Gewoonlik is die blomme net vir sowat vyf uur op 'n dag oop, dus het jy genoeg tyd om die vriendelike Namakwalanders en die res van hulle wonderwêreld te verken.
Elke jaar, kort nadat die reën geval het in die droë streek van die Oranjerivier tot by die Weskus, begin miljoene blomme boontoe beur. Dié streek is so wyd soos die Heer se genademet verskillende plante wat op verskillende tye blom. Gewoonlik is die blomme net vir sowat vyf uur op ’n dag oop, dus het jy genoeg tyd om die vriendelike Namakwalanders en die res van hulle wonderwêreld te verken.
Blommeland 101
Sonvangers. Ry altydmet die son agter jou, want die blomme draai hulle gesiggies na die son. Goggas! Hou in gedagte daar is baie steekvlieë en goggas wat om die blomme zoem; bring dus
beslis ’n hoed en insekweermiddel saam. Kontant is koning. Hou genoeg kontant byderhand, want baie van die verblyfplekke het nie
kredietkaartfasiliteite nie. Maak vol. Sorg dat jou kar altyd vol brandstof is, want jy besluit dalk net om ’n onbeplande
afdraai te vat. Tjoek-tjoek. Ry trein van Johannesburg tot op Worcester. Van hier af ry jy ’n sirkelroete op ’n bus wat die blomvelde van Tulbagh, Riebeek-Wes,Moorreesburg, Hopefield, Langebaan, Velddrif, Clanwilliam,Wupperthal, Vredendal, Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville insluit. Kontak 011 913 2442 of besoek www.jbtours.co.za.
Iets te lees. Namakwaland veldblomgids van Suid-Afrika deur Annelise le Roux; Op die spore
van Simon van der Stel deur Willie Visagie en Francios Verster; Die langpad terug: Stories hoofsaaklik uit Namakwaland deur Arno van Zyl; Namakwaland se gabbagat en Namakwaland, my hartland deur Theunis Uys.
Wanneer is blomtyd? “Die beste tyd vir blomme? Niemand kan dit bepaal nie; soms is die hele blomseisoen sommer ’n maand vroeër,” sê Jopie Kotzé van die Springbok Lodge op Springbok, “Net Een weet,” sê hy met ’n krakerige stem en wys boontoe.
Waar? Wanneer die blomseisoen begin, hang die blomtydperk en die gehalte van die blomme af van ’n paar dinge: Genoeg reën, goeie opvolgreën en g’n bergwinde nie.
Hoe lank hou die blomme? Gewoonlik strek dit oor ses weke, iewers tussen Julie en September, met Augustus gewoonlik die hoogtepunt. Dis nie altyd slim om jare vooruit te bespreek nie, juis omdat die blomme so onvoorspelbaar is.
Waar bly ’n mens? Daar is hope verblyf beskikbaar, van hotelle en gastehuise tot selfsorghuisies en kampeerplekke. En op die meeste dorpe stel die inwoners – ook boere in die omgewing – hulle ekstra kamers beskikbaar vir blomkykers. En dan kry jy sommer ook soms heerlike plaasetes
en ’n lekker geselsie saam met die kamer. Vra dus ook oor plaasverblyf as jy met die toerismekantoor praat.
Waar kry ’n mens inligting? Die beste is om van Mei af die onderskeie blomstreke se toerismekantoor of jou niggie op Garies te bel en te hoor wat die oumense voorspel.
Watter blomme groei waar? Namakwaland se blomme is veel meer as velde vol helder oranje madeliefies: Daar ook ’n verskeidenheid kleurryke struike, kruie, en vet-, klim en bolplante om na te kyk. Nieuwoudtville en Darling is bekend vir hulle bolplante, terwyl die Weskus, Namakwaland en die Knersvlakte hoofsaaklik plate blomme het. In die algemeen kry jy egter oral iets van alles,maar jy moet uit jou motor klim en soek.
“Gewoonlik blom dit eerste in die laerliggende dele soos die Knersvlakte en Weskus, want dié dele is eerste warm,” verduidelik Christo Paulsen van die toerismekantoor op Vanrhynsdorp.
“Omtrent ’nmaand later, wanneer die laer blomme uitgeblom is, begin die blomme op die hoër dele soos Kamieskroon, Nieuwoudtville en Springbok blom. ’n Goeie tyd om te kom as jy al twee streke wil sien, is Augustus, want dis gewoonlik die middel van die blomseisoen.”
