tolhuisman van 1900 tot 1918).
Dis eintlik ’n skande dat die Tolhuis leeg staan. Dis die ideale plek vir ’n lekker dagrestaurant – selfs ’n koffiewinkel. Dit móét mos hier werk. Nou nie dat duisende Duitse toeriste elke dag die Montagupas uitry nie, maar selfs die dorpenaars sal mos hier kom middagete eet. Die uitsig is mooi. Die ligging is mooi. Al wat kort, is iemand met ’n plan en ’n sak vol note.

Die pad maak ’n paar lui draaie terwyl dit afdaal na die oewers van die Keurrivier, waar die bome skielik dig staan. Hier’s aftrekplek aan die regterkant van die pad, net voor die bruggie. Daar’s ’n paadjie wat afloop rivier toe as jy wil gaan voete afspoel. Stap gerus in die rivier op na die bruggie en bekyk die stewige struktuur van onder af.
Maak jou maar gereed – staal jou – want as jy eers oor die brug is, dan is die pas met mening op jou. Hy tackle jou sommer behoorlik wakker – soos daai ongesiene flank jou plat maak as jy die afskop met lui arms inwag.
Nou’s dit tyd vir die Noute. Die Noute is nóú. As ’n ander kar hier by jou verbyskuur (klap maar jou spieëltjie in), dan sien jy behoorlik die sweetdruppels op die borshare van die ou in die bakkie langsaan.

Ry stadig, want hier is nie stilhouplek nie. Een klip wat van regs af amper oor die pad leun, is Die Preekstoel. Nog een – daar’s ’n bordjie – aan die linkerkant is Moertjiesklip. Hy’t blykbaar destyds iemand doodgeval.
Wanneer jy by Boshoff se Draai kom, is die Noutes agter jou. Trek af en kyk ’n bietjie terug, dalk by by by die Ou Smidswinkel verder aan. En nee, jy kan nie jou gebuigde agterdeur hier laat regklop nie. Hier’s niks oor van die smidswinkel nie, net ’n bordjie wat sê dís waar die pasbouers hulle gereedskap kon laat regmaak. Agterop die bordjie het iemand in rooi verf gespuit “Bekgeveg is koning”. Hulle was seker op pad KKNK toe.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Hier, naby die bopunt van die pas, loop die pad en die treinspoor langs mekaar.


Op Radio 2000 kolf Jacques Kallis en A.B. de Villiers nog volstoom voort teen die Aussies. Die son skyn op Nuweland, maar hier in die Montagupas kom en gaan dit. Dan’s die mis oor die berg, dan boelie die son dit weg; dan, nes die son nie kyk nie, kom trek die mis weer toe.
Terwyl jy op die pas is – veral dié deel van die pad – kan jy nie mooi opkyk na die berg bo jou nie; dis te steil. Cradockberg (1 579 m) en Georgepiek (1 337 m) is iewers regs van jou, maar wag maar tot jy verder op is om daai kant toe te loer.

So gepraat van Cradockberg, die enigste pas in dié geweste wat werklik vir die Montagupas kan tande wys, is die Cradockpas, wat in 1812 gebou is. Ja, hou vas, 4x4-manne – destyds het die ossewaens bó-oor Cradockberg gery.

As jy die kans kry, bekyk daai berg ’n slag. Dis giftig. Op plekke was daar letterlik groot kliptrappe waarteen die waens moes op. Rieme is gebruik om hulle regop te trek. Soms was die drywers so keelvol dat hulle die hele wa uitmekaar gehaal en oor gedra het. En met die terugkomslag was dit briek vir ’n vale of jy rol bo-oor George tot in die see. Die tog kon dae lank duur. Dae. Die pas is net goed vir bobbejane, het die mense gekla. G’n wonder die Montagupas is gebou nie.
Ek stop in Haarkantdraai. Hier ry regtig min karre op die Montagupas, seker maar omdat dit soveel makliker is om met die teerpad binneland toe te suis. Jy moet lief wees vir passe as jy hier kom ry. Die enigste mense wat eintlik hier kom, is mense wat op Herold, bo-op die berg, woon en vir sake of inkopies afry George toe.

