Jonkershoek: Speelplek vir oud en jonk


Daar is dosyne staproetes in Jonkershoek, en die meeste van hulle is geskik vir kinders.
zoommore

Daar is dosyne staproetes in Jonkershoek, en die meeste van hulle is geskik vir kinders.

As jy in die Kaap kom vakansie hou, sit ’n dag opsy vir die Jonkershoek-natuurreservaat buite Stellenbosch. Dis ’n heerlike speelplek vir stappers, trappers en mense wat sommer net onder die bome wil rondlê.
    Dis ’n soel Vrydagmiddag en die Maties wat ’n uiltjie knip op die gras voor die Jonkershoek-restaurant, begin vroeg naweek hou. Uitgestrek op piekniekkomberse lê hulle, ontspanne soos net studente en munisipale werkers oor middagete kan wees.
    Ek wag vir my skons en luister na ’n paar stappers wat oor hulle oggendstappie gesels. Hulle het tot by Tweede Waterval en terug gestap, altesame 8 km, en dit klink asof ’n hele paar stewels nat geraak het in die waterstroompies op pad. Nou sit die meeste van hulle kaalvoet, hulle voete aan ’t droogbak in die sonkolle wat deur die akkerbome skyn.
    By ’n ander tafel sit ’n paar fietsryers. Die nattigheid het ook hulle sake gewerk. Hulle fietse en lywe is die ene modder en omtrent al wat jy nog sien blink, is hulle tande en oë terwyl hulle oor die hoogtepunte van die rit vertel.
    Die Jonkershoek-natuurreservaat is een van daardie wonderlike plekke waar jy op die agterpaaie van ons land afkom. Dié reservaat van 14,5 km², skaars 10 km buite Stellenbosch, lê knus in ’n vallei tussen berge wat tot 1 500 m hoog aan weerskante uittroon – onder meer die bekende twee spitse die Pieke.
    Dié topografie sorg dat die vallei se jaarlikse reënval van die hoogste in die land is.* Die seisoensverskille is ook dramaties. In die winter val die eerste sonstrale omtrent eers teen teetyd onder in die vallei, en dis koud en klam in Jonkershoek, maar in die lente en somer staan die berge helder teen die lug afgeëts, die waterstroompies kabbel en die proteas en erikas blom welig.
    Bosbou floreer in dié klimaat, en op die talle paadjies wat deur die denneplantasies teen die berghange vleg, kan bergfietsryers dit gate uit geniet: Jonkershoek is een van dié bergfietsbestemmings in Suid-Afrika, indien nie die wêreld nie.
    “Ek is verbaas dat die plek nie wemel van besoekers nie,” sê Mark Welch, ’n Natalse bergfietsryer wat hier kuier. “Dis so naby die stad, maar dit voel of jy diep in die wildernis is en soms is jy die enigste siel op ’n paadjie.”
    Hier is ’n roete vir elke soort fietsryer. Beginners kan ’n stemmige grondpad-sirkelroete van 10 km trap en die hardebaarde kan gaan speel op die dosyne enkelspoorpaadjies in die plantasies hoër op teen die hange.
    Met twee skons agter die blad sien ek kans om op my fiets te klim en die reservaat te takel. Ek kies die eerste paadjie wat ek sien – Lower Canary – en verdwyn in die plantasie. Gou-gou hoor ek net my hartklop, die gesuis van dennetakke bo my en ’n stroom water iewers in die verte. Ek laat waai oor die stukke gelykpad en trap slinger-slinger teen die steiltes uit.
    Uiteindelik raak die bome minder en ek beland op ’n kontoerpad met ’n lieflike uitsig oor die vallei. Buiten ’n paar witkruisarende wat lui in die lug sweef, is hier nie ’n siel nie. Ek gaan sit op ’n klip en vat ’n paar diep slukke water uit my bottel terwyl die koel bergwindjie my lawe.
    Om jou is dit net berge waar jy kyk. Dis asof ek ná ’n valskermsprong in die middel van ’n groot wildernis geland het. Kan dit wees dat Kaapstad minder as ’n uur hiervandaan is?


1. Bewonder ’n waterval
Daar is staproetes vir almal in Jonkershoek. Veral dié drie roetes is gewild:
Eerste Waterval. Ek suiker rustig aan vir 3 km op die Eerste Waterval-paadjie. Die roete loop langs die boloop van die Eersterivier, hier net ’n stuitige stroompie. Hou jou oë oop vir suikerbekkies tussen die fynbos en koggelmanders op die rotse. Jy sien ook dalk dalk ’n visvanger of twee.
Ná omtrent ’n halfuur se stap sien jy Eerste Waterval aan jou regterkant, ’n wit pluim wat teen die berghang af stuif tot onder in ’n kloof met klam varings – net die plek om uit die son te kom en piekniek te hou. (Kyk of jy nie ’n disa iewers teen ’n rotswand sien blom nie.)
Tweede waterval. Avontuurlustiger stappers kan aanstoot tot by Tweede Waterval, sowat 5 km verder. Jong kinders kan saamstap, maar ná Eerste Waterval begin die roete klim. Plek-plek stap jy op ’n nouerige voetpaadjie met ’n baie steil skuinste onder jou. Hou die stapgroep mooi bymekaar.
Die laaste 200 m na die waterval is ’n gevaarlike klim wat jy verkieslik onder toesig moet aanpak. Maar al gaan jy nie tot by die waterval self nie, is dit die moeite werd om tot in die skaduryke klofie net onder die waterval te stap en daar te ontspan.
Panoramaroete. Nog nie moeg nie? Stap die langer Panorama-sirkelroete (17 km). Net voor Tweede Waterval draai jy links teen Kurktrekkernek uit en slinger tot bo vir ’n uitsig tot oormôre. Res van info in enkele sin.
Waar? Al drie roetes begin by dieselfde plek. Ry die sirkelroete (antikloksgewys) met jou motor tot by die parkeerplek aan die bopunt van die vallei. Die roete is met ’n bordjie gemerk.
Hoe lank? EERSTE WATERVAL: 10 minute se ry tot by die parkeerplek, dan omtrent 2 uur se rustige stap heen en terug. TWEEDE WATERVAL: Sit ’n oggend opsy. PANORAMA: ’n volwaardige dagstap. Pak padkos en water.
Koste: ’n Dagpermit kos R20 vir volwassenes en R12 vir kinders onder 18. (Gratis met ’n Wild Card.)

2. Laat die wiele rol
As jy net op ’n makkerige oggendrit met jou bergfiets deur mooi fynbos en kwetterende suikerbekkies wil trap, ry die sirkelroete (10 km). Jou hele gesin behoort die paal te haal. Jy trap eers 5 km opdraande tot bo by die Witbruggie, waar jy sommer uit die Eersterivier water drink. En dan is dit wind-in-die-hare terug tot by die reservaat se hek.
As jy nie jou fiets saamgebring het nie, huur een by die hek vir Rxx.
As ernstige bospaadjies jou kos is, is die Never-Ending Story die een vir jou: ’n sirkelroete van 17 km, waarvan 10 km op enkelspoorpaadjies deur die denneplantasies kronkel.
Dié roete is nie op die kaart wat jy by die reservaat se ingang kry nie, maar vra een van die plaaslike trappers om te verduidelik hoe om daar te kom (mik links sodra jy deur die reservaat se hek is en trap tot op die Upper Canary Path).
Hoe lank? SIRKELROETE: Jy kan dit binne ’n uur doen as jou kuite op peil is – twee uur as jou bynaam Tjoepie of Brood is. NEVER-ENDING STORY: Sit ’n oggend opsy. As jy verdwaal, ry maar net afdraande tot onder op die tweespoor-sirkelpad.
Koste: R20 per trapper. ’n Jaarpermit kos R200 (of R300 vir ’n gesin). Die plantasies behoort aan MTO Forestry en jou Wild Card geld nie vir die fietsroetes nie.
Kontak: MTO Forestry 021 866 1512; mwilmot@mto.co.za

3. Vang ’n forel
Sowat ’n kilometer voor die reservaat se ingang is die teelplaas waar die land se eerste reënboogforelle in 1893 gekweek is.
Lus vir lyn natmaak? Doen dit by een van die damme wat hier by Jonkershoek-kunsvlieghengel in die son lê en blink. Ryan Weaver is aan die stuur en hy hengel al omtrent sy lewe lank in dié geweste. “Hier is nege damme,” beduie hy. “Drie van hulle is ‘wilde’ damme vir hengelaars wat op soek is na ietsie meer uitdagends.”
Die damme en geboue is in 2002 gerestoureer nadat dit sedert die jare veertig effens verwaarloos geraak het. Deesdae lewer die visplaas weer forelle onder die wakende oog van die Universiteit van Stellenbosch se departement akwakultuur.
Hier is ook ’n akwarium (net langs die teekamer) met tenks vol Suid-Afrikaanse varswatervissoorte, soos die Clanwilliamse geelvis, gestreepte kurpers, palings en ’n paar luierige graskarpers.
Koste: KUNSVLIEGHENGEL: R100 per hengelaar per dag of R75 tussen 4.30 nm. en sonsondergang. As jou spruit jonger as 18 is, dok julle twee saam R150 op. Huur ’n visstok vir R50 teen ’n deposito van R200. Jy kan jou vangs hou, maar dié wat jy in die “wilde” damme vang, moet jy teruggooi. TEELPLAASTOER (per afspraak): R12 p.p. AKWARIUM: gratis.
Waar? Sowat 1 km voor die reservaat se toegangshek, aan die linkerkant.
Kontak: Jonkershoek-kunsvlieghengel 021 866 1011; www.jonkershoek.com

4. Sit aan vir 'n piekniek
Net voor die Jonkershoek-reservaat is Assegaaibosch, ’n pragtige klein susterreservaat, waar jy ’n rustige piekniek kan kom hou.
Omtrent ’n kilometer voor die Jonkershoek-reservaat (net ná die forelplaas) is daar ’n afdraaipad na regs. Jy ry met ’n bruggie oor die Eerserivier en parkeer omtrent 200 m verder by Kaapse Natuurbewaring se kantoorgebou.
Jonkershoek kry sy naam van die mooi Kaaps-Hollandse opstal reg langsaan. Simon van der Stel het aan ene Jan Adriessen en ’n paar ander vryburgers plase in die vallei gegee. Jan was bekend as Jan de Jonkheer, omdat hy as oujongkêrel aan die Kaap geland het. Hy het sy stukkie grond Vallei Jonkershoek*Oorspronklike Hollands? genoem en die opstal in 1790 gebou. Die groot akkerbome wat nou nog koelte oor die huis gooi, is kort daarna geplant.
Jy kan nie die opstal van binne bekyk nie, maar dis lekker om hier rond te loop en jou in te dink hoe dit was toe waens voor die huis stilgehou en besoekers in pluiskeile en hoepelrokke uitgeklim het.
Assegaaibosch het ook ’n lieflike piekniekplek langs die Eersterivier. Hier is houtbanke, -tafels en braaiplekke waar jy ná die oggend se bergfietsry of stap kan uitspan.
Koste: Gratis.

5. Kry skons en tee
Rond jou kuiertjie af met tee en skons by die Jonkershoek-restaurant, ’n klein geboutjie by die reservaat se hek. Dit was eers ’n kerkie, maar deesdae is die beste sitplek by ’n tafel buite onder die bome (in die winter knetter daar ’n vuurtjie binne).
Eet ’n geroosterde toebroodjie, ’n sny wortelkoek of ’n stewige ontbyt terwyl jy kyk hoe die fietsryers en stappers kom en gaan.
Die kanse is goed dat jy aan die gesels raak met iemand wat net so vol modder is soos jy.
Koste: ’n Pot tee en twee groot skons kos R23.
Kontak: Tinus en Dawn Du Preez 021 866 1550

Maak toe


Verblyf?
Nie in die reservaat nie, maar op Stellenbosch is verblyfplekke volop. 

Selfoon-ontvangs? Ja.

Braaigeriewe?
Ja, by Assegaaibosch.

Troeteldiere?
Verbode.

Aktiwiteite?
Bergfietsry, stap, kunsvlieghengel, piekniek hou.

Ure? 7.30 vm.-6 nm. (somer), 7.30 vm.-5 nm. (winter).

Kontak: Kaapse Natuurbewaring 021 866 1560; www.capenature.co.za

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Gelewer op 23 Junie 2011 | 22:11:39

Dude, right on there bortehr.

Gelewer op 15 Junie 2010 | 16:54:27

Jonkershoek se kaaskoek is die beste en die atmosfeer ongelooflik.. Awesome plek Jonkershoek

Gelewer op 30 Oktober 2009 | 17:23:21

Van wanneer af is Assegaaibosch toegang gratis? sover ek weet kos dit R25 per persoon en gratis as jy 'n Wild Card het. Johan v Zyl

Meld misbruik aan

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Geen Verwante fotos

  • Geen verwante fotos...

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek