Hartseerland
Deur Toast Coetzer
Dit is skemer en die ligte by die Harare- internasionale lughawe brand net half-fase. Die vlug uit Johannesburg was skaars ’n derde vol en die meeste van die passasiers was Zimbabwiërs – met sakke wat bult van die inkopies uit die republiek.
Jenny Nobes kom laai my op. Ek gaan vir ’n week saam met haar deur die noorde van Zimbabwe te ry, na drie van die groot parke daar: Matusadona, Chizarira en Hwange.
Ons ry deur die halfdonker stad. Hier en daar werk die verkeersligte nie en daar is meer slaggate in die teerpad as waaraan die deursnee-Suid-Afrikaner gewoond is.
Vanaand is daar krag én internet in Jenny-hulle se huis, maar nie water in die krane nie. Hulle is gelukkig, want hulle bly naby die hospitaal, dus word hulle elektrisiteit selde afgesny – vriende van hulle in ’n gegoede buurt het 18 maande laas lopende water gehad.
Ek gaan slaap vroeg, want môre moet ons ver ry. In die kamer staan sakke meel, suiker en ander proviand om my opslaanbed. In Zim moet jy koop wat jy kan, wanneer jy kan. Dis vroeg November 2008. Verder weg, iewers in die woonbuurte van Harare, wag die cholera-epidemie om uit te breek.
Matusadona
Op die oewer van die Kariba
Jenny het ’n lodge in die Matusadona- nasionale park aan die oewer van die Karibameer. Sy ken die gebied goed, maar ons wil kyk of ons die deel weg van die water kan verken.
Ons wil kyk of Suid-Afrikaanse toeriste moeiteloos dié roete – ’n soort ompad tussen Botswana en Zambië – sou kon baasraak. Dis ’n lekker roete, want jy kan van Botswana of Zambië af by die Victoria-waterval inry; dan Hwange, Chizarira en Matusadona verken; en uiteindelik die land by die Karibadamwal verlaat terug Zambië toe (ons gaan hierdie roete net van die ander kant af ry).
Op die kaart lyk dit heel eenvoudig. Maar hoe lyk die paaie? Die brûe? Waar sal ’n mens petrol kry? En kos? Wat van slaapplek? En bowenal, is dit veilig?
Ons ry noordwes uit Harare en stop vroeg al op die dorp Chinhoyi, waar ons vir Jan en Alida Stander oppik. Jan was voorheen ’n professionele jagter en is deesdae ’n wildbewaringsbeampte.
Ná roereiers op tuisgebakte brood vir ontbyt pak ons die Nissan Patrol dat hy wéét hy is gepak. Ek laat dit oor aan Jan – ’n man wat sweerlik drie skape, sewentien boerpampoene én ’n fiets in ’n Uno se bagasiebak sal kry.
Karoi is die volgende dorp op die A1-teerpad en net noord van die dorp draai ons links by die Twin River Inn. Van hier af is dit volgens die padbordjie 25 km na Magunje, 262 km na Bumi Hills en 343 km tot op Binga. Byna alles grondpad.
Daar is mooi heuwels en harde rante, en die pad daal nou en dan af na ’n rivier, dan weer verby karige gras-en-moddersteenhuisies wat iewers op ’n stowwerige vlaktetjie verbete vasklou.
Net duskant die Sanyatirivier kom ons af op ’n lorrie wat omgeslaan het. Wit katoen peul uit oopgebarste bale en die drywers sit onder die waentjie in die koelte en wag. Jan stap nader – hulle is al twee dae hier en wag dat hulle baas kom help. Hulle het darem water. Ons los vir hulle iets te ete en ry verder.
Uiteindelik draai ons af, noorde toe. Dis die hoofpad die Matusadona in, maar hier ry min voertuie. Dis bergagtig – die Matuzviadonah-reeks gee juis aan die park sy naam – en by uitstek 4x4- wêreld. Jan en Jenny praat sommer net van “die Matoes”. Dis ’n pleknaam wat gesag inboesem, want die Matoes is harde wêreld. ’n Mens besoek ook nie die Matoes nie, ’n mens gaan in die Matoes in.
