Argief - Soek enige artikel uit Weg!

Landreis (Deel 2): Waar daar mense is


’n Reënbui oor die suid-Vrystaat – afgeneem op die N6 tussen Rouxville en Aliwal-Noord.
zoommore

’n Reënbui oor die suid-Vrystaat – afgeneem op die N6 tussen Rouxville en Aliwal-Noord.

  
Die pad van die Kaap na Musina loop nie gewoonlik oor Philippolis, Qumbu, Highflats en Keate’s Drift nie. Maar as jy draaie begin ry, ry jy nuwe dinge raak…

Dis Februarie en die Vaalrivier is in vloed. Reg oor die land begin mense toebroodjies smeer en plan maak om Augrabies toe te ry vir ’n spektakel wat Huisgenoot se Skouspel na ’n kinderkrans-poppespel gaan laat lyk.

Ek is egter by die Vanderkloofdam in die Oranjerivier. Die vorige paar dae het ek deur die
Noord-Kaap gery: Williston, Van Wyksvlei, De Aar, Petrusville. Dorre wêreld.

Om ná ’n reis deur die Groot-Karoo weer soveel water te kan sien is byna onwerklik. Die Vanderkloofdam is so ’n liniaallengte van oorloop af. Dis vól. Daar’s net iets aan ’n dam wat oorloop wat die meeste mense – veral boere – nie kan weerstaan nie. Soveel oorvloed en soveel natheid, die gedawer wat geluid gee aan die krag van die natuur. ’n Mens raak skoon stil.

Maxi en Johan van Staden staan saam met my en kyk. Hulle woon al twintig jaar hier op die dorpie Vanderkloof en weet daar is nog geen rede om opgewonde te raak nie. Die dam sal dalk eers teen môre oorloop.

“Ry solank Gariepdam toe,” raai Maxi my aan, “as jy dan nou ’n dam wil sien oorloop.”

Klik HIER vir Deel 1 van Toast se landsreis.

Toast Coetzer
zoomzoom

Oom Louis Kok op sy 85ste verjaarsdag in Philippolis. Voor sit sy suster, Kobie Gouws, en agter haar man, Felix.


Sondagmiddag is familietyd
As jy op ’n Sondagmiddag ná ete deur Luckhoff in die Suid-Vrystaat ry, sal jy gelukkig wees as jy meer as vyf mense op straat sien.

Ek ry verby die laerskool (leuse: Mik Hoog), die NG kerk (met ’n IN- en UIT-hek, dalk vir die Soetes en die Stoutes?) en die Algemene Handelaar (waar jy motorbande kan koop, maar ook vroueskoene).

Ek mik Philippolis toe en vat elke ompaadjie wat ek kan – soos die Bosrandpad – want die wêreld hier is nou só mooi ek wens ek het ’n bus vol Kaaskoppe en Franse en Souties gehad vir wie ek die deure kan oopgooi sodat hulle die grond onder hulle voete kan voel en die veraf reën ruik, en ek dan kan sê: “Kyk julle, kyk!”

Maar daar’s net mooi niemand op die Bosrandpad nie, net die skape hier om my en die donderwolke doer bo. Die paadjie spoeg my nader aan Philippolis uit en kort voor lank glip die Condor op ’n leë maag die dorp binne.

Die petrolpompe is egter toe en maak eers weer om vieruur oop, dus het ek ’n halfuur om te verwyl. Ook hier lyk dit of almal nog hulle middagslapie geniet. Ek sien hier’s ’n Indraf-kafee, nes op Van Wyksvlei, Vosburg en Britstown waar ek die vorige paar dae deur is.

Op die stoep by Voortrekkerstraat 70 sit daar egter sommer ’n klomp mense. Dis oom Louis Kok se 85ste verjaardag en sy familie het vandag hier saamgetrek. Hulle nooi my summier vir koffie en koekies.

Hulle gesels oor die goeie ou dae toe vleis nog goedkoop en een sjieling baie sakgeld was. Omdat die somer se goeie reën op almal se lippe is, praat hulle daaroor, maar ook die groot vloed van 1988. Tannie Kobie Gouws, oom Louis se suster, vertel vir almal hoe Augrabies daai jaar gelyk het. Oom Louis onthou hy het in ’n helikopter oorgevlieg. Hy vertel met sy hande, sy wenkbroue: Só groot, só hoog.

