Op dag drie het die wit waters vroegoggend die groep se pasaangeleerde roeivernuf getoets. Hier wys Sarel (links) en Eugene hulle slag.
Hoe gaan ek sonder my BlackBerry oorleef? Was dit dwaas om my selfoon diep onder die kar se sitplek te bêre daar by die gastehuis op Zastron? Ek mis al reeds sy flikkerende rooi oog, daai liggie wat wys iemand wil klets, of iets gaan aan op Facebook of Twitter.
Dit klink pateties, ek weet. Maar hoeveel van ons voel nie deesdae só nie? Vasgevang in die 9-5-hamsterwieletjie, maar danksy ons selfone altyd beskikbaar. Wel, nie vir die volgende vier dae nie.
Die witwaters en wildernis is my en Ruvan, die fotograaf, se voorland, want ons is deel van ’n groep gidse en roeiers wat ’n “nuwe” deel van die Oranjerivier op tweeman-opblaaskano’s – of sommer net crocs – gaan verken.
Ons beginpunt is om die draai van die Tele Bridge-grenspos met Lesotho.
Dis ’n ware avontuur-ekspedisie wat wag, want geen kommersiële roeitog is al op dié 94km lange deel van die rivier, net ’n paar spaanlengtes van Lesotho af, aangepak nie. Ons gaan die hele stuk roei, maar die kommersiële roeitog sal effens korter wees.
Slegs ons groepleier, Andrew Kellett van Gravity Adventures, het vorige ervaring van dié roete. Hy was in 2006 deel van ’n ondersteuningspan vir ses swemmers wat die lengte van die Oranjerivier geswem het. En ek dag ons is laf...
Eintlik het ons geen benul van wat voorlê nie. Hoe wild is die stroomversnellings? Wag daar iewers ’n waterval? Waar slaap ons?
Ek weet wel een ding: Dit is ongelooflik mooi hier. Die Malutiberge trek laer rondom ons, bonkig en tydloos. Maar dan, effens kommerwekkend, gewaar ek sneeu op die einste berge.
Dit is middel Junie en Racheltjie de Beerkoud. Gravity wil graag die roete in die somer bekend stel, dié dat ons nou ons alie moet afvries. Hoe ook al, hier trippel ons troppie van 15 roeiers en gidse rond in natpakke, wolmussies laag oor die ore getrek. Slaggereed vir die Maluti Meander-recce. Wel, min of meer...
Dag 1
Ant Hoard, een van Gravity
se gidse, doen ’n bietjie introspeksie. In die agtergrond is
die sneeubedekte Malutiberge.
Op die roeiroete kyk die gidse
uit vir ’n lekker sandbank en plat oppervlak, soos hier teen
die einde van dag een.
Op julle merke, gereed... ontspan!
Die belangrikste punt van die veiligheidspraatjie voordat ons wegtrek, is die sogenaamde cocktail-posisie: As jy in witwater van jou croc geskei word, is spartel nie ’n opsie nie. Jy moet bloot op jou rug dryf en jouself stuur; die reddingsbaadjie sal keer dat jy sink.
“Verbeel jou jy lê terug met ’n sigaret in die een hand en ’n cocktail in die ander,” verduidelik Ant Hoard, een van die gidse. Maar gaan daai cocktail keer dat ons vries, wonder ek. Die ander roeiers doen uiteenlopende dinge in kantoorure: Ian is ’n appelboer, Eugene en Sarel maak ingewikkelde somme by Absa, Leith voer blomme uit, Rinnet is ’n entrepreneur, Mickey is in die weermag en Elsabé is ’n toeroperateur.
Almal lyk fikser as ek en Ruvan. Gelukkig is hierdie nie ’n resies nie; die fokus is volledig op ontspanning... en om uit die yskoue water te bly. Vir die eerste twee dae voorsien Andrew darem nie te veel stroomversnellings nie.
Ons bind ons goed geseëlde droësakke, wat boepens staan met klere, ’n tent en slaapgoed, met toue aan die crocs vas – dít sal oor die volgende paar dae een van vele rituele word. Die Voortrekkerknope los ek vir Ruvan.
So ’n roeitog is ’n hengse logistieke operasie, begin ek besef. Buiten jou eie droësak is daar op elke croc ook ’n koelboks en ’n blou vaatjie vol bestanddele vir ons etes (wat die gidse maak).
Op ons blou vaatjie staan “Rasta Pasta” geskryf (’n tamatiepasta met amandels, knoffel, olywe, spek en rissies, sou ons later uitvind).
Nou is ons op die water. Sjloef-sjloef. Die roeitog begin, maar dit sukkel. Ek en Ruvan neuk op ’n sandbank op en die wind waai reg van voor af. Ysig.
Vir die eerste 2km of wat roei ons nog op die Telerivier, wat dan byna ongesiens aansluit by wat in Suid-Afrika bekend is as die Oranjerivier. Regs van ons lê Lesotho, links die Oos-Kaap.
Die Oranje se oorsprong is 550km Lesotho se kant toe, en staan daar as die Senqu bekend.
Van waar ons nou roei, is dit ongeveer
1900km rivierlangs tot by Alexanderbaai en die Atlantiese Oseaan. G’n wonder hulle praat van die “magtige Oranje” nie.
Tyd vir dink is daar sommer baie in ’n croc, veral as jy en jou roeimaat eers ’n roeiritme gevind het. Jy kan nie veel anders doen as roei, nonsens praat, rondkyk en dink nie.
Ek dink aan my vorige roeitog, ook op die Oranjerivier, maar in die bekende Richtersvelddeel tussen Noordoewer en Aussenkehr.
Dit was in 2007, tussen Kersfees en Nuwejaar, en daar was letterlik honderde kano’s van verskillende operateurs op die water. Party mense het soos seerowers aangetrek en mekaar in die verbygaan speels met spane en “Arr! Arr!”-krete bygedam. Dit was vet pret, die rivierweergawe van ’n intervarsity-naweek.
Maar hier waar ons nou roei, is dit dramaties anders: ’n nuwe landskap, ’n nuwe stilte. En geen ander roeiers op die water nie.
Al herinnering aan die “beskawing” is flenters plastiek wat plek-plek in die digte takke, meters bo ons, vassit. Dit moet met die vloedwaters vroeër vanjaar van elders af gespoel het.
Die enigste mense wat ons nou en dan sien, is bok- en beeswagters wat teen die rantjies staan, taamlik verras om ’n groep roeiers te gewaar.
Hulle groet almal vriendelik met “Molweni!” (Oos-Kaap) of “Dumelang!” (Lesotho).
Ons roei net 12km voordat ons op ’n sandbank afsaal. Vandag was die wind en weer nie aan ons kant nie, maar gelukkig vloei die rivier lekker vinnig en ons is nie te pootuit geroei nie. Nou weer vir die rituele: Droësakke oopmaak, natpak en ander nat klere ophang, tent opslaan en warm aandklere aantrek terwyl die gidse ’n Bedoeïen-tent (die kombuis- en kuierdeel) oprig, vuurmaak, en dan koffie, tee en warmsjokolade gereed kry.
Ná ’n geurige hoenderroerbaai met kasjoeneute sit ons tot laat om die vuur en gesels.
Dit is koud, maar daarvoor het ons ’n bottel Old Brown Sherry. Tussen die gelag en gesels hoor ek die vuur knetter en, ’n entjie weg, die Oranje se gedruis – konstant en gerusstellend.
Maak toe
Dag 2
Kies mooi wanneer jy die Maluti aanpak – in
die winter is ryp ’n gegewe... Die beste tyd is van Januarie
tot April.
Winter is dalk nie die beste tyd om die Oranje te komtemnie, maar koffie of Old Brown Sherry (of albei) het
die ergste koue afgeweer. En recces is mos taai.
Roei as vorm van meditasie Vandag lê sowat 20km voor. Die weer is darem stukke beter en die son breek luilekker deur die wolke. Maar die sneeu lê steeds op die omliggende Maluti’s...
’n Mens sou dink jy kan dalk verveeld raak op kilometers se plat water, sonder die opwinding van hardebaard stroomversnellings met name soos Sambok of Big Bunny.
Allermins. Die ritme van die spane hou jou moeiteloos gefokus terwyl die landskap weerskante van die rivier soos ’n geduldige, mooi screen saver ontvou. Hier ’n treurwilger, daar nog ’n paar bok- en beeswagters of kaal populierbome en aalwyne – ’n gans ander wêreld as die Oranje se meer bekende roeidele.
Op die water hou almal hulleself besig.
Mickey wil graag ’n visarend sien, en haar kop draai soos ’n soeklig; Sarel en Eugene het ’n paddatjie opgeraap wat soos ’n wafferse bevelvoerder heel voor op hulle croc sit; Leith staan agterop sy croc – dit lyk asof hy in ’n kanaal in Venesië roei.
In ’n stadium kom ’n vrou met ’n helderrooi kopdoek teen die rantjie na ons toe aangehardloop, rasend opgewonde. Een van die gidse gee vir haar ’n boksie melk as geskenk. Eers omhels sy hom, en pluk dan ’n selfoon uit om nommers uit te ruil. Wie sou kon raai?
Ná middagete bak ons vir ’n rukkie soos dassies in die son. Toe ons weer ons rustige gang
begin gaan, tref dit my soos ’n ghong: Roei is ’n vorm van meditasie. Die sjloef-sjloef-herhaling, die fokus, die dissipline – dis pure Zen.
My gedagtes gaan draai by ’n vorige poging om te mediteer. Een jaar by die KKNK het ek halfses die oggend saam met ’n filosoof (hy was ook ’n Zen-monnik) by ’n gastehuis deelgeneem aan ’n meditasiesessie.
Ek het die vorige aand te veel gekuier, maar nogtans kruisbeen gesit en probeer kophou.
Toe ons egter in ’n ál kleinerwordende kringetjie stap terwyl hy ’n simbaaltjie slaan, dwaal my aandag na die gastehuis se venster, waar ek vir ’n oomblik ongemaklike oogkontak met Marthinus van Schalkwyk en twee lyfwagte maak... Enige kans om nirvana te bereik was netdaar in sy peetjie.
Maar hier op die Oranje kry ek dit byna moeiteloos reg om “in die oomblik” te leef en getrou te bly aan die hier en nou.
Nie almal kry dit altyd reg om nirvana te bereik op ’n rivier nie. Die aand om die vuur, ná ’n bord epiese Rasta Pasta, vertel Andrew ’n staaltjie van ’n Chinese egpaar wat in Swaziland gaan roei het.
Die roeitog het geëindig tussen ’n groot stroomversnelling en ’n 18mhoë waterval.
Die egpaar se Engels was egter baie swak. Hulle het die instruksies verkeerd verstaan, nie gestop net ná die stroomversnelling nie, en by die waterval afgetuimel!
Al twee het darem oorleef, maar daarna druipnat in gebroke Engels aanhou prewel:
“No more wappid, no more wappid...”
Maak toe
Dag 3
Dag twee is ongeveer 20 km se roei. Gelukkig is dit vir kilometers aaneen stille waters, en ná middagete is daar
kans om ’n rukkie in die son te bak.
Is jou testament op datum?
Buite my tent lyk dit soos ’n wit Kersfees – laasnag het dit behoorlik geryp. Ons sou later hoor die kwik het by -6ºC gaan draai!
Alles buite die tente – afdrooglappe, natpakke, handdoeke, tandeborsels en selfs twee botteltjies Ina Paarman-speserye – is wit gevries. Ons bibber rondom die vuur en wag dat die eerste sonstrale oor die heuwels kruip – ek hoop die roeiers in die somer hou iewers ’n minuut stilte vir ons proefkonyne.
Die dag op die rivier begin met groot opwinding: Ons eerste witwater-uitdaging is ’n hoë dwarswal met ’n propperse golf.
Eers staan ons op die wal en kyk na dié gedoente. “My testament is in my inboks,” sê Sarel, effens gespanne. “... ongeteken.” Ek het nie eens ’n testament nie...
Die wal is gelukkig glad nie so erg nie en almal bons later ongedeerd oor die golwe.
Vandag wag sowat 30km op ons. Ná die oggend se adrenalien is die water weer plat, die strome gunstig. Die Vrystaat is nou regs, die Lesotho-deel agter ons.
Toe Mickey opgewonde begin roep, weet ek dadelik: Hier’s ’n visarend.
Met vlerke wyd gesprei, vlieg die visarend – met ’n vis in sy kloue vasgeklem – láág oor die crocs. Almal kyk in stilte. “Nou is my trip volmaak,” sê Mickey.
Nog ’n lekker ding van so ’n nuwe roeitog is dat jy self name kan uitdink vir stroomversnellings en sandbanke. By die plek waar ons vir middagete stop, sien ons ’n bonkige rots op die oorkantse berg. “Welkom by die Hard Rock Café,” sê Ant terwyl hy en sy span groente kerf, brood smeer en konfyte uitpak.
Laatmiddag bereik ons die staalbrug oor die Oranjerivier wat ons vroeër oorgesteek het toe ons van Zastron af na die beginpunt toe gery het.
Die rivier vloei lekker vinnig hier, en sodra ons onderdeur die brug is, verander die landskap dramaties. Die rivier vernou ingrypend en ons dryf in ’n ravyn met rotswande van maklik 20m hoog aan weerskante.
Dit voel anderwêrelds.
Andrew doop die ravyn “Lava Gorge”. “Jy sal nie so iets op enige ander deel van die Oranjerivier ervaar nie,” sê hy ingenome.
Die aand sit ons weer om die vuur, met skaapvleis wat op die kole gaar word. Vanaand is glad nie so koud soos die ander aande nie.
Die rivier vloei vreedsaam langs die sandbank; bo ons flonker die sterre.
Ant draai die vleis om. Hy is al tien jaar ’n gids. “Ek wou nie net ’n gap-jaar vat ná skool nie. Ek het in my matriekjaarboek geskryf ek soek ’n gap-lewe.”
Riviergidse is gewoonlik in hulle hart ’n hippie, maar toegerus met die dissipline en werketiek van daai mier waaroor Salomo in Spreuke skryf.
As ek eendag kinders het, sal ek hulle ná skool vir ’n jaar rivier toe stuur.
Maak toe
Dag 4
n Kortpad na kalmte
’n BlackBerry? Wat is dit nou weer? Kan ’n mens dit eet? Dís soos ek vanoggend voel. Boonop maak die rivier ons laaste 30km tot by die plaas Kromhoek baie maklik.
Ons dryf, roeispane bo die water, in die vinnige stroom. Sorgeloos. “Dis soos om in ’n hangmat te lê!” roep Elsabé uit. Inderdaad.
Hier op die laaste dag is die kontras tussen die landskap aan weerskante van die rivier opvallend: Links, aan die Oos-Kaap se kant, hou letterlik honderde aalwyne oor die dor heuwels wag. En regs is die Vrystaat groen en bebos, met geel treurwilgers wat bo die water wieg.
Die middag maak ons korte mette van twee behoorlike stroomversnellings voordat ons vir ’n hele ruk teen die wind roei en by Kromhoek anker gooi. Hier wag Neels en Marianna van Rooyen ons in met boeregasvryheid, moerkoffie op die kole en tuisgebakte beskuit.
Ja, mission accomplished, dink ek. Binne vier dae voel dit of jy ’n maand weg was van die “regte lewe”. Of nee, hierdie ervaring ís mos die regte lewe. Ons groepie recces – ’skies, roeiers – wil almal weer dié roete kom roei (maar liefs in die somer).
Terwyl ons agterop die bakkie staan en terugry Zastron toe, raak die kronkelende Oranjerivier al hoe verder weg, tot ons net ’n dun strokie in die verte sien.
’n Mens hoef nie noodwendig jouself te “vind” op die rivier nie, maar dit bly iets van ’n persoonlike tog. ’n Kortpad na kalmte.
Dit laat my dink aan ’n nuwe liedjie van David Kramer, “Bruin rivier”. Hoewel dit nie spesifiek vir die Oranjerivier geskryf is nie, is dit nogtans van toepassing op die Maluti Meander:
Sy is diep en donker Die kleur van brannewyn Hulle sê as ’n mens daar net instap Dan word jou liggaam, jou liggaam weer rein.
Maak toe
Weet voor jy waai
Wanneer kan ek gaan?
Enige tyd van die jaar vir groepe van 16 of meer (behalwe Paasnaweek of oor Nuwejaar).
Waar begin die roeitog?
Die“basis” is Zastron in die Suid-Vrystaat, sowat 50km van die Lesothogrens af.
Waar bly ek?
Ons het lekker gebly by die Mountain View-gaste-huis op Zastron. Kampering is ingesluit in die koste, maar as jy sagter wil slaap, kan jy teen R350 p.n. in ’n kamer vir 2 in die gastehuis bly. 051 673 1040; www.mountainviewzastron.co.za
Wat moet ek pak?
Gravity stuur vir jou ’n volledige paklys, maar van die belangrikste goed is ’n tent, slaapsak, sonbril, sonbrandroom, hoed, drankies en peuselhappies.
Hoeveel kos dit?
R3500 p.p. Die prys sluit 2 aande se kamp in Zastron in (voor en ná die tog), toerusting, etes, droësakke en vervoer van Zastron na die rivier. Vra na die gesinspakkette en groepafslag – skoolgroepe van 20 leerders betaal R2200p.p.
Kommentaar