Kgalagadi: Nossob
Nossob is sonder twyfel die Kgalagadi se gewildste hoofkamp. Volgens die meeste ou hande was jy nog nie in die Kgalagadi as jy nie in Nossob gekamp het nie. Hier hoor jy leeus net so gereeld soos jy hulle sien… en jy sien hulle báie.
Nossob 101:
Nossob se kampterrein is so te sê perfek. Die ouens wat dit uitgelê het, het mooi aan kampeerders se gerief gedink: Dis groot en gelyk met hope skaduwee, en dis deels teen die draad én reg langs die swembad.
Staanplekke: Dis baie moeilik om ’n gunsteling-staanplek te kies, maar dié teen die draad aan die rivier-bedding se kant is ’n kortkop voor. Hier is egter nie kragpunte nie.
Pasop vir die groot ou kameeldoring suid van die ablusieblok in die somermaande, want ná ’n reënbui gaan jou kinders swemvlerkies nodig hê om by die tent uit te kom.
In die droë wintermaande is dit egter ’n eersteklas staanplek.
Waar daar kragpunte is, verkies ek die suidwesdoringbome wes van die ablusieblok, want die grond is gelyk en daar is regdeur die dag oorgenoeg koelte.
Die hele kampterrein se sand is skoon en sag genoeg om maklik jou tenpenne te anker.
Kan ek my Sprite sleep? Die berugte sinkplaatpad tussen Twee Rivieren en Nossob is nie woonwavriendelik nie, maar as jy die kans wil vat, kan jy gerus jou boswa saamsleep.
Badkamers: Met my besoek is die ablusieblok in die middel van die kampterrein nie gereeld skoongemaak nie. Aan die vrouekant is daar vyf toilette, drie storte en ’n klein badjie, terwyl die manskant twee toilette, vier storte en twee krippe het. Al twee kante het genoeg wasbakke met groot spieëls.
Ander geriewe: Langs die ablusieblok is ’n vyfster-opwasplek met 6 standaard-opwasbakke vir skottelgoed, 8 diep wasbakke vir klerewas, 8 kragpunte, ’n strykplek en ’n wasgoedlyn.
(Ongewenste) besoekers: Bedags loop waaiersterteekhorinkies soos mak troeteldiere deur die kampterrein, en ’n magdom voëls kom soek kos en water tussen die staanplekke.
Soms is daar geelslange in die kamp. Moet hulle nie probeer vang of doodmaak nie – hulle is blitsvinnig en dodelik.
Die kamppersoneel sal help. Moenie enigiets snags laat buite rondlê nie – rooijakkalse sal alles van skoene tot plastiekemmers by jou staanplek wegdra.
Koste:
Staanplek sonder krag: R135 p.n. vir die eerste 2 mense (maksimum 6).
Staanplek met krag: R150 p.n.vir die eerste 2 mense (maksimum 6); R48 per p.n. ekstra per volwassene en R24 p.n. per kind.
En as ek nie kamp nie? Nossob het twee gastehuise. Dis R1 045 p.n. vir 4 mense. Daar is ook 17 chalets wat R530-R845 p.n. kos.
Kontak: 054 561 2000; www.sanparks.org/parks/kgalagadi
(Nota: Alle pryse akkuraat in Augustus 2010)
Nossob is sonder twyfel die Kgalagadi se gewildste hoofkamp.
En dis sinoniem met leeus, veral Ousus, die wyfie wat die natuurliefhebber en fotograaf Piet Heymans jare lank gevolg, afgeneem en verewig het in die boek Ousus van die Kalahari.
Met my besoek het ek sewe uit die tien aande leeus hoor brul, en ses keer leeus in die veld gesien!
As jy na al die geriewe by Nossob kyk, is dit maklik om te verstaan hoekom die kamp so gewild is. Buiten ’n winkeltjie, vulstasie en swembad is hier ook ’n wandelpaadjie, groot inligtingsentrum en ’n slim ontwerpte skuiling wat uitkyk op ’n water-gat waar ’n mens gereeld leeus te sien kry.
Nossob se winkeltjie het nou wel ’n skaflike verskeidenheid, maar jou beursie gaan hík as jy hier inkopies doen: R17 vir 1,5 liter water, R50 vir ’n blikkie Peaceful Sleep en R20 vir ’n pakkie Romany Creams. Bring dus maar saam wat jy kan.
Wat ek egter kán aanbeveel, is ’n vars brood (R20) of roosterkoeke (R5 elk) wat jy by ontvangs moet bestel. Nossob het nie selfoonont-vangs of openbare telefone nie, dus sal jy nie jou ma kan bel nie.
Daar is wel krag by die kamp – ’n kragopwekker word gewoonlik tussen vyf- en sesuur soggens aangeskakel en loop tot tien- of elfuur saans.
Die vulstasie is van halfagt soggens tot sesuur saans oop, en jy kan jou garagekaart gebruik.
Klik HIER vir nog foto's.
Lees die volledige storie:
Watter paaie moet ek ry?
Wat kan ons nog doen?
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 12 September 2011 | 13:23:09
Woah nelly, how about them alppes!
Gelewer op 23 Oktober 2010 | 08:13:58
Voorwaar, ek het my ook verkyk aan die vlugvertonings by die Nossobwatergat. Ek is ook beloon met die besoek van 'n baie nuuskierige Kalahari-wipstertjie toe ons op byna aanraak-lengte van 'n siek / ou leeu fotos geneem het. By die Kwang watergat was die oggend twee prag leeu-susters. Hul het water gedrink en op die trop wildebeeste gewag, maar die het snuf in die neus gekry en met die koms van parke personeel om die watergat te inspekteer, het die dames 'n ent verder gaan wag- tevergeefs. "n Maanhaar het na hul aangestap gekom, maar hul hel hom gewaarsku en hy het 'n ent weg gaan le. Ons het maar verder deur die park gery en met ons terugkeer die middag het die maanhaar teen die pad styf langs 'n rooi Landie se regtervoorwiel gele. Ons kon na hartelus fotos neem, want hy het net kort-kort sy kop opgelig,wat natuurlik snaaks was. Toe ons omry om te vertrek, merk ons dat hy drie ystervarkpenne onder in sy bek het. My hart wou gaan staan- ek kon sien sy neus was baie droog en die haarlyntjie wat die pels en vel skei op ndie snoet, was heeltemaal onduidelik en toe die besoekers in die landie se dat hy al byna twee ure so naby kom le het, en dan ook sommer ook sommer driemaal reeds gele en urineer het (hy het fotos geneem) , het ek geweet my observasie was reg; Hy was baie seer of siek. Ek het dit gaan rapporteer by die kamp. Hul was nie baie beindruk met my medelye nie en gese die natuur gaan maar sy gang- hul meng nie in nie!! My redenasie: Jul kyk en kontrolleer die jagluiperd projekte so deeglik, wat van ons maanhare? daar is nie jius so oorlopens baie oor nie. Nadat ek vertel het van die leeu se urinering in 'n leposisie, het hul erken dat hy siek is en dat hul ondersoek sal instel. Ek hoop hul het, want volgens my kon die leeu tog nog bydrae lewer, want sy kondisie was heel goed. Wonder wie dra kennis van die maanhaar se herstel?
























Kommentaar