Daai jaar moes hulle voorraad per helikopter invlieg, want selfs Philippolis was van die buitewêreld afgesny. “En ook in neghentien honderd en vyf,” sê tannie Kobie met ’n veraf kyk in haar oë. “1905? Nee man, jy bedoel seker 2005?” korrigeer oom Louis haar, en almal lag terwyl tannie Kobie bloos oor haar blaps.

Oom Louis se selfoon lui en hy kyk na die ding asof dit ’n kleefmyn is wat hy binne die volgende 30 sekondes op een of ander manier onskadelik moet stel.

“Die groen knoppie!” sê tant Kobie. “Ek probeer dit, maar dit werk nie!”

Wanneer ek later die dorp met ’n glimlag op my gesig uitry, wéét ek: wat ek van hierdie dag gaan onthou, is nie die AWB-vlag wat die ou by die vulstasie my in sy kroeg langsaan gaan wys het nie (“Is jy ’n lid?” het ek hom gevra. “Nee, ek was,” was sy antwoord.), maar die mense van Voortrekkerstraat 70.

Familietyd is een van die kosbaarste dinge wat ons het. Jy weet nie of jou oupa 85 jaar oud gaan word nie, nes jy nie weet of jy en jou broer in julle middeljare nog maats gaan wees nie. Dink daaraan elke keer wanneer jy met jou familie in die koelte van ’n groot boom kuier. Geniet daai appeltert. Gooi ’n ekstra halwe lepel suiker in jou koffie. En luister met oorgawe na die hoeveelste keer dat Oupa jou daai selfde storie vertel.

Ná ’n aand by die Gariepdam – en dit loop toe inderdaad mooi oor – ry ek in Smithfield se rigting. Daar’s ’n plek op die kaart met die naam Breipaal en ek wil gaan kyk wat daar aangaan.

Heeloggend al ry ek reguit na ’n bielie van ’n donderstorm toe, en nou’s ek amper onder sy sampioensambreel in. Die weer dreun en rammel oor die Suid-Vrystaatse landskap. Heilige klanke, groter as musiek, Beethoven kan maar gaan slaap. ’n Boer ignoreer nie weer wat dreun nie; ’n boer kyk op en sê met ontsag: “Hoor hoe dreun die weer.”

’n Paar kilometer verder ry ek deur die stortbui, wat gelukkig gou verby trek. Wanneer ek by Breipaal kom, sien ek dis eintlik net ’n plaas, en ’n baie mooie daarby. Daar’s ou geboue wat lyk of dit lank terug ’n algemene handelaar was.

Deesdae ry ’n mens nie meer sommer net by ’n plaas in nie. Oral teen drade en hekke waarsku bordjies jou wat met jou kan gebeur as jy ongenooid by ’n boer aanry. Gewoonlik met ’n prentjie van ’n masjiengeweer, tiergesig, hond of kopbeen daarby.

Dis maar een van die werklikhede van ons tyd, want veediefstal en plaasmoorde haal byna weekliks die voorblaaie van streekkoerante. Om te boer gaan lankal nie meer net daaroor om na aan die natuur te leef nie, maar ook oor maniere om dié voorreg te bewaar.

Op Smithfield kry ek ’n lekker eetplek – die Pigout-restaurant – en bestel dadelik filterkoffie. Op die platteland is die afstand van een goeie koppie koffie na die volgende soms drie syfers.By Pigout kan jy selfs vars oesters eet – en teen R12,50 elk is dit net 50c duurder as in die Kaap. Nugter alleen weet hoe hulle dit regkry.

Wanneer ek die dorp uitry, sien ek baie mense wat rondsit: op die straathoeke, op die sypaadjies, onder bome, op lae muurtjies – enige plek met ’n goeie sitvlak. En dit beteken net een ding: Werkloosheid is ’n probleem.

’n Mens kom dit nie soseer agter as jy deur die ylbevolkte Groot-Karoo ry nie, maar van hier af, deur die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, raak dit al meer opvallend, want hier is ménse.

Tog is daar altyd iemand wat jou hoop gee. Soos Itumeleng Phooko, wat skaars 21 is, maar al klaar haar eie haarkappery besit. Ek gee haar ’n geleentheid tot by haar huis Rouxville – oftewel Roleleathunya, die township. (In Sotho beteken die naam “stowwerige plek”.) Sy spaar geld om verder te studeer en eendag, vertel sy, wil sy in Durban gaan bly.
 

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Die grondpad tussen die Tsitsa-valle en die Tina-valle in die Oos-Kaap.


Ons amperdaar-provinsie
By Aliwal-Noord ry ek die Oos-Kaap binne. ’n Groot bord waarsku dis onwettig om verkleurmannetjies te koop. (Mense wat dwergverkleurmannetjies aan motoriste verkwansel, is die afgelope paar jaar ’n groot probleem.)

Die R58 tussen Aliwal en Elliot is lag-lag een van die mooiste paaie in die land. Jy ry verby Lady Grey en Barkly-Oos, tussen pragtige plase en sandsteenkranse deur, en oor bergpasse en helder riviere soos die Karringmelkspruit en die Kraairivier.

Ongelukkig is daar omtrent geen uitgemerkte aftrekplek met ’n piekniektafeltjie nie (behalwe 10 km oos van Lady Grey). Ek wonder altyd hoe dit werk wanneer mense paaie bou. Wie besluit of daar piekniekplekke moet wees? En waar hulle moet wees? Wie kies die bome? Kos dit baie ekstra vir peperbome?

Hoe ook al, dit was lekker dom om nie die R58 ordentlik toe te rus met piekniekplekke nie. Vergelyk die pad byvoorbeeld met die N9 tussen Colesberg en Middelburg – dáár is ’n horde piekniekplekke wat uitkyk op verlepte turksvye en windpompe.

Van Maclear af ry ek suid na die N2 toe. Dié wêreld is altyd mooi, maar veral in die somer, wanneer die kaal heuwels soos groen duine horison toe lê met die veelkleurige huisies wat soos strooisuiker oor die voue en rondings lê.

Wanneer ek by die N2 kom, bel ek ’n vriendin in Mthatha, want dalk kan ek vanaand daar oornag. Maar sy’s in die Kaap. Dus draai ek links, Kokstad se kant toe. Net nadat ek die Tsitsarivier oorsteek, sien ek ’n bordjie na links wat sê “Tsitsa Falls Lodge”. Ek draai in.

Ek wou nog altyd die Tsitsa-waterval sien, maar het nooit geweet hoe om daar uit te kom nie (die meeste kaarte dui dit nie aan nie). Al wys my kaartboek nie ’n pad nie, is dit geteer – so ’n vars, dun Bovril-lagie, tipies van baie paaie waar jy kan sien ’n politikus het iets belowe en toe laat hy die ding so goedkoop as moontlik bou.

Later raak dit grondpad en ek ry teen ’n aalwynbegroeide koppie uit. Dan, skielik, sien ek dit: die waterval! Ek hou net daar stil. As dit nou die Laeveld was, dan het hier twee toerbusse gestaan en die kameras was uit met al die elmboë op relings. Maar ek is alleen, en hier’s nie eens ’n amptelike uitkykpunt nie.

Ek ry af tot by die lodge, reg langs die waterval. Van bo af het dit mooi gelyk, maar nou sien ek hulle is nog besig met die bouwerk. Die safaritente staan al, maar die ontvangs is nog duidelik in ’n nie-amptelike fase. Bongi Ngqongwa verwelkom my. Ja, sê hy, ek kan enige tyd oornag, maar daar’s nog niks beddens of water nie.

Gelukkig het ek my kampmatras en ek besluit om die R60 te betaal sodat ek in ’n safaritent kan slaap. Ek sal maar sonder stort of spoeltoilet moet klaarkom.

Net voor sononder kom daar nog iemand aan. Dis Graham Roebuck van Oos-Londen. Hy en sy span is besig om kragdrade op te sit in die gebied. Hy vertel die plaaslike munisipaliteit is nogal “jacked” en doen goeie werk vir sy inwoners. Die lodge, byvoorbeeld, is een van hulle werkskeppingsinisiatiewe.

Ek, Graeme en Bongi stap later na die waterval toe om stroomop te gaan bad. Ek gaan lê plat op my rug en grawe my elmboë in die sand sodat die stroom my nie meesleur nie. Die water is louerig, maar ná ’n snikhete dag is dit verkwikkend. ’n Kraai vlieg oor en sê “Hei, jy!”. Ek steek vir hom tong uit. Die water druis en ek sien net die bruin rimpels van die rivier wat so 100 m verder in die ravyn wegval. Dis asof die horison by my ore inloop. Nabome en broodbome groei teen die hange en kranse.

Doer anderkant jaag iemand beeste aan huis toe, ’n ritueel amper so oud soos ’n T-been-steak. Op omtrent dieselfde oomblik as wat die huise se liggies aangaan – alles danksy Graham en sy manne se elektrifisering – begin ’n ster flonker.

Die Tsitsa-waterval is so na aan die paradys as kan kom.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Mlangeni Sakhile (tweede van links) en deel van sy karate-kudde, Shelly Beach, suidkus van KwaZulu-Natal.


In die naam van karate
Ek ken die KwaZulu-Natalse Suidkus glad nie. Met die N2 ry ek in Port Shepstone vas, verdwaal, ry so ’n paar draaie en kom dan uiteindelik by Shelly Beach uit.

Alles hier lyk so anders as waar ek die vorige tien dae gery het. Van Wyksvlei en Shelly Beach is eintlik op verskillende planete. Hier is alles geil, met plante wat die paaie verdring. Daar’s oral mense, oral karre, hoë mure, veiligheidshekke, winkelsentrums… Op Van Wyksvlei is dit warm en almal wens hulle kan die R70 miljoen Lotto Powerball wen. Saans sing mense hartseer, dronk begrafnisliedjies wat jy ’n paar kilometer ver op die andersins stom naglug kan hoor. Op Shelly Beach is dit bewolk en ’n mens kry die idee die mense wat heeljaar hier woon, is nog besig om te herstel van die Desembervakansie se dolheid.

Hier geld ook heeltemal ander reëls. So is dit byvoorbeeld heeltemal in die haak om op ’n buiteseisoensweeksdag met jou strandhemp rond te stap wat tot by die heel onderste knoop oop is, so as asof jy ’n miljoen in die bank het. Spognommerplate lyk ook anders: GLORY ZN, SOUTIE 1 ZN, RAVE ZN en die besoekende THE KING GP.

Ek kry slaapplek by ’n bed-en-ontbytplek langs die see en stap net voor donker af na die Sonny Evans-hawetjie toe waar klein motorbote intrek. Iemand voer rondloperkatte uit sy vis-en-tjipspakkie. ’n Laaitie kom rev sy 50, maar daar’s niks meisies om te beïndruk nie. Daar’s net ninjas.

Ja, ’n klomp ouens is besig om karate te oefen in die parkeerterrein! Hulle hou fopgevegte, gee tolskoppe wat kennebakke rakelings mis – en elke nou en dan kom al twee vegters tot stilstand, hou hulle arms langs die sye en buig eerbiedig vir mekaar.

“Wie’s die sensei hier rond?” vra ek toe twee ouens ’n blaaskans vat.
“Dis ek,” sê die een met die bruin belt. Mlangeni Sakhile kom skud my hand. “Ons doen Shotokankarate,” verduidelik hy, “Ons bly hier naby in die township en kom elke drie weke hier oefen.”

Die ander staan ook nader. Een het pas ’n PS You Make Me Happy-sjokolade gaan koop. Ek neem ’n foto van die hele groep: Mlangeni, Ndovela, Jonie, Bhalulu, Nduduzo, Themba en Zulu. Hulle begin aanstaltes maak om huis toe te gaan.

“Vat julle die taxi?” vra ek.
“Nee,” sê Mlangeni. “Ons draf. Dis net 15 km.”

Ek kyk hulle agterna terwyl hulle die skemer in wegdraf. Die meeste van hulle het nie eens skoene nie.

Maak toe
Toast Coetzer
zoomzoom

Sibusisu en Vusi Ngcobo van die groep Busker’s Vibration sing vir footjies by die Howick-waterval in KwaZulu-Natal.


Waar alles gebeur
Net noord van Hibberdene draai ek impulsief van die ou teerpad – die R102 – af op ’n grondpad binneland toe. Skielik is ek weer in ’n heel ander wêreld. Weg is die groot vakansiehuise en cabanas en pa’s wat hulle seuns strand toe vat sodat hulle hulle Kersfees-vlieërs kan uittoets.

Hier’s ek nou ordentlik in die “rural areas” – dit voel of ek Johnny Clegg hier iewers by ’n kruispad gaan raakloop terwyl hy onder ’n piesangboom staan en liedjies sing.

Dis darem snaaks hoe ons met politieke korrektheid (of wat ook al) dinge naam gee in Suid-Afrika. ’n “Rural area” is waar swart mense bly, dikwels ’n voormalige tuisland, maar as ons praat van die “platteland”, dan sien die meeste mense voor hulle geestesoog ’n platter, leër plek – dalk Bothaville, Ermelo of Beaufort-Wes se distrik.

“Rural area”, “voormalige tuisland” of “Zoeloeland” – wat jy dit ook al wil noem, dis nie altyd hoog op die gemiddelde vakansieganger se lysie nie. En daar’s redes hiervoor: Dis nie asof elke plek hier ’n woonwapark of koffiewinkel het nie. Boonop is dit soms onveilig. En jy verdwaal maklik – dit neem my minder as tien minute.

Tog moet ’n mens af en toe deur plekke soos dié probeer ry. Dis mooi hier: suikerriet, mielies, natuurlike bos, wilde riviere, groot groepe skoolkinders – eers in ligblou, dan in turkoois en uiteindelik in groen.

Ja, hier’s skole, hier’s klinieke. Die mense wat jy langs die pad sien met hulle duim in die lug, is onderwysers, ander is kerkmense, nog een werk by die Heilsleër.

Wat jy hier sien en ruik en voel, gee jou ewewig wanneer jy later in Sandton sit en kla oor die prys van croissants, of jou kop in ’n verkeersknoop van die stuurwiel af oplig en jouself afvra “Waarom?”.

Jy kry ’n idee hoe enorm die regering se taak is met dienstelewering. Ja, die vullis voor jou voorstedelike huis moet weekliks weggery word, maar hier, hier tussen nêrens en uMzinto of anderkant Keate’s Drift, net noord van Greytown waar Angus Buchan bly en die hange vol huise en die paaie vol kinders is en hanggat-bakkies blou rook teen die bulte uitry op pad Pomeroy toe – dáár is baie minder as in jou eie voorstad. Die onderwysers is minder en nie elke huis het ’n kraan en spoeltoilet nie.

Dit is geyk om iets te sê soos “Suid-Afrika is vol kontraste” – almal weet dit. Die goeie ding is dat ons land ook vol aangename verrassings is.

Twee dae tevore het ek in Kokstad gesit en ’n laatontbyt geëet. Dit was in Cassandra’s, die eetplek by die vulstasie net voor jy by die dorp inry van Mthatha se kant af. (Ek verduidelik presies waar dit is, want ek het 40 minute lank deur die res van die dorp gery op soek na ’n lekker eetplek en niks gekry nie. Spaar jou dus die moeite – Cassandra’s is tops.)

’n Afrikaanse egpaar het in die ander hoek gesit. Die man het steak bestel. Toe hulle klaar betaal het en amper by die deur uit is, draai die man om en vra die (swart) kelnerin of hy die sjef kan sien.

O hel, hier kom ’n ding, dag ek.
Die kelnerin gaan roep die sjef in die kombuis – sy’s ook ’n middeljarige swart vrou.

Ek sien sy’s senuagtig, want hier voor haar staan nou ’n groot wit man, ’n “boer”. Ek dink ek en sy het dieselfde ding gedink: Die man gaan skel oor iets onbenulligs omtrent die kos.

“Here,” het die man gesê en R10 na haar toe uitgehou. “Thank you very much for that steak, you cooked it perfectly. I can’t remember when last I had such a good steak. Thank you.”

Ek kon opstaan en daai ou ’n druk gee.

Maak toe

Terug na bestemmings | Terug na bo


Kommentaar

Lewer kommentaar op hierdie artikel


Tik asseblief die kode in







Verwante foto's

Sien meer

Search Locationsarchive




Verkeerde besoekersnaam en wagwoord

Wagwoord vergeet?

As jy registreer kan jy:

Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek
Corner/Hoek