Dié twee langnekke is naby die Dalkeith-watergat afgeneem. Die park se kameelperde hou meestal suid van Mata-Mata.
Mata-Mata is klein en nie eintlik iets om oor huis toe te skryf nie (en die kragopwekkers pla), maar die veld is besonders… en dit is byna ’n uitgemaakte saak dat jy kameelperde sal sien.
Mata-Mata 101
Staanplekke: Net soos by Satara in die Krugerwildtuin kan ’n paar gelukkige Mata-Mata-kampeerders hulle tent teen die draad opslaan.
Dis net jammer hier is nie soveel wild teen die draad soos by Satara nie. Buiten ’n gevlekte hiëna of twee wat saans ’n draai kom maak, sien ’n mens selde meer as ’n alleenlopervolstruis of troppie blouwildebeeste wat by die water kom draai.
My gunstelingstaanplek is nr. 6 aan die noordwestelike punt van die kampterrein. Hier kamp jy sommer rég teen die draad; jy het gewoonlik net een buurman en byna heeldag koelte.
Die kameeldoringbome in die res van die kampterrein lyk aanloklik, maar jy moet bereid wees om jou skaduwee met ander te deel.
Badkamers: Die kampterrein het net een ablusieblok. Aan die manskant is daar 3 storte, 2 toilette, krippies en wasbakke. Die storthokkies is klein met min plek om jou toiletsakkie neer te sit.
Aan die vroue se kant is daar 2 storte, 2 wasbakke, 3 toilette en ’n bad met ’n stortkop (toe ons hier was, was die stortkop stukkend, maar dis hopelik al vervang.)
’n Nuwe filtreerstelsel vir die boorgatwater is geïnstalleer, wat dit veilig maak om dit te drink.
Ander geriewe: Langs die badkamers is opwasgeriewe met 6 wasbakke vir skottelgoed en 2 diep wasbakke vir klere. Hier is ook driepuntproppe teen die muur. Aan die suidwestekant van die kampterrein is ’n wasgoeddraad.
Besoekers: Tussen die kampterrein en die badkamers is ’n paar waaiersterteekhoringgate. Gevlekte hiënas kom maak vroegaand ’n draai teen die draad – moet hulle maar eerder nie voer nie.
Koste: Staanplek met krag: R150 p.n. vir die eerste 2 mense; R48 p.n. vir elke ekstra volwassene en R24 p.n. vir elke ekstra kind (maksimum 6 mense per staanplek).
En as ek nie kamp nie? Die 4 nuwe chalets kyk uit oor die rivier en kos R950 p.n. vir 2 mense. Daar is 1 rolstoelvriendelike chalet vir R1 087 p.n. vir 2 mense, en 3 ouer chalets vir R520 p.n. vir 2 mense.
Klik HIER vir nog foto's.
Lees die volledige storie:
Watter paaie moet ek ry?
Soek ’n vaalboskat in die bosse net buite Mata-Mata.
Rondom Mata-Mata kan jy van die Kalahari se kenmerkende rooi duine sien.
In die oggend 80 km tot by 13de Boorgat en terug, sowat 4 uur
Wat brul so?
Val vroegoggend in die pad sodra die hek oopmaak, maar moenie haastig wees nie (en onthou om eers jou wildkykpermit by die ontvangskantoor te gaan haal voordat jy ry).
Ry die eerste 10 km lekker stadig en kyk of jy ’n uil, vaalboskat of selfs ’n luiperd uit die boom kan kyk. Blykbaar hou ’n luiperdwyfie in die omgewing van die kamp…
Hou ook jou oë oop vir gevlekte hiënas – hulle is volop in dié geweste. As die wild aan die skaars kant is, stoot aan tot by die Dalkeith-watergat (24 km van Mata-Mata af) – veral leeus is lief om vroegoggend hier te vergader.
Sodra die son sy kop agter die duine uitsteek, is dié watergat een van die beste plekke vir oggendfotografie in die park, want die watergat lê reg langs die pad. Wees ook op die uitkyk vir ’n silvervosgat reg teen die pad, sowat 50 m suid van die watergat. Oktober is ’n goeie tyd om welpies hier te sien.
Maak ook ’n draai by 14de en 13de Boorgat – as die leeus nie by Dalkeith is nie, is hulle waarskynlik hier.
Heeldag uit
± 170 km tot by Auchterlonie en terug, sowat 7 uur
Plaas toe!
Van Mata-Mata af is daar net een pad om te ry en dit is suid in die Auobrivierbedding af.
Daar is egter twee duinepaaie waarop jy kan afdraai (een ná 56 km en die ander ná 84 km), maar aangesien dit nie eintlik goeie wildkykgebied is nie, sal ek aanbeveel jy bly eerder in die rivierbedding tot by die Auchterlonie-piekniekplek (± 85 km).
Pak ’n paar gekookte eiers, oorskietbraaivleis en iets te drinke in en eet hier middagete. Hier is ook badkamers en ’n museum wat jou meer vertel van die boere wat vroeg in die twintigste eeu hier ’n bestaan probeer maak het. (Lees die artikel oor Twee Rivieren).
Ry laatmiddag rustig terug kamp toe.
Laatmiddag
34 km na Craig Lockhart en terug, sowat 2 uur
Ry kort, kyk lank Omdat die son laatmiddag mooi op die Sitsas- en Craig Lockhart-watergat val, is dit nie nodig om ver te ry nie.
Bring soveel as moontlik tyd by hierdie twee watergate deur — dis die moeite werd.
Bakoorjakkalsies en jagluiperds word gereeld in hierdie gebied gesien, veral as die son water trek; bly dus so laat as moontlik uit.
Maar maak seker jy en jou kamera is op die rantjie 2 km buite die kamp wanneer die son sak – dis ’n onvergeetlike gesig, ek belowe.
Maak toe
Wat kan ek nog doen?
Blouvalke gebruik bome as uitkykpunte om te soek vir prooi.
Gevlekte ooruile knip bedags ’n uiltjie diep in die lower van kameeldoringbome.
Soek hierdie voëls In die kamp: Swartkraaie loop tussen die tente deur en soek insekte, oorskietkos en karsleutels – pak maar die blink goedjies weg.
Soek na hulle in die digte kameeldoringtakke. Mikstertbyvangers is veral volop in die kampterrein.
Wees ook op die uitkyk vir witkoluiltjies wat in ’n groot ou kameeldoringboom noordwes van die swembad broei.
By die watergate: Voëls is volop by Mata-Mata se watergate. Honderde gewone tortelduiwe kom drink soggens en laatmid-dag water, en geelkanaries en Namakwa-duifies les hulle dors bedags. Die Dalkeith-watergat (± 24 km van Mata-Mata af) is ’n goeie plek vir oggendfotografie.
Mata-Mata na Craig Lock-hart: Op die 17 km van die kamp na die Craig Lockhart-watergat sien ’n mens gereeld gompoue in die rivierbedding. Hoephoepe soek graag onder kameeldoringbome na insekte. Soek na gevlekte ooruile – hulle skuil bedags in of onder bome.
Op die omritte: In die oop veld van drie omritte suid van die kamp, verby die Dalkeith-watergat, 14de en 13de Boorgat, sien ’n mens volstruise en gewone troupante. Blouvalkies hou in droë bome.
Ry saam met die boffins
Wildsritte word soms van Mata-Mata af aangebied (R145 vir oggend- en aandritte; R250 vir ’n dagrit), maar hier is dikwels nie ’n veldgids aan diens nie. En selfs wanneer iemand wel beskikbaar is, verkies ek om self te gaan ry.
Maak toe
Lees die res van die storie
Leeus vergader dikwels vroegoggend by die Dalkeith-watergat, 24 km van Mata-Mata af.
As jy vroeg genoeg by Mata-Mata aankom, kan jy vir jou ’n kampeerplekkie by die kampdraad kry en sommer uit jou kampstoel wildkyk.
Dis dalk meer bekend as ’n grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië as vir wildkyk, maar Mata-Mata bied van die mooiste oop veld in die Kgalagadi. Dan is daar rooi sandduine en kameeldoringbome wat lyk asof hulle in ’n boomboek hoort.
My gunstelinggebied is drie kort omritte suid van die kamp, verby die Dalkeith-watergat, 14de Boorgat en 13de Boorgat. Hierdie grondpaadjies kronkel deur van die lewendigste wildkykveld in die Kgalagadi, waar leeus, jagluiperds, bakoorjakkalsies en silwervosse gereeld gesien word.
Kameelperde is ook volop hier rond. Nadat hulle jare gelede uitgeskiet is in die Kgalagadi, is agt Etosha-langnekke in 1990 na ’n wildkamp naby Mata-Mata gebring.
Hier het hulle agt jaar gebly voordat hulle in 1998 in die park vrygelaat is. Daar is nou al meer as veertig in die groep, en die omgewing net suid van Mata-Mata is die beste plek in die Kgalagadi om kameelperde te sien.
Mata-Mata self is piepklein, maar die kamp het wel ’n winkeltjie, vulstasie, inligtingsentrum en swembad. Hier is ook ’n skuiling wat oor ’n watergat in die Auobrivier uitkyk, maar moenie Nossob se besige watergat verwag nie.
Omdat die kamp naby die parkgrens is, suip die diere selde hier.
’n Kragopwekker laat jou toe om jou kamerabatterye tussen 5 vm. en 11 nm. te laai, maar daarna is dit ligte uit. Die konstante gedreun wat ’n mens deur die dag hoor, is nie Mata-Mata se kragopwekker nie, maar ’n enorme opwekker bo-op ’n duin aan die Namibiese kant.
Hoewel Mata-Mata ’n grenspos is, moet jy jou papierwerk by die doeane-kantoor op Twee Rivieren al in orde kry as jy hier wil deur. En jy moet minstens twee nagte in die park slaap voordat jy Namibië mag binnegaan (dieselfde geld van Namibië af na Suid-Afrika).
Kommentaar