Oral ry ons deur droë riviere – in die reënseisoen is dit byna onmoontlik om die park hierlangs binne te ry. In ’n stadium kyk Jan oor sy skouer na my en Jenny.
“Dis tyd: Maak julle vensters toe, asseblief.”
Jan weet wanneer ons die tsetsevlieggebied binnery.
Dis ’n verligting wanneer ons by die Karibameer kom. Dis steeds vrekwarm, maar later steek ’n bries op. Ons kampeer vanaand by Tashinga, tans die maklikste plek in die Matoes vir kampering – die paaie na die ander kampplekke (Sanyati West, Jenje en Changachirere) is toegegroei en jy moet hulle van die water se kant af benader.
In die verte lê ’n huisboot vasgemeer en hier naby my is van die gaste besig om vis te vang van ’n klein bootjie af. Dit gaan jolig, en een vissie ná die ander word uitgepluk en in die hounet gegooi. Die son sak op die mooiste manier en ek neem ’n foto: Dis ’n poskaart waarmee ’n mens Zimbabwe eens vereenselwig het. Ek hoop en bid dit word gou weer so.
Die volgende oggend pak ons op en ry na die Rhino Safari Camp, Jenny se lodge verder oos teen oewer. Die lae, digte bosse laat die pad soos ’n drukgang voel.
“Dis jessebos,” sê Jan, “As jy eers hier in die jesse verdwaal, is dit nag.”
Van bo af moet dit seker soos ’n doolhof lyk. Nie die soort plek waar jy in ’n olifant wil vasloop nie. (En ons het reeds ’n paar grotes gesien naby Tashinga.)
By Jenny se lodge pak ons af en soek lafenis. Niks is koud nie. Ons wil swem, maar swem in die Kariba is nie ’n goeie plan nie, want hier is bilharzia – en krokodille.
Jan het egter ’n plan, ten minste teen die krokodille: Jy moet in die vlak water van die meer lê waar daar ’n sandbank tussen jou en die dieper water is. Jy moet die krokodil kan sien kom.
Wanneer dit koeler is, ry ons na waar die Karongarivier in die meer uitmond. Dié gebied word die Mukadzapela genoem – dit beteken “die diere is gedaan”. Toe die Karibadam gebou is en die water begin styg, is die laaste van die diere wat op eilandjies vasgekeer was, hierheen gebring.
Soos Jenny gehoop het, kry ons vir Mvura, die swartrenoster, hier. Jenny ken haar goed, want sy is nou al jare hier naby haar kamp rond (sy is hierheen gebring van ’n teelprogram elders in die land). Nou het Mvura self ’n kalf, Murume.
Daai aand slaap ons goed, min wetend dat ’n leeu deur ons kamp loop en lug snuif – ons sien eers die volgende oggend die spore.
Chizarira
Voor dooiemansravyn
Nadat ons die steiltes en rivierlope van die Matusadona weer uit is, draai ons verder wes. Die brug oor die Umerivier het weggespoel, maar omdat dit droog is, ry ons moeiteloos deur die water.
Op Siyakobvu, net anderkant die Ume, stop ons vir ’n blinde man wat oor die pad skuifel. Daar staan ’n groot wit markiestent vol sakke meel – blykbaar deel van die regering se voedselhulpprogram. Oorkant die pad staan ’n tiental in wit gewaad buite ’n kerksaaltjie en sing. Hulle is “mapostori”, of lidmate van die Apostoliese kerk.
Die pad is vir lang ente baie sleg, maar sekere dele is onlangs herstel, met graaf en kruiwa. Skielik hou Jan stil. Reg langs die pad staan ’n splinternuwe makoro.
Jan roep iemand nader. “Is dit te koop?”
“Nee,” sê die seun, “dis klaar verkoop, hulle moet net kom oplaai.”
Jan vind uit wie die kano gemaak het en ons ry verder. Hy wou glad nie die kano koop nie; hy wou net weet wie die skuldige is, want dis onwettig om makoro’s te maak in Zimbabwe. Die inheemse bome – in dié geval mahonie – moet beskerm word, en dis net die heel grootstes wat geskik is om ’n makoro uit te beitel. Makoro’s bly egter wettig in Zambië, dus is daar ’n mark net oorkant die Zambesi.
Ons slaap net buite die park by die Chizarira Lodge, wat oor ’n mooi vallei uitkyk.
Soos by baie ander lodges in Zimbabwe gaan hier nie veel aan nie. Die eienaar, Craig van Zyl, en sy vrou, Calla, kom later ook daar aan (hulle woon in Harare). Daar is eenvoudig nie genoeg geld om alles in stand te hou nie, maar die lodge bly tegnies gesproke oop. Craig is besig om die waterpomp reg te maak.
Craig en Jan is bosmense en loop oral kaalvoet. Al twee se hakke is so hard soos ’n olifant s’n. Hulle sit nou en kyk na mekaar se hakke.
“Jy moet Vaseline aansmeer voor jy gaan slaap,” sê Craig, “en dan moet jy kouse bo-oor aantrek. Dan is hulle die volgende dag sag.”
Jan het nog raad. “Jy moet met nooit ’n ‘V’ insny nie; sny eerder die skurfheid so in blokkies. Gebruik sommer jou Leatherman of iets...”
Ons gee ons hele koskis vir die kokke en eet daardie aand soos konings – selfs pizza!
Die venster in my chalet is stukkend en die wind uit die kloof blaas heelnag die kamer in. Die musiektnet bol soos ’n seil rondom my. ’n Paar keer staan ek op en gaan staan op die balkon. Dis asof die hele Zimbabwe oor my waai.
Vroegdag ry ons die park binne. Die Chizariraheuwels vorm die noordelike grens van die park. Dis eintlik meer as heuwels – ’n rotsmuur waar jy moet deur om by die park uit te kom. Gelukkig sny riviere plek-plek hulle pad deur die eskarp en die pad lei ons nou deur een van hierdie pragtige ravyne.
Skielik is jy in ’n ander wêreld. Hier groei groot bome soos Natalse mahonie, rooiessenhout, jakkalsbessie en anabome, maar ook kleineres soos Kundanyoka-perdepram, wildevy, bosluisboom en muwanga, een van die hardste houtsoorte wat jy kry.
Ons stop en luister. Oral is voëls. ’n Pragtige geel Afrikaanse wielewaal vlieg tussen die boomtoppe, doer sweef ’n kroonarend, van iewers af lawaai ’n boskraai.
Aan die nuutgeverfde padtekens en netjiese paadjies kan ’n mens dadelik sien Chizarira se sake is agtermekaar. Alles danksy “Paul” Kudakwashe Madzivadondo, senior wildsbeampte in die park, sê Jan.
Daar is nie tyd om die park in sy geheel te verken nie, maar ons gaan kyk vinnig na die Mucheni-ravyn. Daar is twee uitkykpunte en by al twee is kampeerplek. Die kranse val byna 150 m onder jou weg. Doer onder loop die riviertjie; oorkant, teen die hang, vleg fyn wildspaadjies soos deurmekaar skeringdraad oor ’n weefraam.
Net soos in Matusadona is ons die enigste besoekers hier in “Chiz”, soos Jan-hulle dit noem. Buiten vir die Victoria-waterval is al Zimbabwe se parke tans dolleeg. Vir natuurliefhebbers wat op soek is na stilte, is só ’n braakland – hoe kruppel ook al – dalk die beste plek wat hulle kan hoop om te ontdek.
Binga
Visdiewe in die oopte
Jenny moet al gewoond wees aan rondskud in ’n kar – haar skoonma het ’n Land Rover wat al 1 300 000 km agter die blad het! – maar ons is almal verlig om uiteindelik, 30 km duskant Binga, weer teer onder die Patrol te voel. Ons sit sommer die radio harder.
Binga is een van die Kariba se “hawedorpe” waar die huisbote vasmeer, volmaak, aflaai en oplaai. Tans lê daar seker ses voor anker, maar niks word opgelaai nie. Tog is dit bedrywig – die bote word in stand gehou en werkers skrop dekke.
Ná ’n paar snikhete dae in die Zambesivallei is dit hemels om by die gastehuis in die swembad te duik. Ai, die beskawing! Skielik het ons dakwaaiers en yskaste wat werk, én ons maak planne om te braai. Die tuin om die gastehuis is ’n spens om van te droom: Piesangs, dadels, kokosneute, mango’s, papajas, mielies…
Ons is reg langs die meer. Teen skemer hou Jan een van die vissersbote naby die kant met valkoë dop. Die bote mag nie nader as 3 km aan die oewer hulle nette uitgooi vir kapenta, ’n soort vis, nie. Dis ook nie hoe nie of hulle loklig gaan aan en die nette word laat sak. ’n Kapentadief, hier vóór ons oë.
Die gastehuis is byna ’n museum – dis asof niks, g’n meubelstuk of vurk of gordyn, sedert 1983 vervang is nie. Dis soos time travel terug na die dae van Dallas.
Jan ken vir Anton Visser, wat die Binga Rest Camp bestuur, al lank. In die kroeg van die Rest Camp is daar ’n skildery van ’n buffel teen die muur – Jan se werk. Blykbaar het hy destyds op hierdie manier sy kroegskuld betaal.
Die warmwaterbron by die Rest Camp, wat sedert die jare sestig al hier is, is indrukwekkend – 79 ºC by die bron!
Anton het ook ’n winkel, ’n algemene handelaar, wat niks en alles verkoop. Die vorige dag het sy suster en swaer, Yolande en Charlie, teruggekeer van ’n inkopie-ekskursie in Francistown, Botswana.
“Julle moes al die Cremora daar gesien het!” sê Yolande. “Charlie leef van die goed! Maar ons kon net een groot pak koop...”
Ek sien Anton gebruik ’n dagboek van 1987. “Dit werk,” sê Anton en haal sy skouers op. Sy hond met die lang tong, Stompie, lê op die koel vloer.
“Wat moet mense saambring as hulle Binga toe kom?” vra ek.
Hy sug effens en kyk om hom rond. “Mostly everything.”
Soms is daar brandstof in Binga, maar nie vandag nie. Ons hoor ’n mens kan op Hwange nog kry.
Anton is ’n bewys dat ’n mens met min ’n bestaan kan maak hier in Zimbabwe. Dis eintlik die enigste manier. Hy het ook ’n huisboot, die Cornelia (genoem na sy ma), wat tans net wag op onderdele “uit die suide” – dis hoe hulle na Suid-Afrika verwys.
Met ’n boks vol heerlike mango’s vat ons die teerpad Hwange toe.
Hwange
Honger veldwagters
Jenny wil vir my die Painted Dog Conservation Project gaan wys, ’n groep wat hulle beywer vir die voortbestaan van die wildehond.
In hulle hoofgebou met sy werklik indrukwekkende grasdakkoepel is daar ’n moderne, kindervriendelike uitstalruimte waar jy alles oor wildehonde kan leer.
’n Mens kan sien hulle kry oorsese geld, want daar’s rekenaars in die kantore. Agter die kantore is die rehabilitasiesentrum. Tans is hier agt honde van drie verskillende families, dus word nie almal in een kamp gehou nie. Angela en John, wat al twee met beserings hierheen gebring is, is die makste van die lot (maar ook nie só mak nie – jy bly beslis aan jou kant van die draad!) en sal seker hier bly tot hulle eendag vrek.
Jenny het gereël dat ons by van die navorsers oorbly. Selfs al is ons net buite die park, is hier oral wild. Ons sien ’n troppie buffels en by een watergat sommer vier soorte roofvoëls.
Wanneer ons vroegdag die Hwange- nasionale park binnery, is dit bewolk en koel.
Deur die loop van die dag sien ons heelwat wild, maar nie die massiewe troppe olifante waarvoor die Hwange bekend is nie. Die probleem is dat die reëns al begin uitsak het en die diere wyd deur die park versprei is; hulle hoef nie by die watergate saam te koek nie.
Ons sien egter genoeg: Buffels, olifante, leeus, kameelperde, seekoeie, rooibokke, koedoes, ’n enkele bastergemsbok, waterbokke, vlakvarke, sebras, muishonde, duikers, dassies, steenbokkies en eekhorings. Ons merk ook 80 voëlspesies op ons lysie af!
Ná ’n lang ruk van niks sien nie, raak Alida skielik opgewonde: Twee leeuwyfies het oor die pad gehardloop, met ’n klein troppie buffels agterna. Ja, die buffels jaag die leeus!
Ons stop en probeer sien wat gebeur, maar die bosse is dig. Daar is kalfies by die buffels. Die leeus het dalk die kleintjies probeer aanval en toe storm die grotes hulle. Nou beweeg die buffels stadig weg van die leeus af. Dan kom die leeus weer nader, maar wanneer die buffels omdraai en vir hulle kyk, verdwyn hulle die ruigtes in. Sjoe.
Vir middagete stop ons by die Shumba-piekniekplek. Hier ontmoet ons vir Trust Mudimba en Mixture Donga. Hulle werk is om te sorg dat die windpomp aan die loop bly, want Shumba is een van die belangrikste watergate (dis ook waar ons drie verloopte seekoeie sien). Trust-hulle woon hier in ’n klein geboutjie, omhein deur draad wat nie eens ’n skaap sal uithou nie. Net nou die aand is hulle deur leeus omsingel, sewe van hulle. Een het die seep van die vensterbank af gevreet.
Dit gaan nie goed met Trust en Mixture nie. Hulle is nou al 37 dae aan diens en niemand kom hulle aflos nie, al is die hoofhek net 71 km hiervandaan en die Sinamatella-kamp – waarheen ons op pad is – 37 km in die ander rigting. Maar ons kan hulle nie saamvat nie, daar is gewoon nie plek in die Patrol nie. Trust skryf ’n briefie wat ons saamvat Sinamatella toe:
To whom it may concern:
Hopefully you are doing quite well there. Backing to us here we’re jus’ surviving by the grace of God. We advise you that, we have run short of food. We have totally nothing to feed this evening. To our surprise the little we had, we discovered that when we prepared our supper yesterday; it changed to green-yellowish. So we throw it away. Then, we don’t know what took place on our absence on Saturday. Please we kindly beg for an uplift so that we can go and search for food. We then look forward to your response today because we don’t even have something to feed.
From Shumba Camp, Trust.
Dit is te erg. Hier, eintlik die eerste keer op ons reis, staan ons in die aangesig van wat in Zimbabwe gebeur. Baie mense het nie kos nie. Die geld wat hulle verdien, is waardeloos – hulle kan niks koop daarmee nie. Selfs al het jy geld in die bank, kan jy elke dag net ’n klein bedrag onttrek – dus staan mense elke liewe dag by die bank (dikwels is dit onmoontlik om ’n karige salaris binne 30 dae van daaglikse toustaan te onttrek!).
Ons los ’n hele klomp kos by hulle en ry voort, minder jolig.
Victoria-waterval
Die laaste pilaar
So lank as wat die Zambesi brul, sal mense Victoria-waterval toe gaan. Hoewel Zambië deesdae gewilder is, is daar geen twyfel nie dat – veral tyens die droë seisoen, soos nou – die waterval aan die Zim-kant strate beter is.
By Vic Falls is dit asof daar geen krisis in die res van Zim is nie. Daar is lekker kampplekke en duur hotelle. Toeriste kom, kyk, bly, eet en koop. En hulle vra vir mekaar dinge soos: “Do the females always have smaller horns?” wanneer hulle foto’s neem van die mak vlakvarke op die hotel se grasperk.
By die Elephant Hills-hotel gaan drink ons ’n bier – $5 vir ’n Castle. Nomatter Moyo is ons kroegman. En die naam? Hy lag. “I was the fifth son, and by that time my parents wanted a girl. But then they said, ‘No matter...’ ”
Die waterval is altyd besonders. Met die ingaan kos dit my R220, maar Jan, Alida en Jenny betaal in Zim-dollars – Z$400 000 per persoon. Dit was net ná tien die oggend. Toe ons eenuur weer by die hek uitkom, het dit tot Z$1 000 000 gestyg!
Die laaste aand gaan eet Jan en Alida uit by die Boma, Vic Falls se beroemde Afrika-restaurant. Jan gaan grawe agter in die Patrol rond vir sy skoene. Vanaand trek hy vir die eerste keer in 1 000 km skoene aan, uit ordentlikheid.
Die volgende oggend laai hulle my die lughawe af. Hulle moet nog huis toe ry – oor Bulawayo (hulle wil ook by die Matobos gaan draai). Ons het mekaar net vir ’n week geken, maar dis swaar om te groet. Dis nie maklik om in Zimbabwe te woon nie. Vir niemand nie, behalwe miskien Mugabe en ’n paar vriende. Tog, ondanks al die probleme, bly Jan, Alida en Jenny net hier. Dis hulle huis. En hulle glo dit gaan regkom.
’n Mens kan nie help om saam met hulle te bid nie.
Hoe werk die geld?
Dit werk nie
Bring Amerikaanse dollars saam (ook in klein denominasies), want byna al die hotelle en kampplekke aanvaar dit, selfs al is dit in baie gevalle tegnies onwettig. Bring ook rande, want in Vic Falls en van die parke kan jy daarmee betaal.
Gerieflikheidshalwe moet jy al jou kampkos saambring, behalwe as jy vriende in Zimbabwe het wat jou met aankope kan help. Hier en daar kan jy iets in ’n winkel koop.
Brandstof
Is daar enigiets?
Ja, daar is brandstof, maar jy moet strategies werk om dit in die hande te kry. As jy hierdie roete wil ry, is die beste plan om by Vic Falls te begin en dan oor al drie die parke deur te ry Kariba toe. Op pad sal daar nie veel brandstof wees nie, maar in Livingstone (die Zambiese kant van die waterval) en Vic Falls behoort jy brandstof te kry. Hwange (die dorp) is redelik betroubaar, maar Binga nie. Ná Binga is daar nie weer brandstof voor Kariba nie. Gooi dus jou kanne vol.
Addx Trading is in Suid-Afrika en hulle het brandstofdepots in Bulawayo en Harare. Jy koop jou brandstof vooraf, kry ’n verwysingsnommer en gaan haal jou brandstof af by een van die twee punte. Jy kan soveel 20 liter-koepons koop as wat jy wil. Tans vra hulle R6 per liter vir petrol en R7 vir diesel, maar die prys verander gedurig.
Kontak: 011 974 4434 (Angelique); angie@addxtrading.co.za
Redan Petroleum se koepons kan net in Harare afgehaal word, maar jy kan wel vooraf betaal. Sekere vulstasies in Hwange, Gweru en Beitbrug aanvaar hulle koepons. Hulle pryse (wat ook gaan verander) is tans 90 Amerikaanse sent vir ’n liter petrol en U$1 vir diesel.
Kontak: 00 263 444 6412/5; 00 263 91 243 1893; 00 263 91 243 3219; info@redan.co.zw
Wat van cholera?
Wees versigtig. Die cholera-epidemie is gekonsentreer in digbevolkte landelike en stedelike gebiede waar die infrastruktuur aan ’t verbrokkel is. Wanneer jy na toeriste-attraksies reis (soos ons roete), is jou kanse skraal om daarmee in aanraking te kom.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het behandelingstasies in die gebiede wat die ergste geraak word. Dis raadsaam om altyd jou water te kook of gebottelde water te drink. Cholera-gevalle sal ook afneem wanneer die droë winterseisoen begin.
Is dit veilig?
Ons het deurentyd veilig gevoel. Hou een oog op die seweuurnuus sodat jy weet waar moontlike politieke konflik kan opvlam. Vermy eenvoudig die vrot kolle. Probeer vooraf skakel met die plekke waar jy wil oornag om eerstehandse inligting oor veiligheid te kry.
Pak ’n goeie noodhulpkissie, want mediese dienste is skraps en dorpe ver uitmekaar. Pak ook ’n ekstra noodwiel.
Wat kos dit?
Matusadona- nasionale park
Toegang: US$15 p.p., US$5 vir jou voertuig; kampeer by Tashinga: US$12 p.p. (pryse vir kinders was nie beskikbaar nie); begeleide wildkykuitstappie: U$10 p.p. per uur.
Rhino Safari Camp
Mooi huisies op pale reg langs die Karibameer. Jy moet ook die Matusadona-parkgeld betaal en as jy per boot wil kom, kos dit U$400 per boot wat ses dra.
Koste: Selfsorg teen R250 p.p. of B&B teen R300 p.p. Aktiwiteite soos wildsritte, begeleide veldstap en visvang is ekstra. Daar’s ook ’n tarief wat alles insluit (alle etes en aktiwiteite).
Kontak: *00 273 475 3901/4 (Jenny); *rhino.safari.camp@mail.com Bespreek lank vooruit.
Chizarira- nasionale park
Toegang: US$10 vir volwassenes, US$5 vir kinders 12-18 jaar, gratis vir kinders onder 12 jaar, US$5 per voertuig.
Kampering: US$5 vir volwassenes en US$2,50 vir kinders; begeleide staproete: US$20 p.p. dag.
Chizarira Lodge
Waar? Net buite die nasionale park. Chalets: U$25 p.p. selfsorg. Bring jou eie diesel vir die kragopwekker, asook jou eie kos (hulle kan dit vir jou gaarmaak).
Kontak: Craig van Zyl *00 263 488 4226; *craig@classic.co.zw
Binga
Binga-ruskamp: Chalets teen US$10 p.p. wat deel, ontbyt teen US$12. Ons kon ook ’n huis – reg teen die meer – huur vir US$70 (vir 4 mense).
Kontak: *00 263 1 5244 (Anton Visser); *bingarest@yoafrica.com
Kulizwe-ruskamp: Kampering teen R30 per volwassene en R20 vir 6-12-jarige kinders (o/6’e bly gratis). Chalets teen R120 (vir tot 4 mense, selfsorg). (Hulle pryse sou binnekort styg.) Hout te koop. Swembad, braaiplekke. As jy jou boot wil bring, bring jou eie brandstof en olie.
Kontak: *00 263 1 5545 (Gail Howard); *kulizwe@mweb.co.zw
Hwange- nasionale park
Toegang: US$15 (of R120) per volwassene, US$8 kinders 6-12 jaar, US$5 per voertuig.
Kampeer: US$15 p.p. by ruskampe of US$10 p.p. by piekniekplekke.
Victoria-waterval- nasionale park
Toegang: R220 p.p. (vir Suid-Afrikaners – bring jou ID of paspoort as bewys), of US$15.
Vic Falls
Victoria Falls Rest Camp Lodge is basies op die dorp, maar die grond is groot genoeg dat jy ’n stil hoekie vir jou tent sal kry. Daar is ’n sekerheidsdiens, ’n lekker restaurant en swembad.
Kampeer: US$10 per volwassene, US$7 vir kinders onder 12.
Voertuig: US$8. Chalets: US$25 per chalet vir tot 4 mense, US$34 per chalet vir tot 6 mense.
Waar? Op die dorp, langs Parkway Road.
Kontak: *00 263 134 0509/11; *00 263 134 2752; *campsite@africaonline.co.zw; *www.vicfallsrestcamp.com
Lorrie’s B&B is stil en rustig met ’n groot tuin en swembad. Daar’s ’n kroegie vol karakters, veilige parkeerplek en lekker kos. Koste: US$28 p.p. vir bed en ontbyt, US$10 vir aandete.
Waar: volg die bordjies van Livingstoneweg af, op die hoek by die Sprayview-hotel.
Kontak: *00 263 134 2139 (Lorrie).
Gepubliseer op 1 April 2009
Terug na bestemmings | Terug na bo
Gelewer op 8 Januarie 2012 | 03:29:39
Free info like this is an apple from the tree of kwnoledge. Sinful?
Gelewer op 2 April 2010 | 21:20:24
Hi Ons wil Mei maand Zim toe gaan. Wat is alles nodig om deur doane te gaan. Wat moet in die motor wees. Oulike kampplekke langs die pad. Ons wil van die west noorde to na Manna poele en dan oos waarts terug huistoe. Ry met 'n 4 trek. Groete Winnie




















Kommentaar