Koop vir jou ’n veldblomgids en kyk langs hoeveel verskillende blomme jy ’n regmerkie kanmaak.
Vir hoe lank moet ek kom? Indien die weer saamspeel en die son elke dag skyn, kan jy oorgenoeg sien in ’n langnaweek. Die verskillende blomstreke is nie so ver van mekaar af nie.
Jy kan dalk twee dae by Garies en twee dae by Kamieskroon rondry, of twee dae in Darling en twee dae in Clanwilliam, maar jy moet minstens twee dae in ’n spesifieke streek bly.
Maar onthou, die kans is goed dat jy ’n paar mistige dae tref en dan maak die blomme nie oop nie.
(Let wel: Pryse akkuraat vir Julie 2007)
Lees die volledige storie:
Springbok
Tyd vir bokspring!
Die Springbok-kafee is ’n goeie plek om jou blommetoer te begin – en ’n sappige hamburger te eet. Die eienaar, Jopie Kotzé, is propvol inligting en gee graag raad. Hy kén die wêreld goed.
“Die deursneemens het 14 dae nodig as jy al die streke wil sien. Jy’t tyd nodig; die weer kan teen jou wees.”
Ons besluit om eerste Nababeep toe te ry. “As jy da’uitry, brand jou oë,” het ons vroeër gehoor. En dit is ook so, want dié vaalmyndorpie is behoorlik oortrek met helderoranjemadeliefies.
Ons klouter oor die ronde rotse – en dis oranje net waar jy kyk.
Terug in die motormik ons na die Goegap-natuurreservaat 15 km suidoos van Springbok. Op pad na die reservaat se inligtingskantoor ry ons verby ’n kom goudgeel gansogiesmet strepe oranje
madeliefies tussenin. Hier kry jy plate en plate en pláte blomme... En ook baie toerbusse. En as jy gelukkig is, sien jy hoe ’n paar springbokkies hulle rug krom trek oor die blommemat.
Jy kan die blomme te voet, te perd, per motor ofmet ’n viertrekvoertuig verken. Dit voel asof jy deur ’n draaiende kaleidoskoop ry – pers sambreeltjies, geel pietsnotte, oranje en pienk vygies en skaresmadeliefies word oor die landskap herhaal.
WENKE Waar’s die blomme? Besoek die Goegap-natuurreservaat en ook die Spektakelberg-, Wildeperdehoek- enMesselpadpas én die paaie na die dorpies Nababeep en Concordia. Ry drie passe. “Wat een spektakel,” het Simon van der Stel blykbaar uitgeroep toe hy in 1685 by die gelyknamige pas af is. Van Spektakelpas af het jy ’n skouspelagtige uitsig oor die Buffelsrivier en die pypleiding tot by Kleinzee.
Gly afmet die nuwe teerpad tot onder in die vallei. Draai links by die Komaggas-bordjie, links
by ’n Soebatsfonteinbordjie en weer links by ’n vierrigtingstop in die middel van ’n smaraggroen
landskap. Jy’s nou in die Namakwa- nasionale park. Ry tot bo-op die Wildeperdehoekpas, oor die
Messelpadpas, verby Nuweputs tot terug op Springbok. En as dit bewolk is? Drink ’n bier by die Okiep-hotel. Besoek die Namakwaland-museumin die
ou Joodse sinagoge en die Nababeep-mynmuseum. Kontak: Springbok Lodge & Restaurant 027 712 1321; Namakwa-toerismekantoor 027 712 8035; Goegapnatuurreservaat 027 718 9906; Namakwa- nasionale park 027 672 1948. Waar bly ek? Springbokwoonwapark 027 718 1584; Kleinplasie-gastehuis 027 712 1141; Springbokhotel 027 712 1161.
Maak toe
Kamieskroon
Kroonjuwele
“Ek stuur altyd mense Skilpad toe. Selfs in ’n slegte jaar is daar blomme,” gesels die bekende blomfotograaf Colla Swart. Die plaas Skilpad, 21 km van Kamieskroon af, is die geboortegrond van die Namakwanasionale park.
