Vlak verby Katberg
Deur
Jon Minster
As jy nog nie in die hart van die Oos-Kaap was nie, het jy Suid-Afrika nie behoorlik gesien nie. Jon Minster het ’n paar geskiedenisboeke op die agtersitplek gegooi en die R67 tussen Fort Beaufort en Cathcart gevat.
Die Oos-Kaap lê wyd. As jy op die R67 ry, lyk dit asof die rye en rye koppies tot doer op die horison eerbiedig voor die hemele kniel.
Dis pionierswêreld dié. Grenswêreld. Voor jy jou kom kry, dink jy terug aan ’n era van ossewaens en assegaaie. En as jy begin soek en uitvra, ontdek jy oral pragtige plekkies met heerlike stories. Jy moet net nie haastig wees nie…
Fort Beaufort na Fort Fordyce
24 KM
Martello’s en avokado’s
Ek is skaars uit Fort Beaufort toe ek op die radio hoor van ’n veldbrand naby Cathcart. En nie lank daarna nie is die son net ’n dowwe oranje kol agter ’n dik rookwolk. ’n Vreemde sagte lig hang oor die wêreld, amper soos met ’n sonsverduistering. Jy moet mooi kyk om te sien daardie spikkels teen die koppies is…ja, skape. Teen die hoër hange sien jy tussen die newels die aalwyne op aandag staan.
Fort Beaufort is nog vars in my gedagtes. Dis ’n tipiese Oos-Kaapse dorp. Die verf dop tydsaam af van ’n handjie vol mooi ou geboue, daar is ’n Spar en ’n lang ry by die kitsbank.
In ’n stadium was ek só ingedagte dat ek amper-amper oor ’n rooi verkeerslig gery het – die enigste een op die dorp. Toe sien ek ’n bordjie wat my na die museum in Durbanstraat beduie – wat ’n vonds!
Dis dalk een van ons land se lekkerste kleindorpse museums. As jy belang stel in die grensoorloë van die negentiende eeu tussen die Britte en Xhosas, kan jy maklik ’n middag hier tussen die kanonne, uniforms, en medaljes omkuier.
Later het stap Moose van Rensburg, die museum se kurator, saam met my na die martello-toring: ’n stewige keëlvormige fort aan die dorp se rand.
“Daar is twee dinge wat dié martello ongewoon maak,” vertel hy. “Dié soort fort is ontwerp om swaar artillerievuur te trotseer, maar sover ek weet, het die Xhosa-krygers nie juis kanonne gebruik nie. Tweedens het die Britte dié soort fort gewoonlik op die kuslyn van hulle kolonies gebou. Hoekom hulle besluit het om ’n martello hier in die binneland te bou, weet nugter.”
Ek wys Moose se uitnodiging vir ’n Coke in die Savoy-hotel se UFO-kroeg vriendelik van die hand, want ek moet aanstoot. (Die kroeg het glo sy naam gekry nadat iemand in 1972 op ’n plaas in dié geweste ruimtewesens gesien het.)
’N GROOT BORD by die Baddaford-plaasstal wys daar’s avokado’s en lemoene – dus draai ek af. Hier’s ook ’n koffiewinkel, met onder meer pakkies volstruisbiltong.
Die krag is af. Dus geen koffie nie. Jane Read, wat die padstal saam met Jane Roberts bedryf, bring vir my ’n glas lemoensap terwyl ek buite in die sonnetjie bak. Ons gesels oor die weer. Eenkant sit twee motorfietsryers van Queenstown wat op pad is na ’n saamtrek op Bathurst. Hulle drink ook ’n sappie, effens langtand lyk dit vir my.
“Baddaford is al ’n instelling op dié pad, eintlik dertig jaar al,” vertel Jane nadat die motorfietse vort is. “Ons het altyd ’n kiosk gehad, maar die koffiewinkel is nou baie gewild – mits Eskom sy kant bring, natuurlik.”
Ek koop ’n sakkie avokado’s vir R20 en gooi ’n paar lemoene by vir padkos – goed, goed, ook ’n pakkie biltong – en val weer in die pad, rustig met my elmboog by die venster uit.
’n Entjie verder draai ’n grondpad af na die Fort Fordyce-reservaat. Ek het al van dié provinsiale reservaatjie gehoor. Veral rotsklimmers kry ’n veraf uitdrukking in die oë wanneer hulle praat van plekke soos The Fever Ward en The Wall of Memories – daar’s kranse wat jy kan uitklim, hoog bo die digte woud, en ’n mooi uitsig kry oor die uitgestrekte landskap.
Die grondpad kronkel steil teen ’n berg op, tot in ’n digte inheemse woud. Tussen die takke deur sien jy hoe val die vaal vlaktes ondertoe weg. Neushoringvoëls flap die leegtes in. Dis ’n opwindende paadjie – en ek is nie eens ’n rotsklimmer nie.
Die reservaat is bo-op die plato, 13 km van die R67 af. Kom hou piekniek hier onder die groot eikeboom in die denneplantasie, stap rond, verken die plek met jou bergfiets, of probeer ’n swartbaars by die dam uitoorlê.
Dis ’n puik plek om vir ’n paar uur te kom leeglê as jy op die langpad is, of kom bly sommer ’n dag of twee. “Naweke raak dit nogal besig,” sê die kantoorbestuurder, Bukiwe Mdaka, terwyl ons die uitsig bewonder. “Maar dit hang af wat jy bedoel met besig.”
Koste: Toegang tot die museum kos R5.
Kontak: Fort Beaufort- historiese museum 046 645 1555; Baddaford-plaasstal 046 645 1215; Fort Fordyce-natuurreservaat 046 684 0729; www.ecparks.co.za
Fort Fordyce na Katbergpas
31 KM
Blinkwatermonsters en skrophoenders
Ek is terug op die teerpad en ry deur Blinkwater, die dorpie waar die befaamde padbouer Andrew Geddes Bain in die jare veertig van die negentiende eeu op ’n eienaardige fossiel afgekom het terwyl hy dié pad vir die Britse weermag gebou het.
Hy het dit die “Blinkwatermonster” gedoop. Paleontoloë het dit later uitgeken as Pareiasaurus serridens, ’n plantvretende reptiel wat omtrent 200 miljoen jaar gelede geleef het en omtrent so groot soos ’n seekoei was. Vandag is hier net ’n paar hoenders wat in Blinkwater se stof rondskrop.
Ek het steeds vir Bain op die brein toe ek toe ek 17 km verder van die R67 afdraai na die Katberg-hotel. Ek het ’n kamer bespreek, want ek wil die Katbergpas, Bain se laaste groot projek, gaan ry. Hy is dood voordat hy dit kon voltooi, maar sy skoonseun, Adam de Smidt, het die bouwerk in 1864 afgehandel.
Die Katbergpas het in onbruik verval nadat dit in 1976 vervang is met die Nico Malanpas, maar Bain se bouwerk, in ’n era voor dinamiet en boorhamers, is vandag nog indrukwekkend.
Dis net jammer die pas is so verwaarloos. Die 13 km tot by die hotel is piekfyn, maar 2 km verder moet ek rem vir ’n hengse sloot in die pad. ’n Gewone kar sal nie deurkom nie, selfs nie ’n gehuurde een nie...
Ek draai om. Later sien ek op ’n kaart – Tracks4Africa op Google Earth, die gesaghebbendste bron oor die toestand van Suid-Afrikaanse paaie – die pas is in ’n besonder slegte toestand. Daar’s glo omtrent halfpad boontoe ’n groot rots in die middel van die pad. As jy die Katbergpas wil uit, moet jy ten minste ’n bakkie hê, maar verkieslik ’n 4x4.
Die uitsig van die hotel af is darem ’n troos. Die son se laaste lig is ’n diep pers skynsel oor die koppies wat in die verte na die Amatolaberge se kant toe uitgestrooi lê.
Toe die eetkamer uiteindelik sy deure oopmaak, pyl ek op die kospotte af. Die ontvangsportaal en eetkamer is onlangs opgeknap en daar is nou ’n gholflandgoed op die eiendom, maar die Katberg-hotel het darem sy karakter behou as een van daai statige ou plattelandse gesinshotelle.
My koppie tee is skaars klaar of ek maak my tuis tussen die lakens. En dis nie lank nie of ek is in droomland.
Koste: ’n Kamer in die Katberg-hotel, ontbyt en aandete ingesluit, kos vanaf R425 per persoon wat deel.
Kontak: Katberg hotel 040 864 1010; www.katberghotel.co.za
Katbergpas na Carhcart
65 KM
Oor en uit
Vanoggend is die lug skoon en die bries vars, met geen teken van gister se brand nie. Ek wil-wil weer die Katbergpas aandurf, maar suiker eerder terug na die R67.
By die kruising swaai ek links, en omtrent 4 km verder weer links op ’n paadjie na die huis waar Olive Schreiner, skrywer van The Story of an African Farm, as kind ses jaar lank gebly het.
Olive, se pa, Gottlob, was die hoof van die Wesleyaanse opleidingsentrum by Healdtown hier naby. Hy’s egter ná ’n paar jaar ontslaan en die gesin het in armoede verval. Olive het in 1867 op Cradock by haar broer, Theo, ’n skoolhoof, gaan woon.
Die Mtose-gesin woon nou hier, en Thandazwa staan mooi saam met haar jonger broers en susters reg vir ’n foto voor die lemmetjiegroen huis met sy lendelam sinkdak.
Die R67 volg in dié geweste min of meer die loop van die Katrivier. Omtrent 4 km anderkant Schreiner se huis draai ’n pad na regs af na die Katrivierdam. Jy kan tot by die damwal ry, ’n gawe plek vir ’n piekniek.
Vandag is dit buiten vir die rooiborsjakkalsvoël wat hoog in die lug sirkel, doodstil hier.
Die volgende kolletjie op die kaart is Seymour, eintlik maar net ’n paar geboutjies langs die dam. Ek swiep verby, en gou-gou lê die Amatolaberge die hele voorruit vol. Dis asof die R67 begin spoed optel om teen die platorand uit die kom.
Ek het nie verwag die Nico Malanpas sou iets besonders wees nie, maar is aangenaam verras: die pad swiep grasieus deur die berge, diékant toe en daaikant toe. Dis dalk nie so indrukwekkend soos die Katbergpas nie, maar jy hoef darem nie ná die tyd Gabriel-skokbrekers se telefoonnommer in die Geelbladsye op te soek nie.
Op pad boontoe begin die bosse en struike plek maak geil grasvelde weerskante van die pad. Die plase op die plato lyk groter en meer gevestig. Ek moet ’n paar keer stilhou om te wag dat groot troppe skape oor die pad gejaag te word.
Jy kan met die R67 tot op Queenstown ry, maar ek draai regs op die R351 na Cathcart. Omtrent 25 km verder ry ek my vas in ’n T-aansluiting op die N6. Die lug is bleekblou en dis nog vroeg. Wat nou? Dit sal vreklekker wees om in die lou seewater te gaan swem. En Oos-Londen is skaars ’n uur van hier af…
Kom kyk na Madiba se skool
As jy deur Fort Beaufort ry, oorweeg die ompad (18 km) na Healdtown, Madiba se ou hoërskool. Die afdraaibord is op die R63, waar jy van King William’s Town se kant af by Fort Beaufort indraai. Healdtwon is aan die einde van ’n goeie grondpad.
Hier was nogal ’n paar groot geeste op skool: Nelson Mandela, Robert Sobukwe, Govan Mbeki, Walter Sisulu… Selfs Robert Mugabe is ’n ou Healdtowner. (Maar hy’s glo nie na die 70-jaar-matriekreünie genooi nie. – Red.)
Seuns en meisies in maroen skoolklere drentel by die hek uit en terg ’n paar bokke wat aan die groenigheid langs die pad knabbel. Ek gaan skud die hoof, Francois Kalp, se hand. Hy’s in sy kantoor, maar besig om op te pak, want die dag staan einde se kant toe.
“Healdtown het sy kwota uitdagings gehad oor die jare,” vertel Francois terwyl hy ’n lêer onder die arm vasknyp. “Dit was eers ’n Metodiste-sendingskool, maar in die jare vyftig moes dit by die sogenaamde Bantoe-onderwysbeleid inskakel. Die skool is in 1976 gesluit toe leerders dit uit protes afgebrand het, en dis eers in 1994, ná die verkiesing, heropen.”
Ons stap oor die skoolterrein. Op party geboue sien jy nog letsels van die brand. “Healdtown gaan binnekort opgeknap word,” vertel Francois. “Ons gaan die koshuise oorbou en die getal leerders van 150 tot 240 opstoot. Ons gaan ook die wiskunde-, wetenskap- en rekenaargeriewe verbeter en ’n restaurant en inligtingsentrum bou vir mense wat wil kom kyk waar Madiba leer boks het.”
Koste: ’n Besoek aan Healdtown is verniet.
Kontak: Lees meer oor die Healdtown-restourasieprojek by www.historicschools.org.za.
Gepubliseer op 30 April 2009
Terug na bestemmings | Terug na bo






















Kommentaar