By Moretele-kamp kan jy jou eie tent opslaan of in een van die reservaat s'n oornag.
Miskien is dit omdat dit in Noordwes lê, dalk omdat dit effens van ’n tongknoper is, maar min mense gaan Borakalalo toe.
In der waarheid lê dié natuurreservaat, op die kaart ’n groot groen kol van 140 km2 (14 000 ha), skaars 60 km noord van Brits.
“Dis jammer so min mense kom hierheen, maar dit beteken ook jy het die reservaat omtrent vir jouself,” sê John Bennett van die Vriende van Pilanesberg, ’n groep wat in Borakalalo werk. Hy besoek die reservaat al 15 jaar. “Dit word snags doodstil. Die rus en vrede is verreweg die park se grootste bate.”
“Borakalalo” beteken immers “die plek waar mense ontspan”. Vir vissermanne beteken ontspan om reeds sesuur soggens te begin hengel, lyk dit vir my toe ek by die dam gaan stap om ’n paar vroegoggendfoto’s te neem.
Oral begin die hengelaars roer. Een ou strek buite sy tent, ’n ander was ’n mes in die vlak water. En dan sjirrrrrr! die eerste lyn.
Die Moretelerivier word deur ’n allemintige sementwal opgedam. Die Klipvoordam wemel glo van karp, kurper en baber. Hier is watervoëls soos die watertrapper, witrugnagreier en nimmersat – maar gelukkig nie malariamuskiete nie. ’n Trop bobbejane drentel vir kwaadgeld rond op die brug oor die dam se uitloop.
Rondom die water kan jy uitkyk vir 35 soorte soogdiere soos witrenosters, buffels, kameelperde, sebras en blesbokke. Om jou strek die doringbome in die verte tot waar die Mogoshaneheuwels uit die veld opstaan.
Die Moretelekamp is langs die rivier (eintlik net ’n stroompie) en dis hier waar die meeste nie-hengelaars kamp. Op pad soontoe hou ons ’n klipspringer dop wat blitsig die klippe kafdraf en bo in die ruigte verdwyn. Bring ook gerus ’n boomboek en kyk of jy die mooi vaderlandswilge kan uitken.
Die reservaat word die Borakalalo- nasionale park genoem, maar dis die Noordwes-parkeraad wat hier in beheer is en nie Sanparke nie. Die naam, nes die Pilanesberg- nasionale park s’n, kom nog uit die tyd toe dit deel was van die voormalige tuisland Bophutatswana.
Nasionale park of nie: Hier is genoeg bos, voëls en diere om baie ander parke en reservate in Suid-Afrika ’n ding of twee te wys...
Doen dié 5 dinge in Borakalalo
1. Jag met jou oë
Die helfte van Borakalalo is ’n wildernisgebied sonder paaie, maar in die ander helfte is daar talle grondpaadjies waarop jy met ’n gewone motor kan gaan wild kyk.
Jy behoort nie te sukkel om rooibokke, koedoes, blouwildebeeste, blesbokke, waterbokke, sebras en kameelperde te sien nie, maar kyk ook fyn vir die witrenosters, buffels, bosbokke, elande, gemsbokke, njalas, rooihartbeeste, volstruise, rietbokke, swartwitpense en tsessebes.
Kry ’n kaart by ontvangs, pak ’n drinkding as jy met die Tholopad gaan ry (sit minstens anderhalwe uur opsy) en stop halfpad by die voëlskuiling om bene te rek. Die meeste van die paaie skakel inmekaar sodat jy kan kies hoe lank jy wil wildkyk.
2. Vis vir meer
Dis ongewoon om in ’n reservaat te mag hengel. In Borakalalo mag ’n mens net van die oewer af vang, want hier is krokodille en seekoeie in die dam. Jy moet by die hek ’n permit koop vir visvang waarmee jy soveel visse as wat jy wil per dag mag uithaal.
As jy hoeke sonder weerhakies het, mag jy met kunsvlieë in die Moretelerivier onder die dam se uitloop hengel. Koste: ’n Permit kos R15 p.p.p.d.
3. Bring die Sasol en Roberts
“Dis Borakalalo se voëls wat hom anders maak,” sê Koos Herbst van die Noordwes-parkeraad. “Hier kom digby 400 spesies voor, meer as in Pilanesberg of Madikwe.”
Dis die uitstekende habitat – doringveld, breëblaarbosveld en die dam – wat soveel voëls hierheen lok. Daarby lê die reservaat soos ’n eiland tussen die digbewoonde gebiede wat van Pretoria se kant af nader kruip.
Hier is swartaasvoëls, swartborsslangarende, bronsvlerkdrawwertjies en dubbelbandsandpatryse. ’n Mens kan glo op ’n dagbesoek in die somer tot 120 voëlspesies afmerk. Hou jou oë ook oop vir bosveldpapegaaie, Bennettse spegte, bosveldlewerikke, bruinkeelbossangers en waaierstertvlieëvangers.
Twee uitstekende voëlskuilings van hout wat deur die Vriende van Pilanesberg gebou is, sal jou heeldag agter die verkyker hou. Die een op die Tholopad bring jou met ’n plankiespad na ’n uitkykpunt oor die vleiland waar jy onderdak kan sit en kyk. Kontak: www.blng.co.za en gaan na “Birding Spots”.
4. Loop ’n draai Die Vriende van Pilanesberg bou nog aan die Nokastaproete van 9 km, maar die eerste deel van ongeveer 2 km kan jy op jou eie gaan stap. Onthou net, hier is witrenosters, buffels en luiperds – kyk dus mooi as ’n takkie agter jou kraak...
Daarby sal ’n ereveldwagter jou oor die meeste naweke en vakansiedae gratis kan begelei na dele van die park wat gewoonlik buite perke is. Bespreek bedags by die ereveldwagters se kampeerplek, 200 m wes van die Moretelekamp. (As hulle nie daar is nie, behoort daar ’n knypbord te wees waarop jy jou besonderhede kan invul.)
’n Mens mag ongelukkig nie fietsry in Borakalalo nie.
5. Rol jou moue op
Raak betrokke by die Vriende van Pilanesberg en help om beter geriewe in die reservaat te skep. Hulle lê staproetes uit, hou die voëlskuilings en uitkykpunte in stand, en plant gras in die vleiland voor een van die skuilings. Kontak: 011 615 3340; www.fops.org.za
Maak toe
In ’n neutedop
Slaap salig Moretele.Hier’s ’n kampterrein (sonder kragpunte) waar jy daai tent van Makro kan uittoets voor jy Botswana toe gaan. Daar’s tien permanente safaritente sonder elektrisiteit langs die Moretelerivier. Koste: R327 per tent per nag vir twee mense (R266 in die week). R73 p.p. om te kamp (R60 in die week) en halfprys vir kinders onder 12. Phudufudu.Dié kamp (dit beteken “steenbok”) is heerlik privaat en ideaal vir groter gesinne of groepe vriende. Hier is vier permanente tente wat elk sy eie bad en toilet het, asook ses gewone safaritente wat ablusiegeriewe deel. Phudufudu het ook ’n boma, swembad en kombuis. Linne word verskaf. Koste: Standaard: R497 per tent per nag (R327 in die week) vir twee mense. Luuks: R660 per tent per nag (R484 in die week) vir twee mense. Groepe betaal R2 663 vir ses tente (R1 696 in die week) en R4 863 vir tien tente (R3 436) in die week. Pitjane. Dis waar die vissermanne slaap. Hier is nie elektrisiteit nie. Ander besoekers mag ook hier slaap, maar onthou: Die vissermanne is douvoordag uit die vere. Koste: R40 p.p.
Hoe kom ek daar?
Ry met die N4 uit Pretoria in die rigting van Rustenburg en neem die Rosslyn-afrit. Draai regs op die R566 en dan links by die Lethlabile-bordjie. Volg hierdie pad vir ongeveer 60 km tot by die T-aansluiting in Jericho. Draai regs en neem dan die eerste pad links (Legonyane). Volg van hier af die reservaat se bordjies. Dis heelpad teerpad.
Koste
Toegang kos R25 per volwassene, R15 vir 2-12-jariges en pensioentrekkers, en R10 per motor.
Tye
September tot Maart: 5 vm.-7 nm.
April tot Augustus: 6 vm.-6.30 nm.
Elektrisiteit: Nee.
Selfoonontvangs: Wisselvallig.
Winkels en brandstof: Sorg dat jy alles bring. Jy kan brandstof kry by Jericho buite die park.
Braaiplek: By die kampeerplekke en piekniekterrein.
Troeteldiere: Verbode.
Swembad: Net vir die gaste van Phudufudu-kamp.
Aktiwiteite: Voëlkyk, visvang, wildkyk, stap.
Kommentaar