Ons drink koffie en eet van Una Thiart se tuisgebakte kaaskoek by Oupa Fanie se Winkel langs die Kamieskroon-hotel. “As jy op dié hotel se stoep sit, sal jy almal suid van die Sahara – én nog wat – ontmoet,” sê sy. “Ons het al saam met wyle Anton en Huberte Rupert op die stoep gesit en gesels.”
Vroeg die volgende oggend kruip my Golfie teen die Kamieskroonpas uit. Daar is mense wat sê die “kroon” in Kamieskroon verwys na Kardoukop (wat meer na ’n halwe koeksister as ’n kroon lyk). Ander sê weer die dorpie self is die kroon van die Kamiesberge.
Bo-op die berg is dit klipperig, maar groen. Langs die pad is die veld ’n mengelslaai van viooltjies, sambreeltjies, madeliefies, pienk Kaapse tulpe en geeloog-surings. Jy wil sommer iewers ’n tuindwergie gaan neersit.
Die pad kronkel boontoe, verby die dorpie Nourivier, tot by die dorpie Leliefontein. “ ’n Paar jaar
gelede het dit selfs vier dae lank hier op Leliefontein gesneeu in die blomseisoen,” vertel Anita Smith van Anita’s Tuckshop, “dan kry jy sneeu én blomme”.
Terwyl ek weer met die Studerpas afry Kamieskroon toe, dink ek aan die ander berge in die blommestreek: Die Maskam-, Bokkeveld-, Seder- en Kamiesberge. In die skynbaar dorre streek is daar soveel groen “krone”.
WENKE Waar’s die blomme? Besoek die Namakwa- nasionale park en ry met die Kamieskroon en
Studerpas verby Nourivier en Leliefontein. Slaap soos ’n Nama. Vera Engelbrecht het ’n paar tradisionele hutte op ’n oop veldjie net buite
Leliefontein laat oprig.
“Hier wil ek die lewende Namakultuur vir my gaste wys. Ons bedien lekker asbrood, kluitjies
en bloedpap, en die mense eet sommer hier in ons kookskerm uit ’n emaljebord.”
Dit kos R100 per persoon, ontbyt ingesluit.
Namakwa- nasionale park. Colla en Neil MacGregor van Nieuwoudtville het Skilpad as ’n moontlike natuurreservaat geïdentifiseer, en wyle dr. Anton Rupert het die geld gegee om die lappie grond van 933 ha te koop. Vandag beslaan dié park, met Bernard van Lente aan die stuur, sowat 100 000 ha.
“Ons plan is om uiteindelik die park met ’n kusstrook tussen die Groen- en Spoegrivier te verbind,” vertel hy opgewonde.
“Ons wil heeljaar toeriste hier hê en nie net in die blommetyd nie.
“Dié wildernisgebied strek oor hoë berge en deur valleie. ’n Beter verskeidenheid blomme gaan jy
nêrens anders kry nie,” sê hy beslis. En as dit bewolk is? Geniet ’n biltongbotterbroodjie by die koffiewinkel in die Namakwanasionale
park. Foto-les. Skryf in vir ’n Namakwaland-fotografieslypskool.
Gaan kyk by www.kamieskroonhotel.com wanneer die kursus aangebied word. Kontak. Die hotel is ’n goeie plek om te begin.
027 672 1614 www.kamieskroonhotel.com; Namakwa- nasionale park 027 672 1948. Waar bly ek? Verbe-woonwapark
027 672 1776; Pendoringhoek
027 672 1752; Vera Engelbrecht
027 672 1972.
Maak toe
Garies
Verlede jaar was dit 50-2 vir die Gousblomme op Garies se rugbyveld.
Storietyd...
“As jy van Springbok af kom, draai net voor Garies regs op die grondpad by die Hondeklipbaai-
Koiingnaas-bordjie,” verduidelik Nelis Engelbrecht, ’n vierdegeslagboer.
Om my is die heuwels vol pienk en oranje vlekke. Ek ry dieper die Sandveld in tot by die plaas
Sarrisam, waar ek vanaand slaap.
Dis naby dié plaas waar die oudbokser en spioen Robey Leibbrandt aan wal gekom het nadat hy deur Adolf Hitler gestuur is om Jan Smuts se regering tot ’n val te bring.
Dit is maar een van die stories wat jy sal hoor terwyl jy heerlik aan ’n skaaptjoppie smul. Die Namakwalanders hou van gesels en kuier tot laataand. Ook maar goed die blomme gaan so laat oop...
Ons ry die middag tot by Groenriviermond, waar ons deur ’n paar afgeleefde huisies begroet word.
Plek-plek blom klompies pragtige helderpienk volstruisvygies.
Die vakansiehuisies, wat al sedert 1967 hier staan, is onwettig en die regering beskou die mense as plakkers omdat die grond nie aan hulle behoort nie.
Maar hulle is nie die enigstes wat lief is vir die kus nie. Desembermaande haak Namakwalanders en Gautengers hulle woonwaens en kom slaan kamp op in die klein baaitjies.
Want sien, aan die kuslyn met sy ysige waters en eensame strande sien ’n mens (nog) nie ’n enkele Pam Golding-bordjie nie.
WENKE Waar’s die blomme? Ry die Groenriviermond- en Hondeklipbaairoete en die Karaspad na Kamieskroon. Duinlangs. Van Groenriviermond af kan jy ook op ’n 4x4-roete tot by Hondeklipbaai ry. Jy het ’n permit nodig, want ’n deel van die pad behoort aan die diamantreus De Beers. Bel die Kleinzee-toerismekantoor by 027 807 2999. En as dit bewolk is? Elke jaar bestuur Sonja Jordaan die Gariestoeristestalletjie. Binne is dit
koel en ruim en vol plattelandse snuisterye – van velhoede en olielampe tot hekelwerk en dadels. Hier is ook ’n heel billike koffiewinkel. Kontak: Garies-toerismestalletjie
027 652 1220 Waar bly ek? Sarrisam-plaasverblyf
027 581 1021; Garies-hotel
027 652 1042; munisipale
kampterrein 027 652 8000.
HOE NEEM EK FOTO'S
Die Kanadese fotograaf Freeman Patterson gee raad: Verander jou hoogte. “As jy nie die helfte van die tyd op jou knieë is nie, het jy baie gemis. Almal van ons het ’n‘heilige hoogte’, gewoonlik ooghoogte, waarvandaan ons die meeste foto’s neem. Maar daar is nie net een hoogte nie. Jy moet bereid wees om uit elke liewe hoek na dié wêreld te kyk. Knak jou knieë, sit op die grond.” Dink klein. “As ek die mense op fotografie-uitstappies neem, sal ons in 4-5 uur nooit meer as 2 km
dek nie.” Filmflink. “Film gee steeds die beste gehalte,” sê Colla Swart. “Niemand wil meer as twee uur
voor ’n rekenaar sit nie.”
Maak toe
Nieuwoudtville
Rondom Nieuwoudtville kom vier plantegroei streke - fynbos, renosterveld, dolerietgang en Karooveld byeen en kry jy meer as 300 spesies bolplante.
Blomkoninkryk
Die stokou Bedford-bussie wil-wil vrek. Die wolke hang swaar en dreigend. Ek sit voor in die bussie langs die natuurliefhebber en boer Neil MacGregor. Gelukkig kry hy die bussie aan die gang en ry met ons ’n draai op sy plaas.
Neil is een van die stigterslede van die Namakwa- nasionale park en sy plaas Glenlyon net
buite Nieuwoudtville is ook ’n veldblomreservaat.
Hy bied elke jaar blomtoere aan (R120 per persoon). Die bussie is tjokvol plaaslike én oorsese
blomkykers. “Op Nieuwoudtville kry jy die grootste verskeidenheid bolplante ter wêreld,” vertel hy.
Dit staan ook so op ’n advertensiebord soos jy die dorp inry: “Nieuwoudtville: Bolplanthoofstad
van die wêreld.”
Nieuwoudtville is geleë bo-op die Bokkeveldberge in die Hantam-Karoo, en die reënval hier is heelwat hoër as op die Knersvlakte.
Hier kom vier plantegroeistreke voor: Fynbos, renosterveld, dolerietgang en Karooveld.
“Matjiesfontein is die plaas met die grootste konsentrasie bolplante per vierkante meter in die
wêreld,” het Leana van Wyk van die Matjiesfontein-padstalletjie, ’n entjie buite die dorp, my vroeër
vanoggend vertel. In die klipgebou, waar hulle afval, bredies, bobotie, soetperskes en vars roosterkoek bedien, is dit heerlik warm.