Ek klouter teen die steilte uit vir ’n beter fotohoek. Nou wag ek dat ’n kar om die draai kom en deur my foto ry. Maar g’n niks. Net nou en dan dryf die gedruis van die teerpadpas diékant toe. Jy hoor veral die lorries wat stoom afblaas en motorfietse – ’n leerskare trek die naweek op Mosselbaai saam vir die die Buffalo Rally. Al wat kan beenswaai oor ’n ysteros is in die geweste.
Ha, hier kom nou iets om die draai! Dis twee motorfietse, BMW’s. Klik-klik. Dankie, ouens.
Ek ry voort. Links van jou val die kloof nou diep weg. Daar’s nie tyd vir rondkyk nie. Dis oë op die pad deur Remskoendraai en Regoptrek.

By Grogdraai is weer ’n welkome aftrekplekkie – dit was vir die transportryers van weleer ook so. Hier kon die diere in die stroompie suip terwyl die drywers ietsie uit die knapsak haal. Jenewer (“grog” is nog ’n Engelse woord vir jenewer) is waarna die draai genoem is. Nou is die moeilikste deel van die pas agter die rug.

Ek klim weer teen die hang uit om foto’s te neem. Verder op teen die berg kan ek die keep sien waar die treinspoor langs loop. Dis salig hier tussen die fynbos. Die son op my wang maak my lui. Oral sing voëls. Hier iewers, versteek in die bosse, krrp-krrp ’n fisant vir my. Twee oranjeborssuikerbekkies, ’n mannetjie en wyfie, kom flankeer sommer naby my.
Net toe ek wil opgee, kom twee motorfietsryers weer om die draai. Hulle is van die Vrystaat. Ek vang net die agterste een se baadjie – haar naam is Shirley en sy’s die president van die Prowlers-klub.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Amanda se Graf dui die hoogste punt op die pas aan.

Toast Coetzer
zoomzoom

By stinkhoutdraai kan jy gerus aftrek. Dis een van die beste stilhouplekkies op die pas


Ek was al voorheen op die Montagupas, maar dit was baie lank gelede. Ek dink dit was in 1987 en ons gesin het kom vakansie hou op Oudtshoorn – ons was Kangogrotte toe en teen die Swartbergpas uit, tot by die sneeulyn, want dit was winter. Later het ons teen die Montagupas afgery.

Met Hotkantdraai en Witkop se Draai agter my herken ek skielik ’n struktuur voor my. Hier, by Stinkhoutdraai, loop die spoorlyn knap langs die pad verby, oor ’n mooi brug waar dit deur die klofie sny. Ek onthou die bruggie soos gister; ons het destyds hier afgetrek en toebroodjies geëet.
Dis een van die beste stilhouplekke op die pas, hoewel die digbegroeide klofie die uitsig effens belemmer. Dis nat hier, water drup uit die berg uit, varings hang swierig.
Sommer gou sien ek drie bosduiwe, met hulle geel snawels, voete en oogwimpers. Mooi voëls. Dis die tipe ding wat my pa destyds ook sou raakgesien het, want ons gesin het ’n sagte plekkie vir bosduiwe. Die duiwe kyk my wantrouig aan, soos net ’n duif kan, en vlieg dan in die kloof af.
Verder die bosse in hoor ek ’n bosbok blaf. Jacques Kallis se honderdtal begin nou wink.

Net verby Stinkhoutdraai kan jy weer stilhou, dié slag op linkerkant – die uitsig oor die vallei is beter hier. Die pad swenk skerp regs en woerts onder die treinspoor deur, weer skerp links (kap maar jou toeter so twee keer om aankomende verkeer te waarsku) en maak dan reguit.
Jy’s nou by Die Top, waar Outeniqua Power Van met gerestoureerde spoorbussies kom stop wanneer hulle toeriste berg-op bring. Daar’s nie meer ’n passasierstrein wat loop tussen George en Oudtshoorn nie; net ’n goederetrein twee keer per week (Dinsdae en Donderdae, meestal snags).

Jy is nou byna heel bo. Wanneer jy die bordjie sien vir Amanda se Graf, kan jy maar aftrek. Hierdie graf is sekerlik die beste laaste rusplek nóg, want die uitsig van hier af is onoortreflik. Doer onder, waar die berge se tone aan mekaar raak, sien jy George en die kusvlakte en die see, diepblou teen die lig se ligblou en die grys berge wat al aan die weste begin skadu’s maak.
Die windjie waai en dis koud. Die mis hol oor Cradockberg. Ek draai die radio effens harder sodat ek dit kan hoor van waar ek staan en foto’s neem.
Ja, daar kry Kallis nou sy honderd. Hoog tyd!

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Timothy Pedro en Jan Coeries - hulle is verwers, maar kan jou ook als vertel van Herold en sy mense. Ek het hulle sommer in die pad raakgeloop.

Toast Coetzer
zoomzoom

Herold lê oor 'n groterige gebied versprei. Hierdie huise is naby die R62-N9-teerpad


Die pad is nou mak, maar steeds mooi. Daar’s nog een belangrike besienswaardigheid waarvoor jy op die uitkyk moet wees: North Station aan die regterkant van die pad (jou mylmeter behoort 11,5 km te lees).

North Station het op sy dag gedeug as’n gevangenestasie (die padbouers het hier gebly), maar was ook al ’n hotel waar moeë reisigers kon kom aanklop – “Good Stabling & Forage” het die koerantadvertensie in 1880 se jare belowe.
Draai gerus in by die Heroldwynlandgoed ’n ent verder. Volg die paadjie vir sowat 2 km nadat jy afgedraai het. Dis ’n piepklein wynplaas (net 6 ha onder boord), maar hier word sommer groot wyne gemaak. Dis eintlik hopwêreld, maar Mark Chandler het die plasie gekoop omdat die klimaat ideaal is vir die verbouiing van pinot noir.

Mark se suster, Vivien Harpur, is die wynmaker. Ek spoor haar tussen die wynvate op, hard aan die werskaf met haar spannetjie werkers.
“Ek en my man woon nog op George. Ek ry seker so drie keer per week teen die Montagupas uit hier na die plaas toe. Dis al die afgelope tien jaar so. Werk maar self uit hoeveel keer ek dit al gery het!” (Ek het: dis 1 560 keer!)

WANNEER DIE GRONDPAD skielik ophou, is jy op Herold. Die dorpie, wat in die pas se bloeitydperk ’n bedrywige plek was, is genoem na ds. Tobias J. Herold (hy is ook met Heroldsbaai vernoem). Vandag is dit rustig, met hopboerdery wat die gemeenskap aan die gang hou (dink gerus aan Herold elke slag wanneer jy een van die SAB se koues oopknak).
Maar hop kan nie almal aan die werk hou nie. Dis nou Maart en die hopranke is al van die drade af; dis nog net die plastiektoutjies wat soos verwaaide Kersversierings in die wind vliert.
Ek stop by twee mans in die pad. Dis Timothy Pedro en Jan Coeries, verwers wat elke dag afry Blanco toe. Hulle werk by die Fancourt-landgoed. Hulle ken die Montagupas; hulle het hom al baie gery én gestap.
“Die hop het alles opgeneuk hier,” vertel Timothy. “Hier was vrugte – appels – en toe groente soos aartappels. Nou’s hier niks nie en van die lande staan leeg. Hop is ’n ding wat doodgaan. Hy gaan nou dood, hierdie tyd van die jaar. Dan’s daar eers weer later in die jaar werk.”

Die Herold-posagentskap en deel ’n gebou met die winkeltjie. Catharina Koot (“gebore en getroud” op Herold) en Leah Boesak (“gebore en getoë) beman die kasregister.
Iemand kom koop ’n halwe pampoen. Die mes word uitgehaal om een van R15,20 middeldeur te sny. Kinders hang rond en kies lekkers uit die vertoonkaste.
Wanneer ek uitstap, kom nog ’n motorfietsryer verby, sommer sonder ’n valhelm. Hy ry stadig, knip sy tranerige oë teen die koue vroegaandluggie.

Ek het die pas só stadig gery dat ’n ossewa my sou kon verbysteek. Die 15 km het my byna vyf uur geneem. Maar dit was die moeite werd. Uitskeityd.

Maak toe


Party passe seil bloot soos ’n slang teen ’n berghang langs, gerieflik genoeg dat jy soms met een
hand kan bestuur terwyl jy vars kougom in jou kies sit. Maar op die Montagupas is daar g’n tyd vir sulke grappies nie. Nee, Meneer, hier is dit van begin tot einde al twee hande op die stuurwiel. Niks se ge-Radio-2000-harder-sit-om-tehoor-wanneer-Jacques-Kallissy- honderdtal-kry-nie.

Die pas begin buite George – eintlik Blanco, die buurt net noord van die dorp – en klim dan teen die Outeniquaberge uit met ’n reeks flambojante draaitjies en ’n paar benoude noutes. As jy eers bo is, hoef jy nie met dieselfde inspanning anderkant af te ry nie, want jy is nou as ’t ware in die Klein-
Karoo. Dan’s dit lag-lag verby Herold tot waar die Langkloofpad weer begin (die R62).

Vat jou tyd in die Montagupas. Dis die oudste onveranderde pas in die land wat nog daagliks gebruik word; kruie dus met respek berg-op.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek