Roete: Upington na Kakamas
Deur Toast Coetzer
Die teerpad tussen Upington en Kakamas loop noord van die Oranje-rivier. Toast Coetzer hou egter suid, al langs die R359-grondpad.
Upington het wel ’n internasionale lughawe, maar dit bly ’n dorp en nie ’n stad nie. Hoe weet ’n mens dit? Wel, dis vroegoggend op ’n Woensdag en waar dit in ’n stad spitsverkeer sou wees, het ek pas gesien hoe ’n vullistrok ’n U-draai maak in die hoofstraat.
Twee ouens stoot ’n Land Rover na die Land Rover-garage toe, en agter die stuur van ’n geparkeerde pers Nissan Sentra sit iemand en speel met ’n draadtang.
By Fit-It, waar ek gou ’n wiel laat regmaak, vertel ’n man my van ’n boer by Pofadder wat op sy plaas ’n toetsbaan vir Volkswagen het. Blykbaar maak hy elke jaar “ ’n koel miljoen”.
Ná Fit-It se gratis poeierkoffie is ek honger. Regoor die Oranje-melksalon hoor ek ’n parkeer-beampte kla oor haar seer voete, en wanneer ek by Steers instap, wil iemand weet hoe Wacky Wednesdays werk.
Ek bestel ’n spek-en-eier- toebroodjie en koffie. Wanneer ek later by die toonbank betaal, sien ek die twee kassiere se naamplaatjies: Maximillian en Welwitschia.
Buite, waar die vroegherfs-skadu nog na koue sinkplaat voel, maar die sonnetjie reeds begin bak, ry ’n poeiergeel Yaris verby. BLOSSOM NC, sê sy nommerplate.
Die Noord-Kaap het styl,dís seker.
Lekker ou Uptize
suid. Net anderkant die Oranjerivier draai ek regs by die bordjie wat sê Jooste-eiland. Hier druk ek my roetemeter op 0,0.
Die afdraai na die R359 is eintlik nog so ’n kilometer verderaan op die N10, maar ek wil my roete híér begin. Wie wil dan nou nie ’n eiland sien nie?
Die enigste probleem met die Oranjerivier se “eilande” is hulle is nie so sigbaar van die grond af nie. Uit ’n vliegtuig (of met Google Earth) sien jy hulle beter.
Die eilande is ook nie altyd duidelik afgebaken nie: Een kant het dalk net ’n dun stroompie water, en as die riviervlak laag is, dan is dit nie meer ’n eiland nie.
Ek ry verby die nederige Jooste-eiland. Hier en daar loop ’n los volstruis, en daar is melk-
bokke en vol kanale en watervore, lusern, mielies en klein lappies katoen.
Links is plotte: Oppiedak, Eagles Rest, Lekker Lê, Yn-de-lik en Sanossie Hof (waar Bossie en Sansie Boshoff woon).
Op 3,1 km word dit grondpad, en later swenk die pad effens weg van die rivier af, rondom die klein berg met die naam Swartkop, en dan deur die buurt Swartkop, waar iemand waarsku dat hy “Slagysters Op Erf” het.
Ek sien ’n tannie in haar tuin. Sy spuit die plante nat uit die gemak van haar tuinstoel.
Teen die 10 km-merk sluit ek aan by die R359, die pad wat my vir sowat 90 km al teen die rivier af tot op Kakamas gaan lei. Hier is dit teer, maar verder is dit meestal mooi grondpad.
Verby Boere-Hoenders (logo: iemand wat ’n hoender met ’n byl jaag) en die Laerskool Frank Biggs (leuse: “Ons bou”) ry ek tot op Louisvale, waar ek stilhou om by die taxi-staanplek praatjies te maak.
Dis ook nie hoe nie of vier taxi’s trek in ’n ry sodat ek hulle kan afneem, met die eienaars breëbors voor die bussies.
“Haal af daai hoed!” roep Isak Pietersen vir Izak van Rooyen.
“Nee, ek’s nou ’n boer, ek’s die baas vandag,” sê Izak en eet verder aan sy mielie. Sy T-hemp sê: “Sex, Drugs & Sausage Rolls”.
Voorop een bussie staan “Uptize Liner”. Ek vra na die “Uptize”-deel. “Hier rond roep die mense Upington sommer Uptize,” verduidelik Owen Steenkamp. “Lekker ou Uptize.”
By die Louisvale-bordjie is ’n paar ouens. Elke keer as ’n bakkie aankom, staan hulle regop en lyk paraat.
“Dis ouens wat dagwerk soek,” verduidelik Owen.
Oorkant die pad sluit die eienaar van die Louisvale-supermark die hek oop, maar net om een van sy werkers in te laat, dan sluit hy weer. Hulle hou elke oggend godsdiens voordat die winkel vir sake oopmaak.
Verby Raaswater raak die plase groter. Oral is wingerde.
Dis natuurlik tafeldruifwêreld dié, maar ook rosyntjiewêreld. Of “risyntjies”, soos die mense hier dit uitspreek.
Tog is dit nog naby genoeg aan Upington vir ander onder-nemings ook. Ek sien iemand wat besproeiingspype maak, grondverskuiwingswerke en ’n steenmaker.
Dan verskyn die omheinde Belle Rio-leefstyllandgoed aan my regterkant. Hier is nog net ’n paar huise, maar dis duidelik die ontwikkelaars verwag groot dinge. Eintlik glad nie ’n sleg plek om te kom aftree nie.
Omtrent regoor Belle Rio is die afdraai na die Giepie Kriel-skietbaan. En dan sien ek die Oranjerus-oord (25,5 km). Oranjerus is die beste plek om te oornag as jy die R359 ordentlik wil verken. Hier is kampplek op die gras langs die rivier (met koeltebome), maar ook chalets en ’n lekker restaurant.
Kort voor lank ontmoet ek die eienaar, Benton Wiehahn.
Hy is ook die man agter die Belle Rio-ontwikkeling. Maar eintlik is hy ’n boer, en hy nooi my om gou by sy pa, Brennie, op die aanliggende Rodelande-boerdery te gaan kuier. Oom Brennie is op Louisvale gebore en het die Oranje se druiwebedryf oor die jare sien grootword.
Hy leer my nuwe dinge oor rosyntjies, byvoorbeeld dat die goue en bruinrosyntjies eintlik van dieselfde druiwe gemaak word – dis net die droogmetode wat verskil.
Dit voel net soos plaas

“Ons is uitgesort,”sê Monica Kok (middel) van haar spannetjie wat besig is om Raaswater netjies te maak. “Jy moet ons rotstuine gaan kyk ook.” Raaswater, Louisvale en Kalksloot was in ’n kompetisie gewikkel om te sien wie hulle dorp die skoonste kon kry. Die prys is ’n groot partytjie vir die gemeenskap, geborg deur die Upington-munisipaliteit. Saam met Monica staan (van links) Aubrey Snyders (18), Leroy Blaauw (17), Freddie Basson (17) en Mario Rooi (17).
Die afdraai na Kanoneiland (27,2 km) is net anderkant Rodelande. Ek ry oor die smal Eendragbrug tot op die eiland, die grootste een in die Oranjerivier. Dis 14 km lank en 3 km breed en van kant tot kant met wingerd beplant.
Die eiland se naam dateer uit die tyd van die noordelike grens-oorlog tussen die Engelse (en die ander wit setlaars hier) en die Korana (wat ook baie ander splintergroepe ingesluit het).
In 1879 het die koloniale troepe hier slaags geraak met die Korana en hulle met kanonvuur bestook. Volgens oorlewering het die Koranaleier sy manne beveel om ’n kokerboom uit te hol en dit vol buskruit, spykers, ronde rivierklippe en ou hoef-ysters te stop.
Toe die hele ding aan die brand gesteek word, het dit ontplof en ’n paar van die kanonniers is dood.
“As dit so lyk aan ons kant, dink net hoe dit aan die ander kant lyk!” het die leier glo gesê om die moreel hoog te hou.
Vandag is Kanoneiland rustig.Die dorpie in die middel van die eiland is min of meer een straat lank, met ’n paar winkeltjies en gastehuise. Verder voel dit net soos ’n plaas. Stroom-af van Kanoneiland word die Oranjerivier dramaties ál breër – tot byna 6 km.
Hier verstrengel eilandjies mekaar en oral loop smal kanale water – dit was destyds die laaste vesting van die Korana.
Hier is mooi name: Groot Piet Smaleiland, Vyeboseiland, Noemapeiland.
Terug op die R359 ry ek verby plase waar die rosyntjievloere reg langs die pad lê: Reghoekige plate vol rosyntjies wat droog bak in die Noord-Kaapse son – dis asof die grond in herfskleure begin uitslaan het.
Op 31,4 km is dit weer grondpad. Verby Eksteenskuil en Steenboklaagte word die landskap klipperig en ru.
Die pad loop oor droë lopies – Vaalputsriver en Soutrivier – voordat jy teen ’n rantjie uitklim.
Ek kry ’n paar laerskoolkinders in die pad, Junaid Irion (12), Cornelius Philander (11) en drie Mattewisse, Fabian (10), Ryno (11) en Colin (10). “Vir ons is dit nog ’n plesier om te sing; ons skool hier op Neilersdrift!” sing hulle begeesterd vir my hulle skoollied.
Kokerbome toe
Neilersdrift (46,3 km) lê op die Keimoes-Kenhardt-teerpad, maar ek kruis dié net en hou aan met die R359 Kakamas toe.
Ek draai regs waar die Koms-kokerboomkwekery (50,6 km) aangedui word. Marina Bothma het in 2001 hierheen getrek en summier verlief geraak op die streek se mooi kokerbome.
Nou staan kokerboompies in sakkies oral om haar huis rond (’n mooi boompie van so 40 cm kos omtrent R300).
Duskant Marina se kwekery het ek ’n hele tuin vol groot kokerbome gewaar (eers het ek gedink dís die kwekery). Marina vertel my dié tuin – met nie minder nie as 300 bome – is oor dekades deur oom Chrisjan Richter aangeplant.
Oom Chrisjan is nou 86 en woon in die ouetehuis op Upington, maar sy broer sien om na die plasie. Ek ry terug soontoe om die tuin van nader te bekyk. Dis ongelooflik: Die kokerbome staan so dig soos geelwortels in ’n bedding.
Ek klop aan die sifdeur. Uit die donker skuifel iemand nader. Oom Gawie Richter is self 80. Hy kom staan buite en knip-knip sy oë teen die skerp lig.
“Ek het mos nou die suiker,” verduidelik hy, “daarom lê ek maar meeste van die dag onder die misberse.” Dis nou komberse waarvan hy praat.
Mense hier praat mooi Afrikaans, en sommer baie goed het ander name. So praat hulle byvoorbeeld nie van ’n tiptol nie, maar van ’n “piekeloog”, of sommer net “piekelou”.
Oom Gawie vertel my van woestynplante, van boesmangif, ysterdoring en woestyndruiwe wat altyd droë houtjies het vir vuurmaak. Ou kennis, wat dalk saam met hom en sy broer gaan verdwyn.
Kort-kort vergeet hy iets. “Ek kan nie nou terugdink nie en ek kan ook nie vorentoe dink nie,” sug hy. “As jy eers in hierdie stadium is, is jy verlore.”
Ek groet oom Gawie en hy sukkel terug die huis in. Sy huis. Sy broer se huis.
Ek hoop hulle kokerboomtuin staan vir ewig, want súlke mense verdien ’n monument.
As jy verby Rondemuiseiland (55,5 km) ry, sien jy ál hoe meer kokerbome langs die pad.
Trouens, die volgende 15 km is geil van die kokers. Dis dan ook hoekom dit deel gaan vorm van die Kokerboom-kos-en-wynroete wat deur plaaslike toerismemense beplan word.
Dié roete gaan aan al twee kante van die Oranje strek – met die N14 van Upington af tot op Kakamas, en met die einste R359 waarmee ek nou ry.
Dan, van Kakamas af, gaan dit verby Augrabies tot op Riemvasmaak loop. Hou dus maar dié streek dop, want dinge woel.
Vandag is dit egter rustig hier op die R359. Hier’s ’n breëkop-arend, daar ’n dassie. Ek klim nou weer die rante in – dis die Komsberg – waar die kokerbome oral silhoeëtte teen die lug maak.
Dis April, en party van die bome begin al blommetjies uitstoot – delikate liggeel-groen goetertjies. Dit lyk amper soos kleuters se vingertoppe.
Bo-op die passie stop ek en kyk terug Keimoes se kant toe. Net links van Rondemuiseiland hier voor sien ek ’n breë waterval – eintlik ’n stroomversnelling.
Die mense hier noem dit ’n “miggie”-waterval omdat daar wolke muggies by die valle is, maar ook omdat dit nie so groot is nie. Daar is heelwat sulke valle in die rivier, waarvan die vernaamste een verder na Kanon-eiland se kant toe lê.
By Koe-Koe-B ry ek verby ’n ou boer wat voor ’n hek stilhou. Hy ry met ’n ou vaalgroen Land Cruiser en dra ’n blou oorpakbroek en kakiehemp, hoed op sy kop. Hy kon my pa gewees het.
Ná ’n stuk gelykpad ry ek teen ’n berg vas – eers Tweelingkop aan my linkerkant, dan Neusberg, waar die rivier tussen die koppe deurvloei en by die Neusbergstuwal opgedam word.
Die uitsig van die hoogtetjie af wys jou die beste van die streek waardeur jy sover gery het: die groen rivieroewers, die win-gerde ver wat fyn patrone maak soos koffiekoekies, die blouape wat kattemaai hier in die doring- bome, die stadige bomwerper-vlerkklap van ’n reusereier, plek-plek ’n ou kameeldoringboom in wie se skaduwee daar dalk nog Koranas gesit het.
Die rante en die kokers hou vir nog ’n paar kilometer aan, deur Soetaplaagte se droë klofie en deur Duiwelsnek se noute (kyk hier op na hoe daai kokerbome teen die klippe vasklou).
Dan breek Kakamas voor jou oop, en onmiddellik bespring die wingerde weer die pad; die groen wat die stofbruin verswelg.
Ek ry Kakamas binne. Die dag is op sy einde en oral ry en stap mense huis toe. Voor die Kalahari-hotel staan die parkeerterrein vol bakkies. Ek ry deur die dorp tot by Die Pienk Padstal waar ek risyntjies en dadels en ’n poskaart koop, en begin dan slaapplek soek.
Die Mas van Kakamas se bordjie trek my aandag, dus ry ek weer rivier se kant toe. By die huis op die hoogtetjie maak ek die tuinhekkie oop, groet ’n hond en begin mens soek.
’n Groot man kom aangestap en steek sy hand uit. “Aangename kennis, ek is Vlok Hanekom, die Mas van Kakamas.”
Ek is dus op die regte plek.
Bronne: Borderline deur William Dicey; Langs Grootrivier deur Alwyn K. Cornelissen.
Maak toeGepubliseer op 1 September 2010
Terug na bestemmings | Terug na bo





















Kommentaar