Jy kan vir R8 in die veld kom rondloop en blomme soek. “Die mense is baie erg oor die pronkbobbejaantjies, satynblomme, soetkalkoentjies, ruitertjies en natuurlik die rooi katsterte op ons ander plaas, Boereplaas.”
“Die katsterte het dié rooi kleur vanweë die dolerietgrond waarin dit groei. Jy kry dit net hier in die
hoër dele,” vertel haar seun Kobus van Wyk wat mense op ’n 4x4-roete op Boereplaas neem.
Nieuwoudtville is beslis nie ’n tipiese hoofstad nie. Hier kraai blomme koning.
WENKE
Waar’s die blomme? Besoek die plaas Glenlyon, die Nieuwoudtville-blomreservaat, en ry uit op die Matjiesfonteinen Loeriesfonteinpad. En as dit bewolk is? Die Loeriesfonteinpad kan jy heeljaar ry. Hierlangs kan jy by die Nieuwoudtville-waterval en die kokerboomwoud stilhou. Kontak. Bel die toerismekantoor 027 218 1336; Matjiesfonteinpadstal 027 218 1217;
Glenlyon-blomtoere 027 218 1200, of besoek www.nieuwoudtville.com of www.nieuwoudtville.co.za. Waar bly ek? Van Zijl-gastehuise
027 218 1535; Kokerboomgastehuis
027 218 1249. As jy wil kamp, bel die Hantammunisipaliteit by 027 218 8700.
Maak toe
Vanrhynsdorp
Gewoonlik is die blomme net vir sowat vyf uur op 'n dag oop, dus het jy genoeg tyd om die vriendelike Namakwalanders en die res van hulle wonderwêreld te verken.
Woestyn en waterval
“Sit sommer hierso,” beduie Christo Paulsen van die toerismekantoor op Vanrhynsdorp my agter die toonbank in. Die eerste besoekers begin insuiker, druk aan die gesels oor waar die blomme blom.
“Selfs in slegte reënjare is daar mooi blomme langs die Koebeepad,” sê Christo.
Die Koebeepad begin so 9km anderkant Vanrhynsdorp op die R27 na Calvinia. Eers ry jy deur
die Knersvlakte waar ’n paar skape in die pad lê en bak.
Die pad klim stadig tot jy uiteindelik ’n bordjie kry wat “Koebeepas” lees. Die meeste mense draai gewoonlik hier om, maar dié pas lei na die stil Koebeevallei, waar net ’n paar plaasopstalle staan.
“Hoekom wil jy daai steil ding uit?” het Gert Basson, ’n boer van die omtrek, gevra. Die pas ís steil
en jy sal nie sommer ’n hoër rat as tweede gebruik nie. Die Knersvlakte word klein agter jou en onder jou lê die Koebeevallei, groen en geil.
Druk jou motor se neus ondertoe en laat wiel teen die gruispaadjie af tot onder in die stil vallei. Suiker voort en verkyk jou aan die fynbos.
By ’n vurk in die pad draai ek om sodat ek eerder nie die paar boere wat in hierdie pragtige stil
tuin bly, pla nie.
WENKE
Waar’s die blomme? Ry die Koebeepad en die Urionskraal en Gifbergroete. Ry in sirkels. Die Gifbergroete is ’n sirkelroete wat die Gifbergplato insluit, en bied ’n welkome afwisseling van die Knersvlakte. Bo-op die plato tuimel watervalle teen sandsteenhange af en die fynbos groei ruig. Jy klim net anderkant Vanrhynsdorp se woonwapark op dié pad.
Eet middagete op die houtdek van Jan en Héla Huisamen se Gifberg-vakansieplaas en sorg
dat jy voor sononder op die plaas Waterval is. “Ons waterval is twee keer so hoog soos Nieuwoudtville s’n,” spog die eienaar, Johan Smith.
Hier tussen die blou viooltjies in die skadu van die Maskamberg is tien chalets waar jy kan oornag. En as dit bewolk is? Stap een van die kort roetes op Gifberg – elke roete sluit ’n waterval in; of bly
liewer binnenshuis en besoek die Latsky-radiomuseum op die dorp. Kontak: Christo Paulsen by die toerismekantoor 027 219 1552. Waar bly ek? Waterval
027 219 1005; La Rochelle
084 511 6601; Gifberg-vakansieplaas
027 219 1555; woonwapark en selfsorgeenhede 027 219 1287.
Maak toe
Clanwilliam
Die vleiblomme staan bond in die Biedourivier wat kronkel deur driffies van die Biedouvallei, anderkant Clanwilliam.
Suiker deur die stil vallei Ai, ek is eintlik te laat vir die blomme in die Biedouwvallei, hoor ek by die toerismekantoor, maar ry
nogtans soontoe. Die pad kronkel deur die Sederberg-wildernisgebied, verby teelanderye en Leipoldt se graf, tot bo-op die Pakhuispas.
Op die plato lê die blou Biedouwberge aan jou linkerkant en die Krakadouberge regs. Onder lê
die Biedouwvallei met plate geel en oranje gansogies en pers viooltjies.
Ek ry af met Hoek-se-berg-pas en draai links by die Biedouwvalleibordjie.
Die grondpad kronkel op en af deur die stil vallei, deur ’n paar driffies, tot by die Doringrivier.
Ek’s gelukkig, want langs die stroompies staan klompe wit vleiblomme.
Van April tot November droog die Doringrivier op en kan jy deurry tot by die R355 en daarna
met die Botterkloofpas na Calvinia of suid na Ceres.
Vandag loop die rivier egter heuphoogte. Hier kan jy sit en droom oor hoe mooi dit moet wees
as die blomme geil staan.
Terug op Clanwilliam is die hoofstraat besig. ’n Toerbus stop voor die inligtingskantoor. Die veldblomme is miskien al af, maar ek is betyds vir die jaarlikse Veldblomskou (vanjaar
op 23-29 Augustus) in die ou NG kerk. Binne is dit koel en is daar uitstallings van die verskillende
streke se blomme (sonder die vlieë, die enigste slegte ding van ’n blommetoer).
Al wat kort, is ’n CD met voëlgeluide op die agtergrond.
WENKE
Waar’s die blomme? Besoek die Ramskop-veldblomreservaat en ry die Ou KaapseWeg. Ry in die rondte. Lus vir ’n lekker sirkelroete? Vat die R364 en ry oor die pragtige Botterkloofpas na Calvinia, Nieuwoudtville, Vanrhynsdorp en dan uiteindelik terug na Clanwilliam toe. En as dit bewolk is? Clanwilliam is ’n redelike groot dorp met ’n hele paar koffiewinkels,
snuisterywinkels en ’n galery of twee. Maak ook ’n draai by Strassberger se velskoenfabriek
en kry vir jou ’n paar blou vellies. Kontak? Toerismekantoor 027 482 2024; www.clanwilliam.info Waar bly ek? By die Clanwilliamdam-oord 027 482 8000; Sederberg-wildernisgebied: Selfsorg en kampering, Cape Nature 021 659 3500; Mertenhof-gasteplaas 027 482 2845.
Maak toe
Weskus
Sorg dat jy dou voor dag by Postberg inklok as jy alleen by Uitkykpunt wil piekniek hou en die skares te vermy.
Weskusblom
As dit ’n goeie jaar is, sal jy waarskynlik langs die meeste Weskuspaaie velde vol wit, geel en oranje madeliefies sien. Maar die mooiste plek om blomme te kyk is die Postberg-natuurreservaat in die Weskus- nasionale park naby Langebaan. Dié deel van die park is net vir twee maande, van Augustus tot September, vir die publiek oop.
“In ’n mooi reënjaar is die hele Weskus vol blomme,” sê Dekker, bestuurder van die Tietiesbaaikampeerterrein in die Kaap Columbine-natuurreservaat net duskant Paternoster, toe ek vra waar ’n mens moet gaan kyk.
“Hier by ons sien jy papierblomme – dis ons prize-blom – strandrosies, perdeblomme, pienk bokbaaivygies en natuurlik baie oranje, geel en wit madeliefies,” vertel hy.
“En natuurlik gousblomme, daar by die heel westelike punt onder die mishoring.
“Maar jy moet uitklim en tussen die rotse en die duine rondloop.”
WENKE
Waar’s die blomme? Weskus- nasionale park, Kaap Columbinenatuurreservaat. Wees gereed. Die besprekings vir die tweedag-staproete in die Postberg-natuurreservaat in die
Weskus- nasionale park is reeds oop. Dié deel van die park is net van Augustus tot September oop
en een van die voorste plekke om plate blomme te sien terwyl jy die see ruik. En dan loop daar nog
springbokke, bontebokke, elande en wildebeeste ook rond. Lees in Weg #12 wat jy alles in die park kan sien. En as dit bewolk is? Sit op Pearly’s se houtdek op Langebaan, of eet kerrie by die Geelbekrestaurant in die Weskus- nasionale park. Kontak? Weskus- nasionale park 022 772 2144; Kaap Columbine-natuurreservaat 022 752 2718 Waar bly ek? Langebaan-toerismekantoor 022 772 1515; www.langebaaninfo.co.za. Daar is selfsorgverblyf in die park én jy kan by Tietiesbaai kamp opslaan.
Maak toe
Darling
Die boer Tienie Versfeld het in 1958 20 ha van sy plaas Slangkop vir die Nasionale Botaniese Instituut geskenk.
Blomperron
“Is jy lus vir ’n glasie wyn?” vra my gasvrou, Pat McKay, toe ek my rugsak moeg neersit. Sy en haar buurman sit onder ’n prieel. ’n Kat suiker verby. Dis middel September, maar haar tuin is steeds ’n lushof.
“Mense dink as Namakwaland se blomme verby is, is die blomseisoen verby. Hulle besef nie
hier is dan nog hope blomme op Darling nie. Ons het ’n groot verskeidenheid, en jy’t dus verskillende blomme op verskillende tye,” vertel Dianne le Roux by die inligtingskantoor die
volgende oggend. Die Darlingveldblomskou is trouens eers van 14 tot 16 September.
Rondom Darling is daar ook ’n stuk of ses veldblomreservate.
“Jy gaan egter nie veel sien as jy teen 60km/h verbyry nie. Jy moet uitklim en op jou knieë in
die reservate gaan sit. Dis regtig amper ’n persoonlike ervaring met die blomme,” sê Dianne.
By die Tienie Versfeld-veldblomreservaat net buite die dorp is dit bewolk. Amper 50 jaar gelede
het oom Tienie Versfeld 20 ha van sy plaas Slangkop vir die Nasionale Botaniese Instituut geskenk
om die ryke verskeidenheid blomme te bewaar.
“Contreberg” sê die bordjie op ’n hek. Dié reservaat is eintlik net ’n oop stuk veld, maar as jy
instap en begin kyk, sien jy die mooiste veldblomme – kleurryke kelkiewyn, pajamablomme, snotrosies en kalkoentjies – tussen die lang gras. Ek buk af en begin foto’s neem.
’n Dik bruin slang seil skaars 2 m van my af. Ek trippel vinnig weg. Toe my hart effens bedaar
het, hurk ek by ’n kelkiewyn vir ’n laaste foto. En dan, wraggies, kom nóg ’n slang op my afgepyl.
Soos blits is ek weer in die Condor – agter geslote deure. Sjoe, hierdie is behoorlik die Tuin van Eden.
WENKE
Waar’s die blomme? Tienie Versfeld-reservaat, die plaas Contreberg, Waylands, Oudepost,
Groenkloof-reservaat, Renosterveld-reservaat, Rondeberg- private reservaat en Buffelsfontein-wildreservaat. ’n Meevaller. Toegang na die meeste veldblomreservate is gratis en jy kan sommer net instap. Kry ’n kaart by die toerismekantoor in die Darling-museum. Kultuurblom. Darling se Voorkamerfest word van 31 Augustus tot 2 September gehou. Bespreek nou by www. voorkamerfest-darling.co.za. En as dit bewolk is? Snuffel rond vir ’n gehekelde serp by The Marmelade Cat, tuisgemaakte
konfyt by die Vyge Vallei-padstalletjie, of vergaap jou aan die ou goed in Evita se Perron. Kontak? Museum-inligtingskantoor 022 492 3361; www.darlingtourism.co.za of www.darlingwildflowers.co.za. Waar bly ek? Strathnaver B&B 022 492 3810; Waylandsgastehuis 022 492 2873; The Granary 022 492 3155.
HOE VER NOG?
Onthou, jy sal op elke dorp ’n paar sirkelroetes of grondpaaie ekstra – of deur ’n reservaat of
twee – ry. Ry heel eerste na die toerismekantoor en kry vir jou ’n goeie kaart. Dis gewoonlik
gratis. Vra by die toerismekantoor ook wat die toestand van die paaie is.
Kommentaar