Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Landsreis: Die noorde


Toast reis deur die noorde van Suid-Afrika.
zoommore

Toast reis deur die noorde van Suid-Afrika.

Die noorde van Suid-Afrika is eenvoudig anders as die suide. Alles is wilder – van die stede tot die bosveld. En jy wéét: Voor jy Musina bereik, gaan ’n swartmamba jou pad kruis. 

Vir my is die noorde van Suid-Afrika alles wat voorheen die Transvaal was. Ek het in die suide grootgeword, in die Oos-Kaap, en het as kind een keer ’n jaar, in die winter, die langpad Transvaal toe gevat saam met my gesin. Dit was familievakansietyd: Warmbad toe, of Krugerwildtuin toe.

Kyk na ’n kaart van Suid-Afrika en jy sien Gauteng daar sit, soos ’n katarak met paaie wat daarvandaan deur die land versprei. Die N1 en N3 is skuins traanmerke na die suide, Kaap en Durban toe.

Maar daar’s ook die N1 noord, opwaarts na Musina, soos ’n rank wat lig toe groei.
Zimbabwe toe, Afrika in. Ja, Kaapstad is ook in Afrika, maar hier bo, in die noorde, staan die res van Afrika aansienlik nader.

Jy kan dit sien – dis doer op die horison in die silhoeëtte van kremetarte, maar ook hier onder jou voete in Johannesburg, die land se kosmopolitaanse hart wat lankal nie meer net ons s’n is nie, maar ook behoort aan mense van elders uit Afrika, gelok met die Eldoradodrome wat ook ons voorvaders hier laat vasskop het.

Meer oor Toast se landsreis:
Landsreis (Deel 1): Deur die Republiek
Landsreis (Deel 2): Waar daar mense is

Video:
Babers, honde, Bosveldpaaie en busse wat vassit

Toast Coetzer
zoomzoom

Solly Cronjé se lyn hang doodstil in die water by die Mahawane Country Resort buite Volksrust, Mpumalanga.


Sedert ek twee weke gelede in die Kaap weggetrek het, is ek al deur vyf provinsies. Nou bly Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en Limpopo nog oor. 

Met Amajuba links van my is ek die Drakensberg oor; nou lê die groen somersvelde van Mpumalanga om my. Anderkant Volksrust, by die Mahawane Country Resort, slaan ek tent op langs die dam. Dis naweek, maar die plek is rustig. “GEEN gou inry om iets af te laai of op te tel nie,” staan die reël by die hek opgeplak.

Langs my kampeer twee Weg-lesers, Diana en Solly Cronjé van Newcastle.
Diana werk by Absa en Solly by Spoornet.

Vir party mense is dwelms ’n toevlug, ander jaag in ’n kar met getinte ruite om beter te voel, maar vir mense soos Diana en Solly is dit ontvlugting om teen sonsondergang in ’n kampstoel onder ’n boom te sit en kyk hoe die boltorings donderwolke stadig verkleur van wit na oranje na nagblou.

Die volgende oggend sit Diana en Solly onder langs die water. Diana lees en Solly vang vis. Die son hang stil, nes die lyne in die water. Ek wag dat my wasgoed droog word, en sit en kyk nou maar. ’n Vink kwêr, maar die kolganse wat gisteraand so rumoer het, is stil, drywend op die spieëlgladde dam.

Solly het nog nie eens ’n byt gehad nie, ook nie een van die ander ouens wat naby hom sit nie. Maar dit lyk nie of enigiemand omgee nie; hulle’s nie honger vir vis nie, hulle’s honger vir rustigheid.

My wasgoed is droog en my tent gepak, en ek ry met die agterpaaie Wakkerstroom toe, verby Vlakpoort en Rooipoort, Schoongezicht en Wydgelegen.
Nou en dan bars weerlig soos Arnold Schwarzenegger se nekare uit die swaar lug bo my. Beeste kyk op daarna, dofweg bekommerd.

Op Wakkerstroom is dit Sondag en teen ’n groen hang langs die township sit lede van die Shembe-kerk met wit klere in ’n sirkel witgeverfde klippe. Dit lyk soos ’n klein krieketwedstryd, maar die veldwerkers is op hulle knieë. Die Shembe-kerk gebruik die vuvuzela as godsdienstige instrument, maar ek sien nie een so in die verbyry nie.

By Dirkiesdorp begin dit só reën dat dit lyk asof die dorpie wil wegspoel.
Op Piet Retief ry ek deur een slaggat na die ander tot ek by die Steers uitkom, waar ek iets eet en ’n oom vir my “Dankie, ou swaer” sê toe ek vir hom my soutpotjie leen.

Dit hou nie op reën nie, dus bly ek maar op die N2, verby Iswepe en Sheepmoor tot op Ermelo, waar ek verdwaal omdat hulle aanwysingsborde so swak is (Lucky Dube is op Ermelo gebore, maar Ermelo is nie irie nie).

Die aand slaap ek op Hendrina by familie, en die volgende dag vertrek ek met ’n sak vol tamaties en ’n bak vol beskuit.

Hierdie is steenkoolwêreld, en oral op die horison troon die kragstasies se koeltoringsilhoeëtte uit. Ek raak altyd angstig as ek hier ry, Johannesburg se kant toe.

Ek weet: Ons het krag nodig en sonder die uitgrawe van steenkool en die lelike silhoeëtte word die bier nie koud doer ver in Van Wyksvlei nie.
Soos met baie moderne dinge is dit iets wat ons verduur omdat dit die lewe vir ons makliker maak.

Gauteng sluk my in en kort voor lank voer een van die seepgladde snelweë my tot by ’n vriend se woonstel naby die Wanderers. Die aand eet ons in die Chinese buurt, Cyrildene, en die volgende oggend, met Suid-Afrika wat in Kolkata die laaste toets teen Indië probeer red oor die radio, ry ek uit die stad Noordwes toe.

Dis egter makliker gesê as gedaan, want soms wil Johannesburg jou nie so maklik laat gaan nie. Hy ruk en pluk aan jou skouer soos jy by die deur wil uit, pootjie jou met ’n padverlegging of twee.

Ek verdwaal dus eers ’n bietjie en stop by ’n winkelsentrum in Roodepoort. Buite die deur van die Pick ’n Pay sit ’n oom wat naamplaatjies vir katte en honde verkoop. Ek het nie ’n troeteldier nie, maar vra hom in elk geval om vir my een te maak. Ek maak sommer ’n hondenaam op.

Uiteindelik is ek op die Magaliesburgpad en draai dan wes, Derby en Koster toe, met die R509 langs, die stad uiteindelik van my rug af. En hier, oral om my, in mielielande en graansuiers, Landmarkte en trekkerrook, lê Noordwes.

’n Boer hou stil en wag om by die teerpad in te draai, en die stof haal gou sy bakkie in. Hy voel-voel in ’n hempsak en sit ’n sigaret in sy moeë mond.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

’n Grondeekhoring (waaierstertmeerkat) hou wag op ’n miershoop sodat hy die gevaar kan sien kom bo die lang gras. Barberspan, Noordwes.


“Jy sny hom oop, soos dié,” beduie Vincent du Toit na die baber wat voor sy knieë lê. Vincent en sy vrou, Lynn, is van Vereeniging en kom gereeld Barberspan toe.

“Dan vat jy growwesout, stop hom vol en sit hom in die bad. Die sout trek dan al daai modderwater uit. Dan sit jy hom in skoon water en spoel hom af. En eers daarna trek jy sy vel af.”

Ek’s by Barberspan, tussen Sannieshof en Delareyville. So ’n week gelede het iemand by die Vanderkloofdam my ook van baberslag vertel – jy het ’n tang nodig vir daai vel.

Voor dit nog, by Van Wyksvlei, het Vasie de Kock my weer mooi verduidelik dat jy eers die baber se kop afsny en hom dan oornag laat hang sodat hy uitbloei. Dan sit jy hom in vars water vir ’n ruk, waarna jy die vis met asynwater afspoel. (Vasie het my ook vertel van ’n ou oom wat altyd op sy verjaardag gebakte waterskilpad wou hê.)

Die wind waai en die vis byt vrot.
Boonop steek ’n storm op en later, nadat die son tussen die wolke deur moet worstel op pad horison toe, sit ek my stukkie wors (gekoop by Lichtenburg se legendariese Uitkyk-slaghuis, waar die opgestopte diere teen die mure selfs ’n springhaas insluit) en braai onder die afdak van die Condor se bagasiebakdeur.

Die volgende oggend nooi my enigste kampbuurman, oom Frans van der Merwe, my vir koffie in sy ryhuis.
Oom Frans is op ’n lang reis, alleen behalwe vir sy hondjie, Tika (wat oor twee dae 11 word). Sy vrou is tuis in Pretoria; sy loop nie meer lekker nie.
Oom Frans het hier naby Barberspan grootgeword. “Vyf myl hiervandaan,” vertel hy my. “Ek en my broer het partykeer die perdekar drie-uur die oggend al ingespan om te kom visvang.

“Wanneer ons ’n sak vol gevang het, is ons terug huis toe. My ma het dan die seeppot reggemaak, varkvet gekook, die vis gebak en dan in varkvet ingelê. So kon dit maande lank hou.”

Oom Frans se ryhuis is ’n omgeboude paneelwa. Hy wys my die mooi houtwerk, die laaie en kaste en pakplekkies. Blykbaar is dit gemaak deur ’n ou wat jare gelede tronk toe is vir moord, en toe daar houtwerk geleer het.

Oom Frans het ’n stapkierie met ’n vlakvarktandkrul bo-aan. En daar’s ’n geheimpie: As jy die kierie op die regte plek “oopskroef”, sien jy daar’s ook ’n lang versteekte lem in die skag van die kierie…

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Die slaghuis op Groot Marico, Noordwes. Biltong is hul nering.


Klippan, Leeuwpan, Taaiboschpan, Deelpan.
Plat wêreld vir eers, dan verder noord, verby “Dis mos mielies!”-bordjies, Grootfontein, Wonderfontein, Bakerville se diamantmyne, en plase met name soos Knoffelfontein en Broekmansfontein. Voor Broekmansfontein al begin die landskap verander. Wanneer ek stop by die Myl 23-merker, wéét ek: Nou’s ek in die Bosveld.

Op Groot-Marico soek ek koffie en kry dit by die Jouba-koffiehuis, waar tuisgebakte koeke en vleispasteitjies lê en wag. Tannie Engela Engelbrecht raai my aan om by River Still te gaan slaap, net suid van die dorp, aan die oewers van die Groot-Marico.

Jacques du Plessis verwelkom my daar en dis gou duidelik dat die lewenstempo by River Still rofweg dieselfde is as Lance Armstrong se hartklop wanneer hy na ’n skaakwedstryd kyk. Dis rustig hier. Jacques is besig om gat te grawe en aan te bou, maar vat my gou kombuis toe, waar hy nog so ’n paar bottels van sy tuisgemaakte mampoer het. Ons slaan elkeen ’n skeutjie weg. Deksels lekker – lemoen- en suurlemoengeur. Ek koop drie botteltjies.

Dis nog die middel van die middag en ek stap deur die ruie tuin rivier toe. Ek’s alleen hier en dit vat nie lank nie voordat die visvanger terugvlieg na sy takkie toe, klaar gewoond aan my.

Die rivier is diep en stil, die water skoon genoeg om nou en dan ’n vis van die oewer af te sien. Ek swem so 50 m stroomaf, otterstyl, lui.

“Die kaalkopwaarheid loop nog rond hier op Groot-Marico,” vertel Jacques my later, ter verduideliking van hoekom hy so baie van die plek hou.

En hy’s reg. Selfs al is jou kanse goed om oor ’n naweek ’n 7de Laan-ster te sien (wanneer baie stedelinge uitry diékant toe), het die dorpie nog so ’n ruwe soort sjarme. Dis dalk maar bloot omdat dit in die Bosveld is. Die gestel van ander kleindorpse toevlugte, soos Clarens in die Vrystaat en Dullstroom in Mpumalanga, was te mak, die stad se dinge kon hulle tem.

Maar die Bosveld word nie sommer mak gemaak nie.
Die Bosveld is soos ’n diervel, vars afgeslag en bestrooi met growwesout. Vergeleke daarmee is die Vrystaat en Wes-Kaap en Mpumalanga se toeristedele blinkgepoleerde houtbeeldjies, twee lae vernis dik.

Die Bosveld voel en ruik anders. Doringrig. Na rooigrond op party plekke. Turf elders. Klippe. Dit raas anders, vernaam in die somer. Voëlgeluide klink nie soseer op uit die bos as wat dit afgaan soos vuurwerk nie: die triomfantelike geketter van ’n bosveldfisant, die gekekkel van die rooibekkakelaars, die eindelose stukkende-wekker-kiirrr van die kuifkophoutkapper.

As ek die volgende oggend weer in die dorp gaan draai, kry ek vir Santa en Egbert van Bart op hulle stoep – hulle bestuur die ingligtingskantoor. Hulle vriende Piet “Rympies” Swanepoel en sy vrou, Harriet, sit saam, en ’n koppie koffie en koeksisters verskyn voor my.

Wanneer Piet hoor ek weet niks van die Marico se legendariese waterbobbejaan nie, is dit so goed ek sê ek weet nie van die maanlanding nie. Summier begin hy my vertel van hierdie skadufiguur wat soms – so sê hulle – in afgesonderde klowe hier gewaar word. Blykbaar is dit ’n oermens of iets. En hy’s stout, want jou skape verdwyn, en vreemde voetspore verskyn op jou werf...

Sewe stories later ry ek weer verder noord.
Ek mik vir die Dwarsberge, dan Dwaalboom, waar ek by ’n ou skoolvriendin van my ma wil oornag. Sy en haar man het ’n wildsplaas daar naby. Ek ry heeltyd met die Groot-Marico regs van my, dan raak die teerpad op en die landskap oper, beeswêreld. Party Brahmane is ’n spieëlbeeld van die wit donderwolkhompe bo hulle.

Dis ’n ou stuk van Bophuthatswana hierdie, en soos in ander tuislande help die kaartboek my net mooi niks nie, want hier’s dorpies en plekke wat glad nie aangedui word nie.

Die dag se spel in Kolkata is al verby, met Suid-Afrika wat net ’n buitekans het om nog die toets te red. Ek luister op Radio 2000 na die minister van finansies se begrotingstoespraak.

Net anderkant De Brak sit ’n bus vas in die pad. Ek hou stil. Die bestuurder, Samuel Mosine, sit nou al van vroegoggend af hier. Hy’s radeloos, want die busmaatskappy het belowe om ’n uitsleeptrokkie te stuur, maar niks kom nie.

Ek gee vir hom en sy vriend Nicky Khupari elkeen ’n appel. Samuel stel voor ek bel ook die busdiens en kla. Ek bel, en ná ’n ruk kom ek deur na die regte ou. Ek sê vir hom dis nou sommer nonsens; ek kan nie verby die bus kom nie (dis ’n wit leuen, want die Condor kan met ’n effense gesukkel aan die kant verby kom). Die man belowe my die insleeptrokkie is amper daar.

Samuel wil by my weet by wie hy kan kla oor die toestand van die paaie wat hy daagliks moet verduur. Ek wens die minister van finansies was hier om te verduidelik hoekom die geld wat begroot word vir padregmaak, nie by dié papperykol anderkant De Brak uitgekom het nie.

Dwarsberg bestaan uit ’n polisiekantoor, petrolpomp, winkel en ’n huis of drie. Ek leun by die venster uit om seker te maak ek’s op die regte pad Dwaalboom toe.

“Ja, regs hier, links daar,” wys die vrou, “en pasop vir die turflope.”

Niemand in die Kaap sal weet wat ’n turfloop is nie. ’n Turfloop – of turfkol – is ’n plek waar die pad oor die swart turfgrond loop. As dit nat is, kan dié plekke gou in ’n gemors ontaard, en voor jy weet, sit jou kar tot op die as vas.

Elke streek het unieke woorde.
’n Spruit hier bo is iets wat hulle in die Kaap ’n kleinerige rivier noem. In ’n riviertjie kan jy dalk ’n poel kry, maar in ’n spruit kry jy eerder ’n kuil. ’n Kuil en ’n poel is twee verskillende goed. In ’n poel kan jy dalk ’n forel uittrek, maar in ’n kuil staan watergras en vinke maak nes in die riete.

Wanneer ek by tannie Fransie en oom Jurie aankom, vat oom Jurie my dadelik vir ’n vinnige wildsrit. Hulle het altyd met beeste geboer, maar soos baie ander Bosveldboere nou oorgeslaan na wild. Ons ry in sy Land Cruiser. Dis laatmiddag en die Bosveldsonsondergang is so mooi soos jy hom nie kan bestel nie. Dis asof die lug kole is, pas oopgekrap en suigend na suurstof.

Net soos stadsmense die ritueel het om vir nuwe huisgaste hulle huis te wys (“en hier is die hoofslaapkamer...”), só het boere die manier om jou gou hulle plaas te gaan wys. Hier’s die drinkbak; daar’s die wildebeeste; hier’s die grensdraad.

Geaard ry ek die volgende oggend in die rigting van Lephalale (Ellisras). Ek volg eers die ou militêre teerpad wat destyds vinnige toegang tot die grens verleen het.

Ek was as kind laas hier rond, toe ons vir ’n ander skoolvriendin van my ma kom kuier het naby Rooibokkraal.
Ek onthou vier dinge van daai vakansie: dat tannie Yolanda se man, oom Jacob, koffie uit een van daai eenliter-emaljebekers gedrink het; dat ons leeuspore gesien het toe ons gaan stap het; dat ons hout gaan maak het deur met die bakkie droë bome om te ry; en dat, toe ons pad gevra het, iemand in ’n kamoefleerbaadjie vir ons beduie het terwyl hy ’n lang, bebloede mes in sy hand gehou het (hy was besig om bok te slag).

’n Mens hoef nie alles te onthou wat met jou gebeur nie; die hoogtepunte sal outomaties uitstaan.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Watter kant toe? Iewers suid van Lephalale, Limpopo.


Wildsplase, wildsplase en nogmaals wildsplase. Inyati-kamp, Msigi Safaris en Kassabella Lodge (besit deur Kabous en Isabel). Wanneer ek uitklim om ’n foto te neem, grom Mapogo Private Policing se tiere vir my van die waarskuwingsbordjie af: “Live and let live.”

Die pad is wit en skel. Doer voor sien ek ’n skaduwee beweeg. Wat? Ek kyk weer. Dis ’n swartmamba! Makoppa! Die inkswart kwikstreep gly oor die pad en verdwyn in die gras, en laat jou met niks nie, net so ’n koue doodsdraad in jou keel af.

Net toe ek oor die Matlabasrivier ry, flous Harbajan Singh vir Morné Morkel in Kolkata en die Proteas verloor met ’n beurt en 57 lopies.

In Steenbokpan staan drie bakkies voor die Bosveld Pub & Grill. Binne sit ’n tannie voor ’n dobbelmasjien en trek ’n hefboom. ’n Ou en ’n meisie speel pool op die Blou Bul-tafel. ’n Opgestopte rooihartbees, vlakvark en rooibok grinnik van die mure af.

Ek bestel ’n burger en “Kaptein” speel twee keer op die CD-speler. Dan wen die tannie R242 en dan waai ek.

Met die bou van die nuwe Medupi-kragstasie buite die dorp is Lephalale besig om dramaties te verander. Volledige woonbuurte word byna oornag opgerig, soos kitspoeding wat uitgedruk word en siedaar, daar staan hulle, DStv-skottel en al.

Elke tweede bakkie het ’n lig op die dak: konstruksiewerkers. Almal lyk besig en belangrik en haastig. By die halfklaar Lephahale Square-winkelsentrum sit mense al en soft serves lek by die Steers terwyl ’n sementmenger langsaan staan en neul.

Oos van die dorp ry ek agter my neus aan en beland vir die nag by die Bateleur Tented Safari Lodge.
Die volgende oggend gaan kyk ons eers wild en dan klim ons ’n rant uit op Rudolph Britz se nabygeleë plaas. Hier onder ’n oorhang staan ou kleipotte, groot goed; ’n kind sou daarin kon wegkruip. Die potte is blykbaar gebruik om graan in te bêre en dateer dalk uit die 1820s se difaqane-onrus (toe Shaka se gewoel verder suid baie volkere in die binneland begin raak het).

In Marken hang ek ’n ruk rond in die Aldrie-winkel – so genoem omdat die oorspronklike eienaars drie mense was: pa, dogter en seun. Ek ontmoet die huidige eienaars, Frieda en Jan Nortjé. En hulle honde: Stompie, Trixie en MacGyver. Klante kom en gaan. Die winkel verkoop alles van patch & solution tot piesangs en bier en Minora-lemmetjies, en natuurlik Lotto-kaartjies.

Van Marken na Tolwe (waar ’n ou oom amper in my vasry, al was ons twee die enigste twee ryendes in die dorp), en van Tolwe na Suzie’s Corner, en dan regs na Simson en verby Schiermonikoog tot in Alldays tot voor At se Gat.

At se Gat lyk dadelik na moeilikheid.
At se Gat word nie deur iemand met die naam At besit nie. At se Gat is een van daai kroeë waar stories – rowwe, maar pasgemunte stories – vir die prys van ’n dubbelrum gehoor kan word.

Dalk is Boos, die stootskraperman, aan die woord. Of Dirk, die eienaar van die Gat. Of Steyn, die boorman. Afhangende daarvan of jy vir Dirk of Boos wil glo, het Boos met die geboorte van sy kind dronk by die hospitaal aangekom met óf ’n Russian en tjips óf ’n Just Juice en Nik Naks – net “ingeval die kind honger is”.

Die boorman praat eintlik min; hy’t ’n harde dag agter die rug, sy gesig vol son en stof. Dis eers twee uur later dat hy vertel hy het vroeër gesien hoe die enjinkap van ’n groot lorrie op iemand se nek val en die man net daar morsdood is.

Intussen hoor ons (die res van die sirkel is ek en ’n argeoloog en ’n besoekende sakeman) weer die storie van die slag toe die vrouens wou bad en Steyn uit die goedheid van sy hart hand bygesit het sodat die donkie vinniger kan brand om warm water te maak.

Daar was ’n partytjie aan die gang – daar’s altyd ’n partytjie aan die gang – en hy stap toe kaalbolyf na die donkie toe en gooi wat hy dink ’n beker paraffien is, daarop uit.

Maar dis toe petrol, en die donkie se skoorsteen blaas die lug in en Steyn verloor al sy ooghare en borshare en allerhande velle. Terwyl Boos hierdie storie vertel, sit Steyn rustig langs hom. Hy roer net die ys in sy vol drankie met sy vingerpunte, stadig in die rondte, asof hy besig is om die hele aarde op sy as te draai en terselfdertyd ook die pols daarvan te vat.

Boos en iemand anders, dalk Lelik, sit toe vir Steyn in die bad en begin planne maak om hom hospitaal toe te vat. Maar eers moet ’n koelboks gepak word, vir die pad.

“Kan jy dit glo?” sê Steyn en roer weer sy drankie. “ ’n Koelboks.”

Steyn is ’n ongeluksvoël, en hy lyk soos iemand wat gereeld stories oor homself moet aanhoor. Hy het al drie keer sy oordrom gebars, lewendig uit ’n microlight-wrak geklim, en daar is ook al bo-oor hom gery. En sy boormasjien sit tans vas in die modder, met min hoop op uitsleep.

Toe die koelboks gepak is, laai hulle hom in die bruin Kombi, maar die pad is nat en modderig, want dit het gereën. Uiteindelik is hulle op die teerpad en by die hospitaal lawe die dokter (wat voorheen veearts was), vir Steyn met daai skuimgoed wat jy op brandwonde sit.

Boos stap later in die hospitaalgang af op soek na Steyn. Hy sien iemand uitsteek onder ’n laken, maar dis ’n groot ou (Steyn is klein) – Rottweiler, ’n ander vriend.

“Toemaar, jy sal later vir Rottweiler ontmoet,” sê Boos toe ek teleurgesteld lyk dat hy nie self hier is nie.

“Hy’s die tipe ou wat gewoonlik ’n hele rugbyspan sal kan bliksem,” vertel Boos, “maar daai dag in die hospitaal het hy gelê en tjank omdat ’n skerpioen hom blykbaar gepik het.”

Ek het maar gaan slaap voor Rotweiller gekom het.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Sonsondergang op die wildsplaas Somerset naby Dwaalboom, Limpopo.


’n Lang landsreis – en dis nie die afstand wat saak maak nie, maar die tyd wat jy daaraan bestee – is iets wat enige Suid-Afrikaner met ’n kar, tyd en ekstra rande een of ander stadium moet aanpak.

Drie weke en 5 425 km nadat ek uit die Kaap weg is, hou ek stil op Musina. By Postnet gooi ek ’n paar poskaarte in die gleuf, om dankie te sê vir al die vriende en familie by wie ek oornag het op my lang reis.

Op so ’n landsreis maak ’n mens staat op die goedheid van ander mense.
Jy besef ook dat dit nie noodwendig damme wat oorloop of dawerende watervalle is wat jy nog lank ná die tyd goed gaan onthou nie.

Dis dalk eerder die dankbare woorde van ’n ryloper wat jy van Britstown na De Aar laat saamry het, die een wat gesê het sy het in haar lewe nog nooit in so ghrênd ’n kar soos ’n Condor gery nie. Of dat ’n ou vrou jou haar “little babba” genoem het toe jy haar beursie opgetel het in die winkelsentrum op Shelly Beach.

Langs die pad leer jy weer die waarde van stadig ry op ’n pad met slaggate.
Jy leer nuwe grade van hitte ken (warm, warmer, Van Wyksvlei). Jy sien die mooiste plekname: Voëltjie-se-Werf, Hondeblaf, Beskuitfontein. Jy leer hoe om baber gaar te maak. Wat die verskil is tussen ’n British Alpine- en ’n Toggenburg-melkbok (die Toggenburg lyk vriendeliker, dink ek).

Jy onthou weer van goed waaraan jy dalk jare laas gedink het: Kindergoed soos jou eie fietswiel regmaak of potlood skerpmaak.

Jy sien slange en reënboë en kremetarte. Jy droom van bleeksingvalke en verbleikte padbordjies en strepies wat voor jou uitstrek in die pad.

Ons volkslied sê dit die beste: God seën Afrika.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 30 Maart 2011 | 07:55:57

Toast, man ek dink dit kan nogal lekker wees om saam met jou op 'n trip te kan gaan. ek mis geen van jou stories nie, en jou Bloureier storie in April maand se Weg het my weer vêr terug gevat na my ou 1964 kever en als wat ek al met haar gedoen het en die probleme wat ek tyd tot tyd met haar gehad het. maar sy bly my 1st liefte al die ander na haar het 'n hoë standaard om handhaaf.

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek