Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Roete: R27


Kokerboomwoud
zoommore

Kokerboomwoud

BEGIN: By die Hantamhuis in Hoopstraat kan jy jouself trommeldik eet, snuisterye uitkies in die winkel of sommer net kyk na al die oudhede. Die gerestoureerde Hantamhuis-gastehuise is versprei deur die dorp en kos vanaf R260p.p. wat deel vir selfsorg en R325p.p. wat deel vir bed en ontbyt. 027 341 1606 (Erwin en Alta); hantamhuis@calvinia.co.za

23km, draai Noord: Die R27 en R63 is aanvanklik dieselfde pad, maar hier draai jy links op die R27 (die R63 stoom voortWilliston toe).

151km, Brandvlei: Maak tenk vol, eet iets by Die Windpomp of slaap vir ’n halfuur in jou kar onder ’n boom.

167km, Oom Bennas: Jy kan kampeer (R70p.p.p.n.) of selfsorg bly in die volledig toegeruste plaashuis wat tot 8 mense kan huisves (R200p.p.p.n.). Hier’s net sonkrag; jy kan darem jou selfoon laai. 083 603 2958 (Heila); www.oombennas.co.za

202km, Piekniekplek: Daar’s baie piekniekplekke langs die R27, maar net by een het Alf en Jason in 2009 iets báie leliks teen die dak geskryf...

220km, Verneukpan afdraai #1: Kampering by Verneukpan kos R80p.p.p.n. (kinders o.12 slaap verniet). Daar’s ook twee ou woonwaens waarin jy kan slaap (R100p.n. vir die woonwa plus R80p.p.p.n.) Daar’s drinkwater, ’nwarmwaterdonkie en spoeltoilette. 078 594 5441 (Louis en Annice)

284km, Verneukpan afdraai #2: As jy van die noorde ry, kan jy hier al afdraai.

286km, Kokerboomwoud. Toegang is gratis, maar jy moet eers toestemming vra. 083 704 0218 (Linda).

294km EINDE: Nadat jy ’n stuk melktert by Oma Miemie’s in die hoofstraat weggepak het, gaan klok in by De Oude Herberg vir die nag. Selfsorg kos R180p.p. wat deel, en bed en ontbyt R230p.p. 083 704 0218 (Linda);

info@kenhardtguesthouse.co.za

Toast vertel
Toast Coetzer
zoomzoom

R27

As jy jou kaartboek by die Groot- Karoo oopslaan, is dit die R27 wat dadelik jou oog behoort te tref – dis ’n duidelike, dik rooi streep (teerpad!) wat net oos van Calvinia skielik noord begin trek asof hy water geruik het.
Eers mik hy vir Brandvlei en dan, verder noord, Kenhardt toe. Waar my reis begin, in Calvinia, is dit nog die Hantam. Maar wanneer jy noord draai na Brandvlei, raak dit Groot-Karoo.
Ons kan nou seker daaroor stry, maar iewers kort van Kenhardt ry jy die Boesmanland binne (ek sê dis wanneer jy die eerste kokerboom sien; dié wat weet, sê dis alles wes van die Hartbeesrivier).
Gisteraand was hier ’n hengse storm oor Calvinia. Die Oorlogskloofrivier wat deur die dorp loop, het water gekry en die strate is nog nat vanoggend. Ek lê weg aan eiers, ’n worsie en skilpadjie by die Hantamhuis. Een koffie word drie – só lekker gesels ek met die eienaars, Erwin en Alta Coetzee.
Hulle gaan wys my hulle ou maar steeds werkende petrolpompe agter op die werf – slegs veteraanmotors mag hier volmaak.
Voordat jy by die restaurant se deur uitstap, kyk na die foto van die 1940-sonsverduistering links van die kosyn en vra Erwin moet ’n bietjie die storie agter die foto vir jou vertel.
Maar goed, Kenhardt kom nie nader nie...

Een meerkat, een arend
Die R27 is vir die mense wat hier rond bly, eintlik ’n hoofpad – noorde toe, suide toe, iewers elders heen. En niemand vat hulle tyd op die R27 nie. Wanneer jy stilstaan langs die pad en ’n ander kar kom verby, dan ruk jou kar sommer.
Die pad is meestal reguit, gelyk en vervelig – op die oog af. Maar as jy tyd het en stadig ry, kort-kort uitklim en die pad ordentlik inneem, dan is geen stuk pad mos vervelig nie.
Vanoggend lê oral plasse water, die panne is vol, en die kolke se waters is vir die eerste keer in ’n lang ruk op een kol bymekaar.
Die streek se groot riviere soos die Sak- en Hartbeesrivier het ook water gehad en die stuwalle en kolke staan bruin van die water.
’n Kolk is wat hulle hier ’n poel noem, daar waar die water ’n ruk lank opdam nadat ’n rivier geloop het – en dan kan jy jou visstok maar loop afstof, want ná swaar reën kom die babers uit hulle diep moddergate uit.
Dis ná ’n reënseisoen soos dié (dis nou middel Februarie en dit reën al van vroeg Januarie af) dat die boere koring oes op die landerye in en langs die panne en “vloere” van die Groot-Karoo. By die Hantamhuis maak hulle brood van hierdie koring.
Die veld is reeds groen. Die veldblomme is nog nie uit nie, maar geel duwweltjieblomme probeer hulle bes.

Ek hou stil by ’n dooie meerkat. Dis asof die miere wat hom beet het, hom oor die geel streep wil sleep, terug veld toe.
Anderkant die plaas Sandwerf ry ek oor die Klein-Visrivier, waar daar ook water is.
Dan Swawelkop verby, Rietmondspoort (nóg water, en in die pad lê ’n dooie valkie met ’n vlerk wat fladder), Dassiestrate, en die Kootjieskolk-afdraai.
Net anderkant Oumuur sien ek iets groots op ’n draadpaal sit: ’n breëkoparend!
Elke nou en dan is daar padwerke. Oranje kegels in die pad, oranje ligte op die bakkiedak, manne in oranje oorpakke. Iemand maak ’n slaggat reg – hier’s nie baie nie – ander maak die skouers van die pad skoon en ander verf die strepe oor.
Ek hou stil by drie manne in oranje. Eers toe ek stop, sien ek dis twee mans en ’n vrou.
“Mag ek ’n foto neem?” vra ek.
“Ja, seker, Meneer,” antwoord hulle.
Annaleen Mathys vertel my hulle’s al van agtuur vanoggend af hier (hulle woon almal op Calvinia). Joseph Mouries en Martiens Fryer staan nader vir die foto. “’n Mens kan nie lag as jy moeg gewerk is nie,” herinner Annaleen my, maar dan lag sy lekker.
By Tonteldoos staan nog ’n dam water, en net ’n entjie verder ’n landjie ruig van die hawer. Breekbeenkolk, Sakrivierstasie, Hansegat, Nelskop-Suid en dan, vyf liedjies en twee los reënbuie later, lê Brandvlei voor my.
Die duwweltjieblomme laat die gewoonlik stowwerige dorpie effens spoggeriger lyk.

Brandvlei, o, Brandvlei
Die R27 loop net 200m deur die kant van die dorp; jy hoef nie eens een keer te draai nie. Ek is seker baie ouens haal net hulle voet effens van die petrol af, kyk of die tenk nog vol genoeg is, en brand dan weer rubber.
Hoewel dit maklik is, moet jy nie net deur Brandvlei jaag nie. Gewoonlik as ek hier oornag, slaap ek in die Brandvlei-hotel. Al is dit effens afgeleef, het die plek ’n soort outydse sjarme. Vandag slaan ek dit oor, want ek wil vanaand op Kenhardt slaap.
Maar dis middagete, en Die Windpomp is nou al ’n paar jaar die bekendste baken langs die pad in Brandvlei. Ek bestel koffie, en te ete kerrie en rys. Op die TV steier Face van die A-Team uit die see met ’n martiniglas in sy hand. “Neem my op vlerke,” sing een of ander nabootser op die CD-speler.
Bo my hang ’n Wildeklawer Griekwasvlag. Soos dit in kroeë soos hierdie gaan, hang daar honderde kepse teen die muur, en die name van ouens wat hier genoeg gedrink het, staan teen die muur geskribbel. Die vraag is: hoekom?

Hier langs my is ’n mooi geraamde embleem: “Aan Wynand – Dankie vir jou gesindheid jeens die Wild Bulls”. Die Wild Bulls is blykbaar die motorfietsklub op Upington.
Die kerrie is in en ek klim in die kar om ’n draai deur die dorp te ry.
Dis ongeskik om net op ’n dorp te eet of piepie; ’n mens moet ’n draai ry. ’n Draai deur Brandvlei gee jou die Instapkafee (wat iemand soek om hulle nagkafee te beman), Voorsorg-vleis (vir goeie skaaptjops), “Doen dit nou” (dis die laerskool se leuse), ’n tannie wat haar stoepdeur toetrek, ’n wit bakkie voor die koöperasie, ’n vangwa voor die hotel en vyf ouens wat soos gebreekte turksvybome voor die bottelstoor staan.

’n Gekwetter en gezoem
Met die reën wat nou swaarder in die lug hang, ry ek verder noordwaarts. Nou werk my ruitveërs oortyd, verby Avondrust (waar jy by Oom Benna’s kan oornag), oor die Skansklip- Swartkop-kruising, en dan deur ’n vlakkie, digbegroei met doringbome.
Regs van die pad staan ’n groot plas water; die Sakrivier loop daar iewers.
Eintlik ry ek nou deur Grootvloer – dis dié laagte se naam. Bastiaanskolk is verderaan. Wat ’n mooi naam.
Daar is heelwat verkeer op die R27: ouens in bakkies wat die landspoedrekord probeer verbeter, groot lorries (Jowell’s, Slabbert Burger, UTI-koeriers), ’n vrolike jong vrou in ’n JD Marine-trokkie met ’n CFG-nommerplaat. Dus van Saldanha of Vredenburg – sy gaan seker calamari aflewer by die Totem Creek Spur op Upington.
Langs die pad is boerbokke, skape en beeste. Soms ’n perd, soms donkies. Op die pale is grootrooivalke, bleeksingvalke, swaeltjies, ’n swartborsslangarend en Namakwaduifies met hulle inkpot-en-veerpen- lyfies.

Wanneer ek tussen reënbuie stilhou, hoor ek paddas, insekvlerke, muskiete, kelkiewyne, en ’n horde klein, onsigbare voëltjies, één in ’n simfoniese gekwetter. Dis omtrent ’n getjirpel, gewoer, gezoem en ’n gekwaak.
Partykeer kabbel rooibruin water onder die pad deur in slote. Elders het die riviertjies reeds afgekom en vars sandbanke lê nog en sweet. Die grond is aan die beweeg – erosie skuif die Karoo stadig maar seker see toe.
Omdat dit so plat is hier, is dit moeilik om te weet in watter rigting die water vloei as jy dit nie met jou eie oë sien nie. En dis kaal, met min bome wat hoër as ’n Kombi groei. As hier kameelperde voorgekom het, sou ’n mens hulle, soos die windpompe, van ’n afstand van vyf kilometer reeds gesien het. Maar hier’s net steenbokkies, sover ek kan sien.

Ek ry verder, verby Gous Zyn-kolk, die eerste afdraai na Verneukpan (en Kareeboomdam en Bloubos), Soafskolk en Koppiesvlei en Gannakom. Dan Stofbakjes, wat vandag vir ’n verandering “Modderbakjes” genoem moet wees – dit reën, en wie is nié bly nie?
Skielik maak die eentonige landskap ’n golf en koppies met swart bolrotse verskyn – hierdie is die Klipheuwels, waar daar sekerlik dassies woon.
’n Ou naam vir hierdie streek is die Kaiingveld. Die naam kom van ’n soort klippie wat die vlaktes vol lê en lyk asof die son dit kaiings gebraai het.
Die eerste versamelvoëlnes pryk soos ’n volstruislyf aan ’n telefoonpaal. Ek ry verby Sonderhuis en De Bakke, en dan sien ek die eerste kokerboom in die veld.

Kenhardt is kokerboomwêreld. Net suid van die dorp, teen die hange van Driekop, is een van die land se mooiste konsentrasies van dié plante. Ongelukkig het vandale al soveel van die bome in die woud verniel – en in die proses doodgemaak – dat jy eers die grondeienaars moet bel en toestemming kry voor jy hier mag ingaan.
Gelukkig is daar ook nog honderde mooi, gesonde bome. Net voor sononder klim ek teen die hang uit.
Doer lê Kenhardt nou in die verte. ’n Witkruisarend patrolleer vir oulaas die klippe op soek na ’n los dassie – hy vlieg so naby verby dat ek die geel om sy oë kan sien.
Die son gaan onder agter ’n veraf wolkbank. Die laaste strale gloei rooi deur die stuifreën op die horison en die bome staan nou uit in silhoeët, nes onderstebo seekatte, vier meter hoog.
In die ooste verskyn die volmaan agter blou nagwolkies en, onder op die R27, trek ’n groot lorrie sy ore plat en beur die Karoo binne.


Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen verwante stories

  • Geen verwante stories...

Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek