Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Zimbabwe tot Mosambiek


Die Chilojo Cliffs in die park is indrukwekkend, beslis die twee uur lange rit van Chipinda-poele af werd.
zoommore

Die Chilojo Cliffs in die park is indrukwekkend, beslis die twee uur lange rit van Chipinda-poele af werd.

Hoe lyk dinge in die Gonarezhou- nasionale park in Zimbabwe? En hoe maklik is dit om daarvandaan by die Mosambiekse kus uit te kom? Kathleen Schroeder het gaan uitvind.

Die Groot Avontuur begin toe ons die oggend sesuur uit Louis Trichardt wegtrek, al het ons darem klaar die stuk pad van Pietermaritzburg af agter die rug. Ons vleg deur die Soutpansberg en mik dan noord verby kremetarte, Musina toe, Beitbrug toe.

Ná die bangmaakstories vooraf is Beitbrug rustig, hoewel groepe mense wat jou wil help om die amptelike vorms in te vul jou aan die Zimbabwiese kant oorval. Ignoreer hulle net.
Die grensposbeamptes werk met die minimum – eintlik net Bic-penne.
Ons groepie – ek, my man, Wally, en ons seun, Aidan, en Brent, ’n vriend en kollega in ’n Land Rover Freelander en ’n  Mitsubishi Pajero – het geen probleme by die grenspos nie, en gou beduie hulle ons kan deurry.

Hulle slyp seker hulle tande vir die Zimbabwiërs wat met voertuie voorraad uit Suid-Afrika aankom.
Die hongerpyne begin nou knaag, maar ontbyt by die grens is  buite die kwessie, want die gebou waar die Wimpy voorheen was, is nou vervalle.

Ons ry verder noord op die A4-hoofweg na Bubi.
Die pad is in ’n taamlik goeie toestand, en die enigste verkeer wat ons teëkom, is ’n paar donkiekarre en kinders met kruiwaens vol waatlemoene.

Later skiet ons verby ’n uitgebrande kar met ’n Suid-Afrikaanse nommerplaat wat langs die pad staan en smeul. Die bestuurder is skoonveld, maar ’n man waak by die indrukwekkende boot wat die uitgebrande kar gesleep het.

Kort nadat ons oor die Bubirivier is, beduie Brent, ’n oud-Zimbabwiër, ons moet aftrek by die Lion & Elephant-restaurant, een van sy ou uithangplekke. Dis silwerskoon, en daar is nie een enkele ander gas in sig nie.

Ons bestel spek-en-eierbroodjies. Een van die werkers vertel dinge is stadig aan die verander in Zimbabwe, en al hoe meer Suid-Afrikaners kom nou weer hierheen vir vakansie.
Met die innerlike versterk, pak ons die laaste vier uur se ry tot by die Gonarezhou- nasionale park in die suidooste van die land, op die Mosambiekse grens.

Kathleen Schroeder
zoomzoom

In die somer het jy ’n 4x4 nodig om die paaie in die Gonarezhou- nasionale park baas te raak.

Kathleen Schroeder
zoomzoom

Hoewel wild volop in Gonarezhou is, is die diere skugter; waarskynlik as gevolg van stropery.


Dis baie maklik om by Gonarezhou uit te kom, maar die laaste stuk pad, van Chiredzi af, is ’n nare sinkplaat.
By die toegangshek salueer ’n vriendelike wag ons. Die ontvangslokaal is ’n herinnering aan die tragiese werklikheid van Zimbabwe se nasionale parke:
Daar is geen elektrisiteit nie, en die ontvangsdame werk met ’n  sakrekenaartjie uit hoeveel ons haar skuld. Ons koop ook twee hengellisensies vir twee dae – teen altesame R200 is dit wraggies duur vis.

Ons is die enigste besoekers in die ganse park, en kry kampplek nr. 7 by Chipinda-poele, maar ons moet wag sodat sy kleingeld gaan haal by ’n huis naby die hek.
Terwyl ons na die kampplek toe ry, begin dit reën. Die pad is modderig en die middelmannetjie amper so hoog soos die kar – hier was duidelik lanklaas besoekers.

Ons kampplek lê op ’n effense hoogtetjie, en ons het ’n goeie uitsig oor die Runderivier en ’n  paar kremetartbome. Daar is ’n grasdaklapa waar ’n mens kan kosmaak en teen die reën kan skuil.
In die rivier, net ’n paar meter weg, hoor ons seekoeie nurk.

Ons slaan die tente op, skink ’n drankie en steek ’n mopaniehoutvuurtjie aan.
Ondanks die aanhoudende reën is ons sielsgelukkig. Toe ek later die nag die 200 m na die toilet strompel, dink ek aan die trop leeus wat volgens die ontvangsdame twee dae tevore in die kamp opgemerk is…Ons ontdek ook in die nag ons splinternuwe tent het ’n lekplek.

Die volgende oggend is dit ’n  mooi dag: sonskyn, voëls, seekoeie en kondensmelkkoffie.
’n Parkbeampte bring nóg vuurmaakhout en begin die reeds silwerskoon kamp skoonmaak. Hy grawe sommer ook ’n paar wurms uit sodat ons ’n vis of twee vir aandete kan (probeer) uittrek.
Ons stap die paar kilometer tot by Chipinda-poele en sit heeldag in die hitte en broei. Dit wil lyk asof ons al daai geld vir die hengellisensies, wel, in die water gegooi het.
Terug by die kampplek blaas ons weer lewe in die vorige aand se vuur en braai maar vleis in plaas van vis.
Intussen bemors ’n vlermuisfamilie ons lekkende tent.

Die volgende oggend is ons saam met die voëls uit die vere, gereed om die sowat twee uur op ’n ruwe paadjie na die Chilojo Cliffs toe met die Pajero aan te durf (die Freelander staan nie hoog genoeg in sy sokkies nie).
Aan die voet van dié rooi rotsmuur loop die Runderivier, waar ons uitklim en al langs die rivier af stap. Op die sanderige oewer sien ons allerhande dierespore – ook dié van krokodille.
Ons sien baie voëls en ander wilde diere wat skugter padgee namate ons aanstap. Ons is die enigste mense hier.

Eers wou ons hier by die kranse kamp, maar by ontvangs het ons gehoor dié kampplek is gesluit. En hier kan ons nou sien die baie basiese ablusiegeriewe is heeltemal vervalle. Maar eens op ’n tyd moet dit ’n ongelooflike uitspanplek gewees het.

Dit voel soos ’n leeftyd voordat ons weer terug is by kampplek nr. 7, maar langs die pad sien ons olifante en verwonder ons aan die mooi uitsigte oor die rivier en omliggende vlaktes.
Vier dae later, wanneer ons die pad noord vat Mutare toe, neem ons met ’n swaar hart afskeid van  Gonarezhou.

Maak toe
Kathleen Schroeder
zoomzoom

Wally (links agter), Brent (voor) en Aidan (regs) geniet koffie en koekies vir ontbyt langs die EN1 op pad na Inhassoro.

Kathleen Schroeder
zoomzoom

By ons kampplek by Chipinda-poele kon ons oor die Runderivier en kremetartbome uitkyk.


Mutare is vuil en van elektrisiteit of werkende verkeersligte is daar nie juis sprake nie.
Ons spoor wel brandstof en ’n  paar koue Cokes op voordat ons  verder ry na die Forbes/Machipanda-grenspos tussen Zimbabwe en Mosambiek.

Dis nie ’n goeie dag nie. Die Pajero se alternator gee probleme, en terwyl Wally en Brent in die kar se enjin krap en ek solank papierwerk doen, word ons lastig geval deur ’n klompie jong latte wat by die grenspos rondhang.

Eers later sou ons agterkom hulle het ’n paar goed uit die deur­vakkie gesteel, waaronder ’n mes en my man se kontaklenssakkie. Les geleer? Hou jou vensters toe terwyl jy met ander dinge besig is!

Ons ry stadig deur die Mosambiekse hoogland, effe senuagtig oor die Pajero, en pak uiteindelik af by ’n motel buite Chimoio. Dis hopeloos te duur vir wat ons kry.
Uit die reën uit op ’n klein stoepie peuter die mans aan die alternator by die lig van hulle kopflitse. Hulle moeite is darem nie verniet nie, want dit lyk of die alternator weer behoorlik werk.

Vir aandete lê ons weg aan galinha (Mosambiekse peri-peri-hoender) in die motel se restaurant. Later ontdek ons die storte in ons kamers is verstop, maar ten minste is die water warm en die beddens gerieflik genoeg vir ’n  goeie nagrus.

Môre wag ’n ver pad op ons – ná die Saverivierbrug is die pad taamlik sleg, en as jy nog moet petrol ingooi en iewers bene rek, praat ons van ongeveer sewe uur tot op Inhassoro.

Die restaurant is nog bottoe toe ons die volgende oggend douvoordag vertrek, en ons besluit om eerder ná ’n paar uur op die langpad te stop vir ontbyt: Koffie wat ons op ’n kampstofie maak, met sjokoladekoekies daarby.

’n Paar van die plaaslike inwoners stop om hulp aan te bied. Toe hulle besef niks is fout nie, eet hulle ’n koekie met ons en kla saam oor Mugabe wat Zimbabwe in die afgrond ingeboer het.
Uiteindelik kom ons aan by die Seta-hotel se kampeerterrein in Inhassoro. Die kampplek is taamlik basies, maar die ablusieblok verdien ’n vyfstergradering.

Op die hotelterrein drentel ’n  paar rondloperhonde saam met hoenders rond…
Die hotel se restaurant met sy uitsig oor die ongerepte strand is letterlik ’n klipgooi van ons kampplek af. Ons help die plaaslike vissermanne om hulle nette in te trek, en is verbaas oor hoe moeilik dit is.

Hulle gooi ’n seeskilpad sonder enige seremonie terug in die water, maar die eksotiese – en oneetbare – koraalrifvisse word sommer net daar op die strand gesmyt.
Die see is heerlik warm en as dit laagwater is, kan jy baie ver instap en skulpe optel. Só hou ons ons die volgende paar dae besig en maak af en toe ’n draai by Orlando’s Afro Bar, reg op die strand.

Nie te ver van die kampplek af nie is ’n mark waar byna enige ding verkoop word. Ons gaan maak elke dag ’n draai en koop brood, Tipo Tinto (die plaaslike rum) en ander voorraad.

Maak toe
Kathleen Schroeder
zoomzoom

Wally en Brent met die krappe wat ons gekoop het by die mark in Xai Xai.

Kathleen Schroeder
zoomzoom

’n Bootreis na Paradise-eiland naby Inhassoro is die moeite werd, maar maak seker jy kies die regte operateur en beland nie op ’n lamlendige boot nie.


Lorenzo, ’n plaaslike “entrepreneur” (en ’n glibberige kêrel), reël vir ons spotgoedkoop kreef én sommer ’n bootrit na Paradise-eiland, waar die laaste Survivor South Africa-reeks gemaak is.
Hy verseker ons die boot is seewaardig en toegerus met reddingsbaadjies, maar die volgende oggend verskyn ’n ding wat meer na ’n geroeste emmer lyk – sonder enige veiligheidstoerusting.

Ons kyk fronsend na mekaar, maar klim aan boord met ons vrag kos en drinkgoed vir die dag.
Die boot het geen beskutting nie en op die sowat 15 km na die eiland word ons met water deurdrenk elke keer as ’n golf teen die boeg breek. Aidan begin boonop kla oor ’n hoofpyn.*
Kort voor lank verdwyn die wolke en die water verander in die mooiste diepblou kleur.

Almal is skielik in ’n beter luim, en nie meer lus om Lorenzo se nek om te  draai nie.
Die dag raak al beter – ons snorkelduik, verken die eiland en sonbaai. Nog toeriste maak later hulle opwagting – op veel beter bote én met ’n professionele gids wat hulle begelei.

Ons kyk met verlangende oë na die bote wat binne ’n uur die golwe tot by die eiland getrotseer het, en vind uit die bootrit het daardie toeriste veel minder uit die sak gejaag as vir ons!
Wanneer ons terugklim op die krakerige boot, is ons sommer van vooraf vies vir Lorenzo. Die bemanning kry die enjin weer aan die gang met ’n moersleutel, en gooi emmers water oor die enjin uit om dit koel te hou!

Uiteindelik is ons terug op vaste grond en troos ons daaraan dat ons ten minste die avontuurlikste opsie van die lot gekies het…’n ordentlike restaurant, en ons glip selfs in by ’n hotel om die hoek waar ons ’n Sharks-rugbywedstryd kyk.

Ons koop krappe op die dorp om kerrie te maak, en verken ’n ou spoorwegwerkwinkel.
Terwyl ek foto’s neem, word ek na ’n plaaslike troue genooi – wat ’n  buitengewone ervaring.

Toe pak ons op en mik Swaziland toe voor ons naby Pongola deur die GobaMhlumeni-grenspos huis toe gaan.
Aan die Suid-Afrikaanse kant lê die beamptes beslag op ons piesangs, en wanneer ons in die Wimpy in Mkuze aansit vir ons eerste kaasburger in weke, voel ons nie meer soos toeriste nie. 

* Teen die tyd dat ons by die huis aangekom het, was Aidan hondsiek. Malaria is later by hom gediagnoseer, maar hy het volkome herstel.

Maak toe


Zimbabwe
Grenspostarief by Beitbrug (voertuig met ’n sleepwa): R200 koolstofbelasting; R210 versekering
Kampplek by Gonarezhou: $10 (sowat R80) p.p.p.n. ($5 of sowat R40 vir kinders)
Toegangsgeld vir voertuie: $10 (sowat R80)
Toegangsgeld vir sleepwaentjies: $5 (sowat R40)
Visvanglisensie: $5 (sowat R40) p.p.p.d.

Mosambiek
Grenspostarief by Machipanda: R230 vir derdepartyversekering
Kampplek by die Seta-hotel: MT250 (sowat R60) p.p.p.n. MT125 (sowat R30) vir kinders
Bootrit na Paradise-eiland: MT1 500 (sowat R350) p.p. tot MT5 000 (sowat R1 200) per boot – kibbel oor die prys!
Tipo Tintorum: Sowat MT100 (sowat R25) per bottel
Kreef: Pryse verskil; ons het MT300-450 (sowat R70-105) per kreef betaal
Vars vis: Pryse verskil; ons het MT75/kg (sowat R18/kg) betaal
Parque de Campismo-kampplek: MT200 (sowat R48) p.p.p.n. (MT100 of sowat R24 vir kinders)
Brandstof (per voertuig): R3 500; ons het 4 300 km gery

Nuttige wenke:
• Die wisselkoers is gunstiger as jy in Mosambiek meticals by ’n kitsbank onttrek pleks daarvan om in rand te betaal.
• Daar is geen kitsbanke op Inhassoro nie – trek dus geld sodra jy langs die pad ’n kitsbank sien.

Maak toe
Kathleen Schroeder
zoomzoom

Aidan het teen huistoegaantyd siek geword; hier rus hy op Paradise-eiland.


Gonarezhou
Die webwerf hieronder het heelwat inligting, maar jy kan nie aanlyn plek bespreek nie.
Soms is die telefone buite werking, maar hou moed. Die personeel wat ons bedien het, was baie behulpsaam.
Kontak: Zimbabwe-parke-en-wildlewebestuursowerheid  www.zimparks.com; 00263 470 6077/8; 00263 425 0658

Inhassoro en Xai Xai
Gebruik een van die ordentlike boot-operateurs as jy op ’n bootrit na Paradise-eiland wil gaan.
Jy kan ook diepseehengel probeer – bespreek by die ontvangs van die Seta-hotel/Inhassoro Beach Lodge.

Kontak: Seta Hotel & Inhassoro Beach lodge 00258 84 885 6788 www.inhassoro.org


 

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 10 Januarie 2012 | 03:22:13

Please teach the rest of these internet hoolginas how to write and research!

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek